Aug 26, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Party mense doem lewensgroot of groter voor jou op as jy terugdink. Sulke mense maak hul buiging in my nuwe boek “Lewensgroot en Groter” wat by die drukkers is. “Lewensgroot” is ‘n blogboek en menseboek. Dit bevat ‘n keur uit my blogs oor mense wat die afgelope vyf jaar by hennievandeventer.com en litnetblogs verskyn het.
In die 80 blogs in die boek skryf ek veral oor “eie mense” wat groot voor my geestesoog opdoem; naastes oor wie ek die pen in deernis doop. Oor sommige mense skryf ek afsydiger. Of dalk nie altyd so afsydig nie … Buiten naaste familie, vriende, kollegas, studente- en skoolmaats figureer bekendes soos Nelson Mandela, Thabo Mbeki en Ton Vosloo (selfs André Rieu, André P Brink, Chris Louw en Max du Preez).
Die boek bestaan uit 224 bladsye, is professioneel versorg en is op die beste papier gedruk (dieselfde papier as “Duisend Dae Langs Die Sabie”).
Hierdie blogboek is vir my ‘n hartsding. Ek laat ‘n beperkte oplaag druk en dink hoegenaamd nie kommersieel oor hom nie. Vir medebloggers doen ek dus graag ‘n spesiale aanbod: koop ‘n eksemplaar (of twee of meer eksemplare!) absoluut teen produksie- plus versendingskoste. Die boek by my op Melkbos afgehaal kos R75,00. Versending per pos of aflewering is R25 vir elke twee eksemplare.
Om te bestel, betaal die regte bedrag in die volgende bankrekening: J.H. van Deventer, Absa Table View, 550-145-715. Vir internetbetalings is die kode 632-005 en vir toonbankinbetalings 334-409. Die verwysing is jou voorletters en van plus die woord boek.
Stuur dan jou posadres per e-pos, sms of faks na lewensgroot@mweb.co.za / 083 252 8165 / 021-553-1761. Ons kan hopelik binne 10 dae begin bestellings uitvoer.
Aug 25, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Patson, staatmaker-arbeider in Sabiepark, by die nuwe swembadseil.
More uit Melkbos
Nee, ek gaan liewer nie die grappie waag dat hierdie die loodsing is van ‘n Van Deventer-hulpfonds of iets van daardie aard nie.
Het op Tukkies met ‘n ligsinnige opomerking in daardie trant my voet in ‘n ding gesit. Dit was na ‘n ongeluk met my eerste vuurwa, ‘n onversekerde Peugeot 203 van 1953. Op ‘n dag vra ek vir Naas du Toit: “Het jy al bygedra tot die Van Deventer-hulpfonds?” Hy begin stamelend verduidelik van sakgeld wat nog moet kom.
Later oorhandig my koshuismaats – ai, wonderlike ou Kollege – aan my ‘n koevert vol note. Glo nie jy sou Naas ooit kon oortuig dat ek salig onbewus was van so ‘n insameling nie!
Ewenwel, die teenspoede van die wintervakansie het bly opstapel tot die formidabele lysie wat ek met die samewerking van ons huis se klerk van werke, vroulief Tokkie, vir algemene insae hier publiseer.
Die lys begin met ons Melkbosse posbus wat vasgeroes het. Terwyl ons in Sabiepark op pos wag, spook allerlei mense toe hier om die deur oop te ruk en pluk. Ten einde laaste vervang moes die slot vervang word. Dit kos R91,00 wat, vreemd genoeg as jy eienaarskap in aanmerking neem, deur ons, die huurders, opgedok moes word. Daarna volg dinge plus-minus chronologies.
Sabiepark:
Herstel en diens van die Junkers-gaswarmwatertoestelle
Twee nuwe voorbande vir die bos-Honda
Raps die modderskerm van mnr. Mathebula se Mazda 323 by parkeerplek op Hazyview;
Herstel van rokende gas-vrieskas en daarna ook die gas-yskas;
Nuwe ruitveërrubbers vir die Honda;
Nuwe wieletjies vir die skuifdeur;
Vervang stukkende stoorkamerdeur;
Herstel stukkende toilet;
Buitelig se skakelaar raak onklaar;
Vervang swembadseil en stuur die nuwe binne drie terug Nelspruit toe omdat water deursyfer by die lasplek;
Twee nuwe beddens vir gastekamer;
Vier eetkamerstoele se bamboes skeur onherstelbaar;
Houtstoepstoel gee die gees;
Brandblussers moet versien word;
Ander eiendom oorstroom toe pyp in kombuis bars;
Drarekenaar deur virus besmet;
Kombuislig moet vervang word.
