Oct 31, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Aan die begin van my derde jaar, 1960, breek die einde van ‘n glorieryke era vir Tukkies se Kollegetehuis aan. Ons moet trek, van die kampus af Proefplaas toe.
Wonderbaarlik is die liefde vir ons koshuis wat in die ou gebou (en sy anneks: die Klubhuis) deel van ons DNS geword het, ongeskonde na ons nuwe tuiste oorgedra. Die volledige Kollege-karakter en –gees wat in die eerste amper vyf dekades van Kollege se bestaan deeglik ingewortel het, is sorgsaam ingepak en het saam die trek na die Proefplaas onderneem.
Ook die gelukbringer Sarge Bourke is saam – ‘n gewigtige sementbeeld van ‘n besnorde polisieman in uniform wat met groot inspanning in 1942 op ‘n nagtelike ekspedisie met ‘n tweesitplek-Chevvie uit ‘n tuin vol dwergies en ander verwante tuinversiersels in die woonbuurt Gezina gaan haal is.
En ‘n element van weerbarstigheid – sommer gou-gou betoon met ‘n serenade (op syn goeie Ingels uitgespreek as serenyd) by die nuwe dameskoshuis Klaradyn waarvan die luidrugtigheid slapendes so versteur het dat die polisie ontbied is.
As een van die pioniers van daardie Groot Trek doen ek daaroor taamlik uitvoerig verslag in die derde boek van Pretoriastories, versamel deur Pieter Swanepoel. In die bundel is sowat 30 boeiende nuwe Pretoriastories deur trotse Pretorianers. Die herinneringe is kosbaar. ‘n Mens kan nouliks dink dat iemand met die een of ander Pretoria-konneksie kan nalaat om dit te lees.
Die boek kos net R200. Dit is beskikbaar by Exclusives. Dit kan ook bestel word by die redakteur/uitgewer by info@pspublishers.co.za
Oct 30, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Donovan Marx en sy vrou, Louise (Foto: Netwerk24).
Deur die beskaafde wêreld trek ‘n siddering van skok oor die marteling wat Donovan Marx (50), boer van Noordwes, Woensdagoggend in ‘n wrede plaasaanval tussen Potchefstroom en Ventersdorp te beurt geval het.
In koerante, op TV-skerms en in radio-nuusbulletins oral word prominent en in besonderhede berig oor hoe sy ore tydens die aanval afgesny is.
Oor hierdie golf van slegte publisiteit vir die land en die wye afkeer oor die wandaad kan hierdie keer nie verwyte rondgeslinger word teen mense wat “stories” oorsee gaan vertel of op ander wyses die aandag op die voortslepende geweldpleging teen boere, hul naastes en meermale ook lojale arbeiders vestig nie.
Dit is die boosheid van die barbaarse daad self wat ver buite Suid-Afrika se grense weergalm en die weerstand teen sulke opruiende haatdraendheid soos in die aanstootlike “Kill the Boer”-lied in konteks plaas.
Die owerhede en magte wat hulle blind hou vir die aanslag op die land se boere kan maar weet dat hul stilswye en geduld met sulke misdade bydra tot die prys wat Suid-Afrika daarvoor betaal en nog gaan betaal
Oct 29, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Seevaartstorie wat my aangryp – seker weens my liefde vir skepe, vaarte en die oop see – is die rampspoed wat die 203 passasiers op ‘n residensiële weeldeskip, die Villa Vie Odyssey, pas in Kambodja getref het.
‘n Droom-wêreldreis het in ‘n nagmerrie ontaard toe die passasiers in die Kambodjaanse hawestad Sihanoukville gestrand gelaat is. Die Amerikaanse eienaars se geld het opgeraak weens peperduur brandstof.
Die Villa Vie Odyssey verkoop aan mense “permanente drywende huise”. Veral afgetredenes het ingekoop. Party het al hul besittings en hul huise op die vasland verkoop om vir jare lank permanent op die skip te woon en die wêreld te deurkruis.
Die skip met sy 156 bemanningslede het in Oktober 2024 uit Belfast, Ierland, vertrek vir ‘n reis wat oor 3,5 jaar sowat 147 lande sou dek. Op 23 Oktober in Sihanoukville, Kambodja, vasgemeer. Dit was veronderstel om ‘n kort kuier te wees voordat hulle na Viëtnam sou vaar
Toe verskyn ‘n skokberig op die skip se interne boodskapbord. Die maatskappy, Villa Vie Residences, het aangekondig dat alle bedrywighede onmiddellik opgeskort word weens astronomiese brandstofkoste.
Passasiers is sewe tot agt uur gegee om hul besittings op te pak en die skip te verlaat.
Die rampspoedige vaart is nog ‘n slagoffer van die Oorlog in Iran. Weens die oorlog is brandstofvoorrade in Suidoos-Asië ernstig ingekort. Pryse het die hoogte ingeskiet.
