DEUR ‘n KOLLEGA SE BRIL

ANDRE J BRINK skryf: HIER dan my derde aflewering oor redakteurs wat ’n groot rol in my lewe gespeel het. Ek het dié een taamlik versigtig geskryf, want dis oor iemand wat nog lewe en vir wie ek groot respek het. Ek hoop nie ek trap op enige tone nie!
Deur Andre J Brink 
AS EK aan Hennie van Deveter dink, is die eerste woord wat by my opkom formidabel. Want hy is eenvoudige die mees formidabele joernalis wat dit my voorreg was om in my eie loopbaan van meer as 40 jaar mee te doen gekry het.
Ek het die eerste keer met Hennie kennis gemaak toe ek in Desember 1967 as beurshouer by Die Volksblad in Bloemfontein vakansiewerk gedoen het. My interaksie was toe maar min, want Hennie was die hoofsubredakteur en ek het nie juis tyd aan jong leerlingverslaggewers afgestaan nie. My leermeester was ’n ander sub, genaamd Piet.
Ek het wel gou uitgevind dat ons iets in gemeen het – nes ek was hy ’n Tukkie. Soos ook die destydse subredakteur by wie ek daardie vakansie tuis gegaan en my leer skryf het, Piet Theron, en die sportredakteur Herman le Roux.
En ek het gou geleer dat Hennie ’n “haastige” mens is. Hy het nie geloop nie, maar was altyd op ’n drafstap. Hy was ook baie deeglik, kon slordige werk nie verdra nie, was baie geordend – sy lessenaar of die se laaie was nooit, ooit deurmekaar nie – en hy het baie getrou dagboek gehou van komende gebeure.
Soos toe hy op ’n dag in ’n oorsese berig gesien het Walpurgisnag (30 April) is die vorige nag in baie lande in Noord-Europa gevier. Dis die nag waarop mense vreugdevure (bonfires) aan die brand steek om die bose geeste en hekse weg te hou.Toe teken hy dit aan in sy dagboek en die volgende jaar het ons op 30 April ’n goeie berig oor Walpurgisnag gehad.
In die tyd wat hy nuusredakteur en Piet Theron hoofsub was, het ons verslaggewers baie dae gevrees die twee gaan mekaar te pletter hardloop. Want Piet was net so ’n haastige man. Dan storm hy in die gangetjie af na die nuusredakteur se kantoor en terselfdertyd kom Hennie op spoed subkantoor toe. Maar wonder bo wonder het daardie fisieke botsings nooit daar in die gangetjie buite die biblioteek plaasgevind nie.
In my hele loopbaan as joernalis het ek nooit iemand teengekom wat ’n koerant van voor tot agter – van die hoofberig op die voorblad tot die kleinste beriggie agter op die sportblad plus ook nog al die advertensies – so vinnig soos hy kon deurlees nie. En haas elke enkele fout dadelik kon raaksien en met sy pen – was dit rooi? – merk nie.
Nadat Hennie nuusredakteur van Die Volksblad geword het, het ek uit die aard van die saak meer met hom te doen gekry. Hy is in 1974 na Beeld as daardie koerant se eerste nuusredakteur en in 1980 is hy aangestel as redakteur van Die Volksblad.
Ek gaan nie sy hele loopbaan as joernalis hier herhaal nie. Vir diegene wat meer wil weet, kyk na die inskrywing onder sy naam op Wikipedia.
In die twaalf jaar tot 1992 wat hy redakteur was – die langste wat ek ooit as joernalis onder een redakteur gewerk het – het ek nou saam met hom gewerk, want ek was toe eers – van 1981 tot 1988 – onder meer Parlementêre verslaggewer en later Politieke Beriggewer. En van 1985 af hoofredaksielid.
Hy het ’n reputasie gehad dat hy ordentlik kwaad kon raak, maar in al daai jare het ek hom net twee keer gesien waar hy werklik woedend was. Die een was tydens ’n krieketwedstryd en die ander keer na ’n mislukte staatsgreep en vliegtuigkaping.
Kom ons begin by die krieket.
Daar vroeg in die jare tagtig, was was daar ’n beroemde/berugte krieketwedstryd op die Polisieveld in Parkweg, Bloemfontein, tussen ouer, meer senior redaksielede en jonger, meer junior redaksielede. Willie Kühn, latere redakteur van Beeld en Huisgenoot, het vir hulle die name uitgedink van “Has beens” en “Never Beens” .
En toe bring Rudie van Rensburg – nou een van Suid-Afrika se voorste misdaadskrywers – sy “neef” saam om die Never Been se kolfwerk te versterk. En hoe het hy nie!
