EMMERS VOL LIEFDE VIR ‘n NUWE KOERANT

Die opwinding laai op oor die verskyning van Die Papier oor’ ‘n week op 6 Maart. Op die koerant se skouers rus ‘n groot verantwoordelikheid om te kom help bewys dat die gedrukte koerant nie ‘n uitgestorwe ou reliek is soos die ossewa nie (die beeld van julle weet wie).

In die kantore waar die eerste Die Papier tot stand kom, heers bepaald reeds opwinding, afwagting, en ‘n mate van gesonde spanning. Dit is ‘n bondel energie daar wat knoop en ontknoop en wag om los te bars.

Dis nie raaiwerk nie. Met elke vooraf-tree van die Beeld-stigting in September 1974 het ek immers intiem saamgeloop. Trouens, ek is die enigste oorlewende van die klein pionierspannetjie wat reeds in Junie in die hartjie van Johannesburg begin planne maak, mense werf en drome droom het.

Dis ‘n tintelende gevoel om ‘n nuwe koerant te begin. Ek dink daaraan as ‘n hoogtepunt in ‘n koerantloopbaan met vele hoogtepunte.

Met die oog op die koms van die nuweling het ek die versamelfoto gaan uithaal van tonele rondom Beeld se eerste verskyning op Sondagaand 15 September (die koerant het natuurlik die datum gedra van Maandag 16 September.)

Bo regs dwaal redakteur Schalk Pienaar laataand deur ‘n verlate verslaggewerskantoor in die lelike ou eerste Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein – nes ‘n verwagtende vader by die geboorte van sy eersteling.

Die formidabele redakteur sou helaas net enkele maande in sy veeleisende hou voordat hy weens swak gesondheid die aflosstokkie aan Johannes Grosskopf moes oorhandig.

Die klein fotot’jie regs onder is die Sondagmiddag in die fabriek geneem. Die eerste nuusredakteur, dis nou ekke, staan opgewonde en kyk hoe die eerste voorblad gestalte kry. Dit is meer as ‘n halfeeu gelede. Dit voel soos gister.

Die heel eerste uitgawe het verskyn met ‘n scoop. Die Burger se Alf Ries, prins van politieke beriggewers, het daardie oggend met die Boeing uit die Kaap die berig gebring – met komplimente van PW Botha: “Troepe oral op die grens”. Die Suid-Afrikaanse Weermag skud hom reg weens die chaos in Mosambiek ná Portugal se abdikasie. Troepe is oral op strategiese plekke aanwesig. Grense word gepatrolleer.

Pienaar regs) , besturende direkteur Lang David de Villiers(links) , groot dryfkrag agter die stigting van Beeld, en Phil Weber (middel), voorsitter van die Nasionale Pers, staan op die hooffoto ingenome met die nuwe baba. ‘n Mens kan sommer sien die drie Naspers-swaargewigte bars van trots op die weerbarstige nuweling wat die koeranttoneel in die noorde later ná ‘n lang en bitter stryd op sy kop sou keer.

In Julie 1980 moes ek vir Beeld vaarwel sê om terug te gaan “huis” toe – as redakteur van Die Volksblad waar ek in 1963 my joernalistieke tande begin sny het. Tussen 1974 en 1980 lê egter ‘n verhaal van fantastiese hoogtepunte. Ongelukkig ook laagtepunte. Maar watter onvergeetlike skof was dit nie.

Ek herhaal vandag graag ‘n woordjie wat ek ‘n keer uit die hart gespreek het en wat al telkens aangehaal is: Dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie.

Ek dink Die Papier se mense gaan ook emmers vol liefde in hul koerant stort.

DAVID, DAVID EN DAWID – DRIE DORINGS

Lang David, Dik David en Heilige Dawid – so was die drie gemoedelik bekend: die een so gedug soos die ander. In die tweede helfte van die vorige eeu het hulle op verskillende terreine uitgestyg en sleutelrolle in Suid-Afrika gespeel.

Lang David is so genoem omdat hy uitermate lank was, Dik David omdat hy, soos die outeur hiervan, … wel .. nie skraal was nie, en Heilige Dawid (met ‘n “w” soos Dawid in die Bybel)  omdat jy ‘n opregter man van die Woord skaars kon bedink.

