Mar 7, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die woord “scoop” het in my lewe nogal ‘n rol gespeel. By koerante waar ek betrokke was, is “scoops” ywerig gejaag. Op my eie naam staan ‘n paar lekker “scoops”. In die titel van my eerste boek wat Tafelberg 20 jaar gelede gepubliseer het, kom die woord “scoop” voor: “Scoops en Skandes”.
Vandag spog ek met ‘n boeke-”scoop”. My kollega en vriend Johan van Wyk (afgetree in die Strand) se langverwagte boek is op pad – en ekke, hvd, kan hier vir julle “eksklusief” wys hoe lyk die omslag. Ek beleef dieselfde pure lekkerkry as nog altyd om eerste wees met nuus van betekenis.
Daardie oom met die konsertina, kruisbande en velskoene lyk vir my na ‘n gelukkige keuse vir die gesig van ”So was dit – stories van gister en vandag”. Johan self is, by wyse van spreke, ‘n konsertina-en-kruisbande-en-velskoen-man.
Die nostalgiese hartsverlange waarmee hy kan skryf oor windpompe, skuurdanse, die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate (ek leen hierdie woorde op die agterplat) is meesleurend. Gooi in die tintelende humor in die man, ‘n element van stoutheid en ‘n meesterlike styl van skryf en vertel, en jy hoef nie verder te soek vir die resep wat hom soveel duisende lojale aanhangers oor die jare besorg het nie.
By Die Volksblad (Volksblad) waar hy 25 jaar die rubriek Stop van Myne met sy eie, unieke aanslag behartig het, het dit my altyd beskeie gehou as ek sy statuur in die gemeenskap teen die van dié redakteur opweeg. Die arme redakteur het sleg tweede gekom!
Later het hierdie gesoute joernalis in Landbouweekblad, Weg. By en Die Burger hom in nog meer lesers se harte ingegrawe.
Vreemd genoeg is “So was dit” sy eerste boek. Ek dink die groot rede is dat hy nie kon “bodder” nie. Vanmelee toe ons by DV aan hom oor ‘n boek begin karring het, was sy melkboerdery by Kafferrivier belangriker. Daarna het o.m. sy Honda Goldwing sy tyd in beslag geneem.
Ongelukkig het wonderlike rubrieke wat bundeling verdien het, op daardie manier verlore gegaan. (Hoop maar die plaasbegrafnis en sy pa se afskeid van sy grond duik op in die bladsye van “So was dit”. ) Maar danksy die vasbyt van mense soos Tobie Wiese is die Oom (sy alter-ego destyds in DV) eerlank op die rakke.
Jacolette Kloppers, joernalis, word op die agterplat aangehaal: “‘n Pragtige boek. By tye het ek gelê van die lag, ander kere het die trane gevloei.”
So is dit as ‘n mens Johan van Wyk lees: jy huil en lag. Jy’s nooit verveeld nie.
Op Melkbos kan hierdie ou nie meer wag vir karakters soos Stefaans-sonder-sokkies, die Beenpense van Draaikraal, ant Hettie Poortjies en Gert Kriedoring nie. Enigmaties, noem die uitgewer Tafelberg hulle. Dis waarskynlik ook die beste woord om die outeur mee te beskryf.
Die enigmatiese Johan van Wyk …. Weet nie of die “”Oom” daarvan gaan hou nie – hy gaan nie juis in vir sulke “fensie” beskrywings nie. Hierdie “fên” dink egter dis ‘n kolskoot-etiket.

<Kruger-kosbaarheid
Terwyl by boeke: Dit was vir my ‘n voorreg om Salomon Joubert se enorme liefdestaak, die historiese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History”, vir die Afrikaanse dagblaaie te kon resenseer. Resensie by: http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303
Grootse werke oor grote Kruger
www.beeld.com
Ek meen die treffende aanbieding van Media24 se boekeredakteur, Jo Prins, het reg laat geskied aan Salomon se gedugte boeke. Ek was werklik ingenome toe by bladsy 9 van Die Burger kom, en is verheug oor die geleentheid om oor sulke boeke van nasionale betekenis ‘n bydrae te kon lewer.
