Nov 30, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Oudregter Leonora van den Heever, pas oorlede op ouderdom 99, het verkies om as Leo van den Heever bekend te staan. Watse “leeu” was die formidabele vrou nie – ‘n Panthera leo van toontjie tot kroontjie.
Sy was nie persoonlik aan my bekend nie, maar as koerantman in haar era het ek weldeeglik van die baanbrekervrou uit Bloemfontein kennis geneem. Sy is in 1969 as Suid-Afrika se eerste vroulike regter in Kimberley aangestel; tot in daardie stadium ‘n eksklusiewe manlike vesting.
Ek was toe nuusredakteur van Die Volksblad in die buurstad Bloemfontein en het nuuskierig ons Noord-Kaaplandse verteenwoordiger, Jan Scholtz, oor die vreemde verskynsel van ‘n vrou op die regbank uitgevra. Sy antwoord was tipies van die reguit Boesmanlander: ”Kyk, buurman, hierdie tannie vat nie stront van kabouters nie.”
In 1991 het sy die eerste vroulike appèlregter geword. Ek was toe redakteur van Die Volksblad en lid van die Bloemfonteinklub waar die geregtelike hoofstad se regslui gekuier het. Die jaloesie onder manlike aspirante was ‘n ope geheim aan die lang kroeg. Die minister van justisie wat haar aangestel het, die Vrystater Kobie Coetsee, is nogal kwalik geneem.
Haar reputasie as gedugte, vlymskerp en spitsvondige regspreker het vinnig amper legendariese afmetings aangeneem. Hieroor het Kobus Muller, ‘n prokureur van Pretoria, ‘n insiggewende staaltjie meegedeel.
Hy het vertel: “In 1994 / 95 was ek in die Appèlhof met n strafappèl. Ons moes begin, en net nadat my advokaat homself op rekord geplaas het, het sy begin deur n paar inleidende opmerkings te maak oor die saak.
“Ons het maar net sit en luister. Die ander twee regters het geen opmerkings gemaak nie. Daarna, sonder dat die advokaat iets verder kon sê, het sy die staatsadvokaat geroep om te betoog. Dit was n duidelike teken dat sy haar besluit geneem het. Die ander twee regters het steeds niks gesê nie. Die staatsadvokaat het aangedui dat in die lig van haar opmerkings hy niks kan sê wat iets aan haar standpunt sal kan verander nie. ‘n Baie kort Appèlhofverrigtinge!”
Met haar aftrede in 1996 het haar alma mater, die Universiteit van Pretoria, haar met die Kanseliersmedalje bekroon en in 1997 het die Universiteit van Stellenbosch ‘n eredoktorsgraad in die Regte aan haar toegeken. Albei vererings was waarskynlik ook vroulike eerstes, maar hieroor raai ek.
Haar pa, die digter Toon van den Heever, was ook ’n appèlregter – en ‘n Hertzogpryswenner. Hy was, soos ek later, ‘n Kollegeman op Tukkies. Hy was een van die eerste inwoners. Sy berig oor die beeld van Oom Paul het hy in Kollege geskryf nadat hy na ‘n laataand-kuier die bus verpas en op sy lang tog terug koshuis toe met dapper en stapper verby die beeld gestap het.
Na bewering het pa en dogter met mekaar Latyn gepraat – slim mense! Dit verbaas nie dat sy self ‘n kinderboek of twee gepubliseer het en kortverhale vir tydkrifte geskryf het nie – wel onder ‘n skuilnaam. Haar ma, Max, was ‘n vlieënier, self uitsonderlik daardie tyd.
‘n Gemeenskaplike vriendin, Frances Hoexter, weduwee van wyle appèlregter Gustav Hoexter, vertel aan regter Leo is met haar aanstelling in die Appèlhof, soos die gebruik maar met die junior is, die kleinste kantoortjie toegeken – en dié wás klein. “Ag, “merk sy toe op, “al het ek nou die besemkas vir ‘n kantoor gekry, ek is darem in!”
