VRYSTATERS TRAP DIEP SPORE

Drie Volksbladders wat geliefde rubriekskrywers by Beeld geword het: Tom Ferreira, Wilhelm Jordaan en Johan van Wyk. Die foto is deur Volksbladman Tobie Wiese by ‘n groot Beeldparty in Januarie in Kaapstad geneem.
‘n Moontlike laaste woord van my kant oor Beeld en Die Volksblad – die twee primêre koerante in my lewe – is hoe vrugbaar die een deur die ander bestuif is. Die rol van Die Volksblad, oudste koerant in die ou Nasionale Persgroep, in die bestaan van 50 jaar van die jongste, Beeld, was met een woord formidabel.
Uit Vrystaatse bodem het noorde toe gekom twee redakteurs, ‘n gerf adjunkte en assistente , ‘n sportredakteur, bekroonde spesialisskrywers, ‘n grondlegger van sy avontuurlike tipografie, geliefde rubriekskrywers, top-bestuurslui en ander bouers.
Een van die rubriekskrywers is Wilhelm Jordaan (hy skryf Mens tot Mens wat later Deurloop geword het en nog later Van Alle Kante in Die Burger, reeds vir 38 jaar ononderbroke). Nog ‘n Volksblad-veteraan, Tom Ferreira, het die sportrubriek Dwarslat vir 13 jaar behartig, en Johan van Wyk – beroemd weens Stop van Myne – die geselsrubriek Potjiekos vir 10 jaar.
Wilhelm het al iets soos 1 800 rubrieke agter die blad. Niemand het ‘n langer werkverhouding met Beeld nie.
Jordaan – en dalk ook die ander twee – is in die 80’s deur Willie Kühn vir Beeld gewerf nadat hy – ‘n vorige woonstelmaat van my in Bloemfontein – as assistant-redakteur van standplase verwissel het. Daardie eerste in Junie 1987 onthou hy goed, sê Jordaan. Dit is gelewer onder die speurende oog van Willem Wepener, redakteur, wat dit duidelik gestel het dat hy nie ”akademiese stront” in sy koerant wou hê nie.
Willie het later sesde redakteur van Beeld geword, later ook van Huisgenoot. Sy opvolger by Beeld was Johan de Wet, ook uit die Volksbladstal.
‘n Beeldnaam wat deur dekades sy bekendheid behou het, is Quintus van Rooyen wat met die begin, in 1974, uit Bloemfontein rugbyskrywer in Pretoria geword het. Quintus was twee keer Sportskrywer van die Jaar – een van net twee of drie wat dit kon regkry. Sy naam pryk ook op die SAB (Suid-Afrikaanse Brouery) se ererol van sportskrywers.
Die grootste roem of berugtheid van hierdie verbete (fanatieke?) Loftus-lojalis was dalk dat hy oor die Blou Bulle nooit van objektiwiteit beskuldig kon word nie. Die bynaam Quintus van Blouwen het nie uit die lug geval nie.
As Quintus in die persbank opgewonde geraak het, moes sy bure koes. Hy kón sy span om die beurt luidkeels toejuig en aanpraat. Stampe en stote was nie uitgesluit nie.. Daardie persbank heet nou nog amptelik na hom.
Sy toewyding het tot die bittereinde geduur, selfs toe hy al ernstig siek was aan die kanker wat op 31 Januarie 1998 sy lewe sou eis. Letterlik weke voor sy dood het hy steeds sy selfoon by hom gehad om daagliks uit sy hospitaalbed met sy kontakte te praat en stories na Beeld deur te bel. Ondanks erge ongerief het hy tot laataand vasgebyt om oproepe te ontvang en te verwerk. Selfs wedstrydverslae van Noord-Transvaal se Britse toer daardie Januarie is in die hospitaal saamgeflans. So was die kranige Quintus se toewyding.
Die hoog aangeskrewe Herman le Roux wat byna veertig jaar saam met Quintus vir Nasperskoerante oor sport verslag gedoen het, is in die laat 80’s ook van Volksblad na Beeld – as sportredakteur. Soos Quintus was hy Sportskrywer van die Jaar en pryk sy naam op die ererol. Le Roux (nou 89) sorg al 35 jaar vir ‘n omvattende jaarlikse lys van sportlui se dood.
Hoe diep hy in mense se harte kruio, het ek ’n middag in 1987 op ‘n besonderse wyse beleef toe ek ‘n geskokte Steve Strydom, rugbybaas van die Vrystaat, in sy losie in die Vrystaat-stadion inlig dat kollega Herman Johannesburg verplaas is. Strydom was amper in trane. Die Saterdag daarop kondig Johan Botes, uitvoerende beampte van die bond, ook ‘n goeie vriend van Herman, die nuus oor die luidspreker aan. Daarna speel hy Now is the hour. Ek het hoendervleis gekry; my kollega waarskynlik nog meer
Met die stigting van Beeld in 1974 is die uwe as eerste nuusredakteur aangestel (ná ‘n jaar as Niemangenoot in die VSA het ek adjunk-redakteur geword voordat ek terug Bloemfontein toe is.) Ek het aan die begin onder andere Ben van Rensburg, Chris Karsten, Piet Gouws, Pedro Diederichs, Thinus Prinsloop en Jannie van der Merwe gewerf om saam met my die Vaalrivier oor te steek. Almal het diep spore getrap.
Ben van Rensburg, eerste nagnuusredakteur, het ‘n veel bekroonde motorskrywer geword. (Hy is, terloops, deur sy eerste vrou, Tina, in die pos opgevolg – ‘n eerste vjr ‘n vrou,)
Chris Karsten, deesdae een van die voorste skrywers van spanningsverhale, was die eerste assistent-hoofsub en later adjunk-redakteur van Rapport.
Die goedige Piet Gouws, eerste Wes-Randse verteenwoordiger, het ‘n gewilde nuusredakteur (nogal ‘n rariteit!) en later assistent-redakteur geword. .
Pedro Diederichs (later dr. Pedro) was die eerste hoof van die Pretoriakantoor. Hy het ‘n hoogleraar in die joernalistiek geword en vele latere Beeldjoernaliste opgelei.
Thinus Prinsloo het ‘n assistent-redakteur geword – ook by Die Volksblad.
Die vroeg gestorwe Jannie van der Merwe,. ‘n kettingroker, het sy stempel as uitlegkunstenaar afgedruk en Beeld uit die staanspoor treffend anders as sy mededingers laat lyk.
In later jare het knap Volksbladmense soos Francois Lötter, Gallie van Rensburg en Wilma de Bruin by Beeld kom naam maak.
Aan bestuurskant was Daan de Bruin, Johan Vosloo en Maans van der Westhuizen sleutelmense by Beeld.
(Soos gewoonlik maar gebeur, word name waarskynlik misgevat. By voorbaat my apologie aan dese en gene.)