Jun 11, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
Middag uit Melkbos
‘n Motor, twee motors, ses motors kon opgefrommel, platgevee of saamgesleur gewees het toe die swaar vragwa in ‘n draai op die sopnat N7 begin swaai, tol, knipmes en rol.
Maar die genade was groot. Die ergste het nie gebeur nie.
In die naaste motor op die pad van die tonne staal wat buite beheer oor die pad ploeg, was ek en Tokkie, asook my jongste broer Cules Malan en sy vrou, Dalene, van Pretoria. Die hele riller-episode het hom vlakvoor ons oë afgespeel.
So dertig, veertig meter voor ons het die potensiële saaier van dood en verwoesting van die pad geploeg en met tollende wiele in ‘n leegetetjie tot stilstand gekom. Ons het vinnig bereken dat dit ‘n kwessie van sekondes was. Net ‘n rapsie vinniger gery of later rem getrap en ons voorland was ‘n gewisse dood.
Aanvanklik was ons sprakeloos. Later het ons uit stukkies en brokkies onthou ‘n legkaart begin bou. Nog later het die besef hoe naby ons aan ons einde was, koue rillings veroorsaak … asook ‘n innige dankbaarheid dat ons leef om die storie te vertel. Die passasier voor in die vragwa was waarskynlik nie so gelukkig nie.
Die toneel was net honderd meter of wat van die Melkbos-afdraai aan die Malmesbury-kant. Met die huidige verleggings weens die bou van die brug maak die pad daar ‘n bedrieglike skerp draaitjie.
Die swaar vragwa, ‘n perd, groot bak en sleepwa met ‘n hyskraan op, het klaarblyklik te vinnig op die nat pad die draai probeer vat. Toe ek skielik stilhou, het Cules opgekyk en opgemerk: Die man ry soos ‘n maniak. Op daardie het die bak en sleepwa woes begin swaai.
Toe verloor die bestuurder beheer. Die bak en sleepwa knipmes en kantel om. Die gevaarte ploeg oor die pad direk op ons af. Ons wag soos verskrikte hase. Magteloos.
‘n Finale bollemakiesie het die perd se dak aan die passasierskant so plat soos ‘n pannekoek gevou. Toe swenk die tuimelende monster van die pad. Dit ruk met ‘n plof in die leegtetjie tot stilstand – die hele gevaarte op die naat van sy rug dat jy net tollende wiele sien.
Weet nie wie die meeste geskok was nie: Ons of die bestuurder wat verward by die voorruit uitgepop het en moet saamleef met die wete dat hy roekeloos was.
Agterna soek ‘n mens baie antwoorde. Het ek die regte ding gedoen deur net rem te trap en so ver as moontlik na links te beweeg? Want as die vragwa bly rol het, was dit gewis bo-oor ons. Maar was daar tyd om iets anders te probeer doen; om in trurat ylings te probeer padgee of selfs ‘n vinnige u-draai te probeer maak? Weet werklik nie.
‘n Mens dink oor die implikasies as die verkeer op daardie kritieke stonde rondom daardie draai op die N7 net ietwat anders gerangskik was. Hoeveel motors kon nie dan te pletter geloop gewees het nie?
Die BMW was die naaste en sou eerste in die slag gebly het. Ek sien in my geestesoog net ‘n patetiese stukkie staal, en voel telkens lus om alles te los en sommer weer ‘n slag in die motorhuis oor die bakwerk van my ryding te gaan streel.
Ek dink aan koerantstorie wat ‘n alternatiewe scenario sou gewees het, en aan die ironie as die uwe – ewige koerantman – self in so ‘n rampstorie op die voorblad sou geëindig het.
Skielik wel ‘n spesiale vreugde in my op oor een koerantstorie wat nie gerealiseer het nie.(hvd)
Jun 5, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Nancy (heel links) saam met ‘n groepie oud-kollegas by ‘n saamkuier op Melkbos se stoep.
Middag uit Melkbos
Met die sprake van ‘n “nuwe sakemodel” vir Media24-koerante hou almal wat vir Die Volksblad (soos my generasie hom geken het) of Volksblad (soos die koerant nou bekend is) asem op. Die “hartland” van Suid-Afrika sal in sy hart gewond wees as daardie koerant moet seerkry – gewis die dagblad wat nader aan sy lesers leef as elke ander een in die land.