Steeds by boeke: Griffel was die uitgewer van twee van my laaste boeke, “Byl in my Bos” en “Praat-praat in Tamatiestraat”. Albei is mooi uitgegee. Daar het dit opgehou. Oor Marlene Malan se “bloedbad”-berig in Rapport kan hierdie Griffel-outeur helaas maar net byvoeg: Die waarheid oor die Griffel-gruwel is uiteindelik uit.
(hvd)
Mar 6, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Nadat ek met my kierie aan land is in Lüderitz kry ek onder die deur van kajuit 8195 (La Traviatadek) ‘n nota ek moet 99 skakel. Dit doen ek met bewende vingers. ‘n Nooientjie met ‘n fraaie aksent verneem besorg of ek darem so net met die kierie die mas opgekom het. “Must we arrange for a wheelchair for the disembarkation?”
My vriend Kobus Victor van Durbanville het met sy kierie soortgelyke simpatieke response (en voorkeurbehandeling) uitgelok. Geen toue vir die kieriekommando nie! Dis bedagsame, respekvolle mense, die Italianers en anderlike lede van die groot Opera-familie van 700 siele.
Ook sindelike mense. Alles wat koper is – jaartse en jaartse relings en wat nog – word sonder ophou gepoets. Elke krummeltjie wat op die grond beland, word deur skoonmakers met doeltreffender kontrepsies (soos ons sogenaamde “poop scoops” vir honde) dadelik opgetel. Toe ‘n bord val, word die area afgesper en summier ‘n span ontplooi om die skerwe te verwyder. Waarskuwingsborde verskyn op die toneel: Cleaning in progress. Moet tog nie gly en val nie.
Die swembadwater word daagliks in- en uitgepomp. Dit skitter soos saffier in die vier groot baddens. Groot oranje swembadhanddoeke (Vrystaat!) vir die skare sonaanbidders raak nie op nie. Gaan vra maar net ‘n skone. Die spierwit handdoeke in jou badkamertjie word soggens en saans voor die voet vervang. Sitkamers, ander openbare ruimtes, gange en kajuite word alles eksieperfeksie gehou.
Ontstaan ‘n probleempie, kry dit onmiddellike aandag. Ons sien een oggend voor ontbyt ‘n skoonmaker fronsend voor ‘n pilaar in die aangename sitkamer die Piazza di Spagna op dek 5 (Aidadek) vassteek. ‘n Gaatjie so groot soos ‘n R5-munt het sy aandag getrek. Hy vloog daar weg en die volgende oomblik is ‘n uniform-ou daar, skryfbord in die hand. Die aand is die gaatjie weg.
Pierre en Esther le Roux in 8199 sien ‘n watertjie langs die haardroër teen die muur van hul badkamertjie afloop en maak alarm. Voordat jy kon se mes, is een van die 110 loodgieters aan boord aan’t werskaf in die dak.
Om amper 2000-stuks passasiers te verskuif – na die noodstasies vir ‘n sekuriteitsoefening, van die skip af by Walvisbaai, op die pendelbote na Lüderitz en uiteindelik met die finale uitklaring by die doeanemense en die aan wal gaan aan die einde van die reis – verg fyn organisasie. Boeta, hierdie ouens ken hul storie. As dit geel se beurt is, is dit geel se beurt. Dan moet jy spring.
Om alles te kroon, doen hulle alles met ‘n glimlag. Jy sien net tande, al gaan dit druk en al sukkel die kommunikasie soms. Hierdie wellewendheid spoel oor op die passasiers. Vreemdes word vriende, selfs Tukkies en Maties voor die TV-skerm. Net jammer die Maties wen toe met ‘n strafskop in die doodsnikke….

As ek dan moet kritiseer, sal dit wees die studentikose karakter van sommige dekspeletjies en die alewige (seker maar onvermydelike) Bingospelery, tot saans in die pragtige Teatro del’ Opera wanneer ‘n mens jou al regskuif vir die vertoning. Die sogenaamde Bingo Boys en hul toilethumor hoort g’n op so ‘n stylvolle skip nie.

