SKUKUZA VERLAM

Nogal ‘n bisarre belewenis as Skukuza, slagaar van die Krugerwildtuin, in die hart van die wintervakansie om 14:30 op ‘n weekdag ‘n verlammende kragonderbreking beleef.
Die winkel en poskantoor is stikdonker. In die donker hool van ‘n poskantoor sit die twee toonbankklerke soos spoke agter die toonbank. Selfs nie ‘n kers is in sig nie. Hul hande is afgekap. Kon nie eens aan Tokkie n posseël verkoop nie.
In die winkel is dit sake soos gewoonlik – wel, nie heeltemal nie. Winkelpersoneel vergesel die klante met priemende flitse in die donker gange. Een help Tokkie die piesangrak opspoor en skyn bedagsaam sy flits in haar handsak toe sy in die duisternis sukkel om haar beursie vas te vat.
Uit die waskamer klink vrouestemme in strelende harmonie – dit is die ledige wasservroue wat hulleself in ‘n impromptu-koortjie georganiseer het toe die wasmasjiene en tuimeldroers tot stilstand knars en die strykysters koud word.
By die vulstasie staan al die petrolpompe. Arme drommels wat dringend brandstof nodig het vir die reis verder moet maar wag en hoop ….
In die donker toilette moet jy goed mik.
Deur die ontvangskantoor se vensters val genoeg sonlig sodat ongeduldige toue toeriste wat wag op hul rondawels se sleutels, geholpe kan raak. Maar dit is ‘n harmansdrup-proses, lyk dit, so sonder rekenaars en ander broodnodige tegnologie wat van elektrisiteit afhanklik is.
Arbeid wat sonder ‘n oomblik se verposing voortgaan, is die van die suikerbekkies wat by die ontvangsblok met hul lang snawels die nektar uit die bloedrooi aalwyne in volle blom suig. ‘n Skare fotograwe met lang lense staan gereed vir ‘n prysfoto. Party staan knielend vir die regte oomblik en wag.
Moet darem sê dat karige lig vir die kameragarde geen problem was nie. In die helder sonlig was die aalwyne bloedrooi en die suikerbekkies se kleurryke klede so skitterend as kan kom. (hvd)

TOKKIE SE HOUT

More uit Sabiepark

My gade, Tokkie, gebore Van Wyk, is tipies Van Wyk erg danig oor die mooi inheemse boom met die indrukwekkende wetenskaplike naam bolusanthus speciosus. Die Afrikaanse naam verklap die rede: VanWykshout.
‘n Keer was ons in Oktober in Olifantskamp in die Krugerwildtuin. Langs ons rondawel was ‘n formidabele Van Wykshoutboom met trosse pers blomme aan die takpunte. Party trosse was tot 20 cm lank. Tokkie het daardie boom met moederlike welgevalle bejeën.
Julle Van Wyks het maar net ‘n boom, het ek haar geterg. Ons Van Deventers het ‘n hele stad – natuurlik die skilderagtige Nederlandse stad Deventer aan die Ijsselrivier. In alle eerlikheid moet ek egter erken: Dis ‘n besonderse boom daardie Van Wykshout – veral wanneer dit in blom is en ‘n mens die rede vir die Engelse naam, Tree Wistaria, duidelik kan waarneem.
“Bloureën”, het ons ons Wistaria in Bloemfontein genoem. ‘n Gedugte verteenwoordiger van die spesie het ‘n waterval van blomme langs ‘n gedeelte van ons motorpad gewerp. Die ligpers kleed het baie oe’s en aa’s uitgelok van mense wat in blomtyd by die huis verbyloop.
Vir my met my kleurswakheid is blou en pers moeilik te onderskei – het in aardrykskunde in standerd agt die wrewel van mnr. Jack Slabbert uitgelok toe ek die hele see om die vasteland van Afrika pers ingekleur het. Dit was die einde van hvd en aardrykskunde se paadjie saam. Dit daar gelaat.
Hoekom ander, kleuronderskeidende mense pers blomme blou sou noem, weet ek nie. Maar “bloureën” was die algemene naam. Ek dwaal af.
Miskien die danigste Van Wyk oor VanWykshout wat aan my bekend is, is Jaco van Wyk, ons peetkind van Pretoria. Oral waar hy by ‘n VanWykshout kom, is sy eerste gedagte om ‘n knoets of stomp te bekom, deur dit af te bedel of hoe ookal.
Jaco het in die Jakarandastad met ‘n trotse meubelmaker saamgespan om pepermeule uit VanWykshout te laat vervaardig wat as spesiale geskenke vir sy VanWykverwante dien.
Die boomkenner Piet van Wyk (inderdaad ook ‘n Van Wyk) beskryf in sy Veldgids tot die bome van die Nasionale Krugerwildtuin die voorkoms van VanWykshout as “baie soos olienhout”. Ek meen Piet is een van die beskeier soort Van Wyks In my boekie kan jy nie olienhout in dieselfde geselskap noem nie.