Hoop maar Media24 se direksie dink diep en deeglik voordat hulle dalk ‘n onbesonnenheid aanvang.
Die kommer oor ons koerant se toekoms is wesenlik, maar dit is nie waaroor ek vandag ‘n woord op die hart het nie. My tema vandag is: Die lojaliteit van Die Volksblad se mense. Dit tref in hierdie dae opnuut hoe een en almal, oor die generasiegapings heen, hulle eendragtig met hul koerant vereenselwig.
Toe ek Nancy Oosthuysen gistermiddag in Proteavallei bel om haar oor verwikkelinge in te lig, hoor ek die skok en ontsteltenis in haar stem. Kan dit waar wees dat die geliefde Volksblad met ‘n sward oor sy kop leef? Dit kan mos nie.
Nancy is een van die Volksblad-veterane. Sy is al amper 20 jaar uit die tuig en word in Julie 79. Maar sy behou ‘n lewende belangstelling in die koerant en kontak met haar oud-kollegas – ook die enkeles wat nog nie afgetree het nie.
Van Nancy het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” vleiend geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas. Ek sou haar nog ‘n paar ander pluimpies wou toevoeg, en ek is dankbaar dat ek dit wel gedoen het in ‘n brief van 2 Mei 1996. Dit is geskryf met haar aftrede. Ek is maar te dankbaar dat die brief my onlangs weer ter hand gekom het.
Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie (sy is maar fyntjies en kleintjies!) in ‘n warm stoel in die subkantoor nie, het ek geskryf. En verder:
“‘n Loopbaan vol onderskeidings lê agter jou en hopelik ‘n heerlike rustige rustyd voor.
“By die wisseling van lewenstyle bring ek graag hulde aan ‘n knap en kordate kollega wat ook vir my ‘n waardevolle steunpilaar was in my tyd by Die Volksblad.
“Ek skryf ook in my huidige Pers-hoedanigheid (ek was toe uitvoerende hoof van koerante), omdat ‘n skof soos joune – oor die dertig jaar van lojale, getroue en sprankelende bydraes tot ‘n handvol produkte – ook in breër Persverband waardering verdien.
“Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot die hoogtes waar hy vandag staan. Daarvoor klink die woord ‘dankie’ bra dun. Weet egter, dit kom uit die hart.
“Ek wens ‘n mens kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het …
“Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens aan Die Volksblad en daardeur ook aan die Nasionale Pers bied. Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet ‘n mens egter maar op jou aanvoeling staatmaak.
“En, glo my, myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van formaat.
“Voorspoed, geluk, gesondheid en alles wat mooi is vir jou en Jan op die pad vorentoe. Laat ek en Tokkie julle asseblief in die Kaap sien. Dit sal ‘n vreugde wees om saam herinneringe oor die goeie ou dae op te diep, miskien oor ‘n vuurtjie langs die see op Melkbosstrand.”
Liewe, Nancy, dit is nou 18 jaar later, maar die brief maak my sommer weer bewoë as ek begin dink aan al die wonderlike kollegas saam met wie ek bevoorreg was om ‘n paar sakke sout op te eet. Ek is darem bly ons het mekaar toe wel in die Kaap gesien, ook op Melkbosstrand – en des te meer dat ons ou Volksbladveterane mekaar nou nog van tyd tot tyd in ‘n gees van kollegialiteit kan opsoek. (hvd)
May 29, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
In sy 23 dae in die “klaskamer van die natuur” het Christopher in Sabiepark o.m. kennis gemaak met versamelwurms*, tentwurms**, broekmannetjies***, mierleeus**** en die vars vel van ‘n vermeende geelpensslangetjie ***** wat dit in die groewe van ons klinker-boshuis afgeskud het.
