Dec 30, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Jimmy, Rosalynn en Amy in 1976. Rosalynn is in November 2023 dood.
By die dood van Jimmy Carter, 100 jaar oud en krom van ouderdom, kan dit nie juis anders nie as dat ek 50 jaar terugedink: na die Amerikaanse presidentsverkiesing van 1976 toe Carter, grondboontjieboer van Plains, Georgia, tot my onbehae vir Gerald Ford ‘n goeie drag slae gegee het.
Met die verkiesing van die vir my bra oninspirerende Carter tot president was ek in die VSA: ‘n Niemangenoot aan Harvard in Cambridge, Masaschusetts. Ek het die veldtog op Amerikaanse TV gevolg. Dit was nogal ‘n sirkus met al die TV-debatte, ens.
Uitslagnag was ‘n groot gedoente in die Nieman-gemeenskap met drie TV-stelle – een op CBS, een op NBC, een op ABC – reuse-pizzas en ‘n bad vol Budweiserbier. Die Suid-Afrikaner en ‘n Mormoon uit Utah, Rod Decker, was die enigste “Republikeine” in ons Niemanklas. Namate die uitslae gewys het hoe die wind waai, het ek en Decker stiller geword. Die opgewonde oormag van Demokrate het ons ongenadiglik gekoggel.
John Painter van Portland, Oregon, was die voorbok. Hy het later ‘n vriend geword wat hard probeer het om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Amerika moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel gaan oopsny!
Toe die aankondiging kom Carter is president, het die Nieman-kurator, James Thomson, van aandoening in trane uitgebars. Dit was die tweede keer in sy lewe dat hy gehuil het, het hy later verleë erken. Die eerste keer was met sy pa se dood. Later het hy ‘n jubelende artikel geskryf: Oh to be a Jimmy! Maar Carter was darem die eerste Demokraat wat die Withuis gehaal het in daardie dekade. ‘n Mens kan ‘n Harvard-Demokraat se trane verskoon.
‘n Toneeltjie wat my bybly, was op die dag van die inhuldiging. Op pad Withuis toe het Jimmy (oftewel James Earl Carter), Rosalynn en hul te-groot-vir-haar-skoene-dogter, Amy, die swart ampsmotor verlaat en hand-aan-hand in Pennsylvania Avenue afgestap, die klein snip van ‘n meisiekind “hopping and skipping between them”, soos die Amerikaanse media uitasem berig het.
Vir hulle was dit ‘n teken van plat op die aarde wees – vir my was dit ietwat vertonerig.
Nog iets wat ek van Carter onthou, is sy glimlag. Soos hy tande kon flits, was ‘n aardigheid. Die storie word vertel van ‘n Suid=Afrikaanse fotograaf wat op ‘n keer die stugge John Vorster gevra het om asseblief te glimlag. Hy antwoord toe: As jy tande wil sien, moet jy vir Jimmy Carter gaan afneem.
‘n Nogal vermaaklike omstredenheid was oor ‘n Playboy-onderhoud waarin hy erken het dat hy vele kere met begeerte na vroue gekyk en in sy hart owerspel gepleeg het. Sy vrou, Rosalynn, het maar net geswyg en liefies bly glimlag.
Uiteindelik het hy tog vir hom ‘n plek in die geskiedenis oopgekerf. In 2002 is hy met die Nobelprys vir vrede bekroon vir sy “untiring effort to find peaceful solutions to international conflicts, to advance democracy and human rights, and to promote economic and social development”. Dis nie elke Jan Rap en sy maat wat so vereer word nie.
Dec 28, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Hello Dolly … Die grinterige stem van Louis Armstrong maal in my gedagtes as ek deur Beeld se laaste uitgawe blaai en die honderde foto’s bekyk van ‘n lesersgemeenskap wat aan die einde van die pad vir hul koerant simbolies uitroep: Ons is Beeld.