Pepermeul oorhandig. ‘n Trotse TvD by die Van Wyks van Pretoria, Jaco, Lientjie, Bernard en S,J.
Om ‘n lang storie kort te maak, soos Tokkie graag sê: Jaco en sy gesin (Lientjie en die vierjarige tweeling, Bernard en S.J.) het vir ons in Sabiepark kom kuier. Een geskenk wat saamgekom het, is ‘n grysbruin pepermeul uit ‘n stuk VanWykshout wat uit Pretoria se botaniese tuin kom – darem nie geskaai nie!
Dis ‘n indrukwekkende meneer van ‘n pepermeul. Tokkie het nou des te meer rede om bors uit te stoot oor “haar” boom, wat nie net mooi blomme dra nie, maar (in Piet van Wyk se woorde) ook sulke harde, sterk, duursame en aantreklike meubelhout lewer.
Dit deug natuurlik ook as goeie vuurmaakhout, wat vir die uwe ‘n belangruke maatstaf van bykomende waarde is! (hvd)

HAAS-TIGE HOND

More uit Sabiepark

‘n Hond hardloop vir sy ete; ‘n haas hardloop vir sy lewe. Die waarheid van hierde kwinkslag het ek en Tokkie gister in die Krugerwildtuin die eerste keer met ons eie oe gesien. Naby die Phabenihek het ‘n haas skielik uit die gras gevloog, ‘n draai op die teerpad gegooi en die veld in die hasepad geskies. Op sy hakke was ‘n kwylende wildehond. Die afstand het bly rek …..

Op dieselfde uitstappie ‘n visarend gesien waarvan die jag geslaagder verloop het. Hy is hoog bokant die bome oor ons koppe langs die Sabierivier met ‘n stewige vis in die kloue.

Twee witrenosters het op die Doispanepad bedagsaam uit die bos gestap. Ek meld die “wit” omdat twee swartrenosters die laaste ruk ‘n paar maal by die piekniekplek kom drink het. Ons het hulle nog nie gesien nie. Wel baie olifante gesien en gehoor.

By die huis was die nagapies van die eerste aand aktief. Sebras maal om die huis rond. Het ook al besoek van ‘n kameelperd, koedoes en twee vlakvarke ontvang.

Die nuwe watergatjie lyk goed en lek klaarblyklik nie. Ongelukkig loop die diere nog draaie om die plek. Dalk die kleur van die sement?

Sabiepark is ‘n nuwe klein kameelperdjie ryker. Het hom gister in Apiesdoring afgeneem.

Lyk of die einde van ‘n era by die piekniekplek aanbreek. Sollie is erg siek. Hy is gister huis toe gestuur.

(hvd)

NUWE BLOGS

Midag uit Melkbos

Tien blogs uit Sabiepark kon weens tegniese duiweltjies nie hier gelaai word nie. Ek begin vanmiddag. Die titels is Hond en Haas, Tokkie se hout, Skukuza verlam, Watergat lewe weer, Knuppeldik, Buffel-skouspel, Vyf grotes, Pyn oor ‘n prooi, Leeuvangs x 2 en Plaisir D’Genepi.

(hvd)

VAT-VAT AAN 2000 DAE

IMG-001

More uit Melkbos

Een dag in die Wildtuin kan asemrowend wees. Dink net wat “duisend dae” nie kan oplewer nie. So het ek in “Duisend Dae Langs die Sabie” (2011) my verslag oor die van Deventers se eerste plus-minus 1 000 dae in ons boshuis in Sabiepark ingelui.

Dinsdag 1 Julie bestyg ek en Tokkie Kulula weer noordwaarts vir nog twee maande se oorwintering in die milde boswêreld –daar waar die sekelbos-kampvuurtjie se rook elke aand in ‘n reguit lyn boontoe trek Dit sal so ongeveer ons 40ste besoek sedert 1998 wees.

Ons bou nou fluks aan ons rweede 2 000 dae in daardie wêreld, en begin al oorweeg om ereburgerskap van Mpumalanga aan te vra. (‘n Mens raak immers lief vir die plek ondanks al die slaggate, rookmis, houthakkers en kruiwaens langs die pad.)

Wat kan ons verwag buiten kortmou rondloop in die amperse somerweer? Bepaald ‘n paar verrassings aan die dierefront – soos altyd. Drie, vier, vyf stil dae gaan soms verby, Dan kom ruik n luiperd aan jou voorwiel óf ‘n olifant slenter lui-lui aan in die pad sodat jy om die dood nie kan verby nie. Of ‘n slang seil by jou voete verby.

Hoeveel olifante gaan ons by die piekniekplek sien? Dalk renosters? Dalk ‘n vangs?

Gaan dit n geil voëlseisoen wees of nie? Gaan die bloukuifloeries amper elke dag by ons watergatjie kom pitjies soek en hul rooi vlerke in die skoon water uitgelate skoon skud?

Vriende kom kuier in Julie en Augustus van oral – sommer van die eerste naweek af. Party veterane kom die soveelste keer; ander kom drink Tarlehoet se soet water die eerste keer. O, ons is oorgehaal vir die lekker geselse om die snoesige vuurtjie. Kom ons sit nog ‘n stewige stompie op.