Die drie tydgenote – leiers van formaat in die sakewese, die regswese en die kerk – was feitlik ewe oud.  Twee was DP’s en een (Heilige Dawid) ‘n DW. Die twee DP’s was neefs. Twee van die drie het in 1918 die eerste lewenslig aanskou en een in 1919 (Lang David). Al drie het op Stellenbosch gestudeer en hul beskrywende name kom uit hul studentedae.

Met al drie was ek bevooreg om paaie te kruis, veral met die twee by wie die byvoeglike naamwoorde voor hul name aan hul posture te danke was. Met die “geestelike” een was net een vlugtige ontmoeting – maar ‘n seer aangename een – by ‘n bruilof van een van sy eertydse Tokkelok-studente se dogters.

Dik David

Dik David was ook, heelwat vleiender, as David Sasol bekend weens sy termyn as baas van Sasol van 1975 tot 1986 – ‘n era van konsolidasie en groei by die inheemse brandstofvervaardiger te midde van toenemende vloeibaarheid op globale oliegebied.

Kort voordat hy Sasol se leisels sou oorneem, het ek en kollega Herman le Roux, sportredakteur, ‘n sending onderneem om nuwe plattelandse korrespondente vir Die Volksblad te werf. Op Sasolburg het ons ook by die aspirant-baas  gaan koffie drink. Hy nooi ons toe die aand huis toe waar hy en sy vrou, Mavis, bekroonde skryfster, ons gul ontvang het. Ons twee kollegas herinner mekaar vandag nog aan daardie ervaring.

Min het ons toe geweet watter invloedryke sake- en nywerheidsreus ons wellewende gasheer sou word. Buiten voorsitter van Sasol, Soekor en Natref, was hy onder meer ook voorsitter van die Raad van die Universiteit van Stellenbosch en lid van die Raad van die Randse Afrikaanse Universiteit, lid van die Eerste Minister se Beplanningsadviesraad, erepresident van die SA Atletiek-afrigtersvereniging, ondervoorsitter van die beheerraad van die SA Sportstigting, lid van die Nasionale Pers se direksie en lid van die SAUK- Raad. Noem maar op. Nie onverwags nie is hy vir sy diensbaarheid met die Dekorasie vir Voortreflike Diens bekroon.

Min het ekself geweet van die omvattende persoonlike kontak wat, formeel en informeel, met “Oom David” sou volg.  Ons was in die jare 80 twee skofte lank medelede van die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond, in 1992 mede-inwoners van St. Martini Gardens in Victorialaan, Kaapstad, en van 1992 tot 1997 in dieselfde span onder die Naspers-sambreel (hy as direkteur en ek as koerantehoof in daardie termyn).

Die ywer waarmee hy almal om hom se familiebande nagespeur het, was ‘n kenmerk.  Hy kon diep boor in die hoop dat hy iewers ‘n raakpunt met mense van statuur sou ontdek. In my geval is ons terug tot by stamvader Gerrit Jansz wat in 1687 uit die stadjie Deventer in Overijssel na Suid-Afrika gekom en hom as vryburger by Stellenbosch gevestig het.  Daardie effense Stellenbosch-konneksie is werklik al waarop hierdie doodgewone plebejer kon roem.

Aan die direksietafel het hy prikkelende bydraes gemaak waarna fyn geluister is. Waar onderhandel moes word, is gereeld op sy knoppie gedruk vir koelkop-advies. In ligter trant: hy kon ook die bakkie lekkergoed naaste aan hom in rekord-tyd klaarmaak en dan rondkyk vir ander binne bereik!

Lang David

Die vlymskerpe Lang David De Villiers – Die Advokaat, het ons Persmense hom genoem – het  sterk op die voorgrond getree as leier van Suid-Afrika se regspan by die Wêreldhof in Den Haag met die uitgerekte Suidwes-Afrika-saak aan die begin van die 60’s – ’n nasionale bydrae waarvoor hy, volgens oud-minister Pik Botha en andere, groter erkenning verdien het.

In sy skof van amper vyftien jaar by die Nasionale Pers van 1969 tot 1983 het hy groot en magtige dade verrig. Hy was onder meer die dryfkrag vir die beslissende deurbraak na die noorde met die stigting van die dagblad Beeld in 1974. Oor persvryheid en verwante kwessies het die Naspersleier binne die NPU (Nuusblad-Persunie) en elders onverskrokke en onvermoeid teen die magsugtige owerheid gestry; hy met sy voortreflike regsagtergrond altyd in die hartjie van die geveg.

