STRYD VAN DIE LANGNEKKE

In die middel van Sabiepark se “hoofstraat”, Maroelalaan, takel twee kameelperdbulle vanoggend mekaar. Hulle begin mekaar so liggies stamp-stamp. Daarna stoot hulle mekaar met die boude.
Die lang bene trap-trap asof hulle ingewikkelde danspassies uitvoer. Die volgende oomblik klap die nekke.
Of dit dalk net ‘n speelgeveg was — “necking” noem die Engelse dit ewe pikant — of ‘n lang, stadige baklei-wals weens ‘n liefdesdriehoek, weet ek nie. Dat speelgevegte algemeen onder jong bulle voorkom, is egter ‘n feit. Volbloed-gevegte, daarenteen, is heelwat skaarser. Die hiërargie is gewoonlik reeds in “vriendelike gevegte” uitgesorteer voordat ‘n jong bul ‘n ernstige uitdager van die gesagsorde kan word.
Werklike konflik kom wel van tyd tot tyd voor. ‘n Geveg verloop plus-minus so: Eers gee die een sy teenstander ‘n harde veeg. ‘n Sekonde lank gebeur niks. Dan kry nommer twee ‘n beurt om te reageer. Ewe ridderlik. Asof hulle afgespreek het om so een-vir-jou, een-vir-my te baklei. Van enige defensiewe aksie word geen teken gesien nie. Alles gebeur in spookagtige stilte.
Vir my het dit nie gelyk of daardie twee bulle, in geykte rugbyterme, mekaar vanoggend net “groet” nie. Die stryd was te lank en te intens. Te geweldige houe is met die koppe en nekke gewissel. Al om die beurt is gestamp en gestoot totdat ek later moeg geword het van kyk. Maar hul stamina is bewonderenswaardig. Die bakleiers hou eenvoudig net aan en aan.
‘n Ernstige geveg kan groot skade veroorsaak. Daardie dun nekkies het geweldige krag. Kameelperde slaan mekaar soms bewusteloos. Of dood. ‘n Noodlottige geveg is wel seldsaam, maar dit kan gebeur dat ‘n nekwerwel versplinter met onvermydelike gevolge. Gelukkig is darem nie een terwyl ek in die Honda sit en kyk vir die volle telling planke toe gestuur nie.

SAREL VENTER: LESERSINDRUK

Titel: Wag-’n-bietjie
Skrywer: Hennie van Deventer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234737

Hennie van Deventer het al ’n welbekende naam onder lesers van Afrikaanse koerante, tydskrifte en boeke geword. In die joernalistiek (as redakteur van Volksblad en as koeranthoof by Naspers) het hy diep spore getrap.

As afgetredene het hy verskeie boeke oor die koerantwese geskryf. Uit sy aantekeninge en verstommende geheue het ’n wesenlike, kenmerkende en onmisbare bydrae gevloei oor die politieke toneel en stryd in Suid-Afrika in soms veelbewoë en onstuimige oorgangstye.

Sy seereise na verskeie verre hawens prikkel liefhebbers van reisverhale en as natuurliefhebber is van sy bosboeke oor en uit Sabiepark, neffens die Krugerwildtuin, suiwer prosa.

In Wag-’n-bietjie, stories wat gryp deel hy van sy herinneringe in dit wat hy sy “laaste-laaste” boek noem. Die naam van die boek ontleen hy aan die bosveldboom, wag-’n-bietjie.

Op sy eie “herinnering se wei” stap hy op ’n nostalgiese reis van agt skofte of episodes of bakens:

