FRITS GAUM SOU SAAM KON JUIG

‘n Brandpunt van welsprekendheid, ‘n fees van keurige Afrikaans en ‘n jubelkoor van gevleuelde woorde.  Dit was die historiese NG kerk Durbanville vanoggend met die dankdiens vir kerkleier en Kerkboderedakteur Frits Gaum.

In waardige huldeblyke is onder meer gewag gemaak van Frits se vlotte formulering, gespierde skryfstyl en puntenerigheid oor spelling en punktuasie.

Wel, vir Frits sou dit bepaald ‘n vreugde gewees het as hy kon ervaar hoe voortreflik elkeen wat aan die woord gekom het, aan sy hoë standaarde voldoen het.  Vir my ‘n voorreg gewees om, somberheid ten spyt, die stylvolle geleentheid mee te maak.  Ek lig my hoed hoog vir een en almal wat opgetree het.

Die almal was:  seuns, Laurie en André, dogter, Lina Hattingh, en eggenote, Henda, asook, van buite die gesinskring, Chris Jones en Freek Swanepoel.  Kleinkinders Fritz Johann Gaum en Judi en Gerlo Hattingh het die Skriflesing netjies behartig en Henda het gesorg vir ‘n klein kamee aan die einde met haar eiesoortige, imprompru bedankings.  (Moet ook Willem Luitingh se orrelspel noem.)

Dit was ds. Freek Swanepoel wat in sy treffende woorde van waardering  hoog ingesit het oor Frits se altyd korrekte weergawes van alles wat op skrif moes kom, as redakteur van Kerkbode en scriba van die algemene sinode.  Nooit in al die jare dat hulle saamgewerk het, kon hy sy kollega en vriend ooit op selfs die geringste spelfout wys nie.

Ook André het na die besonderse taalgevoeligheid verwys. Hy is die program vir die diens met ‘n fynkam deur dat tog nie ‘n spelfout insluip nie, het hy laat val!

Ds. Freek het ‘n merkwaardige brokkie geskiedenis meegegedeel. Dit is dat Frits op 12 Oktober 1994 scriba van die sinode geword het – dag en datum presies 30 jaar gelede.  Hyself (ds. Freek) is by dieselfde sinode as moderator aangewys en ds. Kobus van der Westhuizen, wat ook vanoggend teenwoordig was, as assessor. Hulle het ‘n hegte kerklike driemanskap gevorm.

Pres. Nelson Mandela het daardie sinode toegespreek: die eerste en tot dusver enigste staats- en regeringshoof wat by ‘n algemene sinode van die NG Kerk opgetree het. (Hy het in sy rede onder meer erkenning aan dié kerk gegee vir sy rol in die vreedsame oorgang na ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika.)

Op Frits wat daardie sinode tereg die “sinode van versoening” gedoop het, het die taak geval om die president by die deur te gaan verwelkom en die sinodesaal in te begelei.

Toe verloor die president se skoen.  Frits het geen oomblik geweifel nie, op sy knie gesak en die skoen aangetrek.

Frederick Malherbe Gaum was waarlik ‘n man vir wie jy jou ou skoene kon agterna gooi en sy sobere maar treffende dankdiens het sy waarde weerspieël.

VERTRAAGDE BUIGING NA VROUE-YSTERS 

Beeld-pioniers by die bekendstelling van die boek Beeld 50 op Kaapsehoop was o.a. Tina Swiegers en Ronelle Terre’Blanche.

Met hul spykerhakke en ander vroulike skoeisel het die evasgeslag diep spore in die SA joernalistiek getrap.   Die dood van Martie Retief bring die onderwerp op verskeie maniere na vore, van bewonderend tot verwytend.  Ja, die adamsgeslag moet plek-plek maar koes soos hul sondes van geringskatting hulle inhaal.

Erika de Beer, samesteller van die Beeld 50-boek, maak vanoggend in Die Burger ‘n buiging na Martie wat een van Beeld se pioniers was , asook na Elsa Kruger, vir hul rol om deur die glasplafon te breek.

Ek haas my om my by Erika te skaar.  As nuusredakteur van daardie eerste spannetjie Beeld-mense had ek ‘n strategiese venster op die aansienlike bydrae van vrouekollegas om daardie geliefde dagblad deur storms en sukkelwater tot wasdom te lei.

