MY SPAN LIVERPOOL!

Die stewige aanbod (ooraanbod?) van Engelse sokker op Supersport en e-nuus op Kyknet herinner my telkens aan my naaste belewenis van ’n FA Cup Final. Dit was in Mei 1974. Ek was nie die Saterdag by Wembley nie, wel in Londen in verband met die stigting van Beeld in September.
Die wedstryd is op 4 Mei uitgespook tussen Liverpool en Newcastle Unted voor ‘n skare van 100 000 singende, vlagswaaiende ondersteuners.
Die aksie het ek in my hotelkamer onder lekker warm komberse op BBC-TV gevolg, Dit was vrek koud. Die hotel se naam kan ek nie vergeet nie.
Dit is dieselfde as die groot moltreinstasie regoor die SA ambassade: die Hotel Charing Cross. Die hotel is/was as’t ware wydsbeen oor die stasie.
Die opbou ot die eindstryd het ek weldeeglik in lewende lywe beleef: die skares geesdrigtiges wat mekaar met vlaggies en ander kentekens op die moltreinstasies en pubs verdring, doodsing en koggel, ens.
Liverpool se maklike oorwinning van 3 – 0 het ek ook tot in die laatnag aan my eie bas gevoel. Jubelende Liverspool-geesdriftiges het op Trafalgar Square (vlakvoor my kamervenster van die Charing Cross ) toegesak.
Ondanks die koue is die spuitfonteine in ‘n swembad omgeskep waarin uitgelate rondgeduik en geplas is.
Vragte vars voorrade bier het periodiek opgedaag, Hoe meer bier, hoe meer vreugde … en hoe meer lawaai. Dat niemand verdrink het nie, is ‘n klein wonder.
‘n Paar dinge het ek daardie nag geleer: hoe allesoorheersend lief die Engelse vir hul sokker is, hoe uitermate lief hulle vir hul bier is en hoe uitbundig hulle kan jol as hulle ‘n FA Cup-oorwinning vier.
Van toe af is ek nogal ‘n Liverpoolman, al was ek nooit naby die plek nie. Dis boonop die komvandaan van die Beatles. En wat ”a hard day’s night” was dit nie daardie Saterdagnagnag 4 Mei 1974 nie.

DOT, ANTJIE EN DIE KOERANT

Antjie Krog se biografiese roman oor haar en haar kranige ma, Dot Serfontein, geniet wye aandag. Ek lees gretig die resensies, onderhoude en wat nog.
As koerantman het ek ’n kwelling. Hopelik is my indruk verkeerd en sal ek ekskuus moet vra, maar ek kom nie weg van die gevoel dat Die Volksblad se rol in Serfontein se skitterende loopbaan nie tot sy reg kom nie.
Serfontein was immers vroueredaktrise in die 50’s. Haar spore was nog vars toe ek einde 1958 die eerste keer vakansiewerk daar kom doen. Sy het in 1949 ingeval.
Interessant genoeg, het ook Krog self ‘n vlugtige Volksblad-verbintenis. Hier in die laat 60’s, vroeg 70’s was sy ‘n vakansiewerker. Ek was toe nuusredakteur. Hoe goed onthou ek nie die knap Kovsie nie; selfs die presiese lessenaar waar sy gesit het.
My betoog is dat Die Volksblad tog moet bygedra het om Serfontein se gespierde skryfstyl te slyp – dalk meer as ander publikasies wat wel genoem word.
Gronde vir my aanspraak oor ‘n Volksblad-bydrae gaan haal ek in kollega Herman le Roux se Litnet-lys van sowat 90 redaksielede wat tussen hulle meer as 1 000 boeke geskryf het. Van die vroegste was skrywer-reuse soos CM van den Heever (redaksielid in 1925) – en naas Serfontein – later ook Piet Meiring (nie-fiksie), Pieter W Grobbelaar (jeuglektuur) en Wille Martin, fiksie-skrywer soos min (met iets soos 220 boeke).
Later het gekom die digter Pirow Bekker, die taalghoeroe Jaap Steyn en Wilhelm Jordaan, vrugbare rubriekskrywer tot vandag.
Op die oomblik woeker Deon Meyer, wie se spanningsromans al in byna dertig tale vertaal is, Chris Karsten en Rudie van Rensburg. Hulle was saam in de redaksie in die 80’s – ook saam met Johan van Wyk van “Stop van Myne”. En natuurlik is daar die verbeeldingryke Jaco Jacobs, ‘n latere model, wat kinderboeke uitryg.
Verskeie van die skrywers is hoogs bekroond met van Afrikaanse se gesogste pryse. ‘n Trofeekas sou kreun. Natuurlike skryftalent is ongetwyfeld die basis, maar as ‘n koerant oor soveel jare konstant soveel skrywers kon oplewer – en hope goeies bly ongenoem – is iets klaarblyklik in daardie redaksies reg gedoen. So glo ek maar.