Op die maat van die gewilde “Satchmo”- liedjie begroet ek amper op elke blad ‘n bekend gesig: Hello Herman (le Roux), hello Carl (Louwrens), hello Rina (le Roux), hello Elsa (Kruger)….
Word die naspeuring van die foto’s nie ‘n heerlike herontdekkings-avontuur nie: van skoolmaats tot studentemaats, skrams kennisse tot kollegas met wie jare lank skouer aan skouer saamgewerk is. Amper elke era van ‘n leeftyd is verteenwoordig.
Armstrong begroet Dolly hartlik soos volg: ”You’re lookin’ swell, Dolly / I can tell, Dolly / You’re still glowin’, you’re still crowin’ / You’re still goin’ strong.” Te oordeel na die foto’s sal ek die vleiende woorde ongelukkig net selektief van toepassing kan maak op die gesiggies wat van die koerantbladsye af na my glimlag.
Party lyk heelwat “sweller” as ander, moet ek helaas erken, maar ek is nietemin dankbaar om elkeen te sien en herinneringe oor vorige raaklope op te roep.
Hoeveel keer was ek nie byvoorbeeld in ds. Carl Louwrens, nou afgetree, se kerk in Skukuza in die Krugerwildtuin nie; hoe lank het ek en Herman le Roux, sportredakteur van faam, nie in redaksies saam teen spertye gejaag nie, hoeveel jaar gelede was ek en Johann Lemmer, oud-hoof van die Transvaalse Onderwysersverenigng, nie saam in Volkies op Potchefstroom se Jack Pauw-koshuis nie? So bring elke foto van ‘n kennis sy eie konneksies na vore.
Buiten Johann Lemmer is uit Volkiedae ook die teenwoordigheid van ‘n borrelende Laetitia le Roux (later getroud met ds. Willie Botha) op ‘n foto. Vir haar het ek in 1974 – stigtingsjaar van Beeld – laas gesien: direk vooor my in die tou by ‘n opvoering van Agathie Christie se immergroen-treffer The Mousetrap in die West End in Londen. Ek was juis op besoek rakende die nuwe koerant.

Regte Beeldblad
Uit my Tukkiedae kom dr. Kobus Terblanche van Middelburg. Ons was nie net in dieselfde koshuis, Kollege-tehuis nie, maar in dieselfde gang op die grondverdieping in 1962. Baie jare het ek hom net geken aan sy gereelde briewe in koerante. Toe loop ons mekaar ná ses dekades op Kaapsehoop raak met die bekendstelling van die Beeld 50-boek.
My eerste Volksblad-verbintenis was in die 60’s in die tydvak van Oom Bart Zaaiman met sy gevreesde rooi pen. Hy had ‘n dogter, Marietjie. Sy het haar pa se liefde vir Afrikaans geërf. Nou die eggenote van ds. Koos Kriel van die Laeveld het sy met die alias Marie van Mbombela briewe op Beeld laat reën. Ek het die Kriels ook op Kaapsehoop gesien, en sien julle periodiek op Melkbos waar hulle vakansie hou. Het dadelik hul foto herken.
In 1974 is ek aangestel as nuusredakteur van die stigte Beeld. In die Gideonsbende wat uit Boemfontein Noorde toe is, was ook Pedro Diederichs. Hy het nuusredakteur in Pretoria geword en later ‘n professor. Op sy foto wys hy trots die eerste uitgawe.
Aan die einde van 1974 bring ‘n pa van Potchefstroom sy knap Puk-dogter en haar vriendin Beeld toe waar hulle as groentjies inval. Sy streng opdrag aan my, die nuusredakteur: Ek gee hulle in jou hande. Pas hulle mooi op. Die dogter was Elsa Kruger (later Godden) en die vriendin wyle Salome Jacobs (later Brown). Elsa lyk op haar foto op ‘n haar na die iong Elsa. “Youré looking swell, Elsa …”
Met my terugkeer na Bloemfontein in 1980 was een van my eerste aksies om Herman le Roux ‘n assistant-redakteur te maak. Ons kollegiale kameraderie het ‘n hegte vriendskap geword, Herman, Rina, hul dogter Michelle en haar man, Frans Marais, pryk almal as Beeld-gesiggies.