  • ’n Bietjie koerant: oor van die groot nuusstories in sy loopbaan by Volksblad en Beeld, en veral die scoops. Maar ook oor die einde van tradisionele koerant scoops wat saam met koerante verdwyn het. “Een van die swaar verliese wat papierverknogte Afrikaanse koerantlesers wurgend moes sluk,” skryf hy.
  • ’n Bietjie doodslag: oor onder meer die TV-reeks, Niggies, “te veel moord en doodslag” en ander moordstories wat in sy tyd die voorblaaie gehaal het.
  • ’n Bietjie persgalery: oor groot hoogtepunte in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis wat hy uit die persgalery van die Parlement aanskou het, of as hoofsubredakteur en nuusredakteur daaraan deel gehad het. Ook oor talle politici wat sy pad gekruis het.
  • ’n Bietjie mense: oor “foei” vir sekere “goeters”, oor bekendes soos Gé Korsten, Boet Troskie en Vladimir Tretchikoff, oor ’n 81-jarige oupa wat in die see watertrap en “die siel van die mier is nou hier”.
  • ’n Bietjie eie huis: oor padkos-plesier, ’n pratende olifant, onthoubare valle en minder onthoubaar – op die TV saam met Nelson Mandela.
  • ’n Bietjie Melkbos: oor hul verblyf van baie jare en salige en heuglike ure met verruklike uitsigte op Tafelberg en Robbeneiland en skilderkwas-sonsondergange.
  • ’n Bietjie bos: oor onder meer die vraag of prinses Diana en JK Rowling van Harry Potter-faam ook as gaste in Sabiepark was, waar Van Deventer se boshuis is.
  • ’n Bietjie kerk: oor hoe hy eredienste van dekades gelede onthou, oor die waardige koster wat voor die kansel gly en val en Tant Hester wat “Satan!” gil.

Elke episode bevat dus ’n keur uit stories en anekdotes wat oor baie jare sy herinneringe vasgegryp het soos ’n wag-’n-bietjie-boom se dorings wat haak en steek. Baie van die vertellings is outobiografies en gekleur met baie humor en selfspot.

Van die inhoud is voorheen gepubliseer in koerante, tydskrifte en webblaaie en vir hierdie boek herwin of verwerk.

Die meeste van hierdie memoires of herinneringe is aan my bekend, maar die herlees daarvan, of die herontmoeting, is ’n heerlike verfrissing van my eie bejaarde en verslete geheue.

Wag-’n-bietjie is uitgegee deur Naledi en is in boekwinkels beskikbaar.

DIE DROLPEER EN DIE WAG-’n-BIETJIE

Toe pa en ma begin aanstap in jare besluit die kinders ‘n spesiale koeltetjie moet geskep word vir die assies eendag. Hulle plant ‘n drolpeer – tog so feestelik getooi in die lente.
Drolpeer vrek. Hulle vervang dit met ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie. Dié gedy.
Sweerlik pa se dinge, praat hulle onder mekaar.Dis hy wat die boom tot sy dood toe verwens het omdat hy nie onder ‘n drolpeer wou rus nie. Vir ‘n wag-‘n-bietjie – daarvoor het hy kans gesien.
Die storie van die drolpeer en die wag-‘n-bietjie is een uit ‘n ryke oes. Almal het my bereik nadat Wag-’n-bietjie (Naledi, 2025) klaar op die rak was. Gaan mos maar so. As dit te laat is, hoor jy die mooiste stories.
Verskeie wag-‘n-bietjiestorie wat nou by my uitkom, het ‘n konneksie met die weer. Hy’s immuun teen weerlig, lui een. Staan onder hom en jy is veilig. Moenie hom in die somer afkap nie, glo ander – dan lok jy sweerlik droogte, weerlig of hael.
Ook ‘n stukkie filosofie verneem ek: die boom verteenwoordig die lewe soos ons hom ken. Die sigsag-patroon van die jong takkies wys die lewe is nie altyd ‘n reguit pad nie. Die plasing van die dorings is ook betekenisvol. Een kyk agtertoe, na die verlede. Die ander kyk vorentoe – na waarheen ons op pad is.
In meer as een kultuur het die wag-’n-bietjie ’n spesiale status. So glo die Zoeloes ’n takkie van die boom op die sitplek langs jou is noodsaaklik om ’n afgestorwene se gees te gaan haal. Die nimlike tak word saam begrawe om die dooie te beskerm. Op die grafte van “hoofmanne” word jong bome geplant.
Sy medisinale gebruike is legio: hy’s die ware jakob vir alle maagmoleste, borsaandoenings, wonde en swere, meen diegene wat weet.
Kerkman Nico Smith het glo ‘n interessante proefneming gedoen. Hy twee wag-‘n bietjies in sy tuin in Mamelodi by Pretoria geplant. Met die een was hy in gedurige gesprek en het hy geprys omdat hy so mooi groei. Die ander een het hy veronagsaam. Raai watter een het uitgestyg.
In my boek verduidelik ek hoekom my boek sy naam by die boom gaan gaps het. Dis stories oor die kleinkinders se kennismaking met sy geniepsige dorings. Ook oor Tokkie se ervaring; ek sien nou nog hoe die bloed loop.
Dis mos ‘n storieboom sonder weerga.
* Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