Die desibels van party musiek het sensitiewer siele soms ore laat toedruk, soos Flip Nel op die foto demontreer. Maar in dieselfde teater het ons toertjies gesien wat regstreeks uit die glansryke Lido in Parys kon kom: dans, balanseertoertjies, “toorkuns”… En toe Dean Martin se That’s Amore op die Italiaanse aand opklink, was die versoeking groot om hardop saam te neurie: “When the moon hits the sky like a big piece of pie, that’s amore …”
Arrivederci, kaptein Raffaele Ponti en jou span. Ek groet met ‘n trefferdeuntjie uit die 50’s: “I’ve built a dreamboat to sail the seas, with you by my side when it sails …” Die Opera is so ‘n droomboot. (hvd)

Sail away, sail away ….
Mar 4, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Twee van ons kelners by Kobus en Cecile Victor van Durbanville (twee ere-Melkbossers)
Middag uit Melkbos
Eat, drink and be merry .. for tomorrow ye diet. Dié gevleuelde woorde was in my Tukkiedae op die spyskaart van Kollege se huisdinee een jaar. Studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai het my in die ornate eetsaal die La Caravelle op dek 5 (Aidadek) daaraan herinner.
Wel, eet en vrolik wees, het ons op die MSC Opera bekwaam gedoen – ook in ander eetplekke soos die L’Approdo op dek 6 (Otellodek), asook die Le Vele en die Il Patio op dek 11 (Toscadek).
Die vyf dae ter see het ons met ons tande ‘n pad deur iets soos 80 ton vars kos geploeg. Twaalf bakkers het elke dag 900 kilogram heerlike brood bygedra: van croissants tot pumpernickel-rogbrood. ‘n Bataljon kelners, hoofsaaklik van Indonesiese afkoms, het net grinnikend bly aandra.
Geen wonder nie die kok het die aand met die voorstelling van die kaptein en sy offisiere loshande die meeste applous ingeoes.

Aansit vir aandete in die La Caravelle
Oor hoeveel bottels wyn verorber is, bestaan statistieke genadiglik nie. Die “wynlyn” was elke aand egter berug lank, ondanks die prys van $12 tot $20 per bottel. Vertragings het voorgekom wat vir ontvlambare gemoedere, soos HvD s’n, nogal uitdagings gestel het.
Synde ‘n Italiaanse skip moes daar natuurlik ‘n Italiaanse aand wees – ‘n vrolike besigheid met onder meer al die kelners in groen, wit en rooi, Italiaanse wyne teen $10 ‘n bottel, Italiaanse roomys, Italiaanse pasta en ‘n sappige Italiaanse koek waarvan ek die gelyke nog nie geproe het nie.
‘n Feestelike hoogtepunt was toe almal op die maat van ‘n heerlike Italiaanse lied hul groen, wit en rooi servette bo die kop begin swaai. Die vrolikstes onder die vrolikes het treintjie gemaak en deur die eetsaal begin kronkel. Van ons groep was Flip Nel en Koos Myburgh onder die voorbokke – laasgenoemde wel gekamoefleer met sy servet as ‘n soort vermommende kopbedekking, seker omdat hy so hoog op is in onse gemeente! Lourette Ellis was op haar voete, kamera hoog in die lug, om al die verrigtinge vas te lê. Ek soek foto’s, Lourette.
Die Italianers vertel graag die grappie oor Italiaanse kos wat George Miller kwytgeraak het: “The trouble with eating Italian food is that five or six days later you’re hungry again.”
Five or six days, mnr. Miller? (hvd)
Mar 3, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Dawid en Goliat
More uit Melkbos
Dink aan ‘n drywende Wimbledon, Roland Garosse of Flushing Meadow: iets soos tien tennisbane op elk van die 11 dekke langs mekaar ingeryg. So kolossaal is die MSC Opera (251 x 29 meter) waarmee ons klomp Walvisbaai en Luderitz toe is.
Alles aan hierdie luukse-vakansieskip is enorm – buiten die storthokkies! Dit het, terloops, ‘n speletjie geword om so na al die GROOT mense aan boord te korrel – daar was BAIE – en te raai hoe hulle daardie lywe onder die stortkop inwurm.
Maar grootte: Toe ons op Luderitz aan wal gaan, is die indrukwekkende formaat van die reusagtige gevaarte eers deeglik tuisgebring. Die Opera het doer in die baai in die diep waters bly dryf. Ons is kaai toe gependel in spesiale bote wat ook as reddingsvaartuie dien. Elk vat iets soos 125 (of dalk 150) sittende pasassiers. Langs die Opera is so ‘n boot ‘n spikkeltjie – of ‘n blertsie voëltjiestront, soos my vriend Hans du Plessis ‘n keer oor iets gedig het. Kyk die foto.