Ons gesinne kuier elke jaar in die bos – Sabiepark en Burchell’s Lodge – en was ook saam in Kaapsehoop met die boekefees. Trouens, dat ek ‘n laaste uitgawe van Beeld in die hande kan hou, is te danke aan Frans en Michelle. Wat ‘n waardevolle geskenk. Dankie, julle twee.
In my laaste jare by die Nasionale Pers was een van die kollegas in die Perssentrum in Kaapstad die joviale taalman dr. Karel Prinsloo, nou o.m, uitgewer van die tydskrif Plus 50. Ek was nie verras om Karel se foto in die Beeld-galery te sien nie.
In my aftreejare het ek by reünies ‘n hele garde klasmaats van my vrou, Tokkie, ontmoet. Een is die hoofseun van die Hoërskool Bultfontein in 1963, Koot Muller. Twee jaar gelede by hul matriek-plus-60-fees was ons saam om ‘n skaap op die spit. Ook dat die soliede Koot ‘n getroue Beeldleser was, is geen verrassing nie.
Wat opval, is hoeveel van die span wat saam met die laaste uitgawe onmiddellike Africana geword het, gereelde briefskrywers was. Die cliché van “te veel om op te noem”, is absoluut geldig. Ek gaan my nie aan so ‘n uitdagende taak versondig nie. Maar een gaping … nee twee … wil ek tog vat.
Om te sien hoe “Koos van die Waterberg” agter sy alias lyk, was vir my heuglik oor ‘n pluimpie wat hy my ‘n keer gegee het na aanleiding van ‘n huldeblyk vir wyle appèlregter Gustav Hoexter vir wie ek grenslose respek gehad het. Dankie, Koos, as jy dalk hier lees. Jou pluimpie het nie ongesiens verbygegaan nie.
Ditto vir die kennismaking met Nols en Antoinette Schoeman van Riebeeckstad, Welkom. Kyk, die Antoinette is ‘n ster met briewe. Niemand kan haar raak as dit by volume en verskeidenheid kom, en veral die verskeidenheid publikasies waarin sy figureer en gereeld pryse wen nie. Dat sy ‘n Facebook-vriend is, soos hope ander Beeld-gesiggies, gee aan daardie vermaledyde begrip ‘n waardige inhoud.
Dan is sy die tante (en Nols die oom) van ‘n kollega vir wie ek baie tyd gehad het en wat gans te vroeg dood is. Hy was ook ‘n Nols, naamlik Nols Nieman van Die Volksblad.
In 1977 op ‘n Besoek aan Disney World by Orlando, Florida, was ons gesin op ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums. Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, het aanhoudend in vyf tale gesing: “I’ts a small world”.
Beeld se laaste utgawe oortuig jou op sy eie – baie spesiale – manier ook van hierdie waarheid. Dis werklik ‘n “small world after all”.
Dec 22, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vir die tradisionele koerantscoop kan ons saam met die gedrukte koerant vaarwel wuif. Dis een van die sware totsiense wat op papierverknogte koerantlesers wag.
Met scoop bedoel ek daardie klas trefferberig met die sterk skok- of verrassingselement wat jou soos ‘n klipharde hamerhou tref as jou oog op die opskrif val.
Rapport is in die opsig ‘n skynende lig. Sedert die Sondagblad se ontstaan in 1970 het hy – te veel keer om te probeer onthou – gereeld met nuus uit die bloute hierdie toegewyde leser soos ‘n weerligstraal getref. Om net enkeles te noem: ‘n gewese staatspresident – nogal uit huis uit Gereformeerd – wat sy vrou los vir ‘n minnares, ‘n eerbiedwaardige kerkleier wat in sy voorkamer deur ‘n sluipskutter afgemaai word, en ‘n minister wat in ‘n geheime liefdesnessie allerlei avontuurtjies met ‘n waardige (vroulike) senator beleef.