Terug op Melkbosstrand:
Motor erg deur nat teer besmeer toe vriend gaan ry om battery te laai;
Rekenaar verloor sein;
Voordeurklokkie deur miere ingeneem;
Mikrogolfoond daarmee heen;
DSTV-sein onopspoorbaar op TV;
Musieksentrum in woonkamer bring net krapgeluide voort;
Musieksentrum in slaapkamer maak g’n geluid nie;
Ses gloeilampe moet vervang word;
Faksmasjien se ink raak op;
Bure se prominente nuwe wasgoeddraad voor ons woonkamer – hoër heining dringend nodig; Voorportaal oorstroom (amper ‘n GROOT ramp as ons nie terug was nie).
Ten slotte, hoop ek, breek ‘n sleutel toe boonop in ‘n buitedeur se slot af.
Wat dit als gekos het? Weet nie presies nie. Toe ons by R10 000 kom, het ons opgehou tel.
Maar Melkbos en Sabiepark – hulle bly maar melk en heuning. En die Van Deventers? Klippertjies in die skoen of te nie, hulle mag nie kla nie. Hulle bly onverdiend geseënd.
Eina maar toemaar. (HvD)
Aug 23, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Here, as ek regtig
vir enigiets, maar
enigiets, mag bid –
Here, kan ek maar
vir ewig by my
kampvuurtjie
bly sit?
Op die foto’s is ‘n paar Sabieparkvuurtjies tydens die kuier van ons kinders van George, Johan, Mariza en Migael van Deventer. (HvD)
Aug 22, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Toe ons in 1992 in Bloemfontein weg is, het Johan van Wyk, karnallieskrywer van die rubriek Stop van Myne, hom oor Tokkie as gasvrou soos volg uitgelaat: “Ek ween by voorbaat oor Tokkie se lekker kos. Net ‘n Van Wyk (sy was Tokkie van Wyk) kan só kos maak vir ‘n Van Wyk.”
Hy en ander redaksielede van Die Volksblad (nou net Volksblad sonder die Die) sou onthou hoe sy lag-lag die hele redaksie plus gades uit haar kombuis in Genl. Van Schoorstraat 1 kos gegee het, terwyl die uwe draf met die drankies. ‘n Honderd gaste het nie vir haar (plus die getroue, skraal Bulfonteinertjie Miriam) laat skrik nie.
Dis egter nie oor TvD die gasvrou dat ek vandag skryf nie, dis oor TvD die gas-vrou.
Daardie koppelteken maak ‘n wêreld se verskil. By laasgenoemde gaan dit nie om potte op die stoof en goeters in die oond vir honger gaste nie; dit gaan om gas as kragbron. Sissende gas in swaar silinders. In Sabiepark het ons drie yslike menere – 48 kilogram elk. Hulle is gekoppel aan ‘n vrieskas, ‘n yskas, ‘n tweeplaat-stofie en twee warmwatertoestelle (outydse “Junkers”).
Nou-ja, die vakansie moes die gas-vrou eers bontstaan met die vrieskas wat skielik alleraakligs aan die rook gaan. Hy gooi sulke swart roet bolle die vloer vol. Tokkie skrop en borsel, maar uiteindelik moet hulp wel uit Hazyview ontbied word. Net daarna kom die yskas aan die beurt. Hy blaas sulke digte rookwolke en stink ons uit die huis uit.
Om elke keer ‘n tegnikus 40 km ver te laat kom, kos ‘n klein fortuin. Ek gryp die handboek (Ïf you are in doubt consult the manual!) Sy is plat op die naat van haar rug en begin volgens die boek se voorskrifte plate afskroef, konneksies wegbuig en eindelik die hele skoorsteen ontkoppel.
Dis ‘n vreemde en gevaarlike ontdekkingsreis. “Bring die brandblussers,” gebied sy, en ek hôl gehoorsaam om die opdrag uit te voer. Gelukkig raak die brandblussers nie nodig nie. Tokkie werk die dik aangepakte roet se gal vir ‘n vale, en die yskas reageer bedagsaam. Toe my vrou die vuurhoutjie trek terwyl die uwe tandeknersend die regte knoppie met sy toon wegtrap, vat die yskas met ‘n siddering. Hy glip gemaklik in die koudmaak-funksie terug. Rook, roet en reuk bly weg. Bevryding!