Daai neef het behoorlik vuurgemaak onder die Has Beens se boulwerk. Daar het sesse op die sinkdak van die polisiekantoor gereën en Hennie en Herman le Roux se stadige draaballe is met minagting behandel.
Hennie, en Herman, se bloed het behoorlik gekook toe dit so halfpad deur die Never Been se kolfbeurt bekend word wie die “neef” nou eintlik is – niemand anders as Johan van Heerden, Vrystaatse snelbouler en kolwer (en deesdae hoof- uitvoerende beampte van die Vrystaatse Krieketunie). Vreemd genoeg het niemand hom aanvanklik onder sy kriekethoedjie herken nie.
Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Ook nie my aandeel daarin nie, want ek het ’n verspot maklike vangkans van Van Heerden se kolfwerk daar op die grens laat val. En in ’n stadium behoorlik my asem ingehou want toe jaag Hennie ’n bal wat lyk of dit binne in ’n groot plas modder gaan val. Ek het gedog: “O moer! As Hennie in die modder val, gaan die hel los wees!” Gelukkig kon hy betyds stop.
Ek dink ons Has Beens moet maar bly wees dat Van Heerden nie daardie dag geboul het nie, want met sy snelballe kon ’n paar van ons dalk in die hospitaal beland het!
Die mislukte staatsgreep het gevolg toe kol. “Mad” Mike Hoare en nog 43 huursoldate om 5.30nm op 25 November 1981 in ’n huurvlug op die Seychelles se internasionale lughawe geland het. Hulle wou die bewind van president France-Albert René omvergooi. Maar dinge het skeef geloop toe wapens in een van die huursoldate se bagasie ontdek is en ’n verwoede geveg van ses uur het gevolg.
Hoare en sy manne het uiteindelik gevlug toe hulle ’n Boeing 707 van Air India gekaap het en gedwing het om na Durban te vlieg waar hulle in hegtenis geneem is.
Soos te verwagte het die mislukte staatsgreep en gepaardgaande kaping ’n massa berigte gelewer. Die stuurman is behoorlik die volgende oggend toegegooi onder die berge kopie wat van Beeld af deurgestuur is plus natuurlik ook die berigte van Sapa, Reuters en Associated Press.
Dit het daardie oggend dol gegaan om alles betyds vir die eerste uitgawe in die koerant te kry. Ek weet want ek was die waarnemende hoofsub.
Nadat die koerant vir die eerste uitgawe gesak het, is daar soos gewoonlik ’n nuuskonferensie in die redakteur se kantoor gehou. Daar is die stories vir die laaste uitgawe, die volgende dag se spotprent en hoofartikels bespreek. Dit het gewoonlik so ’n halfuur of langer geduur.
Maar daardie dag het dit skaars 10 minute geduur. Die rolpres het naamlik ’n staande opdrag gehad dat die eerste koerant wat leesbaar was, onmiddellik vir die redakteur gebring moet word. En die nuuskonferensie het pas begin, toe is die koerant met die ink nog effens klam ingedra.
Hennie het dit dadelik gegryp en ek kon sien sy bloeddruk is aan die styg. Met sy pen het hy driftig ’n streep oor die voorblad getrek terwyl hy kliphard “kak!” sê. Ek kan nie onthou hoeveel sulke krete daar nog was nie, maar die laaste een was so driftig dat die pen uit Hennie se hand geglip en Herman moes koes om te keer dat dit hom tref.
Hennie se (billike) beswaar was dat die berigte nie sinvol gegroepeer was nie. Toe maak ons oor. Die redaksie het ’n ooreenkoms met die settery gehad dat ons net ’n sekere aantal bladsy vir die laat uitgawe oormaak. Ek dink dit was vyf. Maar daardie dag het ek en die subs bykans die hele koerant oorgedoen. In totaal meer as tien bladsye.
Maar die eindproduk was spoggerig en Hennie het daar onder in die settery van oor tot oor geglimlag. Ek het hom gevra om die settery te bedank vir hulle bereidwilligheid om so baie blaaie oor te maak terwyl hulle nie verplig was om dit te doen nie. En hy het vir Neels Verwey, settery-voorman, in my teenwoordigheid daarvoor bedank.
Dis een ding van Hennie, hy kon jou goed uittrap wanneer jy verbrou het, maar hy sou nooit skroom om jou te prys wanneer jy iets goed gedoen het nie. Daarvan kan ek ook persoonlik getuig.
In die tyd dat ek politieke beriggewer van Die Volksblad was, was ek vyf jaar lank verantwoordelik daarvoor dat die middagkoerante (Volksblad en Oosterlig) betyds hul kopie vir hul spesiale begrotinguitgawes gekry het.