Op Sondag 15 Februarie 1998 – nogal die dag ná Valentynsdag – het Suid-Afrika met skok verneem dat FW de Klerk (61) sy vrou vir 39 jaar, Marike (60) gaan verlaat. Dit vir ‘n jonger Griekse minnares, Elita Georgiades (46), vrou van ‘n Griekse skeepsmagnaat. ‘n “Valentynsdagbom” eksklusief op die voorblad van Rapport – ‘n droom-scoop. Dae, weke, lank is die storie in al wat koerant en tydskrif is, ge-”spljes”, soos die koerante-idioom lui.
Waar en hoe Rapport die sappige brokkie bekom het, is nie aan my bekend nie. Dat die indertydse redakteur, Chris Moolman – ’n voorslag-joernalis met ’n gesonde eerbied vir joernalistieke standaarde en waardes – soos met verskeie ander scoops van daardie era ‘n enorme rol gespeel het, weet ek wel. Dis hoe hy by sy redaksie die bynaam Super(mool)man verwerf het.
Moolman moes self die stang stewig vasbyt om die storie van hul huweliksverbrokkeling uit die onwillige FW en Marike te pers. Dan was dit sus en dan weer so. Presies op die regte oomblik het die redakteur die troefkaart gespeel: Rapport weet dat ’n derde party betrokke is en dat haar naam met ’n E (vir Elita) begin.
De Klerk se reaksie was: “Nou is ek geskok.” Maar die koeël was deur die kerk. Hy het dit onmiddellik besef. ‘n Scoop is op die harde manier gebore.
Ook in die tweede geval – die steeds onopgeloste moord op die kerkleier prof. Johan Heyns – was Rapport se indertydse redakteur ‘n sleutelfiguur. Maar op ‘n heel ander manier. Moolman se voorganger, Izak de Villiers, gewese man van die kleed, was die Saterdagaand reeds tuis toe sy telefoon op 5 November 1994 – Guy Fawkesdag – skuins voor middernag lui.
Aan ander kant was ‘n predikante-makker, ds. Henno Cronjé, met ‘n vuurwarm nuuswenk: prof. Heyns is net ure tevore met ’n enkele skoot uit ’n jaggeweer deur ’n venster in sy huis in Waterkloofrif doodgeskiet terwyl hy met sy kleinkinders sit en rummy speel.
‘n Geskokte De Villiers het dadelik die bittereinders op kantoor gebel. Die wiele kon in die hoogste rat begin draai. Ds. Cronjé, ‘n huisvriend van die Heynse en van De Villiers, se vriendskapsgebaar het gelei tot die scoop-hoofberig: “Johan Heyns vermoor”.
‘n Scoop is nie altyd onder groot swart letters op die voorblad nie. Op 21 Januarie 2018 was dit, van alle plekke, op bladsy twee van Rapport-Weekliks weggesteek. In stomme verbasing kon lesers, veral Vrystaters – soos Van Deventer op Melkbos – amper uit hul beddens val by die lees van joernalis Herman Lategan se grafskrif vir die vuurvreter-politikus van die Paarl Adrienne (Kuki) Koch (82). ‘n “Minister se skelmpie” word Koch op die man af in die opskrif genoem.
En wie se naam duik toe verrassend in daardie delikate konteks op? Dié van niemand minder nie as wyle Kobie Coetsee, minister van Justisie en Vrystaatse leier van die Nasionale Party, ‘n voorloper in die toenadering tot Nelson Mandela. Dat Coetsee en Kuki vurige minnaars was en lank ‘n liefdesnessie in Seepunt gedeel het, word met vers en kapittel onthul.
Dadelik het die vraag natuurlik ontstaan: waar het Lategan sy inligting oor die buite-egtelike Koch-Coetsee-verbintenis gekry? Die antwoord het nie lank geheim gebly nie: Kuki se dogter, Judy, het die hele verhouding – al die intrige, passie, avontuurlikheid – ook al die bitterheid ná die opbreek – in opdrag van haar berouvolle moeder in ‘n boekie met die veelseggende titel An Adulterer’s Prayer haarfyn opgeteken.