Regter Leo se niggie was Laura Rautenbach, ’n bekroonde beeldhouer en ’n Springbok-hokkiespeler op haar dag. Dié het ‘n borsbeeld van haar gemaak. Regter Leo is in haar skik daarmee huis toe en spog dadelik by die huishulp: “Kyk hier, wie’s dit?” Geen reaksie. “Kyk mooi, dis iemand wat jy goed ken.” Steeds geen reaksie. “Kyk van hierdie kant af.” Oplaas: “O, dis Jan van Riebeeck!”
Van Laura Rautenbach staan ‘n stinhoutbeeld van ‘n gesin van vier rondom ’n boek in ons voorportaal op Melkbosstrand. Op ‘n rak in die woonkamer staan ‘n opgevoude stinkhout-koerant uit haar ateljee. Aan albei heg ek groot waarde.
As eerbetuiging aan een van Suid-Afrika se merkwaardigste vroue van my tyd het ek ná ontvangs van haar doodsberig albei haar niggie se beelde liggies gaan aanraak.
Nov 20, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Foto: Internet.
Die Suidoos loei weer van vroeg met ‘n wroegende gehuil, soos elke dag die laaste vier of vyf. Ek wil amper met Emile Joubert saamstem wat in die rubriek Van Alle Kante in Die Burger bevind dat die Kaapse Dokter vanjaar ‘n “nuwe vlak van aggressie” betree het.
Maar is dit inderdaad die geval? In meedoenlose aanhoudendheid dalk wel; nie in intensiteit nie, meen ek wat darem ook al ‘n kwarteeu of wat met die gore Kaapse vroegsomer- fenomeen saamleef.
Op sy dag (in die 70’s of 80’s meen ek) het die Swart Sedoos ‘n dubbeldekker-bus voor die munisipale gebou onderstebo gewaai. Onthou? Sommige beweer selfs dis die wind se skuld dat die era van dubbeldekkerbusse in die Kaap tot ‘n einde gekom het.
‘n Keer is ‘n liggewig-vriendin opgeraap – nie op die Danie Botha-manier nie- en deur ‘n woeste wind so hard op die sypaadjie neergeplak dat sy in die hospitaal haar bewussyn herwin het.
Ek moes selwers op my dag in die omgewing van die parlement maar gryp-gryp tussen lamppale loop om te keer dat ek onwaardiglik op my sitvlak beland.
Met my eie oe het ek aanskou hoe die wind in ‘n woedebui ‘n kind gryp en oor die pad waai – gelukkig by n voetgangeroorgang. Sy ma in ‘n wye romp moes als los, haar kind met die een hand gryp en met die ander aan ‘n verkeerslig se paal klou. Praat van ‘n onderklere-vertoning!
‘n Vriend het grootoog vertel hoe die wind in ‘n skielike vlaag sy Fiat 500 wou-wou in ‘n helikopter omskep. Hy het vir himself lag gekry toe hy agterkom hy probeer die karretjie op die grond hou deur die paneelbord vas te druk.
‘n Melkbos-maatstaf is hoeveel vlieër-entoesiaste en bedrewe seilplankryers gelyktydig opdaag. Ons het al 92 met hul kleurryke tuie op een slag getel. Vanjaar se opkoms is baie laer.
Dan is daar natuurlik Die Burger-barometer. Vorbladfoto’s van voetgangers se stryd teen die wind is gewoonlik in November tiekie die bos. Vanjaar kan ek nog nie een onthou nie. Het al gewonder of die fotograaf (-we) met vakansie is
Nov 16, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Geen Sherlock Holmes of Bennie Griessel word geverg om uit die leidrade op die foto’s af te lei dat die Van Deventers van Melkbos op ‘n uitstappie buite hul gewone milieu was nie. Vir die kortste pad na die antwoord op die vraag “waar” kyk stip na Tokkie se stoel. Dis in die vorm van ‘n eier ja, maar nie sommer ‘n gewone eier nie. Dis klaarblyklik ‘n volstruiseier.
Natuurlik dus Oudtshoorn. Die stoel is in die deftige nuwe inkoopsentrum Klein Karoo Markt neffens die Volstruis-Emporium. Sy Checkers is die mooiste winkel waarin ek nog my voete gesit het. Eerlik.

