Dec 6, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Hoe’s daai vir ‘n plettervat?
‘n Troppie rooibokke kry snuf in die neus; sit op loop en loop hulle vas in die luiperd se hinderlaag. Hierdie unieke foto en nog ‘n hele reeks, die een so manjifiek soos die ander, verskyn in die someruitgawe van “Wild”. Die fotograaf is Martha van Rensburg. Die plek is iewers in die Kruger, vermoed ek.
Daar’s ook ‘n video op You Tube van hierdie skouspelagtige duikslag.
Absoluut asemrowend!
(hvd)
Dec 5, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
‘n HYSBAK ruk stotterend tot stilstand tussen twee verdiepings. Ingehok met vreemdes of stoksielalleen hang jy hier tussen hemel en aarde. Dit is die stof waarvan nagmerries gemaak is.
Tussen ‘n klomp mede-prisoniers kan komplikasies opduik soos oorweldigende sweet- en ander reuke (dalk het iemand knoffelhappies geniet!), dalende suurstofvlakke, histerie, onbeheerbare drang om te piepie … die lys is eindeloos. As jy alleeen is, dreig eensame, honger, koue, uitmergelende ure.
Gister, aan die vooraand van sy 80ste verjaardag, kry Danie Krynauw, oud-burgemeester van Milnerton, die kans om sy mede-Probuslede (‘n sosiale klub vir afgetredenes) toe te spreek oor die onderwerp: Wie is Danie Krynauw? (Almal kry ‘n beurt. Ek sal ook nog moet vertel wie HvD is – ‘n taamlik uitdaging!)
Danie vertel die klub toe in die tyd dat hy private sekretaris vir Kaaplandse administrateurs was (o.a. Lapa Munnik) het hy een laat Vrygdagmiddag in die winter in ‘n hysbak vasgesit en die paniekknoppie gedruk. Dit was al pikdonker in die regeringsgebou, en doodstil.
’n Ou het oor die interkom gevra wat skort. Danie het benoud geantwoord dat die toestel tussen twee verdiepings gaan staan het. Toe sê die ou: “Moenie ‘worry’ nie, sir, dis nou al laat en die mekennieks is algar al huis toe vir die naweek. Maar sir moet net nie ‘panic’ nie. Ons sal Maandagoggend ‘first thing’ vir sir kom uithaal.”
Danie het nie vertel hoe lank hy moes sit nie. Of die storie met ‘n knippie sout gevat moet word, weet ek nie. Met Danie weet ‘n mens nooit.
Hy het byvoorbeeld ook vertel van die die mooi preek een Sondag waarin Melkbosse lidmate opgeroep is om ná die uitspreek van die seën na iemand te stap en vir dié te vertel wat jy in hom of haar waardeer.
Danie (hy is Danie 2) sien hoe sy klubvriend Danie 1 of te wel Danie Grundlingh na hom aangestap kom. ”Danie, ou maat,” knoop Danie 1 ‘n gesprekkie aan: “Ek het lank gedink aan iets wat ek in jou waardeer … maar ek kan werklik aan niks dink nie!”
Wens ek kon Danie 2 se gesig gesien het. Gewoonlik is hy die een wat poetse bak.
Sy Probusmaats was nie verras nie toe hy ook vertel van ‘n besoek aan mnr. J.P. Theart, wat skoolhoof op Beaufort-Wes was, in ‘n tehuis vir bejaardes. Mnrt. Theart was toe al amper 90 jaar oud en het Danie nie herken nie. Maar toe hy hoor sy besoeker is Danie Krynauw het hy dadelik gereageer: ”Jy was die onnutsigste mannetjie wat ek as onderwyser teëgekom het.”
Hy is dit waaragtig steeds, mnr. Theart. Op tagtig – die eerbiedwaardige ouderdom wat hy Maandag 10 Desember bereik. Luister tog maar fyn as dié vent vir jou stories begin vertel soos van die arme vrou wat net een linkerhand het of die pous se vrou wat pas oorlede is ….. (hvd)
Dec 3, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die drinklied uit La Traviata, die drinklied uit The Student Prince, Eitemal se Drinklied – weet nie hoe dit is nie, maar die lied en die vers wat die vreugde van ‘n glasie besing, vind nog altyd by die uwe aanklank.