In daardie span was ook vroue-ysters soos Lorna Vosloo, Renée Rautenbach, Barbara Boshoff, Reinet Louw, Julia Brink,  Susan Booysen, Salome Jacobs, Ansi Brits, Lynette Dreyer, Anne Kruger, Mimi Badenhorst, Ronelle Terre’Blanche, Greta Vermeulen, Lynette Blignaut, Toni Simpson en Jelleke Wierenga. Ek noem die name in die volgorde soos hulle by my opkom en vergeet gewis sekeres van stoffasie, veral dié in die Pretoriakantoor met wie ek minder direk, maar nie met minder waardering nie, saamgewerk het. Tina Swiegers was een, meen ek.  Elkeen van hulle was ‘n staatmaker op wie se knoppie in elke omstandigheid gedruk kon word.

Sal ek byvoorbeeld vergeet watter rol  Renée Rautenbach gespeel het om die name van die passasiers op ‘n Lufthansavliegtuig  na ‘n ongeluk by Nairobi voor enigiemand anders uit te snuffel. En van kollegas soos Julia, Reinet, Elsa en Salome (om net ‘n paar te noem) was gereeld stories op die voorblad.

Met die Soweto-onluste in 1976 het ’n vreeslose wit verslaggeefster, Norah Steyn, haar gesig laat swart verf. Sy en ’n bode in wie se hande ‘n kamera gestop is, was twee  van Beeld se sterre met hul op-die-toneel-berigte en -foto’s van die oproerighede.  (Norah was egter nie een van die oorspronklike pioniers nie.  Ek meen sy het begin 1976 eers ingeval. Later het ook staatmakers soos Sarie van Niekerk en Marga Ley bygekom.)

In die biblioteek was Barbara en Mimi vir ons in daardie beginjare goud werd.  Jelleke het gou haar spore as redigeerder verdien.

Van hulle het later op ander terreine prominensie verwerf.  Susan Booysen het ‘n professor by die RAU (Randse Afrikaanse Universiteit) geword en is dikwels, veral deur die SAUK, om politieke kommentaar genader. Ek is seker baie luisteraars sal daardie effe ongewone manier van praat onthou.

Julia het as Julia Viljoen redakteur van Huisgenoot geword. Elsa het haar as veelsydige joernalis aan vele fronte ontpop.

Ek is bly Erika roer die kwessie vanoggend aan en buk gewillig vir my aandeel van die slae wat subtiel aan die chauvinistiese mans van daardie era uitgedeel word.

In een opsig wil ek darem van Erika verskil.  Dis regtig nie na ons vroulike kollegas wat ons as “vroudele” verwys het nie.  Nee, die “vrouedele” was die vroueblaaie wat deur die vroueredaksies gepleeg is.

Naskrif: Terwyl ek hier skryf, kom herinneringe op aan twee fotomoleste in die begindae van Beeld.

Die Argentynse bokser Victor Galindez (die “Dier”) was in Suid-Afrika om teen Pierre Fourie te veg. In die (eerlike) strewe tot ‘n bietjie lewendigheid op ‘n stil dag stuur ek verslaggeefster Petra Pieterse om die “Dier” te gaan soen. Toe daardie soen in kleur die voorblad haal, was die gort gaar onder ontstelde vroulike redaksielede. Die nuusredakteur moes net koes vir al die verwyte oor seksisme.

My vertraagde maar opregte apologie, dames!

‘n Ander keer dat ek reikhalsend na die vreedsame Bloemfontein terugverlang het, was met die opening van ‘n groot winkelkompleks aan die Oos-Rand. ‘n Duisternis pryse is uitgeloof, onder meer vir die koper wat in die kleinste bikini opdaag. ‘n Jong, maer rooikop bedek net die noodsaaklikste met twee titseltjies lap. Ook die foto haal die voorblad.

Weer moes die nuusredakteur dit ontgeld – ook  van verontwaardigde lesers – hoewel die waaghalsige besluit om die wenner so prominent op ons koerant se voorblad te laat paradeer, eerlikwaar nie myne was nie. Die besluit is kort voor saktyd in ‘n ander kantoor geneem. Maar deur wie? Nee daardie kollega was stom.