Die flukse vyfjarige het sy spore verdien deur “goeie stokke” te versamel vir elke aand se vuurtjie; self vuurtjies te pak om ‘n broodjie of malvalekkers te braai; miljuisende dwarrelende herfsblare (hoofsaaklikl maroela) uit die swembadjie te skep; fakkels aan te steek; te hark, vee en mop; met sy panga te skoffel; as uit te krap, en douvoordag, as die eerste goue gloed van die son bo die boomtoppe uitloer, met ‘n mandjie wasgoed saam met Ouma na die waskamer te verkas.

Sy eerste eie vuurtjie
Hy het Tarlehoet se veld van ‘n kant verken – plus-minus elke boom, bossie, blaar en hopie mis – en ver ente gestap, amper elke dag minstens een keer piekniekplek toe en een keer selfs van die groot swembad af die hele ent tot by die huis. By elke spoor in die sand is gebuk en ‘n uitkenning gedoen. in Wildevy is hy by die duidelike spore van ‘n dwalende hiëna afgeneem.
Hy het ervaar hoe die wag-‘n—bietjie-boom se sekels ‘n mens vasgryp en dwing om ‘n bietjie te wag; by 267 aanskou hoe ‘n spokende spinnekop heen en weer skarrel om sy hardnekkige prooi in sy maag te kry; hard probeer om een van die “blitsvinnige” akkedissies te vang, snuifkalbassies opgetel en ‘n verskeidenheid veldblommetjies gepluk. (Voor ons vertrek het hy, baie bedagsaam, vir die nimlike akkedissies gerieflike stokke gaan soek om hulle uit die gladde wastrog te help klouter.)
Hy het die lastige bobbejane van die voorstoep verjaag met ‘n kettie en ‘n luide trom wat bestaan uit ‘n braaipan en lepel, “konferensie gehou” met die vlakvarke wat gretig nader staan vir ‘n afvalkossie, die sebras in “sebraland” oorkant ons motorpad in die oog gehou en saans vir die strome nagapies piesang gekerf.
Hy is in Sabiepark, die piekniekplek en die Wildtuin afgeneem by ‘n olifant, ‘n buffel, ‘n seekoei, ‘n kameelperd, sebras, vlakvarke en nagapies. (Hy is nie by renosters afgeneem nie, maar twee was teenaan die motor; ook nie by leeus nie, maar het sewe goed gesien waar hulle op die rotse son soek.)
Hy is voorgekeer in “padversperrings” van troppe olifante soos mure oor die pad, renosters, buffels, kameelperde, koedoes en hiënas. Drie keer moes ons op sy aandrang vinnig in trurat padgee as ‘n olifant, renoster of buffel te naby kom.
Hy het hom onderskei as bobaas-verspieder met wakker ogies – o.m. eerste buffels by die piekniekplek, die hiëna by Tarlehoet se stoep, sebras in die steeds ruie veld en menige vlakvark gewaar.
Hy het ‘n brekfis-piekniek gehou saam met Manie Steyn-hulle van Krugersdorp in Nhlanguleni (die krom hardekoolstomp waarby ons soveel foto’s geneem het, is nie meer daar nie) en elke Sondag stroopsoet saam met ons in die kerkbanke van Skukuza se karaktervol kerkie gesit.
Aan kulinêre kant het hy kennis gemaak met stywe pap en kaiings (‘n geskenk van die Pressleys van Skukuza), sy Ouma se renostermelk (melk,
kondensmelk en gerasperde sjokolade), Witrivier-mochachos (geurige skaaprepies op die rooster gebraai), asook ‘n verskeidenheid koek en ander lekkernye by ‘n volmaanfees op die stoep.
Hy was onafskeidbaar van sy “braaiklere”, bergklimskoene en Sabiepark-pet (eintlik boetie Jacob s’n wat hy geskaai het), en het net slaaptyd regtig tot stilstand gekom. Vroeg-vroeg – gereeld teen 4:30 en een keer selfs 02:00 – is ‘n opgewekte “more Ouma, more Oupa” van sy bedjie af gehoor. ‘n Nuwe dag om te ontdek en te verower …
Waar ‘n rondloper-olifant op ons werf geloop het, het hom soos ‘n magneet gelok. ‘n Geknakte raasblaar was sy en Ouma se “geheime plek”. Groot geselse is daar gesels tussen Ouma en haar “steenbokkie” (so genoem omdat sy elke keer opgewonde is as sy ‘n steenbokkie sien.) Oupa is die laaste middag eers saamgenooi.
