Sep 5, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Behoede my tog van melodrama, maar in elkeen se lewe kom “laastes”. Die verskyning van “Lewensgroot en Groter” is in die uwe se lewe so ‘n “laaste”. ‘n Tyd vir tot siens.
Die boek met blogs oor mense in hierdie en ander ruimtes – ook ‘n blog oor Ton Vosloo wat voor sy 75ste op 29 September hier sal verskyn – is gister by my afgelewer. Die opgewondenheid was soos altyd. Die lekker van skryf het ook nog nie afgeslyt nie. Vir die uitdagings van bemarking sien ek egter nie op 72 meer kans nie, baie dankie.
Dankie aan die lesers van my pennevrugte vandat “Scoops en skandes” in 1993 by Tafelberg gepubliseer is – ‘n leeftyd van amper vier dekades gelede! Daardie lesers sluit vele vriende in wat teen wil en dank HvD-titels op hul boekrakke MOET vertoon.
My skryfwerk is in wese niks anders nie as joernalistiek. Soms goed gekamoefleer! Ek skryf oor mense en dinge; nie altyd in deernis nie, maar meesal met diepe waardering vir die waarde wat vriende, bekendes en selfs wildvreemdes op my lewensreis tot my ervaringswereld toegevoeg het.
Dankie vir die gewillige of onwillige onderwerpe wat tussen die omslae van HvD-boeke opduik.
Dankie aan e-boeke vir Afrika wat hier skuins voor die laaste vlagstryking vir “Spore in die bos” in Kindle-weergawe op Amazon laat verskyn het – ‘n heuglike “eerste” vir ‘n ou wat lank geglo het hy is met ‘n tikmasjien getroud “tot die dood ons skei”. Die virtuele era het my, soos op die agterflap van “Lewensgroot” vermeld, in ‘n stadium oor my toekoms in die perswese laat wonder.
Nou het ek ‘n Kindle in my laai. Ek voel soos ‘n kind met ‘n nuwe speelding as “Spore in die bos” so voor my oë op die skermpie voortrol. My olifant “Mayafudi” het inderdaad ver paaie gestap.
Ns. Dat Anton J. Jansen uit die verre Taiwan in sy resensie so mooi oor die wel en wee van ou “Mayafudi”skryf, was ook op die laaste skryfskof ‘n genoegdoening. Heerlike nagereg – ryk en lekker!
(HvD)
Sep 4, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
‘n Wonderskone blommetapyt word voor jou oopgerol as jy Postberg in die Nasionale Weskuspark binnery. Hierdie foto is net binne die hek geneem op die pad na Plankiesbaai – ‘n heerlike stilhouplek vir ‘n koffietjie en ‘n broodjie uit jou piekniekmandjie terwyl die branders op jou aanstorm. Op die Uitkykpad is ook pragtige taferele. Postberg is nog tot einde September oop vir die publiek. (HvD)
Sep 3, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
Dis ‘n bloeijaar in die Weskuspark.
Selfs die klippertjies blom!
(HvD)
Sep 2, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
Spyt is volgens die spreekwoord ‘n goeie ding maar kom, helaas, altyd te laat. Hoe laat te laat is, is iets waaroor ‘n mens kan redekawel.
Dat Maties se Dagbreek-koshuis nie oorhaastig ekskuus gevra het oor die sogenaamde “Slag van Andringa” van Julie 1940 nie is ‘n gegewe. Maar om amper ‘n driekwarteeu vir ‘n ekskuus te wag, is verreweg geen rekord nie.
Iemand wat byna twee eeue moes wag, is pres. Tom Jefferson van die VSA.
“Geagte Tom Jefferson,” skryf die Hartford Courant op 13 April 1993, “die tyd is ryp om te vergewe en te vergeet.”
Dan word verwys na die byna histeriese uitbarsting van daardie koerant in die jaar 1800 toe dit van ‘n Jefferson-presidentskap onder meer die volgende voorspel het:
“Moord, roof, verkragting, owerspel en bloedskande sal openlik aangemoedig en beoefen word, die lug sal deurklief word met die krete van nood en ellende, die grond deurdrenk word met bloed, en die nasie in duisternis gedompel weens misdaad.”
“Dit is nooit te laat om ‘n fout te bely nie,” het die destydse redakteur gemeen.
Op ‘n snaakse manier gee hierdie gesindheid van eerder laat as nooit ‘n mens nogal hoop vir die mensdom, het ek in my humorboek Flaters en Kraters (Tafelberg, 1996) geskryf.
Ek dink steeds so. (hvD)
Aug 31, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

HvD en Mayafudi – diep spore in die bos
Middag uit Melkbos
Vat so, Mayafudi, ou maat! Vir die storie van jou swerftog kry ons uit die verre Taiwan vier sterre en allerlei tarentaalvere in die hoed.
Had ek maar ‘n slurp, het ek dit vir jou vandag hoog gelig oor die diep spore wat jou grootvoete getrap het.
