Sep 8, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die man wat in die 60’s by my respek gekweek het – eintlik by my ingedril het! – vir korrekte koerant-Afrikaans was die eerste taalredakteur van die destydse Naspers (nou Media24), dr. Ludwig Wybren (Louis) Hiemstra – vantevore ‘n assistent-redakteur van Die Volksblad.
Hiemstra, na buite miskien die beste bekend as woordeboekman, was een van die bekendste Afrikaanse taalkundiges. Van hom word gesê dat “Vra vir Hiemstra” in sy tyd so alledaags was soos “Google dit” vandag.
Sy gemerkte koerante het dikwels, as die taalversorging nie op peil was nie, soos ‘n bloedbad gelyk as dit ons bereik. Ons subredakteurs was daarvoor op ons hoede. Vir sy rooi pen was daar allemintige ontsag.
Hiemstra was nie ‘n man wat aan sy eie insigte getwyfel het nie. As jong joernalissie het hy dit glo selfs gewaag om korreksies in ‘n hoofartikel van die eerste redakteur van Die Burger, dr. D.F. Malan, aan te bring. Die volgende oggend was hy op die rooi tapyt. Sy verduideliking was skynbaar voldoende, want geen haan het daarna gekraai nie.
Oor hom en ander taalredakteurs skryf ek ‘n hoofstuk in Wag-‘n-bietjie, my boek wat pas deur Naledi gepubliseer is. Ek vra dat hulle in hierdie feesjaar van Afrikaans ook as taalhelde geëer word.
Die naam Hiemstra duik ook in ‘n ander verband in my boek op. Publikasie van Wag-‘n-bietjie is naamlik deur ‘n ruim subsidie uit die LW Hiemstratrust ondersteun. So word voorin aangekondig.
Na dié trust word in boekkringe grappenderwys as die weduwee se kruik verwys. Dt is naamlik aan sy weduwee, Rikie, te danke dat honderde boeke in Afrikaans oor die afgelope meer as drie dekades kon verskyn wat andersins dalk nooit die lig sou gesien het nie.
Rikie het met die idee gekom dat die diep spore wat haar man as taalpionier getrap het gehuldig word met ’n trust wat sy lewenstaak sou voortsit. In 1984 het sy ’n ruim bedrag uit sy boedel vir so ’n trust bewillig. Dit moes gebruik word om die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en uitgewers in staat stel om boeke wat aan dié kriterium voldoen, te publiseer.
’n Uitgebreide verskeidenheid titels het sedertdien met so ‘n subsidie verskyn, waaronder woordeboeke en biografieë, boeke oor die taalkunde, godsdiens, kuns, musiek, geskiedenis, die geneeskunde, ekonomie, volkskuns, natuurwetenskap, genealogie en sakebestuur, ook talle nuwe romans, digbundels, dramatekste en heruitgawes van klassieke reekse. Tot en met 31 Desember 2023 is ’n totaal van R39.3 miljoen aan subsidies uitbetaal.
Ansoeke word deur die uitgewer geïnisieer. Wat geverg word, is ’n motiveringsbrief deur die aansoeker en aanbevelings deur minstens twee deskundige beoordelaars.
Ek ag myself as bevoorreg dat vyf boeke uit my pen geag is om voldoende aan daardie kriteria te voldoen om vir ‘n sluk uit daardie kruik te kwalifiseer: Byl in my bos (Griffel), Laatoes (Naledi), Koerantkamerade (Naledi), Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (Naledi) en nou Wag-‘n-bietjie.
Dankie daarvoor, Hiemstrastrust, dankie, elke trustee, dankie aan elkeen wat ‘n aanbeveling bygedra het. (Die huidige trustees is Helgaard Raubenheimer (voorsitter), afgetrede hoof uitvoerende beampte van Nasboek en ’n oud-uitgewer; Ton Vosloo, oud-koerantjoernalis en -redakteur en afgetrede voorsitter van Nasionale Pers; Elmari Rautenbach, joernalis en hoof van die US Toyota Woordfees se Skrywersfees; en Beverley Jackson, trustbestuurder by Absa Trust.)
* Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.
Naskrif: Dink ‘n mens aan gedugte stelle broers, kom die Breytenbachs dadelik by jou op: Breyten, Jan en Cloete. Moenie die Hiemstras onderskat nie: Louis, genl. Rudolph Hiemstra en regter Victor Hiemstra.
