MNR. INTEGRITEIT

Middag uit Melkbos

Die doedelsakke, tromme en Hooglanders wat in geruite rokkies trippelswaai, het ontbreek. In meer as een opsig het die gedenkdiens vir kollega Kootjie Geldenhuys (84) vanoggend in die NGK Welgelegen, Parow, tog wel aan ‘n Skotse “gathering of the clans” herinner.

Vir eers was verskeie Geldenhuys-“clans” verteenwoordig, die eie familiestam tot in die vierde geslag, die Naspers-stam, die bure-en-vriendestam uit Port Elizabeth, Bloemfontein en Onrus (sy vakansieplek), die Welgemoedstam (vorige gemeente), die Welgelegenstam (huidige gemeente), die La Provencestam (woonplek) – noem maar op.

Uit die Naspers-“stam” het vir hierdie “gathering of clans” rondom die afsterwe van ‘n geliefde kollega verskeie vertakkings opgedaag: topbestuur, middelbestuur, syfermense, redaksionele kollegas, advertensiemense …. Minstens 25 wat in ‘n stadium in Kootjie se tyd by lessenare in die Nasperssentrum aan die Heerengracht gesit het, kon ek onder die 400-plus begrafnisgangers op my vingers aftel.

“Die grootste begrafnis wat ek nog bygewoon het,” het Ton Vosloo agterna opgemerk. Seker ook die verteenwoordigendste van alle dissplines in die ou Pers, soos ons generasie hom nog geken het, wil ek waag om by te voeg. ‘n Treffende huldeblyk in sig self.

Ook uit ander take van Kootjie se vol lewe was substrata teenwoordig: van die vorige omgewings waar hy hy opeenvolgende koerantbestuurder van Oosterlig en Die Volksblad was, tot sy eie bestuurspan by Die Burger waar hy tot hoofbestuurder gevorder het, en dan ‘n halfdosyn of meer van die destydse 18de verdieping – die bestuurshart van die ou Pers. Verskeie reeds 70-plussers, sommige al ook oor 75.

‘n Verdere Skotse element kom uit die intieme gesinskring. Marietjie, oudste dogter, en haar gesin woon in Skotland “Ons sal nooit vir Oupa of die Skotse keppies vergeet nie,” het kleinkind Colin in sy huldeblykie gesê, met verwysing na die geruite pette uit daardie geweste wat sy oupa graag op sy kop gesit het. Hy sweer die nederige Kootjie was ietwat spoggerig met so ‘n pet op, het ds. Kobus van der Westhuizen, self ‘n La Provencer, van die kansel geskerts.

En ja, La Provence was ook in meer as een vertakking in die kerk teenwoordig – die opvallendste Kootjie se mede-rolbalspelers in hul wit gewade. Die rolbalgogga het Kootjie in die herfs van sy lewe behoorlik gebyt, nadat hy in sy Onrusdae as entoesiastiese visterman bekend was. Hy was ook Wildtuinman – die Vyf Grotes het nie sonder rede op die eerste blad van die program van die gedenkdiens gepryk nie. En natuurlik familieman .. miskien tog wel familieman by uitstek. Een van die laaste groot familiesaamtrekke was inderdaad in die Krugerpark – twee liefdes ineengevleg.

Marianna, ‘n kleinkind uit die Adri-tak, verklap in haar huldeblyk juis die dierbare oupa se opregte opgewondenheid voor elke so ‘n geleentheid. “Soveel so dat Oupa nie kon slaap die vorige aand nie en dat Ouma dan ‘n kalmeerpilletjie onder die tong moet gee as die opwinding te veel raak.”

Alta, Kootjie se vrou vir 60 jaar, beklemtoon in haar huldeblyk sy onberispelike voorbeeld en lewenswandel, asook toewyding aan Christus. Ander eienskappe wat deur die kinders en kleinkinders uitgelig word, sluit in sy oorvloedige en opregte liefde, vreugde en ondersteuning, die inspirasie wat van hom uitgegaan het, sy goedhartigheid en vrygewigheid.

Dr. Michiel Strauss se teksvers uit Kolossense 3 het treffend hierby aangesluit: “Julle is die uitverkore volk van God wat hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.” Dit was Kootjie alles.

Hy was as kollega ook minsaam, regverdig, voorbeeldig en standvastig, soos ek Donderdag aan Die Burger gesê het. “Sy reg was sy reg en sy verkeerd was sy verkeerd.”

Gooi al hierdie dinge bymekaar, skommel deeglik en daar het jy die resep vir die wye eerbied wat in soveel sfere vir hierdie man van die hoogste kaliber bestaan het. Hy was “‘n baie ordentlke mens met integriteit,” soos Ton Vosloo in dieselfde Burgerberig aangehaal is.