Geniet daar in die Wildtuin gerus ‘n ekstra sluk salige Sabiewater en ‘n lang stofbad om Anton J. Jansen se gulle resensie van ons twee se “Spore in die bos” te vier. Op Melkbos is die vonkelwyn op die ys. Al is dit winter daarbuite, is ‘n yskoue Nuy-tjie beslis geregverdig.
In die gemoed is die sonskyn immers helder en koesterend.
Ek kom soek jou in die digte oewerbos as ek weer Sabiepark se kant toe kom – hopelik teen Kersfees. Dan deel ons ‘n knipoog om vir mekaar te se: ons twee is ‘n span! Eintlik ons drie, want e-boeke vir Afrika kom by.
Die resensie op Amazon:
4.0 out of 5 stars
Fabelagtige ervaring August 30, 2012
By Anton J Jansen
Wanneer dit kom by stories oor diere, is ek maar – lig gestel – ‘n fabelagtige snob, en min skrywers kan my vasvang met hulle verhale soos de la Fontaine en sy Franse fabels waarvan ek elke liewe een gelees en bestudeer het. Die gevolg is dat ek mettertyd begin glo het niemand kan naby hom kom nie; en daar kry ek toe ‘n heerlike verrassing met hierdie storie.
Wat my eerstens gevang het van hierdie boekie is die vroeë belofte (aangesien ek dit op Kindle gelees het kan ek ongelukkig nie pagineer nie), “Hy besef egter met ‘n pyn soos ‘n dolksteek dat hy verkeerd gedoen het. ‘n Eerbare olifant kan hom beteuel…Die veldwagters sal weldra begin soek, swaar gewapen…met die opdrag om die gevaarlike bul van kant te maak.” En, hiervandaan bou die storie in algehele glorie van vrees by die leser oor wanneer daardie dag gaan kom…
Mayafudi is nie net ‘n olifant nie; vir my is hy ‘n LEWENDE karakter met insig, geskiedenis en ‘n gewete, en natuurlik leer die leser ‘n hele paar lesse (23 om presies te wees) oor respek vir die diereryk – waarvan die belangrikste les die feit is dat diere ook maar net gevoelens het soos mense.
Die storie is geskryf met duidelike insig vanaf die skrywer, en die vloei van die verhaal het my tot so ‘n mate geboei dat dit werklik moeilik was om neer te sit. Ek het byvoorbeeld in my volwasse klasse spesiale “lees sessies” aan my studente opgedra, net sodat ek onversteurd self verder kon lees – hulle met vervelig-verpligte artikels, en ek kuier ongesteurd saam met Mayafudi. Was die boek beskikbaar in Engels, het ek dit vir hulle verpligte leesstof gemaak.
Gevolglik kon ek egter die verhaal slegs oorvertel, en hulle het aan my lippe gehang. Hulle wou daagliks weet wat het ek nuut gelees omtrent Mayafudi. My studente is Taiwanees, en gevolglik ken hulle nie (behalwe vir troeteldiere) die diereryk soos ons Suid-Afrikaners nie. En, dis waar die lekkerste van lekker ingekom het: om die verhaal met my studente te kon deel.
Die een ding wat bo alles uitstyg in die verhaal, is “‘n Trop olifante bestaan nie net uit ‘n klomp vreemdelinge wat toevallig saambondel nie. Die lede vorm ‘n sosiale groep wat vriendelik is met mekaar en mekaar se laste dra.” Hoe wens ek dat dit weer die geval kan word onder die mensdom. Daar is uiteraard BAIE wat ons by olifante kan leer.
Wat die boek verder aanbevelenswaardig maak, is die feit dat daar, soos vroeër gesê, soveel lesse is om te leer, en nie een van hierdie lessies is iets wat in jou gesig gegooi word nie, en dis nie prekerig nie. Jy besef eenvoudig dat jy nog iets geleer het.
Die boek is beslis ‘n moet lees vir alle diereliefhebbers, want dis werklik fabelagtige werk. As mense is daar soveel wat ons by hierdie dierbare olifant kan leer; en met oorvertelling, kan selfs kinders hom leer ken. Dus is dit nie net ‘n lekkerlees verhaal nie, maar dis uiters opvoedkundig.
‘n Laaste woord van my kant af: wees gereed om in kontak te kom met jou emosies wanneer jy Mayafudi leer ken en ervaar. Ek sak my kop in skaamte vir die feit dat ons ons diereryk so onderskat.
Ek sou graag die boek ‘n vyfster-gradering wou gee, maar ons het as lesers verskillende verwagtinge, en ek sou nie graag iemand wou teleurstel in hulle persoonlike verwagtinge nie. Lees dit gerus en besluit self of jy die ekstra sterretjie sou gee. Van my kant af, dus ‘n fabelagtige verhaal wat deur-en-deur die moeite (baie min daarvan, aangesien dit baie vinnig lees) werd is.