Niks was vir ons lekkerder nie as om telkens uit Christopher se mond te hoor: “Ek is so gelukkig” terwyl hy dan ingenome sy hande vryf. Sy breë glimlag, vrolikheid, kommentare en dankbaarheid het baie harte verower, onder ander Sabieparkers en onder die personeel. Alles wat hom interesseeer, wou hy vir Solly gaan wys. Hy het die naam Patson vir homself aangeneem.
Trane? Kan amper net die een keer onthou toe die trapleer sy vinger vasgeknyp het. Maar sy avontuurlustigheid het ‘n mens telkens laat ys ….
In ons Sabiepark-huis is waarskynlik meer boeke as in baie ander in die bos. Christopher het Oupa se hart warm laat klop met sy entoesiasme vir die boekrak, en ook vir die stapel foto-albums waarin die dosyne vorige besoeke aan ons bos-paradysie uitvoerig geboekstaaf is.

Sy slangvel
In sy koffer vir die huis toe gaan was, by die trofees wat hy self versamel het, ook sy eie fotoboek van Sabiepark, met voorin geskryf: “Vir Christopher. Omdat hy so lief is om na Sabieparkfoto’s te kyk en fluks is by vuurmaak, hark, vee en als.)
* Versamelwurms, ook bekend as treinwurms of sommer gat-neuswurms . Hulle versamel in digte bondels en kies dan in treintjie-formaat koers. Letterlik honderde word op hul oortogte op die pad doodgery.
** Tentwurms. Hulle spin wit “tenthuisies”, veral teen gwarriebosbome. Christopher het een teen ‘n heiningpaaltjie ondek.
*** Broekmannetjies (ook bekend as grasslangetjies). Dit is ruspes van motte wat van kleins af sysakkies spin en vir versterking van bondeltjies gras of stokkies vir hulle kokertjies bou. Twee broekmannetjies het teen ons gasbottels ‘n heenkome gevind.
**** Mierleeus of toktokkies – een van die sogenaamde “Klein Vyf” van die diereryk.
***** Geelpensslangetjies – gelukkig onskadelik.
(hvd)
May 28, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

‘n Glimlag vir Oupa!
More uit Melkbos
Duimsuiery oor kinder-slimmighede is NIE my gunsteling-leesstof nie.
Beweerde “exaamenflatirs” en te oulike sogenaamde kindergebedjies slaan ek liefs oor – dit kom te dikwels duidelik uit ‘n kreatiewe grootmens se verbeelding.
Om drie weke saam met ‘n vyfjarige in die bos vakansie te hou, sluit egter, by al die ander dinge, ook die ervaring in om van uitdrukkings, gesegdes en kwinkslae te hoor wat jou om die beurt amuseer of gelate te laat wonder: Wat moet tog van ons moedertaal word?
Ouma Tokkie het in ons Sabiepark-logboek enkele voorbeelde uit sy mond in die idioom van die moderne jeug aangeteken. Sy meld dat woorde soos awesome, cool en cute redelik algemeen in ons jongste kleinkind se woordeskat opduik.
In my boekie kom ‘n pasar verwante bykomende Christopher-uitdrukkings voor. Een, waarmee ek nogal saamstem, is dat dit ‘n goeie move is om die lastige bobbejane met die getamboer van ‘n lepel op ‘n braaipan te verjaag. Ten tweede is Oupa en Ouma telkens opgeroep tot team work. Ek glo, soos ons jong kuiergas, aan spanwerk.
‘n Kwinkslag ten koste van Ouma wat Oupa lekker in sy mou laat lag het, was dat sy ‘n luiperd teken dat dit soos ‘n worshond lyk. Netjiese metafoor, Christopher!
Oupa het nog breër geglimlag toe Mamma Marisa ‘n laatmiddag bel om na haar jongste se welstand te verneem. Tokkie roep: “Christopher, jou ma is op die foon.” “Ek is nou besig”, laat hy kliphard hoor voortdat hy traag die swembad-skepnet neersit. Glo haar ore het in Welgemoed getuit.
