Apr 15, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

HvD by die wittebroodskar
Middag uit Melkbos
Die derde nag van ons wittebrood – dit moet dus op die vooraand van my 26ste verjaardag op 3 Januarie 1967 gewees het – sou die egpaar Van Deventer op Amanzimtoti slaap. Beach Hotel, meen ek. Ek steek egter verby met my nuwe Toyota Corona. Toe ons al `n ent op pad Durban toe is, ontdek die bruidegom hy is die spoor byster.
Al wat oor was, was om ‘n u-draai te maak oor die middelman tussen die twee snelwegbane. Wat kiepie nie wis nie, was dat middelman uit sagte seesand bestaan het. Daar val die Corona vas.
Tokkie is later agter die wiel; ek stoot. Bruidjie voer die opdragte bra onbegrypend uit en die Corona sak al hoe dieper. Uiteindelik daag Samaritane op; as ek reg onthou, van Moembaaise afkoms, maar baie ordentlik en behulpsaam.
Die aand slaap ons twee duifies vies-vies in ons enkelbedjies sonder eens `n piksoentjie vir die nag sê.
“Ah, I remember it well.” Dit nou na aanleiding van `n boodskap van Sarel Venter oor `n plaastroue ín die familie wat hy en Liesbeth in die Noord-Kaap bygewoon het.
“Ons het toe `n baie aangename plaastroue en familiefees op Middelpos gehad. (Die plaas wat al meer as 100 jaar in die Van der Merwe-familie is). Vrydagaand `n braai vir die gaste wat toe al daar was (drie uit Brittanje en een uit Indonesië), Saterdagoggend `n ‘brunch’ (noenontbyt?) , later die middag die huweliksbevestiging en die aand die bruilofsmaal en Sondagoggend weer `n groot ontbyt,” laat weet Sarel.
” `n Langnaweek van byna oordadig eet (en vog inneem) vir die byna 200 gaste, van wie die meeste op die plaas (‘n gasteplaas) oornag het en die ander op buurplase. Die bruidspaar, Casper en Sterna Steenkamp, het eers Dinsdagoggend op hul wittebroodsreis vertrek. Op Britstown het hulle brandstof laat ingooi en `n klompie kilometers verder het die motor begin ruk en stik. Ingesleep na Drie Susters en toe verder na Beaufort-Wes.
“Die diagnose: ‘n klomp diesel in die petrol; die petroljoggie op Britstown se skuld. Die arme bruidspaar sit toe in `n gastehuis op BW en is Donderdag met die bus Kaapstad toe. Sterna se pa, swaer Coen Scholtz, het die motor toe met `n sleepwa gaan haal vir herstelwerk by die Renault-handelaar in Kimberley. Skade glo baie groot.
“Casper en Sterna is nou in Bloubergstrand in die woonstel van haar oom, Frank Scholtz van Bloemfontein.
“Nou voel die familie: As die tweetjies al die teenspoed kan verwerk, is daar seker hoop dat hul huwelik kan hou.”
Nou-ja, Sarel, ek en Tokkie kan wel nie sing nie “Daar is nie foutie op Amanzimtoti”. Maar foutjie op Toti en al duur ons verbintenis darem ook al 46 jaar.
Piet en Petro Theron van Bloemfontein het op hul wittebrood by die Seepunt-swembad gaar verbrand. Hulle kon nie naby mekaar kom nie. Hulle is darem ook al 47 jaar of iets getroud.
Teenspoed op die wittebrood kan dalk heilsaam wees … klink dit.
Ons drink vanaand `n doppie op Casper en Sterna hier neffens ons op Blouberg. Op `n lang, gelukkige huwelik. En op `n spoedige herstel van hul stukkende Renault. (HvD)
Apr 15, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
`n
`n
`n
Apr 14, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Yslike verleentheid nou.
Die ‘n bly hier verkeerd voeter al tik ek hom reg.
Op Wordsdokumente en op my Litnetblog (http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer)
is dit egter korrek.
Raaisel – sit hande in die hare!
HvD
Apr 14, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
‘n Koshuismaat in Kollegetehuis, Tukkies, was Johannes Klopper, latere prof. Johannes Klopper, hoogleraar in kerngeneeskunde aan die Stellenbosse mediese fakulteit. Slim soos die houtjie van die galg, daai man! (As dit die gelukkigste idioom is om my bewondering vir sy intelligensie in uit te druk.)
Toe ek in 1959 ‘n tweedejaar was (tale en daardie klas dinge van die gees) en hy ‘n eerstejaar of ienk (medies) het ek my senioriteit misbruik om hom te dwing om vir my sekere take rakende my gevorderde Latynstudie (Latyn I!) na-uurs te verrig – wanneer hy eintlik Chemie en Fisika en daardie klas ding moet swot.
Ienk Klopper se Latyn was van die beste Latyn waarmee prof. Gonin in daardie Latyn I-klas te doene gekry het. (Vandag onthou ek omtrent nog net Catullus se minnegedigte: “Da mihi mille basia”, ens. (Gee my ‘n duisend soene). Maar dit daar gelaat.