TOT SIENS, VRIEND KOOS

Koos is in die middel. Links is genl. Basie Smit. Regs is wyle Frits Smit. Die foto is geneem by n braaidag op Melkbos. Koos was ook ‘n groot teenwoordigheid by elke vuurtjie. Dit spreek eintlik vanself.

Een van die opgeruimdste mense wat ek in my lewe leer ken het, was wynboer Koos Myburgh (80) van die Agter-Paarl. Sy voorraad grappies was eenvoudig onuitputlik.

Die goeie ou vriend is vanmiddag rustig in sy huis in Tweede Laan, Melkbos, oorlede.
Koos het op Melkbos kom aftree. Hy het president geword van ons sosiale klub vir afgetredenes, Probus. ‘n Meer informele president -en gewilder president – het Probus dalk nooit gehad nie.
Koos het ons bekend gestel aan Perdeberg se wyne. Perdeberg se Smooh Dry Red het soort van ‘n huiswyn in ons gemeenskap geword. Moenie die Chenin Blanc versmaai nie.
In 2016 het ek 75 geword het, Tokkie 70 en ons huwelik 50. Ons het ‘n markiestent op ons grasperk opgeslaan vir ‘n fees. Die wyne was Perdeberg se staatmakers.
Ons het saam “geswem” by Lisa Serfonein. “Swem” beteken ‘n bietjie rondspring in die water. Van Koos is verwag om elke keer ‘n grappie te vertel. Hy het ons nooit teleurgestel nie.
Sy liefde vir boerdery was aansteeklik, soos sy liefde vir die lewe was. Ons sal Koos mis. Liefde vir Ralda en die kinders wat hom so gelukkig gemaak het in sy lewe, en ook in die laaste swaarkry-maande.

