KOLLEGE 110: SO WAS DIT IN MY TYD

Modderbad 1958. Ek is die ene met die snorretjie.

Toe ek in Januarie 1958 uit Potchefstroom by Kollegetehuis op die Tukkiekampus opdaag, het ‘n paar ontnugterings gewag.  Net ‘n paar: Die klapperhaarmatrassies was maar dun, aan warm water was ‘n gedurige tekort, die kos was middelmatig en die seniors was ongetwyfeld die kwaaiste op die kampus.

Ontgroening was nog springlewendig. Eerstejaars (ienks) is oral behoorlik gedril. Daar was modderbaddens, die pil (deurdrenk met bitter duiwelsdrek), nagligte (as jy waag om oor die tou te trap), gatpaarties, p-paarties en wat nog.

Ons spannetjie van 1958 moes tot vervelens voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Ja, ’n ienk kon maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir veeleisende seniors (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!), Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing.

Die ontheffing was in Oktober as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom. Die tyd het dan aangebreek vir die modderbad en die pil. Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K (vir Kollege) finaal gewaai – een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-aster-man-aster langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”

‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton.  Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

Daardie liefde vir ‘n plek van baksteen en beton is in 1960 met die Groot Trek van  die kampus af Proefplaas toe wonderbaarlik na die nuwe tehuis oorgedra, natuurlik danksy die saambring van Kollege-rituele, -tradisies en –gees wat in  die eerste amper vyf dekades deeglik ingewortel het.

Die jaarlikse ienksport was daardie jare ‘n vername okkasie. Sommer dadelik, in 1960 al, het die nuwe Kollege in sy groter formaat sy stem dik gemaak en loshande die beker gewen.  My val die eer te beurt om in die finale wedlooop van die dag, die HK-aflos,  die lint te breek. In 1961 word aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Ons verskyn op die baan in  enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is – en ons wen ver. Met ‘n wapperende bloemer breek ek weer die lint – die tweede jaar in ‘n ry.

Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. In huiswedstryde was ons haas onstuitbaar.

Kollege was van sy ontstaan op elke gebied ‘n sterk faktor. Die uitbreiding van getalle het ons egter die spierkrag gegee om van sport tot op sosiale gebied nog  sterker op die voorgrond te tree en ons te vestig as die gedugste manskoshuis aan elke front, buiten dalk die akademie. Goue jare het aangebreek.   Selfs ‘n borsbeeld van die eerste staatspresident, CR Swart, het ons weens ons politieke ywer verower.  Wonder wat daarvan geword het.

Vriendskappe wat in Kollege gesmee is, duur tot vandag. Kollegemanne van destyds doen moeite om by mekaar te kuier. ‘n Groepie van ses – later agt – het jare lank in die winter genoeglike klein reünies in die Krugerwildtuin gehou. Ons het Kollege se eeufees in die kampie Balule gevier. Die diere het in ontsag stil geword as ons die Kollegelied aanhef.

Ons eerste huisvoorsitter van die nuwe Kollege was Heystek van Rooyen van Roedtan.  Toe volg Vossie Grey Van Ermelo.  Albei is reeds oorlede.  In 1962 het die voorreg my, die oudste lewende bekleder van daardie pos,  te beurt geval. Op die huisvoorsitterskap, asook op Kollegetehuis self, is ek tot vandag innig trots.   Aan Kollege bly ek lojaal. Vir Kollege is ek steeds intens lief, al heet hy nou College House. .

Ek salueer Kollege / College op sy 110de verjaardag.

2000 DAE LANGS DIE SABIE

Sagte groen skitter in sonskyn.

Met die amper 90 van die wintervakansie van 2025 bygetel, is die dae wat ons in 27 jaar langs die Sabierivier deurgebring het, seker al gerieflik oor die 2 000, dubbel soveel as in die titel van my 2011-boek oor Sabiepark.

‘n Kuier daar bly ‘n vreugde, met elke dag se goue uur en elke aand se vuurtjie steeds hoogtepunte. Vanjaar is 100 sakke hout aangeskaf.  Ons het nie spaarsaam gewerk as ons ons vure pak nie. Ons het lekker gekuier, hetsy saam met familie, ander gaste of alleen.

Die manifieke metamorfose van die veld in die laaste week of wat was dalk die heel hoogste hoogtepunt. Amper oornag was ons in ‘n milde groen verswelg, veral aan die westekant.  Nog nooit het  die oorgang van seisoene intenser en meer dramaties beleef nie.

Temperature is in die drie maande ervaar wat wissel van amper 0 in Julie tot 40 grade in September. Nogal ‘n kontras.  Die bloedmaan en maansverduistering was baie spesiaal en die eerste storm van die somer nogal erg.  Die swembadseil was in ‘n ommesientjie onder ‘n dik laag hael begrawe. Later het “ons suster” ‘n welkome besoek gebring – ‘n sagte, deurdringende 20 mm.

