Jan 29, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sweef soos ‘n arend, sing minnesanger Bles Bridges in een van die liedjies wat hom beroemd gemaak het. Die toenmalige treffer (uit die stal van Mynie Grove) maal in my kop terwyl ek nadink hoe om my avontuurlike arend-storie te vertel.
Kom ek begin by die tradisievaste Stellenbosse manskoshuis Eendrag waarvan die koshuiswapen ‘n arend met uitgestrekte vlerke is – op ‘n haar na soos die arend op die ou Volkiewapen (Volkies, Potchefstroom).
Kleinseun Thomas Claassens (21), ‘n student in die Regte in sy vierde jaar, is vanjaar Eendrag se primarius. Verlede Saterdag trek hy toe sy dagdrag aan – kleurbaadjie met sakwapen, Chinolangbroek, das, die lot – en spring so gestewel en gespoor op 10 000 voet uit ‘n ligte vliegtuig met ‘n valskerm; sy eerste sprong, maar darem saam met ‘n ervare instruktrise.
Soos ‘n arend sweef Thomas met wapperende kuif op die video van sy avontuurlike daad waarmee hy sy koshuis se arend-wapen op ‘n unieke manier gestalte gee.
Die valskermsprong is deel van ‘n Eendragprojek om HK-lede op sonderlinge wyse aan die nuwe eerstejaars bekend te stel. Een is glo al op ski’s agter ‘n bakkie in die straat af, ‘n ander = ewe deftig aangetrek – onder die stort.
Natuurlik is hierdie oupa nie min trots op sy vindingryke, kreatiewe, avontuurlustige en dapper kleinseun nie. Hy is net dankbaar in sy dae is soortgelyke dade nie van HK-lede geverg nie. Oupa was in 1962 huisvoorsitter van Kollegetehuis aan Tukkies , en het sowat skotvry afgekom. Die ergste uitdagings van daardie studente-era was omtrent ‘n modderbad en ‘n pil deurdrenk van duiwelsdrek aan die einde van die eerste jaar.
Was Thomas nie bietjie bang nie? Nee, oupa, lag hy, dit was heerlik – ‘n onvergeetlike ervaring. Trouens, ‘n reksprong van ‘n brug oor ‘n ravyn het vir hom tevore ‘n groter verskrikking ingehou.
Foto: Verskaf.
Jan 29, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vuurtjies brand in Balule.
Oor my geliefde boskampie Balule teenaan die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier naby Olifantskamp in die Krugerwildtuin bekommer ek my morsdood. Wat het van hom oorgebly nadat die siedende rivier oor hom gespoel het?
Tonele wat ek in my verbeelding sien, sluit in net die spitse van die ses primitiewe rondaweltjies se grasdakke en die toppe van die grootste bome – die tamaaie ou kremetart in die hoek en dalk ‘n huilboerboon of twee – wat bo ‘n malende bruin watermassa uitsteek. Die res begrawe in ‘n watergraf.
Van al die kampe het Sanparke darem al iets laat weet, selfs die onbegaanbaarste op die oomblik. Oor Balule word onheilspellend geswyg. Niemand weet blykbaar iets nie.

Balule se halfmaan-rondawels.
Vir geen ander kamp in die Wildtuin het ek so ‘n hartsgevoel nie. Die band is diep en innig.
Op 20 Julie 2011 het ek en Tokkie die eerste keer in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, oornag – ‘n droom bewaarheid. Ons was in rondawel 5. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
‘n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank saam met Tukkievriende van die koshuis Kollege en in Augustus 2025 weer om te gaan afskeid neem. Dit was ons tiende besoek, en weer in randawel 5.
Een van die foto’s hierby is van die Augustuskuier waar Tokkie vir laas die ou bekslanerhek agter haar toetrek. Dis dalk ‘n simboliese foto.
.Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is /was ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy Engelse reklame te beskryf. Balule is /was al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is /was egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.

Eerste besoek in 2011.
Die ses rondawels staan /het gestaan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi / gegooi het. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by /het bygedra tot ‘n blaredak.

En die laaste in 2025.
Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep. Dit gaan nie verander nie.
Ander herinneringe is van die hiënas wat saans kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek patrolleer. Van leeus wat genoeglik by hul prooi brul. Van sterre wat soos diamante skitter. Van die maan wat ‘n sprokiesland skep saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Ai, ek onthou so helder. Mag dit so wees dat Balule sal opstaan en vir nuwe generasies besoekers steeds dieselfde herinerringe sal skep. Ek vra dan so mooi.