‘n Derde gas-toets lê voor. Om redes wat nie hier relevant nie, moet ons ‘n leë silinder op eie stoom by die kiosk besorg vir vervanging met ‘n volle. Ek is oortuig die Honda se kattebak het oorgenoeg spasie vir die takie. Dit blyk egter die silinder is te vet om onder die dwarsbalk vir die bagasiebak se beskermende seilskerm in te pas.
Nou kan die luikdeur nie toe nie. Ook nie die boonste agterruit wat los van die deurgedeelte funksioneer nie (slegs Honda-eienaars sal begryp). Al genade is dat ons met ‘n oop ruit en oop deur moet ry. Twee komplikasies: die ruit kan maklik breek as ons so op die onegalige Sabieparkpaaie op en af kiosk toe wip-wip, en die silinder kan hard met die grond kennis maak.
Dis waar TvD werklik haar staal as gas-vrou toon. Sy aanvaar die uitdaging, klim rats bo-oor die silinder en gaan sit op hom soos iemand wat ‘n perd bloots ry. Met die een hand gryp sy die ruit en met die ander die deur. Daar trek ons al stampende oor die hobbels. Die derde keer toe haar kop in die beperkte ruimte onsag ‘n balk of ‘n ding tref en sy die derde kragwoord deur dun lippe pers, trap ek rem.
“Wat maak jy nou?”
“Gaan jou afneem.”
Die resultaat is die foto hierbo. Toe ek dit vir my vriend Kapous Mouton wys, betig hy my dadelik: “Moet dit nie weer aan Tokkie doen nie. My bakkie is altyd beskikbaar.”
Dankie, Kapous, maar eintlik is dit ook maar ‘n ridderlikheid wat agter die deur verskuil is hierdie. Kapous skroom nie om Leonora ‘n VOL silinder te laat help dra nie. Hy koop graag sy gas teen die laagste moontlike prys en vermy afleweringskoste as dit hoegenaamd kan.
Die twee is ervare en bekwame gas-draers. Een keer loop iets egter verkeerd. Kapous se ent glip uit sy hande. Met die val ruk die ander ent Leonora se skouer uit potjie en wat nog. Die resultaat is ‘n stuk ortopediese chirurgie, ten duurste natuurlik soos ortopediese chirurgie neig om te wees. En herstel kom nie oornag nie.
“Maar nou-ja,”sê ek vir Tokkie, “nou het die Moutons se mediese fonds ten minste Kapous se gas gesubsidieer!” (HvD)
Aug 14, 2012 | Hennie van Deventer se Blog


Middag uit Melkbos
‘n Konsert van naggeluide soos nog nooit by Balule; die grootste trop buffels in my heugenis op die S36 en talryke luiperds rondom die Sabierivier. Dit sal ons altyd onthou van ons wintervakansie van 2012 . Twee maande was ons adres weer Wildevy 154, Sabiepark – soos altyd ‘n eindelose plesier.
Die naggeluide by Balule aan die Olifantsrivier sou skrikwekkend gewees het sonder die stewige heining. ‘n Spannetjie Tukkiemaats van die jare 58 tot 60 was saam in die kampie se ses rondaweltjies. Ons het ure lê en luister. By die oggend se roereier kon ons nie daaroor uitgepraat raak nie. Trouens, oor Balule kan geen mens uitgepraat raak nie. Ons klompie keer in Julie 2013 terug vir ‘n tweede porsie. Deposito vir die hele kamp is klaar betaal. Net jammer dis nie weer volmaan nie!
Op pad terug, ry ek en Tokkie ons toe vas in ‘n swart muur van buffelhorings en -rûe. Ons was ‘n halfuur vasgekeer in die Honda. Toe skrik ‘n klompie vir ‘n raserige voëltjie en gaan ‘n kanaal vlugtig oop. Die Sanparkemense meen die trop was dalk 1 200 groot. Vir my klink die skatting konserwatief.
Luiperds op die H11 Skukuza toe, die Doispanepad (S1), op die S3 langs die Sabierivier, by die piekniekplek en telkemale tussen die huise in Sabiepark self was ‘n oorheersende vakansie-ervaring. Een middag by die piekniekplek – nogal as ‘n 30ste verjaardag-“geskenk” vir my broerskind Marcus Malan – het ‘n wyfie met twee spelerige welpies rondgewals. Met ons laaste besoek aan die piekniekplek besorg die fris mannetjie ons toe ‘n toegif.