BOS VAN STORMS

Met leedwese moes ek gisteraand aankondig dat my flukse vuurtjie nie die storm oorleef het wat net na 18:00 deur Sabiepark geswiep het nie. Dit was agterna gesien ‘n ietwat ligsinnige opmerking. Soos dit in ‘n tipiese Laeveldse donderstorm in ‘n uur van wanorde gedonder, geblits, gehael en gestortreen het, sien ‘n mens selde. Ja, daardie wit kleed op die swembadseil is hael. Het gelyk of emmers vol sneeu daarop uitgewerp is. Geen strukturele skade is aangerig nie, maar ons werf is vanoggend getuie van die natuurkragte wat hier losgelaat is. Die grond is bedek met ‘n tapyt van groen blaartjies en die bome wat al dapper begin lenteklede stoot het, staan weer kaal gestroop. In die reenmeter is genadiglik 25 mm. Vir ‘n eerste lentereen eenvoudig wonderlik. Die groen blare gaan vinnig terugkeer. Die veld gaan blom.

OU SABIEPARK

Hier’s ons weer, hier’s ons weer, met ons blaar-lus voor jul deur …

Noem Tarlehoet nou die Sabiepark Spur of iets dergeliks, maar gister ag is die sewe kameelperde toe jou werklik die soveelste keer terug vir ‘n langdurige kuier. Vyfde of sesde keer in vier dae.

Dit volg op ‘n uur uur van betowering die vorige dag teenaan Tarlehoet se voorstoep – sewe kameelperde teenaan die lapa se hortjies en ‘n tienstuks sebras langs die swembadjie en by die watergat.

Die kameelperde kom nou die afgelope vier of vyf dae gereeld. Die eerste groen blaartjies van die gewone pendorings, rooiboswilge, rosyntjiebosse en andere trek hulle soos magnete telkens terug. Daardie keer was egter die eerste keer dat sewe op ‘n slag opdaag vir ‘n laat ontbyt soos min. Veral die Bosveld-katjiepiering was ‘n trekpleister.

Hoeveel foto’s het ek geneem voordat die battery die gees gaf? Maklik 50. Tokkie was self bedrywig met haar iPhone. My stukkie spyt is dat ek nie ‘n foto het van al sewe die kameelperde of die kameelperde en sebras saam nie. Tokkie het egter ‘n video van laasgenoemde.

So begeesterd was ons oor die kameelperde dat die sebras hard moes proes om ons aandag te trek. Toe ons opkyk, gewaar ons oor die swembad se rand die gestreepte lywe by die drinkgat.

Ook hulle vertoef rustig en verlustig hulle aan die voortou van die wintergras se lentekleed. Vir ‘n uur beleef ons toe die “ou Sabiepark” toe die mense en huise nog minder was (die huise ook aansienlik kleiner) en die wild meer.

Gister was die kameelperde hier vir middagete.  Selle bome kry die grootste aftrek: die Bosveldse katjiepiering, die gewone pendoring en die rooiboswilg . Hierdie keer ook ‘n kierieklapper en – kan dit wees – ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie met sy krom haak-en-steek-dorings wat jou soos ‘n buffel kan gaffel?

Jy hoor hoe daardie enorme lippe met behae die blare stroop, jy sien hoe die takke in slierte uit die gulsige monde hang. Die langnekke loop van boom tot boom: die donker patriarg voor in die tou en die jongetjie half versigtig ‘n entjie weg. Hulle maak kaal waar hulle kom.

Jy voel bevoorreg oor sulke intensiewe kameelperd-aandag, maar te veel van ‘n goeie ding raak mos later ‘n kwade ding. Gaan hier blare oorbly?

Weer eens was die sewe net nooit naby genoeg aan mekaar om hulle op een foto te kry nie. Maar ek het probeer hier van die stoep af – ook Tokkie (ja, dis sy daardie met haar iPhone.)

Die blommetjie is die katjiepiering s’n – “the one that got away”.

Naskrif: Vanoggend het die sebras weer kom water drink. Altyd ‘n mooi gesig as hulle so simmetries die koppe kaat sak.