Dan is daar die foto van die uwe in ‘n ongewoon landelike toneel: die nadere kennismaking met kleinseun Migael van Deventer se kuddetjie Landrani meatmasters op seun Johan en skoondogter Mariza se plek aan die Grobbelaarrivier met die ietwat ambisieuse naam van “Ons Plasie” . (Maar daar is darem ook ganse en hoenders, granaat- en olyfbome en hawerkampe wat groen begin uitslaan.) Die vreemde wese met sy grys kapsel en kierie het duidelik die mooi skapies se belangstelling geprikkel.
Die flenterband op die derde foto is nie regtig Oudtshoorn-verwant nie, buiten dat die volstruisdorp se Tyremart en GH Towing saam met Johan – en ook die AA – in meerdere en mindere mate geskitter het om die noodsituasie vinnig te beredder nadat ‘n agterband naby Caltzdorp gebars het. Genoemde band het heelwat vinniger gedisintegreer het as wat ‘n sogenaamde “Run flat” volgens die bemarkers behoort te doen.
Ons is terug op Melkbos met herinneringe aan onder meer heerlike gebraaide galjoen, meatmaster-tjops (darem nie een van Migael se skapies nie), ribbetjie en filet op die Van Deventers se idilliese stoep. In my gedagtes is egter ook steeds die beeld van die mank X1 verlate op die gruisstrook langs die R62 en omflank deur Karoobossies .

Niemand sal my na dese ootuig dat dit ‘n briljante ingewing was om motors sonder noodwiele te vervaardig nie.
Naskrif: Nog ‘n herinnering is die duurste stukkie hake wat ek nog in enige restaurant voorgesit is – en ongelukkig nie die grootste, geurigste of lekkerste nie. Ek verswyg maar genadiglik daardie restaurant se naam, maar Oudtshoorn-inwoners sal seker kan raai. Gelukkig was die
geselskap aan die tafel in die prima-klas. Studentemaat Pierre le Roux en Esther het van Mosselbaai oorgery.

MARIZA berig oor die kuier soos volg:
Oupa Hennie en Ouma Tokkie het die week vir Migael kom kuier. Wat ń fees! Hulle het van Migael se verjaardagkoek (plegtig gevries sedert 31 Augustus) saam met hom geniet, die nuwe Klein Karoo Markt besoek en ons Landrani Meatmaster skape ontmoet. Ma Tokkie het vir ons 6 gaanse verduidelik wie’s baas, en Tokkie (ons haan en Ma se naamgenoot) het sonder ophou gekraai

Tjoppie mis Ma Tokkie gladnie…sy het saans blatant op SY plek gesit


Nov 15, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Clarence en sy vrou
Die ouer garde sal Clarence Keyter onthou as die TV-man wat eenvoudig moes bly praat en praat terwyl die volk angstig op 11 Februarie 1990 op die vrylating van Nelson Mandela uit die tronk wag en Winnie Mandela om bisarrie redes verrigtinge vertraag. Het die man die middag bitter jammer gekry.
Ek onthou die wellewende omroeper – pas oorlede – ook as
’n verre gespreksgenoot – in ‘n onheuglike eie ervaring waarin die Mandelafaktor ook sentraal was. My herinnering is aan ’n TV-nuusprogram wat op Sondagaand 19 Augustus 1990 op SABC uitgesaai is. Mandela was in gesprek met drie joernaliste, Tertius Myburgh van die Sunday Times, Thami Mazwai van die Sowetan en Van Deventer van Die Volksblad.
’n Komplikasie vir laasgenoemde was dat die ander almal in ’n ateljee in Johannesburg was; hy op sy eentjie in die verre Bloemfontein. Hy moes die hele tyd stip in die oog van ’n kamera op ’n driepoot bly staar.
’n Verdere struikelblok was dat die aanbieder, die nimlike Clarence Keyter, en die welsprekende Myburgh daardie aand spraaksamer was as ooit. Mazwai kon nog hier en daar ’n woord inkry; Van Deventer in Bloemfontein is eenvoudig doodgepraat, wat nogal ongewoon is!