Nie net Sondagkoerante sorg vir scoops nie. Waar die onderwerp ter sprake kom, doem die naam Alf Ries, legendariese politieke beriggewer van Die Burger, Beeld en Volksblad, dadelik op. Ries was dekades lank doyen van die parlementêre persgalery; ’n scoopmasjien sonder weerga wie se stroom trefferberigte mededingers telkens radeloos gelaat het.
Binne 48 uur nadat dr. HF Verwoerd op 6 September 1966 in sy bank in die Volksraad vermoor is, kon Suid-Afrikaners byvoorbeeld sien hoe die skuldige, die immigrantebode Dimitri Tsafendas, lyk – danksy ‘n Ries-scoop. Dit was ongehoord – eintlik onwettig – maar spesiale vergunning vir ’n uitsondering met publikasie van die foto is deur Ries beding. Die Burger was die eerste in die land met twee groot foto’s van Tsafendas op die voorblad van 8 September.
Die kosbare foto’s se herkoms was amptelike leggers van die parlement. ’n Bevriende amptenaar, een van vele in Ries se kring van kontakte, het hom dit stilletjies in die hand gestop. Gewapen met die foto’s, vat hy toe die spoor van John Vorster, minister van justisie, na die wandelgang van die Volksraad toe. Die minister het aandagtig na sy betoog geluister. Ja, hy stem saam dat die foto van groot openbare belang is, sê hy naderhand. Maar die wet is die wet. Hy sien swarigheid om oor die struikelblok te kom.
Net toe stap Jim Fouché, minister van verdediging, verby. Die boer van die plaas Babel, distrik Rouxville, was bekend om sy aardse wysheid en praktiese benadering tot ’n probleem. Kom ons vra Oom Jim wat dink hy, stel Vorster voor, en wink sy ouer kabinetskollega nader. Fouché, latere staatspresident (van 1968 tot 1975) het nie lank gedink nie. Sit dit in, sê hy, en toe met nadruk: die mense sal wil sien hoe die vark lyk. Sy oordeel gee die deurslag.
Vandag se nuus vandag. So het middagkoerante graag in hul gloriedae gespog. Selde is aan die motto beter reg laat geskied as op 2 Februarie 1989 met die verkiesing van FW de Klerk as hoofleier van die Nasionale Party in die plek van ‘n ongestelde PW Botha. Die onverwagte verkiesing het in die grootste geheimhouding geskied.
Ries het buitengewone aktiwiteit by die NP-koukuskamer waargeneem, en dadelik snuf in sy politieke neus gekry. Daardie middag was die nuus Die Volksblad se voorblad vol. Toe ’n Vrystaatse LV, wyle Piet Steyn van Winburg, ’n Bloemfonteinse vriend, wyle prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan alles in Die Volksblad”!
Dan ‘n rêrige groot scoop: die eerste foto’s van die eerste ontmoeting tussen Botha en Nelson Mandela op 5 Julie 1989 in Tuynhuys. Op die ingewing van die oomblik, en met instemming van die twee hooffigure, het kapt. Ters Ehlers, knap gewese private sekretaris van mnr. PW Botha, met sommer ‘n dood-gewone mik-‘n-druk-kameratjie die foto’s geneem. Eintlik sommer net ‘n paar kiekies.
Om politiek-sensitiewe redes het Ehlers se foto’s lank ongepubliseer gebly.
Toe op Donderdag 15 Februarie 1990 verskyn Die Volksblad eerste met die “foto’s waarvan die wêreld nie geweet het nie” op sy voorblad. Hoekom juis Die Volksblad? ‘n Vername rede was dat redakteur een van die min mense was wat van die bestaan van die foto’s geweet het. Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, het dit in ‘n private gesprek laat glip.