Tot sy ewige eer het die nuwe baas die ou Perskultuur van spaarsamigheid (’n sterker s-woord bestaan!) kom omkeer – in die oë van die Pers se uitgebreide personeelkorps dalk een van sy vernaamste vernuwings. ’n Mercedes 220 is byvoorbeeld vir die gebruik van besoekende senior personeel aan die Rand aangekoop in die plek van ‘n ouerige Cortina ná ‘n persoonlike verleentheid wat hom nie geamuseer het nie.

My eerste kennismaking was in 1979 in Keeromstraat, Kaapstad, toe hy my (destyds by Beeld) ‘n pos in Port Elizabeth wou aanbied.  Tot sy sigbare ergernis het ek dit summier van die hand gewys. Drie jaar later (toe ek reeds in Bloemfontein was) is die ongemaklikheid herhaal.  Die keer was die aanbod ‘n pos in Johannesburg. Weer wou ek (om goeie gesinsredes) nie byt nie.

Weer was van sy kant daardie kenmerkende laggie wat niemand met geamuseerdheid moes verwar nie.  Die oordeel dat ek ‘n hardkoppige en ietwat kortsigtige jong man was, boonop effens geneig tot langdradigheid, het my ore bereik.  Tog het ons verhouding nooit stram geraak nie.

Ondanks sy tweede huwelik met ‘n Jodin het hy daarin geslaag om by die AB-leierskap ‘n oortuigende saak uit te maak vir die behoud van sy lidmaatskap. Met die AB-hoed op is onthale by sy herehuis in Oranjezicht aangebied waar ek ook ‘n gas was. Rae, die nuwe mev. De Villiers, moes dan eetgoedjies reg sit, maar haar die hele aand uit sig hou, soos die strenge gebruik was. Dit het haar eindeloos geamuseer. Om die geheimsinnige “Broers” terug te kry, ry sy ‘n keer na ’n Joodse delikatessen in Seepunt. Daardie aand smul haar man se Afrikanergaste aan regte, egte Joodse kosjerhappies!

Heilige Dawid

Heilige Dawid was ‘n deurwinterde kerkman; 43 jaar in die aktiewe bediening. Hy het twee doktorsgrade gehad en was twee keer dekaan van die Teologiese Kweekskool. Soos aan David Sasol is die Dekorasie vir Voortreflike Diens aan hom toegeken.

Onder kollegas het die regskape leraar die reputasie gehad van ‘n veelsydige, dinamiese en talentvolle kerkleier, iemand wat voluit geleef het as predikant professor, prediker en skrywer. In sy lewensuitkyk was dinge reg of verkeerd en hy het nie kompromieë geduld nie. Daarvoor moes hy soms kritiek verduur, maar het hy ook wyd respek afgedwing.

Minder bekend was sy musiekkant. As Matiestudent was hy lid van die Ivy Angovestrykorkes en die bekende Boereorkes van Oom Pietie le Roux.  Hy was ook ‘n ywerige muntversamelaar.

Waar ek met sy aangename geselskap kennis gemaak het, was op die troue van Elbeth, dogter van ds. Gert Terblanche van Berg-en-Dal, Bloemfontein, my ou gemeente, en sy vrou, Retha in 2000 op Stellenbosch.  Die onthaal was op die landgoed Vredenheim.

Ds. Gert is ‘n oud-student van prof. David. ‘n Lewenslange verhouding het by die Kweekskool tot stand gekom. Die hoogleraar het die egpaar Terblanche in die huwelik bevestig en later jare meermale by hulle tuisgegaan – soos ook graag by ander oud-studente. Vir ds. Gert staan dit uit hoe hy die name van oud-studente onthou het.

Prof. Dawid kon altyd die Tokkelokke uiters praktiese advies gee, onthou ds. Gert met ‘n vonkel in die oog.  Een stukkie goeie raad:  Moenie so eie raak met jou gemeentelede dat jy sommer by die kombuis instap, potte se deksels begin oplig en vra: ’Wat eet ons vandag?’ nie.

Dalk nog beter: Moenie praat van MY gemeente, MY kerkraad of MY pastorie nie.  Netnou word dit sommer MY orreliste ook!