Volgens die maatskappy het brandstofkoste per kajuit van ‘n historiese gemiddelde van $1 800 per maand tot tussen $6 000 en $8 000 per maand gestyg.
•
Baie van die passasiers (oorwegend Amerikaners) is skielik “haweloos” gelaat in ‘n vreemde land, duisende kilometers van die huis af. Sihanoukville is boonop verwyder van groot internasionale lughawens.
Sommige het dadelik vlugte uit Phnom Penh bespreek. Ander moes in plaaslike hotelle intrek. Passasiers het in trane vertel hoe hulle hul besittings in sakke moes pak.
Die maatskappy beplan glo ‘n herstrukturering van 60 dae, maar vir nou is die droom van ‘n “nimmereindigende lewe ter see” vir eers op die rotse.
(KI is ingespan.)
Sien minder
Oct 28, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Johan Mostert, indertyd sekretaris van die Staatsveiligheidsraad, verskaf ‘n nuwe blik op daardie SVR-besluit, uiters relevant in die lig van Eugene de Kock se sensasionele opmerkings oor die Nobelprys en die “bloed aan FW de Klerk se hande”:
Ek plaas die broodnodige perspektief hier met vergunning van Mostert, ‘n oud-kollega by Die Volksblad.
Die voormalige staatspresident F.W. de Klerk is by die Khampepe-kommissie deur Eugene de Kock regstreeks daarvan beskuldig dat hy die bevel gegee het vir die Weermag-aanval in 1993 in Mthatha (destyds Umtata), waarin vyf kinders doodgeskiet is. De Kock het skerp uitgevaar teen De Klerk en beweer dat hy “tot by sy elmboë in die bloed van kinders” sit. Hoe moet hierdie krasse beskuldiging histories en polities beoordeel word? ’n Rekonstruksie van die verloop van gebeure bied nodige perspektief.
Tydens ’n vergadering van die Staatsveiligheidsraad (SVR) wat kort voor die aanval plaasgevind het, het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) toestemming gevra dat ’n dringende saak buite die amptelike sakelys bespreek word. Volgens die SAW se intelligensie het ’n sel van gewapende APLA-kaders (die PAC se gewapende vleuel) in ’n huis in Mthatha skuilhou. Die Weermag het aangevoer dat dit in die belang van die nasionale veiligheid van Suid-Afrika was om onmiddellik op te tree, en het die SVR om toestemming gevra om ’n koverte aanvalsoperasie te loods.
Om hierdie besluit te beoordeel, moet drie deurslaggewende agtergrondfaktore in ag geneem word:
• De Klerk se verbod op onwettige operasies: Vandat hy die voorsitterskap van die SVR einde 1989 by P.W. Botha oorgeneem het, het De Klerk dit duidelik gestel dat hy geen onderduimse of onwettige aktiwiteite deur staatsdepartemente sou toelaat nie. Hy het uitdruklik opdrag gegee dat sulke operasies gestaak moet word. Tot met die Mthatha-voorval is geen koverte terrorisme-operasies deur sy kabinet of die SVR oorweeg of gesanksioneer nie.
• Die klimaat van die “Great Storm”: Die vergadering het plaasgevind in die nadraai van APLA se bloedige aanval op 25 Julie 1993 op die St. James-kerk in Kaapstad, waarin 11 mense gedood en 58 gewond is. APLA was besig met hul sogenaamde “Year of the Great Storm”-veldtog, wat spesifiek op burgerlike teikens gerig was. Die SVR was dus onder intense druk en deeglik bewus van ’n wesenlike, onmiddellike veiligheidsbedreiging.
• Die Transkei-konteks: Mthatha was die hoofstad van die destyds “onafhanklike” tuisland Transkei. Onder die militêre diktatuur van genl. Bantu Holomisa het Transkei openlik as ’n veilige hawe en afspringplek vir APLA-aanvalle gedien, wat konvensionele polisiëring en normale binnelandse wetstoepassing onmoontlik gemaak het.
Dit was uit die staanspoor duidelik dat De Klerk ongemaklik was met die SAW se versoek. Hy het die weermag dadelik met skerp vrae gepeper: Hoe seker is die weermag van hul inligting? Is dit onomstootlik ’n APLA-basis? Wat is die risiko dat burgerlikes getref kan word? Watter politieke en diplomatieke gevolge word voorsien?
Ander lede van die Raad het ook aan die indringende ondervraging deelgeneem. Die Weermag — by monde van genl. George Meiring — het egter die absolute versekering gegee dat hulle die situasie deeglik onder beheer het, dat hul intelligensie betroubaar is, en dat daar geen burgerlike in die teikenhuis teenwoordig sou wees nie. Alhoewel talle lede van die Raad hoogs teësinnig ingestem het, het niemand met ’n lewensvatbare alternatief vorendag gekom om die onmiddellike APLA-bedreiging te stuit nie. Gevolglik het die SVR die operasie goedgekeur.