Vanselfsprekend het hy (die redakteur) nie ophou torring om die foto’s as ’n scoop los te wikkel nie. Aan die begin van Februarie 1990 het hy, al half moedeloos, die kwessie weer oor die telefoon aangeroer. Die eerste keer het Botha sy gewilligheid laat deurskemer. Ná intensiewe onderhandelinge, onder meer ook deur ‘n bemiddelaar met Mandela, wat toe in sy laaste dae in die Victor Verster-gevangenis was, is tot publikasie ingestem.
Wie daardie bemiddelaar was? Niemand minder nie as die nimlike Kobie Coetsee, hierbo in ‘n ander verband genoem ‒ “my vriend Kôbie”, soos Mandela hom waarderend bly noem het.
Met die ooreenkoms beklink, is ‘n verslaggewer per motor na Pretoria om die kosbare pakkie te gaan haal. Nog twee foto’s is per koerier na Bloemfontein gestuur. En op Donderdag 15 Februarie, verskyn die koerant toe met sy eksklusiewe foto’s – inderdaad ‘n wêreld-scoop.
Maar so lekker dit is om te scoop, so bitter is dit om gescoop te word. So ‘n wrange scoop vir die koerante van Media24 – – om meer as een rede – was die eksklusiewe (digitale) berig uit die bloute op die internetmaatskappy Moneyweb se blad oor die voorgenome sluiting van belangrike Media24-koerante se gedrukte en / of digitale uitgawes.
Die beroering wat dit veroorsaak het, het gewys watter sensitiewe snaar hier getokkel word, met ingrypende implikasies vir hope mense – van joernaliste tot koerantverkopers op straathoeke – inderdaad vir die ganse Afrikaanse kultuur. Wat opvallend was, is dat die geloofwaardigheid daarvan nooit vir ‘n enkele oomblik in twyfel getrek is nie, nie deur ander media nie en – belangrikste – ook nie deur Media24 self nie. Ná aanvanklike swye moes die maatskappy lammerig erken: Moneyweb was in die kol.
Die tydraamwerk hoe gebeure ontvou het, dui op ‘n snelle lekkasie van die ingrypende stappe aan Jeremy Maggs van Moneyweb. Skere sleutelmense by Media24 was nog nie eens in kennis gestel nie toe die skokberig op hul rekenaarskerms flits.
iDalk maar ‘n voorspooksel daarvan dat die papier-scoop (amper) dood is, lank lewe die digitale scoop!
- Die artikel verkyn vandg in die laaste uitgawe van Rapport-Weekliks.
Dec 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ten minste het die uiteindelike lot van die koerant waarvoor hy en ander sulke groot drome gekoester en opofferings gebring het, die vegterprins Schalk Pienaar gespaar gebly skryf ek vandag in my laaste brief in Beeld. So lui die volledige brief: By die afskeid van Beeld soos ons hom ken verdien sy stigtersredakteur, Schalk Pienaar, ‘n spesiale woord.
Hierdie “vegter-prins” van die Afrikaanse joernalistiek – die treffende beskrywing deur tydgenoot Piet Cillié – is twee keer met die hand uitgekies om vir die Nasionale Pers met koerantstigtings in die noorde ‘n droom te gaan verwesenlik. Albei keer het die droom aan skerwe gespat,
Die Sondagkoerant Die Beeld het in 1965 tot stand gekom en die dagblad Beeld (sonder die Die) 11 jaar later, in 1974. Eersgenoemde is aan die vooraand van glorie onder geweldige politieke druk in 1970 in ’n geriefshuwelik met sy mededinger, Dagbreek en Landstem, gedwing en het in Rapport opgegaan het. Vir Pienaar was die “samesmyting” (sy woorde) verpletterend. Hy het die Bybelse uitroep gebruik: “Dit voel of die vel van my lyf geskeur word.”
Sy argwaan was teenoor Lang David de Villiers, besturende direkteur, en die Nasionale Pers se direksie. Sy emosie en betoë moes geen geringe rol gespeel het om by De Villiers ’n vuurtjie vir herlewing van die ideaal aan te steek nie: ’n eie dagblad in die ekonomiese hartland.