Kootjie, ons salueer jou – ons Mnr. Integriteit.

(hvd)

OUERIG EN MOERIG-RIG

More uit Melkbos

Twee “ouerige dames” se gesprek in ’n koffiehuis laat die jonger man aan die tafel langsaan sy ore spits. Een vertel gedoriewaar vir haar metgesel van iets oor Barack Obama wat sy – van alle plekke! – op Facebook gelees het.

Verbeel jou! Dit interesseer die jonger man so dat hy op Facebook daaroor skryf … en by hierdie “ouerige man” lok sy stomme verbasing toe dadelik ’n refleks-respons uit.

Wat beteken “ouerig”, vra ek hom in kommentaar by sy inskrywing. Geen antwoord. Ek kon natuurlik ook gevra om watter aardse rede hy Facebook as die eksklusiewe domein van “jongeriges” beskou. Of hoe hy weet dat daardie twee gespreksgenote “dames” is (nie dalk net vroue nie). Kom ons los daardie aspekte maar eenkant.

Oneksakte beskrywings soos “ouerig” gee my egter ‘n pyn. Wat is “ouerig” inderdaad as van ‘n kind in ‘n kleuterskool tot ‘n grysaard in ‘n eenheid vir verswakte bejaardes “ouerig” kan wees – elkeen se graad van “ouerig”-heid natuurlik bepaal deur sy of haar portuur en deur die oë van die waarnemer.

Omdat daardie Facebook-gebruiker nie sy ouderdom bygevoeg het by sy inskrywing nie, weet lesers nie of sy “ouerige dames” 40 is of 50 of 60 of 70 nie. Is die feit dat hulle oor Facebook gesels dus niks vreemd nie, bietjie vreemd of uitermate vreemd?

Vir dieselfde prys: wat is ‘n “goeierige” rugbyspeler? Een wat vir sy klub se eerste span uitdraf of die vierde span? En ‘n “vinnigrige” vleuel? Is dit ‘n Bryan Habana, of is hy plein vinnig, kort en klaar?

Sulke woorde wat op “rig”” eindig, het seker ‘n naam. Moet die een of ander taalverskynsel wees, nogal meer eie aan ons eie taal, Afrikaans, as byvoorbeeld aan Engels, meen ek. In elk geval, ek dink nie ons taal sal armer wees daarsonder nie.

Ewe seer kan ons gerus maar ophou om mekaar sulke etiketjies om die nek te hang, soos veral die jonger garde graag doen. Toe ek nog net-net oor die 40 was, het ek ‘n keer amper van my lessenaarstoel geval toe ‘n verslaggewer van Die Volksblad waag dat ‘n 50-jarige ‘n “bejaarde” is wat iets oorgekom het. Dit was ekstreem. Maar die meeste koerante val maar rond met die gebruik (of misbruik) van woorde soos middeljarig, bejaard, oud, ens.

In dieselfde asem: wanneer word jy ‘n “oom” of ‘n “tannie”? Tokkie is al deur ‘n jong ouerpaar in ‘n hospitaalsaal “tannie” genoem voordat sy 30 was en rêrig ‘n mini kon dra sodat dit ‘n eer vir die mini is.

Hierdie “ouerige” ou raak stadigaan “moerig-rig”!
(hvd)

GAAN VLIEG … MET STYL!

More uit Melkbos

Agter die lessenaar van daardie platjie-minister Hendrik Schoeman van ‘n vorige generasie anderster soort politici as vandag was ‘n spreuk met die strekking dat ‘n diplomaat iemand is wat jou warm plek toe kan stuur sodat jy uitsien na die reis.

Die diplomasie en die politiek is in hierdie opsig nie bedmaats nie. Politici praat tradisioneel padlangser. Die politieke retoriek is dikwels robuust, soos in die vorige blog opgemerk.

Ook in die robuuster politieke retoriek kan egter onderskei word tussen beledigings met styl en sonder styl. In eersgenoemde kom ’n elegansie van taalgebruik na vore wat in die moderne tyd met sy voorliefde vir sterk vierletter-woorde skaars voorkom.

Hier is enkele voorbeelde uit ‘n skat van ouwêreldse beledigings:

“He had delusions of adequacy.” – Walter Kerr .

“He has all the virtues I dislike and none of the vices I admire.” – Winston Churchill.

“A modest little person, with much to be modest about.” – Winston Churchill.

“I have never killed a man, but I have read many obituaries with great pleasure.”- Clarence Darrow.

“hat man couldn’t negotiate his way out of a toilet” – Onbekende (oor Arthur Scargill, linkse vakbondleier).

“I feel so miserable without you; it’s almost like having you here.”- Stephen Bishop.