Ons gaan ook verlang en ver-ver terugdink. Dis onvermydelik. Die tyd maal voort. Elke jaar raak meer plekke leeg. Die afskeid van dierbare vriende – dis een van die slegte Sabieparkdinge.

‘n Mens betrap jou al hoe meer dat jy oor jou eie paadjie begin wonder. Hoeveel keer ry ek, Hennie, hoerveel keer jy, Tokkie, nog by daardie sierhek 2km van die Krugerhek binne, draai regs in Maroela en dan links in Wildevy op pad na 154? (hvd)

VOLKSBLAD-SAGE

More uit Melkbos

Vandag is die eerste dag van die res van Volksblad se lewe. ‘n Tikkie uitgelatenheid is seker veroorloof dat die geliefde dagblad nie vir die Afrikaanse leefwêreld verlore is nie. Gaudeamus igitur.

Tyd vir ‘n nugtere bestekopname oor die krisis van die afgelope tien dae behoort egter ook ingeruim te word. Die brandstapel het immers ongemaklik naby gekom. Niemand vir wie Volksblad iets beteken, wil ooit ‘n herhaling beleef nie.

In die konteks van so ‘n bestekopname is twee kernfaktore konstant. Die dinamiek van die gedrukte koerante het nie oornag verander nie. Die drywers van die radikale plan het ook nie oornag verdwyn nie. Wanneer hulle opnuut by Media24 die pionne begin rondskuif op soek na formules om hul boeke beter te laat lyk, moet ons nie verwag dat hulle dit dadelik met nuutgebore insigte en verfrissende ander gesindhede gaan doen nie.

Om nou rustig in ons onderskeie gemaksones agteroor te gaan sit en mekaar op die skouer te klop omdat die gevaar vir Volksblad afgeweer is, gaan niemand dus ver bring nie. Aan verskeie fronte wag uitdagings en werk.

Volksblad self het al ver gebou aan die model van ‘n geslaagde streekblad wat die karakter en behoeftes van sy spesiale nismark deeglik verreken. Ongetwyfeld sal hy hom verder daarop wil toespits om selfs nog nader aan sy lesersgemeenskappe te leef.

Mag ‘n mens egter ook hoop dat die skrik van amperse verlies ‘n nuwe stroom energie by lesers en adverteerders sal ontketen om hul koerant se hande te sterk in sy strewe om in sy lesersgebied die beste diens te lewer? Die lang, gelukkige en onbekommerde voortbestaan van hul koerant is immers primêr in die twee belangegroepe se hande.

As hierdie mense en instansies so sterk oor hul koerant voel, soos uit briewekolomme, verklarings en op sosiale media blyk, was die tyd nooit ryper nie dat hul liefde en lojaliteit nou van die simboliese na die prakyk beweeg. Kortom, hulle sal op groot skaal moet begin inteken en adverteer Slegs so sal hulle hul koerant op die langeduur kan red en verhinder dat hulle, tot die enorme verarming van die ganse gemeenskap, van ‘n kosbare, onmisbare vennoot beroof word.

AfriForum is een instansie wat in die Volksblad-sage gewys dat sy hart reg klop vir koerante deur sy veldtog om openbare steun te werf vir die voortbestaan van die koerant in sy huidige formaat. Hopelik is hy oorgehaal om daardie veldtog te omskep tot ‘n nuwe veldtog om op elke terrein sterker vitaliteit vir die koerant te ontgin. Ander belangegroepe sou daarby kon inval sodat dit ‘n magtige aksie word waarin kultuur, kerk, sakelui en andere hande vat.

Die kollig van kwesbaarheid was die laaste paar dae fel op Volksblad. Nie net by hierdie oudste Afrikaanse koerant in die land met sy trotse geskiedenis van 110 jaar nie, maar by elke ander titel is kwesbaarhede in mindere of meerdere mate teenwoordig – by van die ander selfs meer so as by Volksblad.

Media24 sal dit seker ten enemale ontken, maar by vele bestaan ongelukkig die persepsie dat die snoeiskêr die wapen is waarna sekere kern-rolpelers telkens byna refleksief gryp om die kwesbaarhede te verminder. Hoe meer jy snipper, des te meer bind jy egter koerante se hande agter hul rûe vas vir die taai stryd wat hulle moet voer. Des te kwesbaarder word hulle in die proses.

Die pad van verdere inkortings lyk vir hierdie waarnemer werklik nie na die pad om te loop om die geweldige eise te probeer ontmoet nie. Minder skadelike alternatiewe sal eenvoudig steeds met kreatiwiteit en ywer gesoek moet word.

Vir geen oomblik dink ek dat die huidige generasie besluitnemers ‘n pad sonder duwweltjies bewandel nie. Hopelik kry hulle egter so met stampe en stote tog maar die regte insigte en formules. ‘n Persoonlik versugting, ten slotte, is net dat ons asseblief tog gespaar bly dat die bloudruk vir die sluiting van ‘n trotse dagblad weer uitgebroei word by ‘n spruit van die idealistiese Nasionale Pers wat ek 36 jaar lank geken, gedien en liefgehad het. Ek kan in my verbeelding die voorgeslagte gepynig hoor uitroep. (hvd)