Saterdagaad het Eitemal (die oud-Kollegeman W.J. du P. Erlank) se Drinklied in my kop gedraai: Nog ‘n skuinse grappie, kêrels/nog ‘n glasie wyn/en die gore werklikhede/sal in mis verdwyn. Vonkelwyn en skaterlaggies/ sprinkel oor ons leed/ tot ons al die muf miserie/om ons heen vergeet. Styf gearm huis toe slinger/onder singlawaai, wyl die dronk ou wêreld om ons/ rondomotalie draai.
Skuinse grappies was volop toe ‘n 30-stuks oud-redaksielede van die dagblad Die Volksblad ‘n Kaapse makietie hier op Melkbos hou. Glasies wyn is van vroeg middag geklink – ook vonkelwyn (Villieria Blanc de Blancs se Cap Classique nogal, het ek agterna op die etiket gesien). Skaterlag het opgeklink. Telkemale, Veral van een tafeltjie in die hoek waar bekende grapjasse saamgebondel was.
“Gore werklikhede” het inderdaad in mis verdwyn voor die oorheersing van sentimentele onthou-jy-nogs uit die jare 60, 70 en 80 in Bloemfontein en elders waar die manne en vroue om den brode vir DV geswoeg het … van die grootste uitgelatenheid was oor Pieter Cronjé se briljante personifikasies van Piet Koornhof, ook al lank onder die langboompies.

Huidige vreugdes was o.a. die teenwoordigheid van Henriette Loubser, nuwe redakteur van Huisgenoot, dag en datum presies 25 jaar nadat sy, toe nog Henriette Anderson, as groentjie by Die Volksblad ingestap het. Een van die “amptelike foto’s” was van haar tussen haar eerste nuusredakteur, Philip van Rensburg, en eerste redakteur, die uwe. ‘n Getekende botteltjie Hanepoot het sy weg na haar gevind.
Op ons eie André J. Brink (Brinkie) is ‘n heildronk geklink. Hy het die vorige dag sy assistent-redakteursdeur by Huisgenoot finaal toegestoot. Vanoggend kon hy laat slaap.
Johan van Wyk, geliefde skrywer van die rubriek Stop van Myne, se eerste boek, So was dit, is op pad – ook daaroor is die glasies gevul. (Terloops, twee deurlugtige skrywerslede van die groepie kon nie teenwoordig wees nie … niemand minder nie as Deon Meyer en Chris Karsten!)
Jan en Nancy Oosthuysen vier oormore hul 53ste troudag – “ja, skink maar nog enetjie, asseblief”.
Nie aan alle “gore werklikhede” kon ontsnap word nie., Een van die Volksbladders het in die VanD’s se gasteboek geskryf: “‘n Laaste voorreg. Lief vir julle almal.” Sy bewoënheid was tasbaar. Hy is ‘n baie siek man.
Die fees is gereël deur die sogenaamde “Omgeegroepie” van oud-Volksbladders wat spontaan gegroepeer het en vier keer ‘n jaar saam kuier. Die naam kom van een van hulle wat soms ‘n botsing van datums met sy “Omgegroepie” ondervind het. Toe doop hulle hulle self terstond ook “Omgeegroepie”. Nou moet hy kies watter “Omgeegroepie” hy wil bywoon!
Om die okkasie des te meer luisterryk te maak, is van die beskikbare “ou mense” ook genooi. ‘n Spesiale verassing vir die meeste was dat daardie groepie 70-plussers ingesluit het die klassieke, pyprokende Boesmanlander Jan Scholtz en sy vrou, Marlene, uit Bloemfontein. Hulle kuier tot more by kinders in Durbanville.
