DIE BOOM EN DIE BOEK


Wat ons gesien het, prakties gesproke, was minstens ‘n dosyn kameelperde waarvan vyf uiteindelik in die middel van die pad was. Ons het heelwat nekaktiwiteit oor en weer waargeneem. Binne bestek van ‘n paar minute het twee bestygings gevolg. By een was penetrasie onmiskenbaar. Jy sien dit op die foto.
Dan begin jy wonder: Hoekom dan so in ‘n groep? Gewoonlik is ‘n bul jaloers as sulke tyd aanbreek. Hy soek privaatheid en verjaag al die ander. Dit begin ook pla dat die natuurlike minnespel in die sessie ontbreek het. Geen sprake hier van ‘n belustigde bul wat wie weet hoe lank geduldig agter ‘n koei bly aanstap en telkens haar urine proe (regtig) om haar gereedheid te bepaal nie.

Vir oulaas saam. Ses Volksbladveterane – almal 80-plussers – saam op,Melkbos in November 2024. Van links is Willie Kuhn, Wilhelm Jordaan, die uwe, Johan van Wyk, Herman le Roux en Pierre van Manen.
By die dood van my geniale kollega Wilhelm Jordaan (82) Sondagoggend sou ek vir kom ‘n klinkende lofsang op elke moontlike forum wou aanhef.
My mond was egter gesnoer. Ek was op pad na die stoere Shingwedzi, een van die min kampe van die Krugerwildtuin waar wi-fi en internet nog nie opgedaag het nie. By Ontvangs is ‘n nota opgeplak waarin die “ongerief” betreur word.
Enkele dae voor Wilhelm se dood het ‘n soort eerbetoning aan hom darem uit my pen verskyn. Dit is in my allerlaaste boek, “Wag-‘n-bietjie” (uitgewer: Naledi): ‘n hoofstuk met die opskrif “ ʼn Fees – toe trane”.
Die fees waarna verwys word, was ‘n genoeglike ete met vele skaaplekkernye en die opgewekte geselskap van vriende die Saterdag voordat my kollega op 22 Junie deur ‘n beroerte neergevel is – die trane-deel van die opskrif.
Daardie “fees van die genooides” – so het hy dit genoem – was die onderwerp van sy heel laaste van 1 800 rubrieke in Beeld, Die Burger en Volksblad in ‘n ononderbroke loopbaan van amper 40 jaar. Dit het die Woensdag in Die Burger verskyn terwyl hy al in die waakeenheid was.
Trouens, pas nadat hy die Sondag sy laaste woorde van vervoering getik het, het Wilhelm stom by sy rekenaar omgekantel. Geen woord het in die volgende twee maande se lyding vir hom en sy geliefdes ooit weer oor sy lippe gekom nie.
In die hoofstuk oor Wilhelm vertel ek onder meer hoe gerus ek as sy nuusredakteur van Die Volksblad altyd smôrens gevoel het as ek die jong bobaas-verslaggewer by sy lessenaar sien sit. Die wêreld kon maar vergaan. Jorrie, soos ons hom destyds genoem het, sou dit kon behartig. Ook as skrywer van voorblad-stoepstories – ʼn berig onderaan die blad, gewoonlik met ʼn humoristiese inslag – was hy ʼn meester in sy eie klas.
My Volksblad-herinneringe van 50 jaar gelede sou Wilhelm weens die ernstige beroerte nooit self kon lees nie. Weens die inisiatief van ‘n gemeenskaplike vriend, Hennie de Klerk, ‘n musiek-kameraad, is dit egter wel op sy hospitaalbed vir hom voorgelees.
Hennie het uit die bloute die versoek gerig dat hy saam met boodskappe van vriende ook die nog ongepubliseerde hoofstuk vir Wilhelm mag voorlees. Hy het gehoop dat die opwek van ou herinneringe sy vriend se beskadigde brein sal stimuleer. Ek het natuurlik dadelik ingestem. Die blote gedagte was ‘n eer.
Later het Hennie laat weet dat Wilhelm met ‘n kopknip en wakker oë op boodskappe gereageer het. Oor my anekdotes het hy verskeie kere woorde probeer uiter. Dit was vir Hennie en die ander mense om die bed duidelik dat hy die gebeure onthou.
Hoeveel Wilhelm wel onthou het (en wat sy spitsvondige kommentaar sou wees!), sal ek nou nooit weet nie. Die gedagte dat hy tog daarvan kon kennis neem, roer my diep. Om hierdie spesiale ervaring hier met ander te kan deel, beskou ek as my vertraagde huldeblyk aan ‘n groot gees wat die aarde met ‘n fyn beskaafde grasie bewandel het.
“Wag-‘n-bietjie” sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.
Vir André Groenewald, oud-skoolhoof van Roodepoort, het ek goed leer ken weens sy rol ná die seedrama by Leentjiesklip, Wildernis, in September 2023.
Mev. Jo Hartman, ’n 93-jarige oud-onderwyseres van Bloemfontein, is daardie dag deur ‘n reuse-fratsgolf neergevel en tot in die middel van die pad gespoel. Op pad na die hospitaal het sy gesterf.
Hoe sy en sewe ander mense op vlug slaan voor die skielike bedreiging is te sien op ’n dramatiese foto deur ’n ooggetuie, Tanya Rossouw (52) van Wildernis, wat in haar Mahindrabakkie op die parkeerterrein met haar selfoon sit en foto’s neem het. Die bakkie was oomblikke later ook onder water.
Aanvanklik is net die een helfte van die foto op die webblad Nagkantoor gepubliseer, sonder die slagoffer. André was die eerste om die gedagte van die publikasie van die volledige foto as huldeblyk aan mev. Hartman en die ander te opper. Sy gevoelvolle kommentare, skakeling met Tanya en sleutelrol in die uiteindelike publikasie van die noodlotsfoto waarop die skraal mev. Hartman probeer wegskarrel, was gedenkwaardig.
Uit daardie kennismaking op Facebook het kuiers op Melkbos en in Sabiepark gespruit. André en Betje was op 24 Julie ons gaste by die piekniekplek. Ons het opgeruimd saamgekuier. Pas tuis na hul vakansie het hy geval en so seergekry dat hy in die waakeenheid beland het. Na 12 spanningsvolle dae is hy gister sag oorlede.
Die storie van die drama by Leentjiesklip en die spesiale vriend André se rol word vertel in my nuwe boek, Wag-‘n-bietjie, wat pas by Naledi verskyn het. Wat ‘n jammerte dat Andre nooit daardie boek in sy hande sal kan neem nie.

Foto 1 is op 24 Julie van my en Andre is by die piekniekplek geneem en foto 2 is die unieke foto van Tanya Rossouw – een wat sekerlik ‘n joernalistieke prys verdien het.

Blinkblaarboom, jou fraaie nooi, jou lentekleed in groen getooi …
In ‘n voorwoord verduidelik ek die rol van Tarlehoet se wag-‘n -bietjies in die keuse van die titel. Hier is nogal ‘n paar van die spoggerige bome met die geniepsige dorings. Dis van daardie dorings wat die subtitel kom: Stories wat gryp. Op die foto versier ‘n onlangse gas, Marlene Duvenage, die robuuste stam van ‘n wag-‘n-bietjie vlak teenaan die stoep.