NUNC (NOU) en TUNC (TOE)

Met die verkiesing van kleinseun Thomas Claassens tot primarius van die Matiekoshuis Eendrag gisteraand word my gedagtes ver-ver teruggevoer tot ‘n aand in 1961 toe ‘n eenderse eer sy oupa Hennie te beurt geval het. Ek het daardie aand primarius (huisvoorsitter) van Tukkies se Kollegtehuis vir 1962 geword.
Ek kan sien hoe straal Thomas van die trots. Oupa se hermpsknope kon ook daardie aand spat. ‘n Groepie vriende is dadelik met my Peugeot 203 (1953-model) padkafee toe om sy verkiesing met ‘n melkskommel te vier. Sal liewer nie vra hoe so iets nou, ses dekades later, gevier word nie. Wat ek wel weet, is hoe ek dit vanaand in Sabiepark gaan vier,
Op die foto links is Thomas en vise-primarius Taro Samuelson. Regs is Kollege se HK van 1962. Agter staan Arend de Waal, Naas du Toit, Piet Theron en Johan de Jager (Jan-Jakob). Sittende is Oom Chris de Wet (huisvader), Hennie Smit, ekke en Pierre le Roux, my adjunk.
Net ek, Pierre en Piet leef nog. Die foto is dowwerig. Rede: dis agter glas. Hang in my studeerkamer op Melkbos.

‘n KUIER-VAKANSIE

Die by the sword – so heet Sabiepark se Boere-Aussie, Tony Park, se nuwe boek – iets soos sy 23ste. Dit moet oor die ANC handel, het André Groenewald terstond besluit toe ons die vermaarde skrywer in die piekniekplek raakloop en die twee ‘n geselsie aanknoop. Tony kon maar net met ‘n lakonieke laggie reageer.

Die geleentheid was ‘n kuier van André en sy vrou, Betje (Elizabeth). van Roodepoort, saam met die egpaar Ferreira van Bonnievale, Gerhard en Freda, wat ons jare gelede  deur Kapous en Leonora Mouton leer ken het.  Die vier het van die Kruger Park Lodge oorgekom.

Die vriendskap met die Groenewald kom via die webblad Nagkantoor. Gerhard kan op sy beurt stringe gemeenskaplike vriende opnoem, ook mense van die ou Nasionale Pers wat hy in Fairland, Johannesburg, leer ken het: Salie de Swardt, Eric Wiese en andere.

Die foto hierby is geneem deur Kyla van Queensland, ‘n kuiergas van Tony. Ek hoop dit lyk so netjies en professioneel soos die welgevallige fotograaf! Op die foto is Tony, Tokkie, Gerhard, die uwe, André , Betje en Freda.  Die ses njala-ooitjies wat lank om ons rondgedrentel het, is nie op die foto nie. Ook nie die apies wat Tokkie soveel grys hare besorg het nie.

Verskeie ander hoogs gewaardeerde besoeke is tot dusver hierdie kuiervakansie ontvang:  Herman en Rina le Roux (plus Frans en Michelle Marais), Jaap, Marlene, Janie en Daniël Duvenage, Jaco, Lienkie, Bernard en SJ van Wyk en Ernst en Leonie Schmidt.  Jimmy en Lida Pressly is volgende.

Herman en Rina was al minstens 25 keer op Tarlehoet se stoep. Niemand anders is meer kere deur ons bospoorte nie.  Saam met al die eet- en drinkgoed wat hulle twee, Frans en Michelle saamgebring het, was die gewone sak vol plakboeke – een van my springlewendige 90-jarige kollega –  se vele passies.

Soos gebruik geword het, is van Herman en Tokkie ook weer ‘n spesiale pasaangeer-foto geneem. Hulle poseer so dat hul onderskeie pasaangeers ou bande kan hernu.

Die Duvenages was op hul plus-minus 15de jaarlikse besoek. Toe trek iemand die windlaaier vol oop juis die middag toe ons gaan hamburgers maak by die piekniekplek. Om ‘n tafeldoek oop te sprei, was ‘n onbegonne taak en glasies moes maar strategies vol gehou word om hulle gewig te gee. Maar ‘n vasbyt-braaier in die vorm van Chris Bekker van Heidelberg het sy kole mooi beskerm en gesorg vir frikkadelle van die hoogste orde. Toe waai die wind twee troppe olifante tegelyk uit die bos tevoorskyn vir ‘n diere-kabaret soos min. Gawe bonus. Chris kuier saam met sy vrou, Chistien, by Frances Hoexter.