VAL-VAL OP DIE VOORBLAD

Moet dit nie invryf nie; ek weet ek is nou met die RSG-onderhoud met die gedugte Ilze Salzwedel oor die kop geslaan. Opmerkings van dese en gene het my egter laat wonder wat ek sou wou vertel as dinge so verloop het dat ons meer oor boeke en minder oor koerante praat. .
Om ‘n glimlag uit te lok, sou ek wou vertel van my twee boeke met ‘n val op die voorblad: Oos, Wes, Reismoles en Flaters en Kraters.
Op eersgenoemde voorblad is die vallende gedaante die uwe self toe hy op ‘n helikoptertog tussen New York en Newark verkeerdelik met vrou, kinders en bagasie by La Guardia afklim. Toe hy dit ontdek, omdraai en hôl vir die tuig met sy woerende skroef, tref hy knieghoogte ‘n ketting. Vir die gevolge kyk die foto. ‘n Mens sien daarop alles buiten die bloed.
Op die die voorblad van Flaters en kraters is die slagoffer Jean du Plessis, toe Burger-fotograaf. Ja, dis Nelson Mandela wat help red. Dis by Tuynhuys waar Du Plessis al so retirerend agteroor in die visdam beland het.
Ek sou kon vertel van my boekie (let wel “boekie”) Mayafudi. Die hoofkarakter is ‘n olifantbul Mayafudi. Hy beleef brande, vloede, droogtes, stropery en wat nog … en reageer in woede. Later vind hy sy verlore seun en vrede. My olifant dink en praat baie in my boek. Ook die ander olifante gesels lustig saam.
Die Volksblad gee Mayafudi toe vir Cecile Cilliers om te resenseer. Antropomorfisme, roep sy afkeurend uit. Antro…wat? Ek moet die woordeboek raadpleeg. Voorheen nie geweet dis ‘n aartssonde nie, maar toe weet ek.
Maar die foto’s is darem mooi, voeg sy by. ‘n Neersit soos min.
Toe “resenseer” ene Anton J. Jansen Mayafudi op Amazon die boek. Hy gee hom vier sterre en noem die lees ’n “fabelagtige ervaring”. Hy vertel: hy het vir sy volwasse studente in Taiwan soos hy lees die verhaal oorvertel, Hulle het aan sy lippe gehang. Hulle wou daagliks weet wat het hy nuut gelees oor Mayafudi se avonture.
‘n Mens mag mos darem spog ook,
Enkele “korreksies” sou ek wou aanbring: 1. My koerantverwante boeke tel nou al agt, nie ses nie; 2. Die Burger het nie meer eie verslaggewers nie, dis nou Netwerk24 se mense; 3. Ek sou aan jong lesers se smaak toegewings wou doen, maar nie t.o.v. swak taalgebruik nie.
Dan sou ek ‘n geheimpie wou verklap: dat wiele aan die rol is vir ‘n vir-oulaas-boek in hierdie jaar. Sela.
ENE ORE VOOR RADIO
Een van die aangename verrassings wat my tot dusver in 2025 te beurt geval het, is die uitnodiging van Ilse Salwedzel (oto) om op haar program Skrywers en Boeke te gesels. Ons gesprek word vanaand, Woensdagaand 7 Mei, uitgesaai. Die pogram begin om 20:00.
Vir Ilse en haar keurige program heers oral net respek. Onder haar bekronings tel ʼn ATKVeertjie, ʼn Pica en drie Caxton-toekennings. Sy is in 2009 deur die FAK vereer met die H.B. Thom-toekenning vir ʼn besondere bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek. My tydgenoot Johan van Wyk van Stop-van-Myne-faam het laasgenoemde in die 80’s verwerf. Dit is ‘n besonderse erkenning van ‘n besonderse bydrae.
Ilse skryf en vertaal ook boeke. Vier boeke en drie vertalings het al uit haar pen verskyn:
Oor vanaand se gesprek sê sy: “Eintlik was die plan om op sy boeke te fokus. Maar toe praat ons heerlik oor koerante en lees en skryf en alles wat die meeste lesers na aan die hart lê. Julle moet dit eenvoudig luister!”
Hard soos ek probeer, kan ek nie onthou wat ek alles kwytgeraak het nie. Van minstens een die-ene-ore-luisteraar kan sy vanaaand verseker wees.
Ilse se volledige woorde:
In vandeesweek se Skrywers En Boeke gesels ek met die legendariese koerantman Hennie Van Deventer. Hy het ook al meer as 20 boeke geskryf, en eintlik was die plan om op sy boeke te fokus. Maar toe praat ons heerlik oor koerante en lees en skryf en alles wat die meeste lesers na aan die hart lê. Julle moet dit eenvoudig luister! Dis ‘n heerlike, onderhoudende gesprek met iemand wat sy storie ken, en wat beslis diep spore getrap het in die Afrikaanse mediawêreld.
Hennie breek ook ‘n lansie vir die sg. “nuwe joernalistiek”, en sê ou skool (lees: papierkoerant) joernaliste gee dikwels nie genoeg erkenning aan hoe moeilik dit vir hedendaagse redaksies is nie.
Ek het groot waardering vir ‘n mens soos Hennie Van Deventer wat bereid is om te erken dat daar vandag baie uitdagings is vir die van ons wat steeds ons brood en botter in die media verdien.