Mar 12, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die nagemmer was dekades lank die konvensionele tegnologie vir daardie kleinste vertrekkie van ‘n huis, bekend as toilet, latrine, privaat, kleinhuisie en dies meer.
Dit was ook die heersende stelsel as die nood druk in my grootwordjare in die 40’s – buiten vir periodieke kennismakings met die nog onaangenamer puttoilet op besoeke aan diverse familie op plase en in die bos. Vir dié spesie had ek ‘n ewige aversie weens verskeie onplesierighede wat ‘n mens in jou broosheid om jou kon aantref: spinnekoppe, skerpioene, maaiers, knaagdiere, selfs slange.
Toe ek my verstand kry, in Kimberley, was die kleinhuisie onder die peperboom in die hoek van ons erf met die nederige skakelhuisie part en deel van ons bestaan. Die emmer is snags verwyder. Honde-pandemonium het die eksakte tyd aangekondig.
Vir nagtelike nood is die kamerpot aangewend. In een sitting het my eerste wisseltand glo in so ’n potjie beland. Arme tandemuis!
Rede vir die ongewone herinneringe is die herontdekking van ‘n sterstelsel vir toilette van ‘n berese Britse egpaar. Hulle klassifiseer die geriewe op hul pad volgens ’n sterstelsel (eintlik gebruik hulle toiletrolle pleks van sterre) wat nogal met SA standaarde ooreenstem.
Vyf rolle beteken ‘n voortreflike gerief stil, skoon, ruim, goed toegerus, bevorderlik vir meditasie.
Vier beteken jy hoef nie bekommerd te wees oor moontlike steurnis, siekte of ongerief nie.
By drie is al ‘n klein insinking in kwaliteit. Papier is soms afwesig, die deurslot werk nie altyd nie, die waterwerke is wisselvallig.
Twee rolle deug in ‘n noodgeval. Water spoel dikwels nie en altyd met ‘n vreesaanjaende gerammel in die pype. Lastige insekte kom voor en nare graffiti ontsier die afgeleefde mure
Eenrol-toilette is bedoel net vir ernstige noodgevalle as geen ander alternatief hom voordoen nie. Die plekke is vervalle, die nare aroma is permanent. en elke besoek is ’n uitdaging vir jou wilskrag.
In my 84 jaar en twee maande tot op datum het ek bepaald met al vyf soorte kennis gemaak. Die detail hou ek liewer vir myself.
Met die leeftyd se ervaring kom egter die hoogste waardering vir die soort gerief waarmee n mens deesdae in jou eie huis en by ordentlike openbare aandoenplekke bederf geraak het.
Nie almal van ons het 16 badkames soos Harry en Meghan op hul eksklusiewe landgoed doer naby Hollywood aan die Amerikaanse weskus nie, maar twee is amper vir ons generasie die mees basiese norm.
Dit bring mee die gerusstelling van relatiewe privaatheid, die voordeel van gelyktydige gebruik en die gemoedsrus wat ‘n bekende omgewing waarin jy volkome tuis en onbedreig voel, jou besorg.
As jy jou buite jou eie domein bevind en noodwendig op ander se gasvryheid (as dit die regte woord is) moet staatmaak, kan jy jou maatstawwe aansienlik hoër stel as eers.
Ek tel my onder diegene vir wie ‘n gedeelde badkamer/toilet buite die klein gesinskring iets is wat tot elke prys vermy moet word. Dit is helaas nie altyd moontlik nie. Dan moet jy vat wat jy kry met allerlei verleenthede en ‘n verlies aan waardigheid nie uitgesluit nie.
Soos op ‘n vliegtuig. Op ‘n Boeing of ‘n Airbus is daardie areas waar jy die rye piepklein holtetjies ingeryg sit, vir my atyd beklemmend.
‘n Mens voel mos of alle oë jou volg en alle ore gespits is vir aksie daarbinne. Die onvermydelikheid om op ‘n lang vlug ‘n paar besoeke daar af te lê – en die noodverklappende toustanery wat dit soms meebring – het dalk in my onderberwuste ‘n rol gespeel is waarom pas van ‘n reis weggestap is waarvoor ek aanvanklik nogal aansienlike gretigheid opgebou het.