“He can compress the most words into the smallest idea of any man I know.” – Abraham Lincoln.

Van woorde gepraat, hier ‘n paar voorbeelde van elegante beledigings uit die omgewing van die lettere:

”He has never been known to use a word that might send a reader to the dictionary.” – William Faulkner (oor Ernest Hemingway).

“Poor Faulkner. Does he really think big emotions come from big words?” – Ernest Hemingway (oor William Faulkner).

“Thank you for sending me a copy of your book; I’ll waste no time reading it.” – Moses Hadas.

“I didn’t attend the funeral, but I sent a nice letter saying I approved of it.” – Mark Twain.

“He has no enemies, but is intensely disliked by his friends.” – Oscar Wilde.

Wag, netnou hou julle op lees voordat ek ophou skryf! (hvd)

VERBALE DIARREE

More uit Melkbos

Politieke retoriek is dikwels robuust; opponente spaar mekaar nie as dit by slegsê kom nie. ANC-minister Lindiwe Sisulu se klap na die DA se David Maynier as ‘n LP “met sy vlooibesette liggaam”, val in daardie kategorie.

Onvergeetlikheid sal dit nie verwerf nie, want die aanstootlikheid oortref enige sprake van spitsvondigheid. En sonder ‘n tikkie humor is ‘n politieke kwinkslag doodgebore – gaan blaai maar deur die allerlei boekies waarin die beste opgeteken is.

Een van die oulikstes wat ek ken, is in Brittanje uitgegee onder die titel “The Official Candidate’s Book of Political Insults.” Die Britte is meesters op die gebied.

Die raspertong-Lindiwe kon haar rieme styfgeloop het as sy sou gewaag het om haar vlooie-opmerking teenoor Benjamin Disraeli te maak. Vra maar vir Gladstone, wat gewaag het om sy opponent te berispe: “Sir, you will either die on the gallows or of some unspeakable disease.” “That depends, sir.” het Disraeli teruggekap, “On whether I embrace your policies or your mistress!”

’n Knaap wat my nekhare gereeld laat orent staan, is die Kaapse vakbondleier Tony Ehrenreich. Hy het dit nou weer reggekry met sy verwyt aan die adres van Helen Zille omdat sy ‘n geselligheid bygewoon het in ‘n tyd van geweld, en geld op grimering uitgee terwyl armes dringende behoeftes het (Die Burger, 16 November).

Het ANC- en vakbondleiers sedert Marikana op die waterkar geklim? Kom ons vergelyk Helen Zille se besteding uit haar eie sak aan grimeermiddels teenoor Jacob Zuma se uitspattigheid met belastingbetalers se geld by “Nskandla” (Jammer, SABC).

Ek sien nie op TV dat die jonge heer Ehrenreich self sy klere geskeur het en as op sy kop omgekeer het in rou omdat “die provinsie in vlamme opgaan” nie. Hy behoort voor die oproermakers uit te loop terwyl hy wenend uitoep: Mea culpa, mea culpa!, meen ek. Ons wag op ‘n rolmodel.

Maar ek verloor my spoor. Sonder om mnr. Ehrenreich se uitsprake die lelike drieletter-woord toe te voeg wat dit sekerlik ten beste sal beskryf, herinner ek liewer aan die volgende netjiese beskrywing van ‘n Britse snertprater, Peter Walker: “To hear him talk, he has done almost as much for agriculture as fertilizer!” (Verbale diarree!)

Maar laat ‘n mens jou nie oor Tony Ehrenreich moeg maak nie.
“He is simply a shiver looking for a spine to run up” (met apologie aan Paul Keating).
(hvd)

AULD LANG SYNE

Naand uit Melkbos

Vanaand na die wonderlike “Christmas Collection” van Phil Coulter geluister. Sy vingers op die klawers laat ou Kersgunstelinge soos “Stille Nag”, “O Holy Night” en “Mary’s Boy Child” nuut klink.

Hy sluit af met “Auld Lang Syne”. Daarna het ek twee keer geluister.

Sal ons ou kennisse ooit vergeet?

Terwyl ek luister, was voor my die beeld van ‘n jarelange vriend, ‘n gesiene man, wat ek vanoggend in sy karaktervolle studeerkamer agter sy lessenaar aantref. Soos ‘n vors. Hy het bo ‘n netjiese hemp aan …. en onder ‘n doek.

Om ons stry naaste familielede teen longe wat nie meer hul werk kan doen nie. More is dit chemoterapie vir party. In die hospitaal is ‘n vriend op die naat van sy rug na ‘n rugwerwel-fusie en ‘n kollega met ‘n bloeiende maagsweer.