Van 15:00 af het alle paaie na Melkbos begin lei, en is die aangename reuke van lam op die spit deur die windjie aangedra. Toe die weste verkleur in een van die skouspelagtigste sonsondergange in ‘n lang tyd en die wind wat die hele week woes geruk het, soos op ‘n teken ophou waai, was dit of dit spesiaal se gereël is: skitterende choreografie.
In een vername opsig is van Eitemal se Drinklied afgewyk. Niemand het, na my wete, styf gearm huis toe “geslinger” onder “singlawaai” nie. Almal is vol lewensvreugde, maar tog stemmig (en stewig) hier weg. Philip van Rensburg is sonder komplikasie deur ‘n padblokkade. Johan van Wyk het wel op die R300 ‘n hond getref. Dit was die hond se skuld. Blerrie hond. (hvd)
Nov 30, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Bedaar, bedaar, vermaan my vriende, maar begrafnisse beroer nou een maal hierdie blogskrywer se gemoed – al is dit ook net die begrafnis van ‘n tradisie wat deur mense geskep is.
So ‘n tradisie wat pas sag heengegaan het, is Media24 se ‘n jaarlikse ete vir vorige Naspers-amptenare, wat in later jare ingevolge die nuwe strukture aan die Heerengracht nolens volens hul Naspers-status vir Media24-status verruil het. (Ekself word nou links en regs aangedui as oud-hoof van Media24 se koerante wat ek nie is nie, omdat Media24 in my jare nog nie bestaan het nie.)
Die laaste jare het ons vorige Naspersers in ons honderde hier teen die einde van November vir ‘n groot middagete opgeruk: gryse oud-kollegas, party bra sukkelend met kieries in elke hand, wie se paaie deesdae nêrens anders kruis nie. Dit was ‘n dag van oor en weer groet en uitvra veel meer as ‘n dag van die gemeste kalf, hoewel laasgenoemde nooit afgeskeep is nie.
Enkele dae gelede het ‘n taamlik abrupte briefie oor die lot van daardie ete gekom. Uit die pen van Esmare Weideman, uitvoerende hoof van Media24. Die maatskappy moet sy “gordel stywer trek”. Die broodnodige besnoeiings by gedrukte media beteken ook die valbyl vir onse ete.
Is dit ironies nie, het ek verbaasde kollegas hoor brom, dat me. Weideman se briefie juis die dag op ons skerms beland toe Naspers kan aankondig sy gekonsolideerde omset het oor die afgelope ses maande met 22% tot R23 miljard gestyg.
Of: Is Koos Bekker, Naspers-baas met sy miljarde, nie pas gekroon as een van Afrika se 40 rykstes nie? Kan hy nie sommer ‘n dankie-etetjie vir in vele opsigte die grondleggers van sy reuse-sakeryk uit sy bultende gatsak borg nie?
Maar nee, dis mos nie hoe sake deesdae daarlangs werk nie. Immers: terwyl Naspers en sy leierskorps al hoe ryker en ryker word, word sy stiefkindjie Media24 (die gedrukte media) al hoe armer.
Drukmedia regoor die wêreld verkeer onder geweldige druk, lamenteer me Weideman. Swak plaaslike ekonomie maak omstandighede veel moeiliker as wat verwag is. Advertensie-inkomste is swakker as verwag en ons sirkulasies is onder druk.
”Wanneer inkomste bedreig word, doen ’n verantwoordelike maatskappy twee dinge: besnoei koste en probeer nuwe inkomstebronne kry. Ons fokus sterk op albei om te verseker dat Media24 die voorste mediamaatskappy in Afrika bly.” So word ons meegedeel.
”Ek (Esmare Weideman) is seker dit is vir u net so teleurstellend soos vir ons. Dankie vir u bydrae tot die groep deur al u diensjare. Ons hoop ons sal u steeds trots laat voel op Media24 en op Naspers, en dat u sal verstaan hoekom ons hierdie moeilike besluit moes neem.”