Sep 4, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In sy insiggewende voorwoord tot Wag-‘n-bietjie verskaf prof. Johannes Froneman ‘n waardevolle bestekopname van boeke oor koerante en koerantmense in Afrikaans. Ek plaas dit graag hier:
Toe Hennie van Deventer in 1998 uittree as hoof van Naspers se koerante, was die rak met lekkerleesboeke oor die Afrikaanse joernalistiek nog maar yl. Dit het Hennie dramaties help verander. Die storie, waartoe hy so ’n wesenlike bydrae sou lewer, loop min of meer so:
Reeds in 1946 het die pionierjoernalis Johannes Steinmeyer met sy Spykers met koppe (Nasionale Pers) en J.M.H. (Marcus) Viljoen in 1953 met ’n Joernalis vertel (Nasionale Boekhandel) iets oor die vroeë joernalistiek vertel. Later sou Dirk Richard met sy Moedswillig die uwe meer oor pers-persoonlikhede van die noorde vertel (Perskor, 1985).
Enkele institusionele geskiedenisse het deur die jare verskyn. LJ Erasmus se ’n Volk staan op uit sy as: Verhaal van Die Afrikaanse Pers (1962) Beperk (circa 1970), C.F.J. Muller se monumentale Sonop in die Suide (Nasionale Boekhandel, 1990), Oor grense heen – Op pad na ’n nasionale pers 1948-1990, onder redaksie van WD Beukes (Nasionale Boekhandel, 1990), André Olivier se oorsig oor Die Kerkbode se eerste 150 jaar, Bode op spoor van die Woord (Lux Verbi, 1998) en Max du Preez se effe baldadige Oranje Blanje Blues – ’n Nostalgiese trip oor Vrye Weekblad (Zebra Press, 2005) sou volg.
Ook Lizette Rabe se ongepubliseerde boek oor Naspers se honderd jaar verdien hier vermelding – juis omdat die maatskappy se voorsitter klaarblyklik te skaam was om die maatskappy se Afrikanernasionalistiese wortels aan die wêreld te erken (hoewel dit kwalik ’n geheim was). Wel het ’n Konstante Revolusie – Naspers, Media24 en Oorgange as troosprys (maar nie sonder meriete nie) onder Rabe se redakteurskap verskyn (Tafelberg, 2015).
In dieselfde asem kan die vroeëre Keeromstraat 30 genoem word (Nasionale Boekhandel, 1965). Van die stukke in hierdie bundel vertellings het weer neerslag gevind in 1915-2015 Die Burger – Sy mense en hul stories (Jonathan Ball, 2015). Die Burger se susterkoerant, Volksblad, het ook sy eeufees in 2004 met ’n gedenkboek gevier: ’n Lewe van sy eie (met Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet as skrywers en uitgegee deur Tafelberg).
Boeke oor die politieke loopbane van enkele figure gee flitse oor hul redakteurskappe: dr. HF Verwoerd van Die Transvaler, soos weergegee deur GD Scholtz in sy tweedelige Dr. Hendrik Frensch Verwoerd 1901-1966 (in 1974 uitgegee deur Perskor) en dr. DF Malan van Die Burger in Lindie Koorts se DF Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme (Tafelberg, 2014).
Maar die meer persoonlike vertellings het min gebly. Wel het Piet Meiring se baie leesbare boek oor voorbladstories Vyftig jaar op die voorblad, (Perskor, 1979), verskyn en so ook sy Die Transvaler 50 jaar (Voortrekkerpers, 1987) en sy outo-biografiese Dis my storie dié (PMP Uitgewers, s.a.) asook Inside information (Howard Timmins, 1973). Meiring was die één skrywer wat voor Hennie van Deventer die joernalistiek en sy mense regtig laat lewe het.
Meiring het ook ’n boekie oor sy pa, ’n eertydse Kerkbode-redakteur, die lig laat sien (Ds. PGJ Meiring – Die lig op sy pad, PMP Uitgewers, s.a.). Dit is gevolg deur JC Steyn se Penvegter – Piet Cillié van Die Burger (Tafelberg, 2002), FA (Alex) Mouton se boek Voorloper – Die lewe van Schalk Pienaar (Tafelberg, 2002) en sy werk oor FS Malan, destydse redakteur van Ons Land, Prophet without honour, (Protea, 2011).
Outobiografiese boeke is deur enkele koerantmense geskryf. Daaronder tel Schalk Pienaar se Getuie van groot tye (Tafelberg, 1979), Dirk Richard se Tussen bid en droom (Constantia, 1986), Max du Preez se Dwars (Zebra Press, 2009), Chris Louw se Boetman – en die swanesang van die verligtes (Human & Rousseau, 2009), Lizette Rabe se Rykie – ’n Lewe van woorde (Tafelberg, 2011), Harald Pakendorf se Stroomop – Herinneringe van ’n koerantman in die apartheidsera (Penguin, 2018) en Ton Vosloo se Oor grense – ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering (Jonathan Ball, 2018). Hennie van Deventer se In Kamera (Protea, 2003) moet ook by hierdie groep gevoeg word. Almal bevat belangrike feite, perspektiewe en anekdotes.
