MNR. AFRIKANER IN WAGKAMER BY PATOLOGIE

Die pasiënt lyk vaag bekend toe hulle hom, taamlik verwese en met ‘n stapel papiere vasgeklem in sy be-aarde hand, in ‘n rolstoel by die hospitaal se afdeling patologie instoot.
Ek knoop ‘n geselsie aan en hy bevestig my vermoede: Hy is “Die Afrikaner”.
Sy tong hang behoorlik uit, deel hy my mee. Elke spesialis van elke dissipline was die laaste ruk oor hom (soos ‘n vorige generasie mos gepraat het). Brein, hart, longe, niere, dikderm, spiermassa – niks ontsnap die intense aandag van die deskundiges nie
Hy was al in die teater vir ‘n reeks biopsies, by die X-strale, by elke denkbare skandeermasjien – selfs by die gastroloog en dieetkundige. Nou is hy met die spul papiere hierheen gestuur. Kyk, oral is net regmerkies. Daar is geen bloedafwyking aan die wetenskap bekend nie of hy moet daarvoor getoets word.
Dat iets met hom skort – dit het hy nou al uit vele monde met groot erns verneem. Maar wat presies? Elke dokter het sy of haar eie teorie en verkondig dit met breedsprakerige vertroue as die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie. Soveel ghoeroes, soveel diagnoses. Ai tog.
Op daardie oomblik verskyn ‘n suster met ‘n spuitnaald en wink dat hy nader gebring word met die oog op die verdere ontledings wat wag. Arme ou. Ek voel die deernis in my opwel toe hy kopskuddend agter die gordyn verdwyn.
Om darem dag vir dag so van kop tot tone onder die vergrootglas te kom, moet die liggaam en die gees uitermate vermoei. Om uit soveel oorde soveel oordele te moet verneem oor wat alles aan jou onwel is, moet elke sterfling diep beproef.
Raai, vir my lyk hy toe nie eens so verskriklik siek soos hulle maak nie. Duidelik ge-stres is hy oor al die “uitdagings” (moderne kodewoord vir hengse probleme) op sy pad), maar darem nie so vol bose kwale dat dit hom so ‘n uniek jammerlike wese maak, soos sommige verkondig nie.
Dis nou maar my beskeie straaltjie. Maar nou-ja, laat ek bieg dat ek geen ekspert van enige aard is nie, en dat die kort geselsie daar in die wagkamer boonop by my nogal ‘n affiniteit vir die ou bokker gekweek het. Ek is dus nie onbevooroordeeld nie.
Sterkte, mnr. Afrikaner, vir die spul bloedtoetse. Hoop hulle kry genoeg are om bloed uit te tap. Maar moet nou darem ook nie te veel “worry” oor die uitslae nie, wat.

MY AUSSIE-VRIEND, TONY

Speurder Sannie van Rensburg pak gereeld die skurke in sy boeke. Die slegte ouens is dikwels renosterstropers, ivoorjagters en avonturiers. Hul teenstanders is geharde veldwagters wat met “Toyotabakkies” ry. ʼn Kelnerin word gegroet: “Tatenda, sisi”. ʼn Mislike vent word pront … wel … ’n “poepôl” genoem.
Klink of dit ʼn Botha of ʼn Van der Merwe kan wees wat hier die pen hanteer. ʼn Laevelder. Ten minste dan ʼn Suid-Afrikaner. Maar dit is nie. Dit is ʼn Park uit Sydney – Tony Park, die skrywer van 23 aksiebelaaide spanningsverhale met ʼn Suider-Afrikaanse adres. Almal blitsverkopers. Nommer 23, Die by the Sword, het pas op die mark gekom. ʼn Vorige een, Ghosts of the Past, het ʼn sterk aanbeveling op die omslag deur niemand minder nie as Deon Meyer.
Tony het in 2012 ʼn Sabieparker geword. Om die beurt woon hy in Sydney en in die Laeveld. ‘n Keer het hy Sabieparkers verstom deur uit Sydney vir die kantoor te laat weet: daar is vreemdelinge op sy stoep. Die wonders van die nuwe tegnologie darem!
Sabiepark is ʼn plek waarop hy versot is. Ná ʼn eerste besoek waarvoor hy maar traag was, het hy in 1995 verlief geraak op Suid-Afrika. Hy is veral lief vir sy hoekie in Sabiepark se piekniekplek van waar hy met ‘n fris kamera op ‘n driepoot wonderlike natuurfoto’s neem. Op die foto is ek en hy in die nimlike pieknieplek.
Oor Tony skryf ek ‘n hoofstuk in Wag-‘n-bietjie wat pas by Naledi verskyn het (ook my nommer 20 en iets). Soos ek hom ken, sal hy dit sommer laat vertaal om te kyk wat ek oor hom geskinder het. Maar verrassing, verrassing: ek skinder nie. Hou te veel van “Hippo Rock se bos-Aussie”, soos ek hom in my boek noem.
Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.