Selfs die Vrye Weekblad het Keyter onder skoot gekry oor die “uiters stief” behandeling wat my te beurt geval het. Charlotte Bauer het in haar TV-rubriek in die Weekend Mail geskryf my “bulk was beamed up from Bloemfontein and projected onto a large screen where it hovered, Oz-like, above chairman Keyter’s head.”
Gelukkig het ek die dag ná die embarraserende opname oorsee vertrek. Ek was verneder genoeg – wie sou nog ’n tweede marteling wou verduur om magteloos na daardie swygende “Oz-like” beeld te sit en kyk
Me. Bauer het darem ’n bietjie salf aan die wonde gesmeer: “The most important question of the night was asked by the television-image-within-an-image of Van Deventer.” Volgens haar “Mandela had given out all sorts of hopeful messages for the future, but Die Volksblad’s editor was not to be consoled: ‘Mr Mandela, does the ANC possess the communication channels and the discipline to get all these messages through to the people on the ground?’”
Sy skryf sy kan nie die antwoord onthou nie, omdat die vraag ’n rilling langs haar ruggraat afgestuur het.
Mandela het bra korte mette van die vragie gemaak, onthou ek wel: Voldoende kommunikasiekanale en dissipline, ag kom nou, mnr. Van Deventer!
Van die “Oz” op die jas: Ek skryf oor die vreemde onderhoud in Wag-‘n-.bietjie (Naledi, 2025). Die boek is wyd by boekhandels beskikbaar. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by https:
naledi.co.za/product/wag-n-bietjie of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.
Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is
Nov 11, 2025 | Boeke, Vars Blog
Die pasiënt lyk vaag bekend toe hulle hom, taamlik verwese en met ‘n stapel papiere vasgeklem in sy be-aarde hand, in ‘n rolstoel by die hospitaal se afdeling patologie instoot.
Ek knoop ‘n geselsie aan en hy bevestig my vermoede: Hy is “Die Afrikaner”.
Sy tong hang behoorlik uit, deel hy my mee. Elke spesialis van elke dissipline was die laaste ruk oor hom (soos ‘n vorige generasie mos gepraat het). Brein, hart, longe, niere, dikderm, spiermassa – niks ontsnap die intense aandag van die deskundiges nie
Hy was al in die teater vir ‘n reeks biopsies, by die X-strale, by elke denkbare skandeermasjien – selfs by die gastroloog en dieetkundige. Nou is hy met die spul papiere hierheen gestuur. Kyk, oral is net regmerkies. Daar is geen bloedafwyking aan die wetenskap bekend nie of hy moet daarvoor getoets word.
Dat iets met hom skort – dit het hy nou al uit vele monde met groot erns verneem. Maar wat presies? Elke dokter het sy of haar eie teorie en verkondig dit met breedsprakerige vertroue as die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie. Soveel ghoeroes, soveel diagnoses. Ai tog.
Op daardie oomblik verskyn ‘n suster met ‘n spuitnaald en wink dat hy nader gebring word met die oog op die verdere ontledings wat wag. Arme ou. Ek voel die deernis in my opwel toe hy kopskuddend agter die gordyn verdwyn.
Om darem dag vir dag so van kop tot tone onder die vergrootglas te kom, moet die liggaam en die gees uitermate vermoei. Om uit soveel oorde soveel oordele te moet verneem oor wat alles aan jou onwel is, moet elke sterfling diep beproef.
Raai, vir my lyk hy toe nie eens so verskriklik siek soos hulle maak nie. Duidelik ge-stres is hy oor al die “uitdagings” (moderne kodewoord vir hengse probleme) op sy pad), maar darem nie so vol bose kwale dat dit hom so ‘n uniek jammerlike wese maak, soos sommige verkondig nie.
Dis nou maar my beskeie straaltjie. Maar nou-ja, laat ek bieg dat ek geen ekspert van enige aard is nie, en dat die kort geselsie daar in die wagkamer boonop by my nogal ‘n affiniteit vir die ou bokker gekweek het. Ek is dus nie onbevooroordeeld nie.
Sterkte, mnr. Afrikaner, vir die spul bloedtoetse. Hoop hulle kry genoeg are om bloed uit te tap. Maar moet nou darem ook nie te veel “worry” oor die uitslae nie, wat.