Die Morele Dilemma: Kan die SVR Verkwalik Word?
Hierdie verloop van sake laat die historiese vraag ontstaan: Kan De Klerk en die SVR moreel verkwalik word dat hulle die operasie goedgekeur het? In die lig van die destydse feite neig die weegskaal sterk na die verdediging van die Raad se optrede.
Die SVR het gehandel onder die hoogste grondwetlike en morele plig van enige regering: om die staat en sy mense teen dodelike binnelandse terreur te beskerm. Ná die slagting by die St. James-kerk en met die wete dat Transkei as ’n basis buite Suid-Afrikaanse jurisdiksie vir APLA-aanvalle gebruik is, kon die politieke leierskap nie bekostig om bloot niks te doen nie. Hulle moes besluite neem in ’n krisisomgewing waar die Weermag absolute versekeringe oor die akkuraatheid van hul intelligensie gegee het.
Dit is onbillik om die politieke uitvoerende gesag met die wysheid van terugskouing te veroordeel vir inligting wat foutief deur die militêre aan hulle weerhou is. Die besluit was nie ’n roekelose of bose plan om kinders te vermoor nie, maar ’n bona fide-staatshandeling wat uitgevoer is op grond van die destyds beskikbare feite om die land te beveilig.
Gevolgtrekking
Die historiese rekord toon dus dat Eugene de Kock se bewering wesenlik skeefgetrek is. De Klerk het nie ’n persoonlike, eensydige “moordbevel” aan Meiring gegee nie; hy het ’n kollektiewe SVR-besluit gelei wat gebaseer was op misleidende inligting tydens ’n nasionale krisis. Dit weerlê De Kock se politieke narratief dat dit ’n berekende, persoonlike sluipmoordopdrag deur De Klerk self was.
Naskrif: Die skrywer het die vergadering persoonlik bygewoon.
27 Oktober 2026
Oct 18, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Illustrasie by my artikel vandag op Rapport se blad op Netwerk24.
Die laaste blyplek van Wynand en Dalene Mouton voor haar skielike dood in April 2008 en syne twee maande later, op 21 Junie, was twee gekoppelde pragwoonstelle in Kusweg, Strand, met ’n manjifieke see-uitsig.
In ’n spesiale hoekie van die Moutons se tuiste in die Metropole-gebou (as ek die naam reg onthou) had elkeen sy/haar eie vaste stoel. By kuiers is groot stories in daardie hoekie gepraat. Prof. Mouton se kritieke rol om met die politieke oorgang in die 90’s Suid-Afrika se kernarsenaal af te takel, was een uiters boeiende gespreksonderwerp.
Watter gedugte taak was dit nie. Sy sleutelrol as onafhanklike ouditeur was om as’t ware toesig te hou oor die hoogs geheime proses en te sorg dat elke jota en tittel van die fynskrif nagekom word. Vir die verantwoordelikheid het staatspresident FW de Klerk die gerespekteerde kernfisikus en oud-rektor met die hand uitgesoek.
In daardie senutergende tyd het hy dit ’n keer letterlik met ’n bom in die bagasiebak van ’n Toyota Corolla op die M1 tussen Johannesburg en Pretoria gewaag – darem stewig vasgebout. Hoe het hierdie oudredakteur nie namens latere kollegas lippe afgelek vir daardie scoop nie.
Die afgelope week met Pieter Steyn se reeks oor “Die Bom op Kyknet (kanaal 144) op omtrent almal se lippe het ek telkens gewens dat ek net die Moutons se nommer kon skakel en sy rustige bedaarde stem aan die anderkant hoor. Vir heelparty vrae in my gemoed oor ons ses (amper sewe) bomme en die reusetaak om dit af te takel, sou ek by hom wou antwoorde soek.
Geheime sou hy nie verklap nie – sy integriteit was uit graniet – maar ek is taamlik seker: danksy kennis wat deur Die Bom bygedra is, sou ek dalk ‘n omvattender storie kon loswikkel as die oppervlakkige een wat ek ken.
Prof. Mouton se era as rektor van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat en my era as redakteur van die destydse dagblad Die Volksblad het saamgeval. Veral ná ’n gesellige naweek saam in die jagveld was ons goeie vriende wat oor en weer as klankbord gedien het. .
Ons was op die wildplaas Tussen-die-Riviere by Bethulie gaste van die Vrystaatse provinsiale administrasie. ’n Bedrewe skut het vir ons twee geweerskuwe manne ’n geskenk-eland platgetrek – ’n berg vleis.