Ouma was ‘n tweede keer aan die ontvangkant met die vraag hoekom haar mussels so slap is. En toe sy wil raad gee met die wiskunde-huiswerk (graad O) kap hy teë: “Ouma weet niks van wiskunde nie. Ek doen dit al my lewe lank.” Sy selfbeeld is gesond!
Oupa bekla ‘n keer sy lot oor ‘n chroniese rekenaarprobleem. Hy verduidelik moedeloos vir Ouma: “Toe hulle vra of ek ‘n nuwe wagwoord wil registreer, antwoord ek yes. Maar dit werk nie. Wat anders kon ek gedoen het?”
Christopher: “Oupa kon no gesê het.” Jy kon my met ‘n tarentaalveer omslaan.
Die seuntjie is lief vir die woord “blitsvinnig”. Sy teorie was dat die gebreekte nagapieboom (‘n gewone pendoring waaruit die apies saans op die stoep spring) “blitsvinnig” met wondergom herstel sou kon word. Hy het opdrag gegee dat as hy, in geval van ‘n hiëna-besoek, sou uitroep “flits, flits”, dit “blitsvinnig” oorhandig moet word. Hy hou ook van “super”. Hy sou byvoorbeeld kwytraak dat die wurms “”super-hard”” werk.
Drie hiënas hôl op pad kerk toe in Skukuza met oopgesperde bekke by die motor verby. Oupa gryp na sy Canon. Christopher se kommentaar: “Ouma, ouma, al die hiënas glimlag vir Oupa.”
Christopher se naam vir ‘n bromvoël is ‘n skilpadvreter. Oulik, dink ek. ‘n Bromvoël vreet wel skilpaaie.Die rooigras wuiwend in die wind ontlok van hom die vraag: “Hoekom is hier koring?” Goeie assosiasie. Klitsgras noem hy gom van die veld. Deksels netjies.

Volmaan in die bos is buitengewoon bekoorlik. Van die stoep het ons die koeëlronde bol lank dopgehou terwyl dit deur die bome boontoe beur. Ouma vra Christopher of hy weet van die man in die maan. Ja, hy weet – dis die man wat als doen. Sy ma vra altyd: Wie dek die tafel? Die man in die maan! Wie maak die kamer aan die kant? Die man in die maan!
Daarop vra hy, vol verwondering, ‘n gewigtige vraag: “Hoe het liewe Jesus die maan so wonderlik gemaak?” Hoe inderdaad?
Naskrif: Nog iets oor die idioom van die moderne jeug. Sy Ouma leer Chrtistopher liedjies soos: Hasie, hoekom is jou so stert so kort? Toe trek iemand op die Honda se radio los met iets heeltemal anders. Ons kyk met groot oë vir mekaar toe Christopher saamsing: “Tonight is gonna be a good night. Let’s do it.” (hvd)
May 24, 2014 | Hennie van Deventer se Blog



Middag uit Melkbos
Wonder of dit dalk een van ou Mayafudi (my storieboek-olifantjie) se afstammelinge is wat sake op Wildevy 154 kom deurkyk het.
Nietemin, Mayafudi-nasaat of nie, by Tarlehoet is heelwat “spore in die bos”* van ‘n nuuskierige bul se rondlopery nadat hy die drade by Carol Hughes se huis ‘n maand of wat gelede gebreek het.
Vir Christopher (5) was daardie “spore” (gebreekte bome en ‘n omgedopte rosyntjiebos) een van die heuglike elemente van sy bosvakansie van 23 dae. Hy het telkemale sy Ouma opgeroep vir ‘n herbesoek aan daardie stukkie veld naby die grens tussen ons en die Van Heerdens van 155 met die karnuffelde bome (veral raasblare), afgeskeurde en gestroopte takke, asook aansienlike reste van olifantmis.
Van die takke is huis toe karwei om vir Oupa te kom wys. Oupa is ook spesiaal kom haal om te kom kyk na die jongman en sy ouma se “geheime plek” waar hulle groot geselse gesels het, sittende op ‘n stewige raasblaartak van ‘n mooi boom wat omtrent middeldeur gebreek is.