NEE, MAN, EK LIEG ELKE WOORD

My brief in vandag se Burger (en op Netwerk24) is ene wat ek nooit gedink het ek sal skryf nie.
Iemand wat nie Saterdag By van hoek tot kant gelees het nie, kan dalk sukkel om dit te verstaan.
Vir hulle: Ek lieg elke woord. Ek gaan ‘n old fashioned knol bly. En ek gaan wye draaie loop om daardie Slypskool van Kommadagga. So skerp wil ek darem ook nie word nie!

MET BYBEL EN VALSKERM

Wanneer 1 Valskermbataljon by Tempe, Bloemfontein, se “parabats” in die 80’s een van hul skouspelagtige massa-spronge uitvoer, het tien teen een die klein postuur van hul kloeke kapelaan tussen hulle geswewe.
Ds. Jan Venter was wel nie groot van gestalte nie, maar ‘n man uit een stuk wat in elke opsig saam met sy mense geleef het, hetsy met die Bybel of met ‘n valskerm.
Dr. Jan is gister in die Kaap oorlede weens komplikasies ná ‘n val en ‘n heupoperasie. Hy was in sy laat 80’s / vroeë 90’s.
Hy het die aarde verlaat met die diepe respek en geneentheid van talle gemeenskappe, van Bloemfontein tot Melkbosstrand waar hy kom aftree het.
In die NGK Melkbostrand het hy ‘n geliefde en geëerde aflosleraar geword en in die aftree-oord Sea Park waar hy en sy vrou, Martie, hul laaste jare geslyt het, was hy ‘n geestelike toring van krag. Ook van buite Sea Park het mense graag na sy verrykende dienste en Pinksterreekse gekom.
Waarvoor die wellewende Jan Venter in die wyke lank onthou sal word, is sy buitengewone toewyding en lojaliteit aan Martie nadat akute Alzheimers by haar toegeslaan het. Sy was al in ‘n gevorderde stadium toe haar man elke dag, sonder uirsondering, ure by haar gaan deurbring het. Hy het onder meer haar naels tot met haar dood nougeset versorg, al het hy vir haar ‘n “vreemdeling” geword.
Ons innigste meelewing met die seuns en hul gesinne wat hul pa tot sy oudag in ‘n kokon van liefde versorg en ‘n lewendige familieband in stand gehou het.
Die vrolike foto van Jan en Martie is geneem by die uwe se 70ste in 2011, 15 jaar gelede.

SOOS ‘n ROOI ROOS EN ‘n LIED

Onverklaarbaar begin die lank vergete woorde van ‘n ou-ou Skotse gediggie / liedjie deur die newels dring terwyl ek met ‘n koue sauvignon blanc in die hand die skemer inwag.

My love is like a red, red rose, onthou ek die begin. Met ‘n bietjie konsentrasie kom by: That’s newly sprung in June. Nog ‘n paar oomblikke se diep dink. A, natuurlik: My love is like the melody that’s sweetly played in tune.

Keats, verduidelik ek vir Tokkie. Agterna blyk die raaiskoot verkeerd te wees. Die eer kom Robert Burns toe. Doer in 1794 het hy dit al opgeteken.

Nou wil die woorde my nie los nie. Ook nie die gewonder oor waarom skielik die herinnering uit die niet opduik nie – ‘n herinnering aan mnr. Blackie Swart se Engelsklas in 1957 aan Volkies, Potchefstroom, verbeel ek my, maar dit kan dalk ook onjuis wees.

In elk geval, ek meld graag dat die woorde vir my opnuut mooi is . Die gediggie het ‘n aangename ritme. Ek hoef nie my kop te breek oor die boodskap nie.

Dankie, Robert Burns.

Hier is die ou weergawe: O my Luve is like a red, red rose / That’s newly sprung in June; / O my Luve is like the melody / That’s sweetly played in tune.

So fair art thou, my bonnie lass, / So deep in luve am I;/ And I will luve thee still, my dear, / Till a’ the seas gang dry.

Till a’ the seas gang dry, my dear, / And the rocks melt wi’ the sun; /I will love thee still, my dear, / While the sands o’ life shall run.

And fare thee weel, my only luve! / And fare thee weel awhile! / And I will come again, my luve, / Though it were ten thousand mile.