Maar as ‘n mens bein uitsonder, beland jy in die moeilikheid. Wat dan van daardie reuse-sebra-optog op die S89 wat ‘n mens aan ‘n migrasie in Serengeti laat dinkhet? En die olifante? Die grootvoete het, soos altyd, langs die Sabierivier (ook langs die Timbavati) gewemel. By Balule het ‘n trop van 27 langs gekom. Oor die stringe bloukuiflkoeries het ek reeds geskryf.
Die Sunsetdam by Onder-Sabie het sy status as gunsteling-koffiedrinkplek herbevestig. Oor die koffie is 17 spesies wild en watervoëls getel. By Vurhami, naby Krokodilbrug, was ons verheug oor olifante, kameelperde, sebras blouwildebeeste, rooibokke en nimmersatte wat mekaar by die water verdring.
Een teleurstelling was dat die skildergatige Lugmagdam by Nhlanguleni ‘n vloedslagoffer was. Die dam gaan nie herbou word nie; ‘n enorme jammerte uit ‘n toeristehoek.
Met die herstel van brue en paaie word ongelukkig maar stadig gevorder. By Olifants is die H1-hoofslagaar tussen noord en suid steeds toe. Balule is steeds van Olifants afgesny. Talle gewilde afdraaipaaie is met geel plastiekbuffers afgesper. Die brug oor die Sabie naby Skukuza lyk soos ‘n haasbek-sesjarige … Afrika het eenvoudig sy eie tempo.

Naskrif: Ook in Skukuza het die kwik hierdie winter laag geduik. Rekord-lesings van 0 grade het deurwinterde bosmense na jasse laat gryp. Maar op Vrydag10 Augustus om 16:00 neem ek ‘n foto by Sabiepark se swembad: vier jong meisies in hul bikini’s. Die volgende dag klim ons op die vliegtuig Melkbos toe. Dit sous en dis bitterlik koud hier. Ai, hoor hoe roep die bos! (hvd)
Aug 12, 2012 | Hennie van Deventer se Blog


Middag uit Melkbos
Die tafereel van groot knoppiesdorings en maroelabome – plus ‘n jong jakkalsbessie wat teenaan die maroela astrant na bowe beur – is ‘n daaglikse vreugde in Sabiepark; veral met dagbreek wanneer hul gedugte stamme en takke al hoe duideliker in die sagte eerste lig afgeëts staan.
Ons slaap met die gordyne voor ons slaapkamer se skuifdeur wawyd oop. Ek en Tokkie begryp nie dat daar mense is wat sulke bomeweelde met digte toe gordyne uitsluit nie. Hulle ontneem hulleself een van die voorregte van menswees in die bos.
‘n Boomstorie wat ons dalk nog minder begryp, is die lewendige handel in ‘n verskeidenheid houtornamente op die pad na die Krugerhek. Dosyne entrepreneurs ding met mekaar mee wie die kameelperde met die langste nekke, luiperds met die skrikwekkendste grynslagge en die wit hoenders met die yslikste rooi kamme uit gevalle bosreuse kan produseer.
Gereeld sien jy motors van toeriste stilhou om ‘n hout-gedierte aan te skaf – waarskynlik sonder om ‘n tweede keer te dink hoe bome uitgeroei en die natuurlike Laeveldse bos met byle en kapmesse in die proses verrinneweer word.
Gretige kopers betaal lag-lag R500 tot R1 000 vir so ‘n “soewenier”
Nou-ja, elke mens moet kos op sy tafel hê. Dit sou seker hardvogtig wees om die houthakkers oor hul nering te verkwalik as alternatiewe nie juis te kus en te keur is nie.
Tog is my simpatie met twee van drie mede-eienaars van ‘n Sabieparkse huis wat eenvoudig die voet dwars gesit het toe die derde lid van die driemanskap met ‘n enorme, wanskapige sittende luiperd vir die sitkamer opdaag. “Nie in ons huis nie,” het hulle vasgeskop. Daardie luiperd moes maar buite in ‘n hoekie van die stoep die wind en weer trotseer.
Joyce Kilmer se klassieke gedig oor bome kom by my op: “Poems are made by fools like me, but only God can make a tree.” Dit het in 1922 ‘n liedjie geword. Die opname deur Perry Como met sy fluweelstem het my van jongs af bekoor.
Verskeie parodieë het deur die jare die lig gesien. Ek sou die volgende enetjie wou byvoeg:
Only God can make a tree; fools fell a tree and create from it a monstrosity. (hvd)