Aan boord kon jy tot op die laaste dag nog mense raakloop wat verward rigting soek. Toe die skip omdraai en suid begin vaar, was alles boonop aan die “verkeerde” kant. Bakboord het dan skielik stuurboord geword!
Oral teen die mure van die 11 dekke – elke met die naam van ‘n gewilde opera – is darem borde met hulpvaardige kolletjies: Jy is hier. (Dit het iemand glo eendag laat vra: Hoe weet hulle dit?) Maar in ons groep was iemand – naam is my geheim – wat ondanks al die pyltjies op en af nou nog na die Byblos Discoteca op dek 12 (La Bohemedek) soek. Hy is skepties oor die bestaan van die mooi, rustige plek met sy reuse-glasvensters.
Die getal passasiers vat-vat aan die 2 000. Hulle word van kop tot tone bedien en bederf deur 700 uniform- en oorpakdraers: van 110 loodgieters tot 80 elektrisiëns en 50 skrynwerkers. Ek het niemand gesien wat bleek om die kiewe is nie – die Opera wieg skaars as die seeperdjies al lekker rof raak – maar van ooretery en so het ‘n hele paar seker mediese hulp nodig gekry. Vir daardie doel staan ‘n span van 50 met stetoskope en pille gereed. En o, daar is ‘n brandweer van 100 weerbare manne! (Het gedagtes laat terugdwaal na Kroonstad se historiese stasie wat afgebrand het – g’n brandweer.)
Aan die kosfront is alles ook in maksi-formaat. Daarvan vertel ek in die volgende blog.

Selfs die koerante wat teen $4 per eksemplaar per internet afgelaai kan laat word, is buitengewone knewels. Die wye reeks sluit Beeld en Die Burger in, maar nie Rapport nie. Die Sondag aan boord het ek die Sunday Times bestel. Dis ‘n propperliese “boek” van 100 plus bladsye in ponieformaat, met rugkant gegom. Swaar soos ‘n baksteen. Het nietemin myne huis toe gebring as ‘n soewenier. Jou naam en kajuitnommer staan immers – baie vernaam – op elke bladsy gedruk.
(Die koeranthemp waarin ek vir die foto geklee is, is van materiaal wat ek in die jare 90 in Honolulu, Hawaii, gekoop het – die laaste op die rol en net-net genoeg om die nodige te bedek.)
(hvd)
Feb 28, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

HvD in borrelbad
Middag uit Melkbos
Sommer voor die vertrek van die vakansieskip die MSC Opera na Walvisbaai was in ons Melkbosgroep van 30-stuks ‘n konsternasie: Marten en Fimmie Grond se koffers is skoonveld. Die bussie moet al die pad met die Gronds deur die verkeer vleg terug huis toe om die raaisel op te klaar.
Bedink die verleentheid toe die twee “vermiste” koffers nog op dieselfde plek op die sitkamervloer staan waar hulle dit twee uur vantevore neergesit het. Dis die uwe se skuld, het Marten, ‘n ervare toerleier met al die papiere, later kans gesien om te verwyt. Ek het dan toegelaat dat die bussie te vroeg by my ry, en hulle toe oorhoops gevang. Mea culpa.
Bedink ook die eindelose spottery. Tot op die laaste dag wou iemand nog weet: “Marten, is jy seker jou koffers het nie in die kajuit agtergebly nie?” Al antwoord was so ‘n skewe, skamerige glimlaggie.
In twee konsternasies was die Van D’s die dramatis personae. Op die eerste dag klim ek in ‘n borrelbadjie op dek 11 (die Toscadek) saam met drie verbaasde knape, wat die ou gryse (amper sê ek met afgryse) op en af kyk.
“How old are you,” verneem een. “Seventy two,” antwoord ek eerlik. Sy oë versluier.
“How old are you?” “Seven.” “You have a long way to go.”
Nou het hy sy asem herwin. “You are older than my dad!”
“How old is your dad?” “Forty”.
“My children are forty.” “Your children are forty!!!”
Daarna is die ou oom geduldig touwysgemaak. “Hierdie kraantjie moet jy so draai, sien”. “Trap versigtig”. “Lekker né?”