Die Skukuza-konneksie bly maar vir ons Sabieparkers goud werd. Die hanetreetjie tussen die twee maak heerlike verrassingsbesoekies moontlik. ‘n Sondag het peetkind Jaco van Wyk, ‘n broerskind van Tokkie, en sy gesin gou uit Skukuza oorgekom vir ‘n dagsê en ‘n lafenis. Danksy die lang arm van Bernard – een van die tweeling-seuns – het ons twee selfie-soeweniers van die kuiertjie. Hierdie foto is langs die Sabie geneem. Jaco en Lientjie is die middeljariges, Hennie en Tokkie die oues van dae. Bernard (ligte kop) ern SJ (donkerkop met Cheetah-rugbytrui) is die opkomende geslag.

Ook aangename stoepgaste was boomkenner en voorste gemmerboer van Hazyview, Ernst Schmidt, sy vrou, Leonie, en hul seun, Willem. Hulle het werklikwaar hul terugkeer huis toe met n dag uitgestel om te kom kuier. Eric is die skrywer van die formidabele bomebundel Wat elke bome-mens moet weet.

Ons was op ons beurt gaste by Frances Hoexter en die Shahias, Mrad en Inge.

Nou kyk, as jy dink dinge soos styl, grasie en finesse kry jy  nie in die bos nie, ken jy nie vir Frances nie. Onder flikkerende kerslig kon ses gaste aan haar tafel aansit vir die keurigste aandete waarvan jy kan droom.  Vooraf by die kampvuur het tarentale en sebras in die lig van 18 lanterns (as ek reg getel het) ‘n betowerende bos-kabaret kom aanbied. Atmosvuur – ‘n ware definisie was daardie ervaring van die kreatiewe Jan Braai-woord. Op die foto – ‘n knap selfie deur Chris Bekker (regs) – is van links Christien Bekker, Tokkie, ek (nogal in die gedugte oud-gasheer, wyle Gustav, se erestoel), Frances, Benita Hancke en Faan Hancke. ‘n Sterk Vrystaatse konneksie het ons almal saamgesnoer onder ‘n vlag van die ou Vrystaatse republiek. As iemand wonder: ja, dis regte kerse in daardie kandelaar. En dit was nie die enigste nie. Genoeglike aand.

By Mrad en Inge en hul gas,  Pinkie Badenhorst, het ons aan die heerlikste varkpens (pork belly) weggelê. Natuurlik moes ek weer luister na uitvoerige mededelings oor Mrad en Tokkie se vorige lewe op Bultfontein: hoe hulle dit uitgekap het as dubbelspel-spanmaats in die eerste tennisspan en hoe hy altyd in vervoering geluister het as sy klavier oefen.  Mrad meen sy kon ‘n konsertpanis word. Mrad se oordeel moenie lig geskat word nie.

TWEE KOERANTEBOEKE BY NALEDI

Dit is nie ‘n kleed wat ek afgooi nie … dit is lewende vlees wat ek van my afskeur. Dit was die onvergeetlike woorde van Schalk Pienaar waarmee hy sy ontnugtering, pyn, verslaenheid en wrewel verwoord het met die “samesmyting”(ook sy woord) van die Sondagkoerant Die Beeld en Dagbreek in 1970.
Barnard Beukman, laaste redakteur van die dagblad Beeld, sal seker van soortgelyke emosies kan getuig oor die “wegraping”(Lizette Rabe se woord) van sy koerant in sy 50ste jubileumjaar weens bestuursinsigte waaroor ek my nie nou weer wil uitlaat nie om my bloeddruk onder beheer te hou.
Presies hoe hy gevoel het, sal ons kan lees in sy boek “Die (vreemde) einde van ‘n koerant” wat eersdaags by Naledi verskyn. Ek brand om die boek te lees om die storie agter die storie van hierdie onheuglike geskiedenis eerstehands te verneem.
Ook uit hierdie koerantman se pen verskyn eersdaags by Naledi ‘n nuwe boek. Die titel is “Wag-‘n-bietjie”. Grepe uit my koeranteloopbaan – van politiek tot moorde – word daarin vertel, ook stories oor mense, die bos, Melkbos en die kerk.
Natuurlik skryf ek ook oor die verdwyning van Beeld. As eerste nuusredakteur het ek reeds in April 1974 my Beeldmantel omgehang. Ek is dus loshande die oudste lewende redaksielid van daardie geliefde koerant. Die ou veteraan rou intens.
Twee oud-koerantmanne uit die Nasionale Pers-stal publiseer binne ‘n maand boeke by die onafhanklike Naledi. Ek kan dink dat sommige mense dit nogal interessant sal vind.
Ek wonder of Barnard dit nog sal onthou dat hy in 1999 vir Rapport ‘n resensie geskryf het oor my destydse boek “Kroniek van ‘n koerantman” – die storie van my redakteursera by Die Volksblad in die onstuimige 80’s. Sy bevinding was dat ek nie doekies omdraai nie. Ek glo ‘n mens sal dieselfde van sy boek kan sê.
NASKRIF: Albei die boeke sal teen Augustus/September in boekwinkels beskikbaar wees of kan bestel word by Naledi se uiters doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616).