Ondanks toenemende gesondheidskwellings is weer by die dinamiese Pienaar aangeklop om die vaandel te dra. Ondanks sy vorige teleurstelling het hy ‘n tweede keer hoopvol die skuif noorde toe gemaak. Maar hy was die skaduwee van die man wat hy ‘n dekade tevore was. Ná net vier maande moes hy, uitgemergel deur kanker, tou opgooi.
Die vreugde van oorwinning na ‘n intense vestigingstryd van ses jaar was hom nie beskore nie. Hy is in 1978 oorlede. Die uiteindelike lot van die koerant waarvoor hy en ander sulke groot drome gekoester en opofferings gebring het – dit in sy jubileumjaar – het hom genadiglik ook gespaar gebly
‘n Tweede keer sou hy in bitterheid kon uitroep: “Dit voel of die vel van my lyf geskeur word. “
Dec 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

By die afskeid van ‘n geliefde kan jy huil omdat hy weg is of bly wees dat hy gelewe het en jou lewe verryk het. Vir ons geliefde koerant geld laasgenoemde. So skryf ek vandag in Volksblad, die koerant waarin ek 24 van my beste jare ingeploeg het, 12 as redakteur.
So lui die volledige brief:
Volksblad maak vandag sy laaste buiging in huidige e-vorm. Herdie tweede verwisseling van bane – die eerste was met die sluiting van die papierproduk – roep om ‘n eerbetuiging.
As tradisionele koerant vir amper 12 dekades en eksperimentele voorloper in ‘n proses van digitalisering sedert 2020 was sy bydrae tot die skat van versamelde Afrikaanse geestesgoedere enorm.
As redakteursfabriek het hy die joernalistiek met briljante uitvoerprodukte verryk. Dertien redakteurs van
dagblaaie en sowat 15 by ander publikasies kom uit die ou Voortrekkerstraat. Van hulle beklee ‘n prominente plek in die galery van Afrikaner-voordenkers. Bedryfsleiers het hoë sporte bereik, nasionaal en internasionaal.
’n Hele biblioteek van Volksblad-skrywers se boeke kan ’n mens jou verbeel. Sedert 1904 het uit die penne van sowat 90 van die bekendste name uit alle eras meer as 1 000 boeke gevloei. Talle is bekroon, was bakens, het trefferslyste oorheers en verkoop fluks in vele tale in vele lande.
‘n Vrag gesogte eerbewyse sal ‘n reuse-glaskas laat kreun. Dit sluit in die Jan Maraisprys, Akademiepryse soos die Hertzogprys, die Stalsprys en die Marcus Viljoen-medalje, die Phil Weberprys (Naspers se hoogste bekroning), die Rapporprys en die FAK-prys vir individuele uitblinkers.
Onder die koerant se bekers, oorkondes en dies meer was vir taal- en kultuur, die skep van verhoudings, gemeenskapsbetrokkenheid en tipografie, onder meer ‘n miniatuur-ossewaentjie vir die beste beriggewing oor die simboliese Ossewatrek van 1988 en die McCall-prys vir tegniese voortreflikheid ’n verstommende nege keer.
Volksblad het die eerste Saterdagponie uitgegee, ‘n leier met gemeenskapskoerante geword, Bloemfontein sy beroemde Kunsmark en ander tradisies gegee en roem verwerf met sensasionele blitsuitgawes ná rugbytoetse. Sy voorste sport- en motorskrywers is nasionaal vereer. Twee is op die SAB se ererol; een se naam is op Loftus verewig.
Waar tref jy nie oral Volksbladders se spore nie: van die kabinet tot die kansel en van die akademie tot die regbank tot die sportveld!
By die afskeid van ‘n geliefde kan jy huil omdat hy weg is of bly wees dat hy gelewe het en jou lewe verryk het. Vir ons geliefde koerant geld laasgenoemde.