Marten en Fimmie Grond
Konsternasie nommer twee is niks om oor te glimlag nie. Die enigste reaksie is ‘n klompie woorde wat in ordentlike geselskap bra selektief aangewend word. Ons raak naamlik op Walvisbaai besteel. Terwyl ons die flaminke op die strandmeer dophou, kry twee insittendes van ‘n wit Golfie raaiselagtig toegang tot ons Budget-Toyota.
Ons sien dadelik die bak staan oop. Op die agterste sitplek ontbreek Tokkie se handsak en my kamersak. Kredietkaarte moet gekanselleer word; by die polisie moet ek toustaan vir ‘n saaknommer … en die Opera wil vaar na die volgende bestemming: Luderitz.
Walvisbaai, o Walvisbaai! Iewers op daardie Namibiese dorp loop iemand met die Van D’s se ID-boeke, rybewyse, kredietkaarte, mediese fonds-kaart, AA-kaart, Clicks-kaart, P’nP-kaart, R3 000 kontant, lang lens, verkyker, donkerbril en Vodacom-stokkie in hul sakke. Op Melkbos moet ons skarrel met reddingsaksies aan vele fronte. Praat van flaminke met geplukte stertvere – ken ons nie daardie gevoel nie!
Of van ons groep by die volgende episodes betrokke was, twyfel ek darem, maar die “cruise director”, Derrick (‘n Suid-Afrikaner wat flink Afrikaans kan praat), vertel van sy eie konsternasie, veroorsaak deur war-vrae soos die volgende:
* Slaap die bemanning ook op die boot? (Nee, daar is ‘n pendeldiens per duikboot!)
* Wek die skip sy eie elektrisiteit op? (Nee, daar is kabels van die land af!)
* Word seewater in die toilette gebruik? (Weet nie. Proe jy, en kom lig my in, asseblief!)
* Is dit seewater in die swembaddens? Dan op die bevestigende antwoord: “O, dis hoekom dit so rof is!
* Hoe kom ek uit my kajuit uit? Dan op die klaarblyklike antwoord: “Maar hier is net twee deure – een na die badkamer en die ander een met ‘n ‘Do not disturb’-kaartjie op.
Hopelik darem net ‘n bietjie grapjastery met die landrotte? Of is sekere passasiers se IK’s werklik in omgekeerde verhouding tot hul aansienlike lyfmassas? (hvd)
Feb 27, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Almal het Ben Smith as Ben geken. Sy seuns, Brent en Bryan, het hom Ben genoem. Sy skoondogter, Michelle, het hom Ben genoem. Sy geliefde kleinkinders, Teegan en Kyle, het hom Ben genoem. Die huishulp, Maggie, het hom Ben genoem. Letterlik almal het hom Ben genoem.
Dit sluit ook die leerskare bankamptenare in wat hy by die bankvakbond Sasbo gedien het. Ben het die land platgery om kontak te hou – twee miljoen myl, het hy bereken. Later het hy hoofsekretaris geword. Dit was goue jare vir Sasbo en vir Ben. Hy was een van die gelukkige mense wat geensins gewyfel het nie: As hy weer sou kon kies, wou hy geen ander loopbaan hê nie.
Vrydagmiddag word Ben se roudiens in die St. Stithianskapel in Sandton (Kyle se skool) gehou. Hy wat sy lewe lank ‘n hartlyer was – rumatiekkoors gehad op skool, Boys’ High in Kimberley – is dood toe sy longe op 76 finaal ingegee het. Kleindogter Teegan, ‘n kampioen- redenaar, voer die woord. Ek glo sy sal haar oupa Ben in haar huldiging ook net Ben noem, soos altyd.
Of ek teenwoordig sal kan wees, is in hierdie stadium nog onseker. ‘n Bose klomp verwikkelinge speel op die besluit in. As dinge uitwerk, sal ek graag wou. Ben was nie net my neef nie, maar ná my pa, Seun, se dood in 1946 toe ek 5 was, meer ‘n soort ouboet. Ons het as seuntjies saam vlieërs – “diamonds” en “swallows” – gevlieg op Kimberley se mynhope. Van toe af het ons paaie oor 67 jaar min of meer saamgeloop.