 

OOR NEKTAR VIR ‘n AAP, ‘n VUL-STASIE, ENS.

‘n Bosnagaap wat kom nektar soek in ‘n aalwyn se blom. Dit het ek nog nooit tevore gesien nie en min ander mense het seker, raai ek.  Ongelukkig is my foto nie waffers nie.

Natuurlik voel ek soos ‘n aap dat ek nie ‘n beter foto geneem kon kry nie. Dalk eenvoudig net te onverwags gewees om hom uit die maroela te sien opduik en grasieus teen die jakkalsebessie se stam te sien afgly om by die aalwyn se blomme te kom . Hy begin toe vir dood te suig – sy nagereg van nektar na sy gewone dieet van boomgom, akkedissies, insekte en eiertjies, meen Tokkie. Die soettand!

‘n Ander toneeltjie wat ek nie voorheen gesien het nie, is deur Adèl Sieberhagen vasgelê, reg voor ons huis lyk dit:  twee kameelperdkalwers  van verskillende ouderdomme wat van weerskante aan en mamma drink. Sou dit twee sibbe van verskillende ouderdomme wees of verleen die moeder gasvryheid aan ‘n vreemdeling? Dit was Adèl se vraag op die Sabieparkblad.  Die antwoord ken ek nie.

Lyk vir my soos ‘n vul-stasie.  Iemand anders het gereken dis dalk ‘n padkafee.

’n Luiperdma en haar welpie is ook voor Tarlehoet opgemerk, aldus Ernst Bezuidenhout, parkhoof (ook trotse nuwe pa van dogter Luminer wat in die dae vir hom en Chenel gebore is).  Geen foto van die luiperds nie.

Koedoes het ons deur die jare groot plesier verskaf. ‘n Troppie van tot 10 het keer op keer kom water drink of net oor die werf geslenter, die groot bul altyd heel agter. ‘n Keer of wat het ons koedoes betrap wat die voels se pitjies uit die houer kom gaps met ‘n lang tong. By die pieknieplek het ons hulle dopgehou as hulle heen en weer oor die heining spring. Toe, ‘n jaar of drie gelede, vat hulle onverklaarbaar die pad. Een Sabieparkse dieresensus na die ander wys: koedoes – 0. Gister wanneer gewaar ons ‘n jong koei by die watergat; ongelukkig te laat vir ‘n foto. Tokkie gaan stap en sien koedoemis in Wildevylaan. Sou koedoes dalk weer hier nesgeskop het? En hoeveel?

Hier en by die piekniekplek verskaf die rustige njala-ooitjies (en ook bosbokkies)  aangename oomblikke. Hoop maar eersgenoemde vat nie ook pad nie.  Olifante kom steeds gereeld. ‘n Moedswillige jong bul het die paaltjieheining by die westelike uitkykplek platgeloop.  Apies raak al hoe stouter en lastiger.  Hulle gryp kos sommer van die tafel af.

Pas op, hier kom ‘n Tshokwane-situasie, waarsku Tokkie nadat sy gister twee broodrolletjies aan ‘n opportunistiese grypdief moes prysgee.

‘n Sabiepark-ervaring wat ek nie graag weer wil beleef nie, is ‘n poging om twee hiënas met strikke om die nek te lok en te verdoof met die oog op ‘n operasie. Urelank, tot ná middernag,  is vangste gesimuleer.  Oor en oor moes ons op die stoep sit en luister nie na strelende naggeluide nie, maar na die noodkrete op band van ‘n bok wat gevang is.  Toe lewer die hele tedoe niks op nie.  Twee hiënas is verdoof, maar nie die regte slagoffers nie!

(Elke vakansie het mos maar sy tema.  Hierdie ene is tot dusver die Vakansie van Groot Kuiers.  Daaroor skryf ek ‘n aparte volgende stuk.)

WELKOM, WELKOM, NOOI DIE IMPALALELIES

O, om weer in Sabiepark te wees na ‘n jaar se afwesigheid,  elke aand vuurtjie te maak, van die stoep die visarend klokhelder van die rivier se kant te hoor roep en nektar-ekspedisies van ‘n verskeidenheid  gevleueldes by die aalwyne (nog redelik in die blom) op die kamera te probeer vasvang.