Jan 28, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dalk is dit onwys om die saak aan te roer terwyl ek in ‘n toutrekkery met Incredible Connection gewikkel is oor die snelle ineenstorting van die letters op my drarekenaar se sleutelbord.
My Acertjie is skaars ses maande oud. Sy e, r, i en n is egter al klaar koebaai wrede wêreld. Ander letters loop meedoënloos dieselfde pad, net ietwat stadiger. Incredible noem dit “normal wear and tear”, ofskoon die spoed waarteen die agteruitgang geskied darem ook daar wenkbroue laat wip.
Onse ridders van die tikmasjien uit ‘n vorige era dra hiermee blykbaar ‘n spesiale kruis. So kom ek agter toe ek iewers iets lees – op sosiale media by oud-joernalis Albe Grobbelaar dalk? – van ene se onvermoë om die ou gewoonte af te te skud om die klawers so hardhandig by te kom soos vanouds.
Ja-nee, ons kon. Ons kon ‘n masjientjie laat rittel en beef soos ‘n hond wat gif gevreet het, soos kollega Johan van Wyk ‘n keer in ‘n seldsame kompliment aan die uwe opgemerk het– ‘n pluimpie waarin hy, kloeke man wat hy is, moes erken het dat van aanslae hom vreesbevange gelaat het.
Daardie getroue ou werkesels kon dit vat. Hedendaagse toerusting soek egter om geliefkoos te word. Hoe teerder die streling, des te langer die gewilligheid om diens te lewer. Die komplikasie is net: Al weet ‘n mens dit, kan jy absoluut niks daaraan doen nie. Jou styl is jou styl. Finis en klaar.
Immers: As jy ‘n “aanrander van ‘n tikmasjien” was, is jy soos ‘n gewoontemisdadiger of ‘n drankverslaafde. Jy kan jouself nie help nie ondanks die reinste voornemens. Helaas.
Die makers van rekenaars weet natuurlik van ‘n tikmasjien niks, ook niks van die weerstand wat in sy toerusting ingebou moes word teen ‘n outydse joernalis wat vaart optel met ‘n storie. Die vervaardigers, verskaffers en almal in die rekenaarbedryf sal moet terug tekenbord toe, soos sommige rugbyspanne telkens.
Hiermee dan ‘n noodoproep aan hulle. Vind tog asseblief ‘n manier om daardie letters te pantser dat dit nie so vinnig verweer nie. Gee vir ons ‘n keuse as ons ‘n rekenaar koop soos motorvervaardigers al lankal leer doen het. Gee ons ‘n tipe stadsbuks of ‘n robuuste veldvoertuig, asseblief.
Jan 20, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kyk, van Bitcoin verstaan hierdie ou man geen snars. Ek raak nie daaraan met ‘n lang tang nie.
Maar snaaks tog hoe ‘n mens onbewustelik in jou kop sekere assosiasies kan vorm. So koppel ek elke aand se brokkie op die TV-nuus oor die Bitcoin se op en af om die een of ander rede aan ‘n storie uit 1434 in die stad van my vadere, Deventer in die Overijssel.
In Deventer is ‘n sogenaamde “valsemunter” daardie jaar oor ‘n “valuta-oortreding”, as ek dit so mag noem, lewend in ‘n reuseketel gekook. Hy is as’t ware gekook oor sy kokery!
Op die stadsplein het teen ‘n muur so ‘n onheilspellende ketel gehang. Het hom met eie oë daar gesien op ‘n besoek in die 80’s en is nou weer daaraan herinner deur die vermaarde Perskorjoernalis Gerhard Burger van Port Elizabeth wat iets daaroor raakgelees het.
Vir outentiekheid behou ek die rillerstuk in zijn oorspronkelijke Nederlandsch:
Muntmeesters hadden in deze periode een grote verantwoordelijkheid. Ze waren belast met de productie en het waarborgen van de kwaliteit van munten en vervulden daarmee een sleutelrol in het handelssysteem. Niet iedereen ging echter goed met die verantwoordelijkheid om. Zo werd de muntmeester van Batenburg, een klein stadje op de grens van Gelderland en Brabant, in Deventer betrapt met valse munten.