As ek die vakansie moet naam gee, sal dit egter die kameelperdvakansie wees. Sowat van kameelperdbesoeke het ons nog nooit beleef nie. Die eerste groen blare het die langnekke bly lok – tot sewe  op ‘n slag, teenaan die lapa.

“Ons suster” besoek Sabiepark .

Die naguiltjies het ook, soos nooit tevore nie. die nagte omgesing.  Nagapies het baie plesier verskaf – tot op ‘n dag.  Voëls was soms baie aktief. Veral die gekroonde neushorings. Olifante het, soos altyd, by die piekniekplek geskitter.

Ergernisse was daar ook, soos ‘n yslike gesukkel om opgradering van die sonkragstelsel en totale herbedrading van die huis te voltooi.  Die hele September is omtrent deur die sloerende werk ingesluk.  Ek glo darem dat die eindresultaat – soos die nuwe bobbejaanwering by deure en vensters  – aansienlike waarde sal toevoeg. Ironies genoeg was die bobbejane veel minder van ‘n ergernis as in die verlede moet kry.  Die swembad lyk weer nuut en spiekeries danksy ‘n nuwe laag verf. Dit spog met ‘n nuwe bruin seil

‘n Diere-ergernis was ‘n likkewaan in en op die dak wat hom nie laat vang nie.  Ek ys as hy soos sy voorouer toegang tot die huis moet kry.

Sabiepark betree al hoe meer die tegnologiese era, met onder meer gesigsherkenning by die hek en die piekniekplek.  Goed en wel, maar ek mis die outydse warmte en hartlikheid van persoonlike kommunikasie.

Waar persoonlike kontak voortgaan, is die hoflikheid, hulpvaardigheid en toewyding van Sabiepark se mense werklik iets om oor huis toe te skryf.  Die merkwaardige herrysenis van die deurgeroeste Manie-braaier is een voorbeeld.

Die Skukuzakonneksie het ongelukkig verder verflou.  Die vriende daar word vinnig minder. Daarmee verdwyn geleenthede soos pieknieks en kerkbyeenkomste op die Granokoppie.  Ons mis werklik die ou band met die Skukuzakerk. Ons mis ook Sabieparkvriende wat weens die dood of ander faktore net skielik weggeraak het, en die tempo versnel.

‘n Kwelling bly hoeveel minder wild ons sien as in die begindae.  ‘n Mens besef die huise word meer en groter en die weiding word minder, maar die ou balans wat nagestreef is tussen wildbestuur en eienaars se verwagtinge word myns insiens te kwaai versteur.

Tokkie se gereelde oggend-staptogte – op met Apiesdoring, dan in Maroela verby die kantoor en huiswaarts met Wildevy – het vele dae absoluut niks opgelewer nie, buiten die boskasies wat haar so irriteer.

Ons twee stem saam:  radikale ontbossing is ‘n beter formule as radikale uitdunning van wild – iets waaraan die hiënas natuurlik fluks meedoen sonder dit hul status van spesiale inwoners van Sabiepark nadelig raak.

HIER IS MY HART VANDAG

Vra iemand my waar my hart vandag is, is die antwoord nie Twickenham in Londen nie. Ja, daar ook, maar eintlik in Pretoria waar my koshuis in my Tukkiedae, Kollege / College, sy 110de bestaansjaar feestelik vier.
In daardie plek het ek vyf van die gelukkigste jare van my lewe deurgebring en vir hom is ek na meer as ses dekades steeds brandend lief.
Ek was in 1958 eerstejaar in die ou Kollege (toe nog met ‘n K) skuins oorkant die Ou Letteregebou op die kampus en was een van die pioniers wat in 1960 die Groot Trek na die Proefplaas meegemaak het.
In 1962 was ek huisvoorsitter – so plus-minus die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd. Ek is nou die oudste lewende lid van daardie spesie.
Oumanne van opeenvolgende generasies vier hul band van broederskap vandag met ‘n la-a-a-ang dinee wat vroegmiddag al afskop. Ek is die eer aangedoen om ‘n stemboodskap by te dra. Daarin roep ek die Kollegemanne so op: Wees trots op julle plek. Julle het rede. Bly lojaal aan hom, hy verdien dit. Bly lief vir hom. Dit bied ‘n lewenslange vreugde.
Op een foto is ‘n skyfie wat vir die okkasie voorberei is met enkele foto’s uit my studentedae en ‘n foto by my 80ste verjaardag, vier jaar gelede. Die ander foto is van die HK van 1962.
Op die HK-foto, ongelukkig van onbevredigende gehalte omdat dit agter glas is, is is nou net ‘n skamele drie van die agt oor: die uwe (sittende in die middel), Pierre le Roux (regs van my) en Piet Theron (agter my en Pierre). Die oorledenes is van links Arend de Waal, Oom Chris de Wet (huisvader), Naas du Toit, Hennie Smit en Jan-Jacob de Jager (heel regs).