Deel van Christopher se genot was om Ouma keer op keer uit te vra na ‘n vorige olifantbesoek aan Tarlehoet in die lente van 2000,plus-minus in dieselfde wyke. Die destydse parkhoof, David Zeller, het vir my ‘n foto Kaap toe gestuur van die olifant met ons swembadjie en watergat in die voorgrond.
Hy het gemeen dit sou nogal ‘n plesier kon wees om in die swembadjie te lê en afkoel terwyl die olifant in jou gesigsveld wei. Vir my het die vooruitsig van skade wat deur ‘n groot olifantlyf met ‘n bedrywige slurp en yslike voete aangerig word, egter die potensiële plesier oorheers. Ek het veral gevrees dat dakpale in die slag kon bly – wat gelukkig nie gebeur het nie.
href=”http://hennievandeventer.com/hvdblog/wp-content/uploads/2014/05/img021.jpg”>
Die besoeker van 14 jaar later het genadiglik ook die dakpale uitgelos. Skade was daar dié keer wel – en nie net in die vorm van verwoeste bome nie. Oor die stukkende watergat is my hart die seerste. ‘n Groot poot het ‘n gat in die bodem getrap. So vinnig as wat jy water intap, loop dit onder uit – soos uit ‘n wastrog waarvan die prop uitgetrek is. ‘n Nuwe sementvoering word benodig. Hopelik sal die sebras (en ander wild) daarna terugkeer om weer by die Van D’s ietsie vir die keel te kom geniet.
Eienaardig genoeg was dit natuurlik nie olifantskade waarop ons voorbereid was toe ons op Woensdag 30 April by Tarlehoet inswaai nie. Dit is vir die omvang van die likkewaanskade waarvoor die harte in die Honda-tjie vasgehou is.
Ta het hom mos vroeër vanjaar iewers ingewurm – waarskynlik tussen die muur en die gras van die dak – en uiteindelik skynbaar wanhopig begin raak toe hy nie sy pad na buite kon vind nie. Eers nadat hy ‘n taamlike versameling breekware in stukkies op die vloer laat beland, ‘n paar fotorame van die muur geruk en een van die kombuisgordyne se voerings aan flarde geskeur het, is hy op heter daad betrap en taamlik onsag verwyder.
Gelukkig het die huishulp Lucy mooi kom skoon maak – ook al die likkewaanmis van sy wekelange huis-arres – en die flenters in ‘n sak vir ons gelos om deur te snuffel. Dit het die impak heelwat minder gemaak.
Dat ‘n huis in die bos nie altyd net een groot plesier is nie, behoort uit bogenoemde duidelik te wees. Moet ek byvoeg dat die bobbejane boonop sedert ons vorige besoek die stoeplig uit die muur geruk en die vloedwaters van Februarie taamlike dongas in ons motorpad oopgespoel het?
(Carol Hughes vertel dat dit nogal ‘n aardigheid was toe die olifantbul die elektriese heining voor hul huis laat klap het. Die skrik en die elektriese skokke het die ou woes laat trompetter. Haar kleinkinders wat op besoek was, het hulle omtrent uit hul geloof geskrik waar hulle styf teenaan ouma die hele gedoente van hul huis aan die Sabierivier betrag het.)
* Spore in die bos – titel van my e-boekie.
(hvd)
May 23, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
a href=”http://hennievandeventer.com/hvdblog/wp-content/uploads/2014/05/IMG_2109.jpg”>
Naand uit Melkbos
Op stemdag, 7 Mei 2014, het ek en die gade ons kruisies op Onder-Sabie vir die kleiner partytjie van ons keuse getrek – ‘n gedenkwaardige dag in vele opsigte.
Dit was ‘n japtrap-besigheid. Binne vyf minute was ons in en uit – Tokkie boonop met die komplikasie dat haar ID-boek al langerig gelede in Walvisbaai gesteel is. Ons ontdek toe by die stembus ‘n rybewys is ewe geldig. Niemand het dit vooraf vir ons gesê nie.