Harmonie tussen rektor en redakteur was nie altyd maklik nie. Op die kampus was avontuurlike groepe soos die manne van die Reitzkamerwonings. Die onbesonne streep in elke generasie se studente sorg soms vir sappige nuus.

Saam met die Matrieknooi van 1985, Marinda Dercksen van Bloemfontein.
Tog het ’n opbouende verhouding bestaan. Die koerant en die universiteit – die “waarheid” en die “wysheid” – het hande gevat in onder meer die glansryke Matrieknooiwedstryd, wat in 1981 op inisiatief van Die Volksblad tot stand gekom het.
Prof. Mouton se Kovsie-nalatenskap is enorm. Onder sy sorg het sy alma mater as ’n voorste navorsingsuniversiteit ontluik; uitgebreide sportvelde, spesifiek Shimlapark, is op die Wes-kampus ontwikkel; die kunsversameling is vergroot, en ’n moderne, goed toegeruste teater (wat later na hom genoem is) is vir studenteproduksies gebou. Vir sy waardevolle bydraes is hy in 1995 met ’n eredoktorsgraad en in 2004 met ’n Eeufeesmedalje vereer.
Buite die akademie het hy sy eerste diep voetspore getrap toe hy hom in die onstuimige 80’s die voorsitterskap van die SAUK as ’n tweede verantwoordelikheid laat welgeval het. ’n Kringloop is daarmee voltooi. Ná vier dekades was hy terug in ‘n omgewing waar hy in die 40’s as koerantverkopertjie begin het – die media.
Waarvoor hy hom ingelaat het, het die voorsitter algaande eers besef. ’n Ongesonde beheerdrang by die regering van die dag (lees minister Pik Botha) het hom uit die staanspoor grys hare besorg. Agter die skerms was politieke spanning ’n konstante skadu teen die muur. Sulke netelige kwessies soos ja of nee vir die uitsaai van Sondagsport was op die agenda.
Vir ’n besadigde akademikus was die nuwe pad vol slaggate. As ’n redakteur met spanning en stryd sy daaglikse spyse kon ek ten minste met empatie luister.
Toe, aan die einde van 1989, neem die staatspresident, F.W. de Klerk, die strategiese besluit om die land se arsenaal van atoombomme te vernietig. Kort daarna, in Maart 1990, katrol hy prof. Mouton in om verantwoordelikheid vir toesig oort hierdie hoogs sensitiewe en geheime proses te neem.
As onafhanklike ouditeur het hy ’n uiters belangrike rol gespeel in die aftakeling van Suid-Afrika se nogal aansienlike kernwapenprogram.
Vir eers moes hy verseker dat die bomme deur die tegniese span onder leiding van o.a. dr. Waldo Stumpf op ‘n berekende wyse korrek en volledig uitmekaar gehaal word. Hy het verkies dat dit met verdrag gedoen word.
Ten tweede moes hy aan die einde ook as onafhanklike arbiter kon sertifiseer dat alle verrykte uraan en wapenkomponente veilig by die Korporasie vir Atoomenergie (KAEO) terugbesorg en gedokumenteer is. Sy agtergrond as kernfisikus het hom vir daardie taak die nodige wetenskaplike geloofwaardigheid besorg.
Dat sy noukeurige ouditering as grondslag gedien het toe die Internasionale Agentskap vir Atoomenergie (IAEA) later ingeroep is, word deur ingeligte tydgenote gestaaf. Nadat Suid-Afrika in 1991 die Kernsperverdrag (NPT) onderteken het, het die regering volle toegang aan die IAEA verleen om prof. Mouton se bevindings te kom verifieer. So is aan die (soms bra skeptiese) wêreld bewys dat die program permanent gestaak is.
Hy was geen politieke figuur nie en sy rol was ook nie enigsins politiek van aard nie, wel wetenskaplik en administratief. Waarop dit neerkom: hy moes verseker dat die fisieke “aftakeling van die bom” deursigtig, veilig en onomkeerbaar plaasvind voor die oorgang na ’n nuwe demokratiese bedeling. Daardie tydsberekening is van die uiterste belang geag.
Omdat hy so nederig, rustig en bedaard was, ’n minsame mens-mens wat sag gepraat en geredelik geglimlag het, het sommige hardekoejawel-tydgenote hom tot hul eie skade of verlies onderskat. ’n “Malvalekker” – so het ’n bekende in die mediawêreld hom tipeer. Dit was ’n oordeelsfout, want binne daardie toeganklike uiterlike was keiharde staal: die staal van beginselvastheid, opregte geloof, verstandigheid en logiese denke. Laat die mistaster se naam liefs verswyg bly.
By terugskoue kan ‘n mens wel wonder of hierdie “malvalekker van staal” voldoende erkenning kry vir sy kritieke en deurslaggewende rol aan verskeie fronte.