Die uwe het daarop vir haar ‘n rugstige briefie geskryf: Dankie vir haar boodskap.Dit is goed dat die onsekerheid uit die weg geruim is. Maar elke tradisie wat sneuwel, is natuurlik ‘n hartseersaak.
Wat hierdie besluit des te meer hartseer maak, is dat een van die bloedmin skakels tussen hul ou maatskappy en ’n vorige korps lojale werkers daardeur onverbiddelik en finaal deurgehak word. Met die einde van die tradisie is ook die enigste oorblywende skakel tussen ‘n groot groep Persmense vir altyd verlore.
Media24 neem natuurlik sy eie besluite na die lig wat hy het. Ek. en ek glo ook ander kollegas van ‘n vorige era, respekteer sy goeie reg in die opsig volledig … al sal die rasionaal vir die besluit in die groter konteks van Naspers se geldsake waarskynlik vir baie van ons ietwat onbegryplik wees.
Dankie, nietemin, vir die geleentheid wat ons voorheen gehad het om saam met soveel oud-kollegas aan te sit, en die bande onderling sowel as met ons maatskappy te versterk. In my eie geval was dit vir ‘n lang skof van 15 jaar ná my aftrede.
”Hierdie nuwe verwikkeling – ek gebruik die woord doelbewus – sal die dankbaarheid by afgetredenes oor die behoud van die Nasmed-band des te groter maak.” Minstens een verbintenis leef darem voort, al is dit dalk op geleende tyd.
Na drie dae het ek nog geen boe of ba van die Heerengracht se leidsliede gehoor nie. Seker te besig om nog planne te bedink om “koste te besnoei”. Maar nee, ek het my voorgeneem om nie lelik te raak nie.
Naskrif: In die 70′s het Perskor groot vermaak aan ons Beeldmense verskaf deur vir Kersbonusse hoendertjies vir die personeel aan te bied. ”Hoendertjies, het jy gehoor!” Aan hoe dawerend ons daaroor gelag het, dink ek sedert me. Weideman se brief eenstryk.
(hvd)
Nov 26, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Vir die ongelowige Thomasse wat my verdink dat my wolkefoto van Tafelberg eintlik maar die regte Tafelberg is – net bedek met ‘n wolkekombers.
Hier is die wolke-berg en die ware Jakob, albei van my stoep geneem. Op die wolkefoto le Robbeneiland reg voor die kamera … soek hom op die foto van die berg- berg. Die hoeke verskil heeltemal.
Kan nie die wolkefoto neem uit die ander hoek nie en andersom. Reine waarheid.
Die donker gestapelde wolke,
Berg deur die winde gebou ,
Hoe sou ek hul heimnis vertolke
en saggies dit fluister vir jou ?
(Met apologie aan Toon van den Heever)
Nov 25, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Twee Tafelberge langs mekaar: die en van rots en grond, die ander van wolke. Hier is die wolk-ene, net regs van die Ware Jakob. Die foto van hierdie merkwaardige wolkeformasie is gisteraand net voor sonsondergang van ons stoep op Melkbos geneem.
Toe ek daardie wolk-berg raaksien, het ek dadelik die kamera gegryp en op Facebook gaan vra: wat beduie dit? Sou dit die een of ander spieëlbeeld wees?
Thomas Mollett – wat in sulke natuurverskynsels en dinge belang stel – meen dit is presies wat dit was: ‘n vlietende stukkie “sinsbedrog” deur die natuur. Dat die wolke juis ‘n Tafelberg sou teken, beskou hy as ‘n een uit ‘n miljoenkans.
Nogal na aan uniek!
Spieëlbeeld? Nee, meen hy. As dit was, sou die Leeukop links gewees het en Duiwelspiek regs. Die berg sou ook nie so in sy volle lengte geprojekteer kon gewees het nie.
Ongelooflik, het twee Facebookers, Sunette de Beer en Valerie Müller, spontaan gereageer. Stem saam met julle twee meisies!
Hierbo is die foto weer, nou in sy volle lengte. Maak dit des te meer “ongelooflik”.
(hvd)