‘n JONG TWEELING SNEUWEL SAAM


Dalk die hartseerste van vele verwante hartseerstories. Dit was die dood vroeg in Januarie 1982 van die identiese Kruger–tweeling van Universitas,  Bloemfontein, Ockert en Pieter (19), wat saam in ‘n operasie in die Grensoorlog in Angola gesneuwel het.

Ockert is op slag dood. Pieter het hom in die vliegtuig doodgebloei. Die twee, die laatlammetjies van hul ouers, was die vorige jaar in matriek aan die Greykollege. Op die Netwerk24-foto is hulle in hul skoolkleurbaadjies.
Ná die tragedie is militere beleid verander sodat tweelinge nie daarna weer in een voertuig ontplooi is nie.
Hul ouer suster Piekie Halgryn het gister in ‘n roerende plegtigheid by die gedenkmuur by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein ‘n krans vir haar boeties gelê, lees ek op die Volksblad-landingsblad van Netwerk24 in ‘n berig deur Charles Smith.

Ek was in die 80’s by Die Volksblad. Charles se berig wek herinneringe aan die talle berigte oor slagoffers van die bosloorlog destyds in die koerant – altyd op die voorblad, dikwels hoofberig, meesal op die plakkaat. Die Kruger-ongeval het geweldige skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, onthou ek.


‘n Probleem wat ons by die koerant nogal meermale gehad het, was dat die dood van ‘n slagoffer via hul naastes al in die gemeenskap bekend was, maar nog nie deur die weermag aangekondig is nie omdat alle prosedures nog nie afgehandel was nie. Ingevolge veiligheidswetgewing was ons hande gebind; ons moes wag vir die aankondiging voordat ons kon publiseer. Van ons lesers kon nie verstaan hoekom die koerant in hul oë sy voete so sleep nie. Die beperkende wetgewing was vir ons ‘n irritasie, om dit sag te stel.

Die dood van die Krugerseuns vind ook by my weerklank as oupa van ‘n tweeling (nou 21). Ek weet goed dat my lewe nooit weer dieselfde sou wees as hulle op brose ouderdom 19 uit my lewe weggeruk sou word nie. Sou ek ooit ophou huil het?