Vandag het Johannes met hardnekkige geduld per telefoon die ou man geleer om dinge met sy rekenaar se sleutelbord te doen waartoe hy nooit in staat was nie. Daar was darem nie dwang betrokke nie – dit was uit sy eie vrye wil. Buitendien, ek is mos nie meer sy “senior”nie!
Ek kan byvoorbeeld nou ‘n skryf met die afkap-kommatjie nie meer agterstevoor nie. Wonderlik, kyk net: ‘n, ‘n, ‘n, ‘n …
Ek kan ook ander skitterende goed doen, byvoorbeeld om vir my vriend Pièrre Theron van die Groot Brak-kontrei ‘n boodskap te stuur met die noodsaaklike aksent op die è, soos dit hoort: è, è, è, è …
Maklik was dit nie vir my of my leermeester nie. Ek was naderhand so verbouereerd dat ek nie reën kon spel nie. Dis maklik, ou simpel: REËN! Sien ek kan nou selfs in hoofletters die umlaut opsit.
Hene, Johannes, ek voel sommer ver gevorderd in my rekenaar-geletterdheid. Dankie, ook namens al die taal-fynproewers wat ek altyd met my verkeerde ‘n geïrriteer het. Jammer, weet nou nie meer hoe om die afkap-kommatjie vir oulaas so verkeerd-om in te sit nie, terwyl ek as ‘t ware daarvoor koebaai waai.
Naskrif: Bel gerus vir lesse. Maar onthou ek is ‘n professionele man: vra R400 ‘n uur – nes ‘n middelmatige loodgieter.
Apr 13, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
‘n Vinnige versie oor vanoggend se nuus:
‘n Kees wat lees?
Nee, ek’s bevrees:
Al gee jy kees
‘n Goue bril,
Bly hy by lees
‘n Ronde nul!
(HvD)
Apr 12, 2012 | Hennie van Deventer se Blog


Middag uit Melkbos
Oor die waarde van reünies het kollega Sarel Venter van Bloemfontein een keer o.m. geskryf: “ Is dit nie veral om te sien wat van ou maats geword het nie? Wie waar in die lewe gekom het; watter een die diepste spore in die lewe laat; om te sien (veral by die vroue) wie met WIE getroud het; en by die mans: wie met watter ryding oor die weg kom.”
Natuurlik is nuus oor bekendes van doer gunter gesog. Deesdae is reünies en die weersiens in lewende lywe ook nie meer plus-minus die primere kanaal vir sulke nuus nie. Die internet is ‘n impakspeler van groot betekenis. Bring boonop die bonus dat dit netwerke kan bloot lê waarvan jy salig onbewus was.
Het pas weer so ‘n geval beleef. Gister het ek Marguerite Deale, Tukkie-joolkoningin van 1961, se foto hier geplaas. Vandag kan ek heelwat oor haar doen en late rapporteer – alles met die komplimente van ‘n ou Tukkiemaat, Andrew Murray, ingenieur van Bloemfontein.
Hy laat weet dadelik: “Daar waar die mooie Marguerite (op gister se foto) in haar mooi rok staan, het ek haar ook gesien! Presies wanneer kan ek nie onthou nie, maar daar was ook amptelike foto’s geneem op die trap net voor die snoekerkamer.
“Haar tweelingbroer, Franz, en ek was van ons standerd-twee-dae op Pretoria-Oosskool beste maatjies, wat ons steeds is. Ek het juis op 4 April met hom gesels toe hy en Marguerite 71 geword het. Hy het Aptekerswese op PUK studeer en werk steeds in Pretoria. Ek het dus baie in daardie huis gekom en baie daar snoeker gespeel.
“Marguerite is nou mev. Hern. Sy is met die makelaar Ed Hern getroud. Hulle besit en bedryf die Renoster- en Leeupark in Krugersdorp se geweste. Marguerite was al op TV met hul wit leeus.
“‘n Paar jaar gelede het haar oudste seun uit haar eerste huwelik, toe reeds 41 en ‘n vlieënier van beroep, daar in die Noord-Transvaal (dit sal altyd vir my so wees) met sy vliegtuig verongeluk – dit was vir haar ‘n baie moeilike tyd.”
Ed, sien ek op die webwerf www.rhinolion@co.za is, benewens sy belangstelling in roofdiere, ‘n ywerige renosterboer. Op die reservaat van sowat 1 200 hektaar naby die Wereldêrfenisgebied die “Wieg van die mens”, sowat 40 km noordwes van Johannesburg, is iets soos 600 stuks wild van 25 verskillende spesies. Aanvanklik was daar net twee renosters, “Bulle” en “Ounooi”. Tot op datum is 18 renosterkalfies daar gebore. Teelprogramme bestaan o.m. ook vir die wit leeus, Kaapse wildehonde, Bengaalse tiers en Siberiese tiers.
Wens ek kon my hand op ‘n foto sit van Marguerite tussen haar leeus en tiers. Wys nou maar net een van die welpies, wat ek op hul webwerf gekry het. Maar as ou maats wil gaan kuier, stel net jul GPS’e in!
Dankie, Andrew, my gewaardeerde “mede-outeur” van vandag se blog. (HvD)