(HvD)
Aug 30, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Kollege se “Booze”-klub van 1959
More uit Melkbos
‘n Gaping in die geskiedenis van die Aula, my alma mater Tukkies se hart van die uitvoerende kunste, verdien om met sy heropening gisteraand opgediep en aangeteken te word. Hierdie joernaalskrywer is bereid om die takie te onderneem.
Net ses Tukkies van die era rondom die eerste opening, op 6 September 1958 met ‘n konsert deur ons eerste eie prima donna, Mimi Coertse, ken daardie stukkie geskiedenis van binne. Ons was almal lede van Kollege-tehuis (toe nog op die kampus) se berugte “Boozeklub” van daardie dae. “(In ordentlike geselskap is na die “Boozeklub” eufemisties as die “Bierklub” verwys.)
Oorspronklik was ons agt. Twee is egter oorlede. Vrydagaande het ons gewoonlik Tant Bella (die Hotel Belvedere in Kerkstraat) besoek. Ons kaptein het die septer geswaai. Omdat hy met twee beurse geseën was, kon hy bekostig om die drankies te koop op voorwaarde dat elkeen sy bek hou en drink wat hy kry. As ons kaptein sê “rum” is dit “rum”, al smag jou lyf in daardie stadium na tamatiesap!
Desondanks het al die lede in mindere of meerdere mate pilare van hul gemeenskappe geword. Maar dit net terloops.
Wat hier relevant is, is dat die eerste verjaardag van die Aula, wat ‘n deftige okkasie was, in 1959 saamgeval het met ‘n besonderse byeenkoms van die “Boozeklub” op die ou atletiekbaan (waar die Musaion nou staan) – minder deftig as die Aulastorie maar ewe gedenkwaardig en kwalik onoortrefbaar in vrolikheid.
Terwyl die tjello’s in die Aula tril, was ons klub naamlik versamel om ‘n taamlike kwota metiel-alkohol wat een van ons – ons kaptein – die middag uit ‘n Fisika (prakties)-klas verduister is. Of was dit dalk etielalkohol? Dit was in elk geval nie ‘n giftige of dodelike vloeistof nie.
Ons het die brassery almal oorleef. Maar al het die konkoksie wat bestaan het uit die inhoud van die verduisterde flessies uit ‘n laboratorium en ‘n ruime byvoeging van Coke en ys ons nie doodgemaak nie, het dit wel ons gemoedere sterk beïnvloed. Ons het luidrugtig, uitdagend , waaghalsig, miskien roekeloos en – in een geval – selfs ietwat obseen geraak.
Ek bemerk die drag vir vanjaar se heropening was dagpakke en tradisionele drag. Destyds was aandpakke natuurlik “tradisionele drag”: Aanpakke met swart strikkies en stywe borshemde, party kunstig geborduur en so. Vroue het swiepende lang rokke gedra.
In elk gevalk met pouse beweeg van die statige gaste toe na buite om Pretoria se verfrissende lentelug in te adem. Op daardie oomblik pak die drang een van die metiel-drinkers om van al sy klere ontslae te raak en die Aula se stoep op te storm met die kreet op sy lippe: “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”
Of iemand later gesig en gat kon bymekaar bring, weet ek nie. Die deftige gaste was egter van verontwaardig tot getraumatiseerd en die owerheid allesbehalwe geamuseerd. Arme Kollege was weer in die hondehok as’t ware – geruime tyd nogal.
‘n Ander lid van die broederskap had ook sulke kaalnaelplanne, maar verdwaal en eindig toe met sy kaal bas in die stort op: ‘n goeie plek om heen te verdwaal met ‘n kaal bas. Net jammer hy het vergeet om eers ontslae te raak van sy nuwe “suede”skoene (is daardie “suede” en seemsleer dieselfde ding?) Hy kon nie weer sy “suedies” aantrek nie, buiten agter die beeste op hul plaas aan.
Van die Aula het ek persoonlik allerlei herinneringe. Was in ‘n stadium ‘n gewillige plekaanwyser in ruil vir ‘n gratis kaartjie. Het ook vir Mimi daar hoor sing: opera-arias maar o.m. ook die aangrypende “O Boereplaas” en die guitige Duitse “Schatzi” (Schatsli/Skatjie) as toegif.
Een aand is ek en my vriend Cas Jacobs met twee bekoorlike asters na die een of ander Aulakonsert. Ons was in ons kispakke en hulle in die fraaiste rokkies. Lieflike geure het om hulle gehang. Toe ons hulle wil huis toe vat, Asterhof toe, haal die “Santa Maria” (my Peugeot 203) sy ou nuk uit. Hy verseg om te vat. Enjinkap is oop. Ek en Cas vat hier en druk daar. Uiteindelik stoot ons almal – ook die fraai asters in hul spoguitrustings. Geen gelukkige einde vir ons grênd aand nie. (HvD)