Ek moes die berigte koördineer, uitdeel en dan deurstuur. Maar daar was baie streng spertye van die minister van finansies af. Breek jy daardie spertyd, kry jou koerant nooit weer die begroting te sien voor die minister sy rede begin lewer nie.
Dit het heelwat spanning in veral Bloemfontein veroorsaak, want dit was ’n groot werk om die vernaamste nuus uit die begroting vir die spesiale uitgawe saam te vat en gereed te kry. Hoe vroeër die koerant op straat was, hoe beter het hy natuurlik verkoop.
Self was ek natuurlik nie daar nie, maar wyle Naas du Preez, toe nuusredakteur van Die Volksblad, het my vertel dat die redakteur hom meer as een maal wanneer die kopie nie gou genoeg uit die Kaap uit deurkom nie, beveel het om “die bliksem te fire!” Dis nou ek.
Maar sodra daardie uitgawe op straat was, het daar soos klokslag ’n telegram – nie teleksboodskap nie – uit Bloemfontein van Hennie gekom waarin hy my en die hele span vir ons goeie en flinke werk bedank het.
Pretty Belinda. Wie onthou nog dié meisie? Een aand moes Hennie die meisie se stem demp. Julle ken mos die liedjie wat só geklink het: “She lived on a boathouse down by the river, Everyone called her Pretty Belinda.” En : “Her eyes were exciting her hair was golden, The lips were inviting, and my heart she’s stolen!”
Dit was Chris Andrews se groot treffer in 1969 en dit was ‘n opgewekte deuntjie waarop lekker gedans is. Hier iewers vroeg in die jare sewentig het Die Volksblad, soos die meeste werkgewers destyds, nog Kerspartytjies pleks van jaareindfunksies gehou. Een van daardie partytjies was op die skouterrein. Ek meen dit was in ‘n lokaal wat as ’n lapa bekend gestaan het.
Ek, toe ’n jong, voortvarende sportverslaggewer, het ’n Pioneer-hoëtroustel gehad wat uit net drie komponente bestaan het – die voorversterker, draaitafel en radio in die een komponent en die versterkers in die twee allemintige groot luidsprekers. Dit was redelik maklik om te vervoer en toe gevra is of iemand die musiek kan verskaf, het ek natuurlik aangebied.
Hoe later hoe plesieriger het dinge geraak en daar is tog te lekker gedans op my Bubblegum Music en natuurlik Pretty Belinda. Maar kort voor lank het Hennie, toe nuusredakteur, vir my kom vra om die klank sagter te stel want Tant Ans, die vrou van ons eerbiedwaardige redakteur Oom Bart Zaaiman, reken dis ’n bietjie te hard.
Nouja, toe draai ek die klank sagter. Maar ek het dit pas gedoen, toe kom Herman le Roux, destyds my baas as sportredakteur, en sê ek moet weer vir Pretty Belinda opsit en die klank harder stel. Hy en sy vrou, Rina, het al te lekker op die maat van daardie musiek gedans.
Toe voldoen ek aan Herman se versoek, maar weer kom Hennie en sê Tants Ans sê die musiek is te hard. Toe moes ek maar weer die klank afdraai.
Dit was nie die einde van die storie nie. Pretty Belinda het daardie aand nog ’n paar keer te luid oor die dansvloer weerklink en telkens was dit ek wat dit moes ontgeld. Ek dink die meisie het eers tot ruste – of is dit haar reg? – gekom nadat Oom Bart en Tant Ans gaan slaap het.
Vir die van julle wat die liedjie nie ken nie en vir julle ander klomp was soos ek nostalgies is, vra net op Youtube vir Pretty Belinda dan kan julle daarna luister.
Ten laaste moet ek dit van Hennie sê: Hy het ’n baie goeie sin vir humor en kan selfs vir homself ook lag. Daarby was hy altyd absoluut lojaal teenoor sy personeel. Ja, hy sou jou uittrap, maar dit was net omdat hy die beste vir sy koerant wou hê. Ek sal hom ewig dankbaar bly want dis hy wat gesorg het dat ek een van my groot ideale verwesenlik het – om drie jaar lank Londense verteenwoordiger van die destydse vier dagblaaie in Naspers se stal te wees.
Dit dan voorlopig my laaste aflewering in my reeksie oor redakteurs. Dalk skryf ek iewers vorentoe nog iets oor ander groot geeste wat my redakteur was. Maar dit sal eers moet wag.