Op een van my en Tokkie se laaste besoeke aan Ben en Hannetjie in Kelland, Randburg, het Ben opgemerk dat ek en hy nooit vasgesit het nie. Ons het werklik nooit nie, hoewel ons sterk menings oor verskeie sake teenoor mekaar uitgespreek het. Ek vermoed ons het liewer soms diplomaties geswyg as om mekaar uit te lok!
Oor Ben kan ek die jongdae-herinneringe inryg. ‘n Herinnering, wat ek op my 70ste opgediep het, is hoe ons een aand in die Velskoen-inry ‘n oulike Rietfonteinse buurmeisie, Heather, “gedeel” het. Voor pouse het sy en Ben agter in die motor gesit. Ná pouse het hy ewe ridderlik (en met goedgunstige instemming van die nooi uit ‘n kloosterskool) met sy jonger neef plekke geruil. Ek onthou ook ‘n partytjie by een van Ben se vriende. Ons is met sy eerste motor, ‘n Opel Kapitan, daarheen. Ek en ander studentemaats het weens pure stuitigheid op die dak van die Opel gery.
Later het almal besadiger geraak. Ben het nie net in Sasbokringe groot respek verwerf nie, maar ook as mens in ‘n wye vriendekring. Almal het hom geëer as Ben die staatmaker; man met ‘n hart van goud en hande wat vir niks verkeerd staan nie, lewensbly, gasvry, mededeelsaam en opreg begaan oor sy naastes – ook intens betrokke by sy kinders en kleinkinders.
Ek en Tokkie was lief vir Ben. Ons is diep dankbaar oor alles wat Ben en Hannetjie – ‘n tuinmaker soos min wie se stukkie Eden in Kelland al op TV en in hoeveel tydskrifte was – oor die jare vir ons gedoen het. Het selfs hul huis ‘n maand lank vir ons (plus twee kleinerige kinders) oopgegooi toe ons in 1974 as vreemdelinge aan die Rand aangekom het. In hul harte was ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.
Aan die einde van een kuiertjie het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”
Maar by daardie huis het jy verskeie dinge in oorvloed gekry. Teen die mure hang minstens 100 oorspronklike skilderye – plek-plek tot drie diep. In die manjifieke tuin is ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam swem hope reuse-koivisse. (In Ben se kas was selfs ‘n oorvloed aan onderbroeke: 45 in drie netjiese rye. Dit was letterlik “vir Afrika”, want Ben, wat Afrika in sy jonger jare platgery het met sy Sani en spesiaal geboude sleepwa, wou nie onderbroeke was as hy op safari is nie!)
Hy en Hannetjie het in Januarie 2011 vir oulaas ‘n week lank by ons gekuier. Toe ek hulle op die lughawe gaan aflaai, was ons nog nie uitgesels nie. Die foto is op ons stoep geneem – met sonsondergang. By Ben is my Tokkie en sy Hannetjie.
Ben het, tot my lewenslange dankbaarheid, op daardie besoek raak gediagnoseer wat die oorsaak is van die alewige, raaiselagtige gerammel van ons stoepdak elke keer sodra die Suidoos lostrek. Hy het dadelik ‘n stukkie plank by die hardewarewinkel gaan kry (presies die regte lengte en breedte) en dit op presies die regte plek met die hamer ingekap. Die dak is stil.
Ben het geglo ‘n Boer maak ‘n plan – hoewel sy kaste vol gereedskap later jare grootliks moes terugstaan vir die rekenaar, wat hy tot op die einde entoesiasties en met verrassende kundigheid omvattend benut het.
Nou is dit tyd vir tot siens, ou neef! ‘n Belangrike skakel met die verlede is uitgeruk. Maar jou einde het gekom soos jy dit gewens het: in jou slaap. Die lyding was genadiglik nie te lank uitgerek nie. Daaroor is ons dankbaar. Rus in vrede.
Naskrif: Oor name: Skoondogter Michelle kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”. Omdat dit darem nie sou deug as die kleinkinders hul ouma “Granny Smith” noem nie, het sy “Apples” geword. Dié storie het ek al vertel. Maar ek vertel dit graag weer, want Ben en “Apples” is twee erename, ook in ons boekie, vir twee wellewende mense vir wie baie ander mense om goeie redes baie tyd gehad het.
(hvd)