So ook Beeld 50, onder redaksie van Erika de Beer (Jonathan Ball, 2024). Dit bevat talle lieflike stories oor Beeld-joernaliste se soeke na groot stories – en hoe om dit hard te slaan.
In 2023 het my Ter wille van oorlewing, ideologie en geld by Akademia verskyn en bied perspektiewe op aspekte van die Afrikaanse joernalistiek.
Naas bogenoemde moet die artikels genoem word wat in akademiese tydskrifte verskyn het. Op enkele webblaaie verskyn ook navorsing en eerstepersoonvertellings wat aspekte van die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek belig.
In geheel dus nie te versmaai nie.
Met die boek wat u nou in die hand hou – Hennie van Deventer se tiende wat grootliks oor die koerantwêreld gaan – lyk die rak al heelwat voller as ’n paar dekades gelede. Daartoe het Hennie ’n onmisbare, kenmerkende bydrae gelewer. Sy lys van mediaboeke lyk soos volg:
Scoops en skandes (Tafelberg, 1993)
Flaters en kraters (Tafelberg, 1996)
Kroniek van ’n koerantman (Tarlehoet, 1998)
In kamera (Protea Boekhuis, 2003)
Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017)
Koerant (De Novo, 2021)
Koerantkamerade (Naledi, 2021)
Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord (Naledi, 2023)
Water wat verby is (De Novo, 2024)
Hennie se boeke-bydrae het met twee versamelings (meestal) humoristiese anekdotes begin: Scoops en skandes en Flaters en kraters. Eersgenoemde het nogal ’n paar stories met buite-landse herkoms bevat, maar sy koerantstories het later ’n eksklusief plaaslike inslag gekry. HvD, ofte wel “die uwe”, was “teenwoordig” by omtrent elke gebeurtenis van belang oor ’n tydperk van dertig jaar — al was dit net omdat hy op daardie presiese dag in die hoofsub se stoel gesit het (dr. HF Verwoerd se dood), ’n terloopse foto geneem het van ’n gesin wat later brutaal uitgewis is, of bloot daar was waar geskiedenis gemaak is. Daarvan sou hy vertel.
Maar eers het die alte ernstige, polemiese Kroniek van ’n koerantman gevolg waarin hy vertel hoe hy as redakteur van Die Volksblad ’n stryd teen regses in sy verspreidingsgebied gevoer het. Soos sy kollega Alf Ries in ’n voorwoord herinner: Die boek is gegrond op Hennie van Deventer se persoonlike voorlegging voor die Waarheid-en-versoeningskommissie, wat vriendelike én onvriendelike kommentaar ontlok het. Hennie het nie op die draad gesit nie.
Daarna het In Kamera gevolg, ’n volwaardige outobiografie wat mooi deur Protea uitgegee is. Die tafel was nou gedek vir meer as media-boeke. Tog het in Byl in my bos (Griffel Media, 2009) en Lewensgroot en groter (Tarlehoet, 2012) ook kort stukkies bevat oor koerantmense soos Willem Wepener, Freek Swart, Jack Viviers, Ronnie King, Johan van Wyk en Ben van Rensburg. In sommige gevalle is dit omtrent al wat oor die betrokke koerantmanne in druk verskyn het. Dan is daar ook nog hier en daar anekdotes uit die koerantwêreld. Dus ook boeke wat ’n bydrae lewer tot ons mediageskiedenis en wat nie by die tiental getel is nie.
Van 2017 het egter ’n handvol boeke verskyn waarin Hennie die sluise oopmaak. Die titels vertel hul eie storie – dié van ’n outeur wat niks onopgeteken wil laat wat iets vertel uit die era van koerante nie: Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman, Koerant, Koerantkamerade, Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord en Water wat verby is. Die Corona-pandemie het die einde van koerante verhaas; vir Hennie van Deventer was dit ’n onverdunde tragedie. Daar moes vir oulaas vertel word. Hennie het natuurlik ook sy oog op sy eie ouderdommeter gehad.
Hennie het sy aftreejare dus nie net gebruik om saam met sy vrou, Tokkie, die oseane te bevaar of by die Wildtuin die natuur te geniet nie. (Daaroor het hy as kompulsiewe joernalis ook geskryf.) Meer as 20 boeke het al uit sy rekenaar gevloei. En dan praat ons nie eens van die talle koerantbriewe en ander geskrifte op allerlei platforms nie. Gelukkig het van daardie joernalistieke uitsette in van sy boeke – ook dié een – ’n papiertuiste gekry.