NUWE LIG GEWERP OP GESINSGRUWEL

Uit twee oorde wat bande het met die Clack-gesinsmoord op 8 Januarie 1966 in Johannebsurg het ek in die laaste ruk gehoor: van ‘n nasaat van die moordenares, die ma, Freda Clack (42), en ‘n nasaat van die buurvrou en vertroueling wat by was toe die vyf lyke van die jong kinders ontdek het. By albei spook die rillerverhaal van hierdie moode -een van die grusaamste gesinsmoorde wat nog in die land gepleeg is – lewenslank. Veral die nasaat van die moordernares gaan uit haar pad om brokkies te versamel om haar eie legkaart daaroor te bou,

Drie van die kinders is destyds met ‘n mes in die hart gesteek terwyl die twee ander vermoedelik gesterf het na inspuitings. Die moeder, ‘n verpleegster, is daarna met ‘n taxi vort. Polisiemotors oral aan die Rand het na haar gesoek totdat haar lyk in Hillbrow gekry uis. Sy het van ‘n gebou gespring. Die hele land was diep geskok, veral namate haar man, Jimmy, se durende ontrou aan die lig gekom het.

In my nuwe boek, Wag-‘n- bietjie – stories wat gryp wat binnekort ny Naledi verskyn, is ‘n hoofstuk, Gesinsgruwel, wat lig werp soos daar waarskynlik nog in geen ander boek gewerp is nie oor wat alles tot Freda Clack se wanhoop byegedra het en tot haar donker daad gelei het.

Natuurlik is ek ietwat gefrustreerd dat hierdie bronne na vore gekom het nadat die boek ter perse is. Te laat dus om iets van hul betrokkenheid en belangstelling in te werk. Dit kon die storie nog beter gemaak het.

Wag-’n-bietjie, ʼn boek met ‘n groot verskeidenheid stories uit my loopbaan, sal teen Augustus/September in boekwinkels beskikbaar wees of kan bestel word by Naledi se uiters doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierkoste om dit by jou voordeur te laat aflewer!