De stad Deventer nam dit begrijpelijkerwijs zeer hoog op. Valsmunterij ondermijnde niet alleen het handelsverkeer, maar ook de reputatie van Deventer als betrouwbare Hansestad (handelstad). Een dergelijke misdaad moest dus hard worden bestraft. Op een stadsrekening uit 1434 is te lezen dat het stadsbestuur een lokale koperslager opdracht gaf tot de vervaardiging van een nieuwe koperen ketel voor de terechtstelling van de valsemunter. Bepaald werd dat de oneerlijke muntmeester in de ketel moest worden ‘gezoden’, ofwel in olie gekookt…
Hoe dat precies verliep is niet helemaal duidelijk, maar vast staat wel dat de muntmeester deze terechtstelling niet kon navertellen. De veroordeelde kreeg hierna bovendien geen normaal graf, maar werd simpelweg in een ton onder de grond gestopt.
Lange tijd hing de beruchte valsemuntersketel hierna aan de gevel van de Waag, om voorbijgangers te herinneren aan de zware straf die op muntvervalsing stond. Het is onbekend hoe vaak de ketel daadwerkelijk is gebruikt. Wel bekend is dat overtreders na 1598 niet langer in olie werden gekookt, maar voortaan werden opgehangen.
Franse soldaten schoten volgens overlevering tijdens de bezetting in de periode 1795-1814 kogels op de ketel af, waardoor deze het uiterlijk kreeg van een vergiet en definitief onbruikbaar werd. De ketel bleef hierna nog lange tijd aan de muur van de Waag hangen, maar had na verloop van tijd zoveel te lijden onder de weersomstandigheden dat in 2015 werd besloten hem te verplaatsen naar stadsmuseum De Waag. Sinds 2024 hangt er echter toch weer een ketel aan de buitenmuur van de Waag. Het gaat om een replica, gemaakt door het Koperslagersgilde uit Den Bosch.
Hierdie storie is aan niemand spesifiek se adres gerig nie. Die moraal behoort egter duidelik te wees: Deventenaaars laat nie met hulle mors. Trap dus in julle spore!
Jan 18, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Kollega, Chris (Molie) Moolman, se beskrywing van ‘n regtige groot fiasko was dat dit die grootste bokkerop sedert Perdeberg in die Boere-oorlog is.
Die Min Shaw-moles wat in die nuwe Huisgenoot (deels) oopgekrap word, sou honderd persent aan Molie se Wet van Katastrofes voldoen het.
Een ding weet ons vandag vir seker: Min Shaw (91) is NIE met die katelknaap Shaun Mynhardt (52), haar bestuurder en biograaf, getroud soos voorheen met gedokterde foto’s en versinde e-posse – lekker soetsappig daarby – uitvoerig berig is nie.
Hierdie feit voel ek my geroepe om aan die hand van Huisgenoot se jongste mededelings in die verband bekend te maak; soos ek my voorheen geroepe gevoel het om – met ‘n skeutjie sardoniese kommentaar van my eie – aan die hand van Huisgenoot se vorige mededelings in daardie verband die teendeel bekend te maak, naamlik dat ‘n romantiese huwelik voltrek is en dat ‘n wittebrood op Mauritius sou volg .
Dit blyk, liewe vriende, dat Huisgenoot (en die liewe Min) die slagoffers van ‘n diaboliese misleiding van reusagtige proporsies was. Die detail laat ek daar. Om in die besonderhede van die petalje dieper te delf om agter die kap van die byl te probeer kom, vind ek werklik te veeleisend en uitdagend. Elke leser liewer vir hom- of haarself!
Darem net dit: sowat van verwikkelde duimsuiery het ek nog nie voorheen oor ‘n verhouding tussen twee mense teegekom nie. Soveel duimsuiery en soveel raaiselvrae. Nadat jy alles gelees en probeer verteer het, bly immers die groot vraag: Hoe op dees aarde was al hierdie dinge moontlik? Verder: Hoe kon sulke omvangryke bedrog met valse e-posse plaasvind? Wat sou die motief wees vir al die liegstories? Wat dryf iemand tot sulke duistere gedrag?
Genoeg. Kom ek wens die ontnugterde Min in al haar broosheid net die allerbeste toe waar sy in ‘n Randse staatshospitaal gereed gemaak word vir ‘n operasie na ‘n ongeluk wat nie onverwant is nie aan die hele jammerlike episode waarvan die einde seker nog nie gehoor is nie.