In hierdie boek, Wag-’n-bietjie, speel die koerant (nogmaals) ’n vername rol. Dit is dalk Hennie se laaste bydrae tot die geskiedenis van Afrikaanse koerante en die joernaliste wat op allerlei wyses bygedra het tot die soeke na ’n sinvolle saambestaan. Maar met Hennie weet ’n mens nooit!
Vir die oomblik is dit wel gepas om te sê: Dankie, Hennie. Welgedaan!
Johannes Froneman
Julie 2025
Mediahistorikus
Emeritus professor in die joernalistiek
Kurator van Mediamense.com
Sep 2, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

En nou, dames en here, glo dit of nie: kameelperde wat kan lees.
Pas het ek gister my Lentedagstukkie, Hol-a-drio-a, op Nagkantoor geplaas of twee langnekke daag op vir ‘n inspeksie in loco.

Wat hulle waarneem, verheug die hart en laat die mond water.
‘n Opgeskote rooiboswilg se vars lentekleed skitter in die Laeveld-son. ‘n Rosyntjiebos wat altyd eerste geel blommetjies stoot weens sy strategiese ligging vis-à-vis die swembad, het juis net gisteroggend presies dit begin doen. ‘n Gewone pendoring of twee begin herleef na die winter. Selfs die knoppiesdoring – ‘n groot langnek-lekkerny – het al kos.
Die twee sak toe met mening. Weldra lyk die arme rosyntjiebos soos ‘n hoenderhaan met geplukte stertvere. Die rooiboswilg staan kaalgevreet.
Verlede jaar was ‘n njala-ooitjie en ‘n sebra van die eerstes by die rosyntjiebosdis. Vanjaar is hulle te laat.
Slierte van takkies hang by die eters se monde uit; die lippe bly werskaf. Een ou draai sy nek met akrobatiese vernuf heen en weer om dan links, dan regs die vars blare te stroop.
Maklik ‘n uur of twee het die fees geduur. Vanoggend is Tarlehoet se werf heelwat minder groen. Maar vir daardie uur of twee die Gewer lof. Die Van Deventers se kameelperd-plesier was lank, lekker en meesleurend.
Verskoon tog maar die klomp foto’s; kon moeilik kies.

Sep 2, 2025 | Boeke, Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Speurder Sannie van Rensburg pak gereeld die skurke in sy boeke. Die slegte ouens is dikwels renosterstropers, ivoorjagters en avonturiers. Hul teenstanders is geharde veldwagters wat met “Toyotabakkies” ry. ʼn Kelnerin word gegroet: “Tatenda, sisi”. ʼn Mislike vent word pront … wel … ’n “poepôl” genoem.
Klink of dit ʼn Botha of ʼn Van der Merwe kan wees wat hier die pen hanteer. ʼn Laevelder. Ten minste dan ʼn Suid-Afrikaner. Maar dit is nie. Dit is ʼn Park uit Sydney – Tony Park, die skrywer van 23 aksiebelaaide spanningsverhale met ʼn Suider-Afrikaanse adres. Almal blitsverkopers. Nommer 23, Die by the Sword, het pas op die mark gekom. ʼn Vorige een, Ghosts of the Past, het ʼn sterk aanbeveling op die omslag deur niemand minder nie as Deon Meyer.
Tony het in 2012 ʼn Sabieparker geword. Om die beurt woon hy in Sydney en in die Laeveld. ‘n Keer het hy Sabieparkers verstom deur uit Sydney vir die kantoor te laat weet: daar is vreemdelinge op sy stoep. Die wonders van die nuwe tegnologie darem!
Sabiepark is ʼn plek waarop hy versot is. Ná ʼn eerste besoek waarvoor hy maar traag was, het hy in 1995 verlief geraak op Suid-Afrika. Hy is veral lief vir sy hoekie in Sabiepark se piekniekplek van waar hy met ‘n fris kamera op ‘n driepoot wonderlike natuurfoto’s neem. Op die foto is ek en hy in die nimlike pieknieplek.
Oor Tony skryf ek ‘n hoofstuk in Wag-‘n-bietjie wat pas by Naledi verskyn het (ook my nommer 20 en iets). Soos ek hom ken, sal hy dit sommer laat vertaal om te kyk wat ek oor hom geskinder het. Maar verrassing, verrassing: ek skinder nie. Hou te veel van “Hippo Rock se bos-Aussie”, soos ek hom in my boek noem.
Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by
naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.