Om my heen is ‘n halfdosyne bekendes wat in die laaste paar maande weens hul prostate met die skalpel en kateters kennis gemaak het. Kardio-vaskulere chirurgie moes op andere uitgevoer word. Alzheimer begin sy tol eis. Nuwe hart-pasaangeërs is ingeplant.

Die dinge wil nie ophou nie. Om oud te word. is nie pret nie, voorwaar.

Sal ek maar weer “Auld Lang Syne” opsit en ‘n glasie rooiwyn skink? (hvd)

VIR `N `RAAID’ GEVAT

More uit Melkbos

Die moeilikheid is dat ‘n mens meesal nie weet ‘n maatskappy staan met sy een voet op ‘n piesangskil en met die ander in die graf nie. Jy koop en betaal in kinderlike vertroue – oornag is jy jou swaarverviende geldjies kwyt.

Soos duisende lugpassasiers nou met 1Time en die die uwe, Kiepie, vier jaar gelede met Nationwide. Dis nie lekker om so letterlik en figuurlik vir “‘n raaid gevat te word” nie!

In elk geval, as ek ‘n goeie les geleer het, is dit die volgende: As jy hoegenaamd twyfel, betaal per kredietkaart. Dit geld nie net die laekoste-paddastoeltjies wat luglangs van punt A na punt B zirts nie.

Kyk wat gebeur nou met 1Time. Die banke val omtrent oor mekaar om hul kliënte te verseker hul plastiekgeldjies sal veilig wees. Dis die ouens wat oor die internet of die bank se toonbank hul kontant onmiddellik stort, wat altyd aan die kortste ent trek. Jy word eenvoudig sommer ‘n nommer in ‘n lang likwidasieproses.

HvD het vir die wintervakansie 2008 vier kaartjies – vir hom, TvD en die tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas — na Mpumalanga Internasionaal gekoop. Toe vou Nationwide.

Dokumente is met moeite voltooi en ‘n eis vir R5 392,00 geregistreer (amper op ‘n sent die verlies wat matrone Netta Nortjé nou via Oom Oubaas in 7de Laan gely het). Meer as vier jaar het ek gesukkel om ‘n antwoord uit die likwidasieprokureurs te kry oor waar sake nou staan.

In daardie tyd het die Pretoriatrust die Tshwanetrust geword en is die Nationwide-saak van een lessenaar na ‘n ander geskuif. Tien dae gelede het ek weer ‘n hoflike e-possie gestuur:

From: Hennie van Deventer [mailto:hvandeventer@mweb.co.za] Sent: 04 November 2012 04:00 PM

To: tshwanetrust@intekom.co.za

Subject: Eis teen Nationwide

Importance: High

Vir aandag: Alta van Wyk/Hannes Muller

Goeie middag

In ‘n brief gedateer 17/06/2008 is ontvangs van my eis vir R5 392,00 m.b.t. vliegkaartjies teen Nationawide Airlines onder handtekening van Alta van Wyk erken. Dit was die laaste kommunikasie van u in daardie verband.

My navraag is of die aangeleentheid nog onder afhandeling verkeer en of ek derhalwe aangeraai word om die betrokke dokumentasie te bewaar.

Dankie vir u vriendelike aandag

Met agting

J.H. van Deventer

Posbus 204

Kernkrag

7440

Na ‘n verdere oproep of twee het Deirdre Basson, “estates manager”, laat weet:

Meneer Van Deventer

Daar is op die oomblik steeds nie fondse vir uitbetaling aan konkurrente skuldeisers beskikbaar nie.

Die likwidateurs van Nationwide is tans besig met litigasie in die Hooggeregshof teen die SAA ten aansien van ‘n skadevergoedingseis ten bedrae van R115 000 000 plus rente.

Indien die eis suksesvol is sal daar beslis ‘n betaling aan konkurente skuldeisers gemaakkanword. Indien nie, sal daar moontlik slegs ‘n geringe dividend beskikbaar betaalbaar wees.

Die litigasie kan egter nog etlike maande neem om af te handel.

Groete

Deidre Basson

ESTATES MANAGER

Tshwane Trust Co (Pty) Ltd

1207 Cobham Road

Queenswood

Pretoria

0186

DOCEX 51,PRETORIA

MK56PRETORIA/ MK56JOHANNESBURG

Tel 0861 874 926 // +27 12 333 6162

Fax 0865 542 460 // +27 12 333 4672

’n Eis van ver oor die R100 miljoen teen die “bankrot” SAL! As die eis slaag, kry ek dalk ‘n krummeltjie terug. Oor maande. Ai, mense, moet ek regtig nog ‘n spul onnodige papiere bewaar vir so ‘n flou ligstraaltjie in ‘n la-a-ang donker tonnel?

Een geluk darem: Dit was nie R50 000 nie! (hvd)