Alles is so heerlik bekend en tegelyk nuut: die sebras wat in die watergat kom drink; die nagapies se woerts-wartse elke aand in die verweerde ou pendoring (nog meer verweer as tevore); die vorstelike bloukuifloeries in manjifieke vlug heen en weer tussen die knoppiesdorings, maroelas en die watergat; die sestal njala-ooitjies wat lank rustig om die huis wei; die skugter bosbokkies; die kleinste klein duikertjie.

Vanjaar is hier weer vlakvarke in die park, sommer ‘n stewige span.  Dadelik is hulle van die gereeldste besoekers.  Welkom, julle. Op die pad piekniekplek toe versper kameelperde onversteurbaar die pad in Wildevylaan.  By die piekniekplek mis ons ‘n luiperd twee keer net-net.  Organ wys en beduie.  Vergeefs. Wat is nuut?

Twee hiënas loop rond met strikke om die nek en kla oorverdowend.  ‘n Nagtelike ekspedisie word onderneem om hulle te probeer vang en verdoof met die oog op bevryding.   Om hulle te lok, word ‘n vangs gesimuleer. Die sterwenskrete van ‘n bok oorheers die naggeluide ure aaneen. Dis minder aangenaam.

By die huis, ons Tarlehoet, blom die impalalelies by die voordeur soos nog nooit.  Al is hulle jonk en kleinerig en beskeie teenoor Ou Menere elders, verbly hulle die Van Deventer-hart. Hulle en die aalwyne vorm ons eie “welkom-matjie” by die voordeur.  Kom nader, kom nader, is hul boodskap vir besoekers (selfs ook ‘n windskewe een wat half weggegooi is).

In die kantoor is die vriendelike en behulpsame  Lounette   op haar pos.  ‘n Braaier-teenspoed word vinnig deur Jandré, haar man,  en sy span uitgesorteer.  Maar dit is ‘n storie –‘n mooie – vir later. Hou maar die spasie geduldig dop.

Patson, Lucy en die manne by die hek, Abby, Thopela en Tyler lyk bly om ons oues te sien.  Ook Alfred, Sipho en die vlytige George van Mkuhlu. ‘n man met ‘n plan vir alles. Die gevoel van bly weersiens is wederkerig.

Heerlik was dit om ‘n paar dae met die span Claassens te kuier –  selfs deur die volledige span op die lughawetjie by Skukuza ingewag te word.  Daarna was dit dadelik restaurant toe, want  Marisa het verjaar.  Saans het die vure hoog gebrand.

Aangenaam soos altyd was dit om saam met die borrelende Frances Hoexter ‘n laatmiddag-wyntjie onder ‘n worsboom by die piekniekplek te geniet, ook seer aangenaam om in Jakkalsbessie 132 by ‘n gourmet-ete aan te sit; galante gashere : Mrad (hoogleraar in ekonomie) en Inge Shahia.  Tokkie en Mrad was in 1962 dubbelspel-tennismaats op skool op Bultfontein.

Wie loop ek by die kiosk raak?  Prof. Ronald Dulek van  diep-diep in Amerika wat jare gelede hier huis gekoop het sonder om ooit voorheen ‘n voet hier te sit.  Sy spitsvondige boek oor sy bos –ontdekking (Sitting with elephants) is ‘n gunsteling op my Tarlehoetrak. ‘n Nuwe is op pad, verklap hy – en ek gaan een present kry.  Nie vergeet nie, Robert.

Ek groet vir Claude Martin, Christopher se groot pêl, toe hy 10 jaar gelede as vyfjarige buksie ‘n alleenvakansie saam met oupa en ouma hier kom deurbring het.  Nou toring hy bo ons almal uit en ry vreesloos bergfiets.  Tyd vlieg.

Ek sien ook vir Jannie Mouton en gesels nostalgies oor toeka se dae toe pa, wyle Kapous,  en ma, wyle Leonora, van ons grootste Sabieparkmaats was en ons met die blou Bosbus –kombi Sondae kerk toe is.  Goeie ou dae.

In die lapa is genoeg hout afgelewer.  Dit staan hoog opgestapel. Op 84 wil ek nie meer skrik as iemand nog ‘n hout of twee  op die vuur wil gooi nie.

Die gapende swembad – leeg en droog – laat blyk dat groot verfwerk op pad is.  ‘n Bosvakansie is nie net pret en speel nie.