Hoe ouer ‘n mens word, hoe minder het jy egter krag vir vermybare spanning. En – dit moet ek nou maar van die hart kry – vir my is daar hoegenaamd niks ontspannends nie om in ‘n klein metaalhokkie kilometers bo seespieël teen 700 km/h voort te snel , welwetende dat ‘n dosyn ongeduldige ander pasassiers wens jy wil klaarkry.
Die blote gedagte maak my benoud. Dan bly ek liewer tuis.
Mar 5, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Frans klink ‘n glasie (?) met Tokkie van Deventer op ‘n Probuskuier by Penguin Place 11. Pieter Jacobs skud net sy kop.
In 1995 het ‘n wildvreemde Frans en Lourette Ellis hulle uit Oos-Kaapland op Melkbosstrand kom vestig. In dertig jaar het hulle gewaardeerde Melkbos-juwele geword wat die gemeenskap in vele opsigte gedien en verryk het. Nou skuif hulle aan Mosselbaai toe.
By die Probusklub. ‘n vriendskapsklub vir afgetredenes waar die joviale paar diep spore getrap het, is gister van hulle afskeid geneem. Die oudste lewende pionier, Henri van Biljon, het hulle gehuldig as “Probusvriende so uit die boek”, altyd gewillig, om te help en planne te maak vir uitstappies; “ware diep vriende van wie die herinneringe altyd by ons sal bly”.
Hulle was ook tuisonthalers en gashere soos min, het Henri tereg gemeld – “vriende met wie lekker gesels is oor wat verby is, oor mense wat ons geken het en oor al die plesier en plekke wat ons gesien en beleef het.”
Almal al saamstem: hulle is werklik mense wat hulle hart en siel in die klub gestort het. Waar interessante of avontuurlike dinge gedoen is, was die twee meesal op die voorpunt.
Frans verlaat die klub as chronologies die naasoudste aktiewe lid en na vele skofte as ‘n ankerlid in die komitee. Lourette wat een van die eerste vrouelede was, is die entoesiastiese ondernemer wat veral die laaste twee jaar – maar ook al tevore – die voortou geneem het om dosyne uitstappies te organiseer: toere, konserte en diverse ander feestelikhede.

Lourette klink ‘n glasie met Barbara Nel op ‘n Probus-uitstappie op Blaauwberg. Die twee verjaar saam.
Waar was ons nie oral toe die huppel in die stap nog daar was nie? Namibië, Kgalagadi, Krugerwildtuin, Oos-Kaapland – om net ‘n paar te noem. Ons het gevlieg, gevaar, trein gery of in konvooie met bussies en ons motors die pad aangedurf. En die Ellisse was sonder uitsondering ‘n dinamo.
Buite Probus het hulle bekendheid verwerf as jarelang eienaars van die Melkbosch-gastehuis in Mostertstraat. Frans het lank ’n suksevolle eiendomsagentskap bedryf. Na aftrede het hulle gewig ingegooi by die Woonwaklub en met ‘n gerieflike ryhuis die wêreld platgery.
Die Probusklub is ‘n borg van die woord “kuier” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Dis nie om dowe neute nie, soos hierbo blyk. In die egpaar Ellis is daardie gesellige kuier-element vergestalt.
So 15 jaar gelede het ek oor mede-Probuslede versies geskryf. So het Frans (en Lourette) se versie gelui:
Dis louter plesier as Frans Ellis jou pêl is;
En jy nog boonop by Lourette ook in tel is,
Dan kan jy reken op goeie wyntjies en kos
Só lekker kuier die Ellisse se pêlle mos!
Dis werklik hoe ons Frans en Lourette sal onthou – as van die lekkerste pêlle om saam mee te kuier. Hoe vreemd sal dit nie wees nie om dit vorentoe sonder hulle te doen.