Dit was ook ‘n op-die-nippertjie-besigheid. Die Van D’s was die laaste twee wat op Onder-Sabie deur die worsmasjien is. Toe die pak die vriendelike OVK-spannetjie om 11:30 sy skandeerders, stembriewe, stempels en wat nog en laat vat Krokodilbrug toe vir die middagskof daar.

‘n Spesiale bonus van stemdag was die stortvloed olifante wat ons in en om die Sabie raakgeloop het – honderde dalk? Ek en Tokkie het oor die raming van getalle verskil, maar saamgestem dit was die meeste op een dag in ons ervaring. Vir die jeugdige Christopher Claassens (5), ons kuiergas vir die vakansie, was soveel Grootvoete (en klein Grootvoetjies tussenin) allesins merkwaardig. Natuurlik. Glo hy het die vorige nag van olifante gedroom.
<
Op een kol langs die Sabierivier, enkele kilometer suid van die laagwaterbrug, was twee troppe op ‘n hoop: die een hoofsaaklik in die water, die ander al weer beurend teen die wal op na ‘n koel verfrissing op ’n warm Meidag in die wildtuin.
Net daar kry ons skeef in die pad ‘n polisiebakkie. Sy voorkant is voos geslaan. Lang sleepmerke getuig dat daar vinnig gery is. Lyk of hy teen ‘n muur vasgejaag het, waag Tokkie.
‘n Stewige polisievrou op die toneel verskaf geselserig die ontbrekende inligting. Die botsing was teen ‘n olifant.
En die olifant? Sy wys met ‘n gulle armswaai rivier se kant toe. “He’s there” – klaarblyklik dus ongedeerd tussen sy makkers!
Nadat ons klaar gestem het, is ‘n polisievragmotor by ons verby, waarskynlik om die stukkende bakkie vinnig te gaan verwyder voordat die verleentheid te groot raak.
Op die terugsit op die Onder-Sabiepad, naby die piekniekplek Nkuhlu, beleef ons ‘n ander olifant-insident waaroor ‘n mens kan bespiegel en wonder. Ons sien ‘n trop vinnig oor die pad beweeg soos kenmerkend van olifante is as hulle ‘n pad oorsteek. Toe, asof ‘n swerm bye op hulle losgelaat is, swaai hulle om en peuel weer terug op hul spore by die bosse uit.
Hulle bondel senuweeagtig in die teerpad. Die slurpe swaai in die lug. Die trompetter kom diep uit die keel. Voertuie aan weerskante skakel versigtigheidshalwe oor na trurat.
Hulle het klaarblyklik vir iets geskrik. Sou dit gewees het oor die baie kleintjies in die trop? Sou dit leeus daar in die bos gewees het? En toe hulle na ‘n rukkie op dieselfde plek weer die bos in is: het die leeus toe gewyk? Hoe sal ons ooit weet?
Nietemin, Woensdag 7 Mei sou al alleen om daardie episodetjie kon uitstaan as ‘n spesiale wildtuin-dag.
Amper vergeet so tussen die olifantstories deur. Ja, ek, Tokkie en Christopher het toe ook by die Mugg & Bean op Onder Sabie gaan eet – waarskynlik die skilderagtigste ene wat bestaan, so op die oewer van die Sabie met seekoeie wat brom, voels wat in die lug draai en olifante wat nat uit die water stap.
Ons oordeel: Vyf sterre vir die die voorkoms, diens, spyskaarte en kwaliteit van kos. Ons hamburtgers was in ‘n ander klas as wat Sanparke se eie spyseniering ooit opgetower het. Net vier sterre egter vir waarde vir geld – want de pryse is styf (R50 vir ‘n kinder-burger!).
Maar wees gerus mense, ‘n Mugg & Bean in die wildtuin tas nie die karakter aan nie. Dit bedreig niks. Dis wel ‘n lekker nuwe “afsaal” as jy honger en dors opdaag na ure se wild soek.
(Hoe dit gekom het dat ons op Onder-Sabie gestem het? Wel, dis ‘n ander storie. Skukuza se stembus was in die visier. Daar was die tou so lank – vriend het drie uur moes staan – dat dadelik besluit is om liewer later terug te kom. Toe val die Onder-Sabie-gelukkie in ons skote.)
(hvd)