HOND SOEK ‘N VROU

Hy / sy moet nog net kan praat. So sê mense van ‘n skrander hond

Rondom die jaar 2000 in ‘n soektog na die skranderste hond het die BBC (British Broadcasting Corporation) se basterbrak Pippin sterk na vore gekom.

Die halfpoedel-halfspanjoel met ‘n bietjie Ihasa apso in haar was ‘n uiters leergierige hond.  Geen toertjie was skynbaar bo haar vuurmaakplek nie.  Sy kon o.m.  ’n koffer oopmaak, pak, toemaak en dra, ‘n TV-stel afskakel, sokkies in ‘n rak bêre en klavier asook ‘n potjie skaak speel.  Sy het nie al die skuiwe geken nie, maar sy kon sekerlik die stukke op die bord  rondstoot.

Sy kon ook ‘n bromponie ry, die kersies op ‘n verjaardagkoek doodblaas en op ‘n brug sit terwyl sy ‘n sak met inkopies met ‘n stuk tou na bo trek.

Princess Jacqueline, ‘n Amerikaanse bulterriervan die 30’s , kon gaste verwelkom met ‘n vriendelike “hello”. As hulle tot siens sê, het sy genooi: “Call again”.

Die hond van Mabel Robinson van Maine had, volgens veeartse, stembande soortgelyk aan dié van ‘n mens. Die mees ambisieuse woord in haar woordeskat van sowat 20 was “elevator”.

Ben, ‘n pratende hond van Royston in Hertfordshire, Engeland, se woordeskat  was meer beperk.  Hy kon slegs een sinnetjie uitkry: “I want one”.

In 1946 besluit die BBC Ben is dalk materiaal vir ‘n goeie onderhoud. Hulle stuur ‘n span joernaliste en klankingeneurs.

Die gesprek het soos volg verloop:

Stephen Grenfell van die BBC:  Wel, Ben, het jy enige kleintjies.

Ben: “I want one.”

Grenfell: Dan sal jy eers vir jou ‘n vrou moet kry.

Ben: “I want one. “

Hul onprodktiewe gesprek het ten minste die  koerant Mirror in staat gestel om met ’n klassieke ponieblad-opskrif op straat te kom: “DOG TELLS BBC HE WANTS A WIFE”!

(Uit: ‘n Vriend vir altyd – Honderde Hondestories deur Hennie van Deventer, Human & Rousseau, 2000).

 

NATNEUS-NUUSMAKERS

In Die Burger kry hondeliefhebbers (ook enkele katliefhebbers) die laaste ruk ‘n goeie kwota stories oor geleerde troeteldiere wat ook as “nuusdraers”uitblink. Gelukkige mense lees hul koerant soggens horisontaal met komplimente van ‘n getroue “Wagter” wat as vaste roetine as karweier ootree van hek tot bed.
Van al die “nuushonde” (in ‘n ander sin as die gewone) – en daar is werklik baie – was Tina, ‘n Skotse skaaphond van Yzerfontein waarskynlik ean van die doeltreffendste waarvan ek weet. ‘n Kwarteeu gelede was sy voorbladnuus en het ook ‘n boek met “honderde hondestories”gehaal.
Elke oggend het die kompetente sewejarige teef vir haar baas , Hannes Jordaan, sy Burger by ‘n kafee soat drie blokke ver gaan koop. Sy het ‘n sakkie gedra met die koerantgeld en ‘n rekkie. Die eienares – wat eers gemeen het die hond is darem baie voor op die wa – het die geld geneem en die rekkie gebruik om die “binngoed” van die koerant vas te bind.
Tina was bedrewe met die delikate raakvat van haar vrag. Dit is sonder skeurtjie tuis besorg.
Vir Jock, ‘n Staffordshire-bulterreier van Boksburg van dieselfde era, was die gaan haal van die koerant in die posbus maar een van sy take. Hy het behoorlik gebokspring om ook ander opdragte va sy baas, Steve Calitz, uit te voer.
Hy het sy baas geroep as die telefoon lui, sy skoene uitgetrek en sy pantoffels aangedra. Hy kon help om kruidenierspakkies uit die motor te laai, en kon selfs, op versoek, ‘n paar note op die klavier druk. Hy het elke mens in die huis se naam geken. Word hy gestuur om iemand te gaan haal, het hy altyd met die regte een aan die mou teruggekom.
Geen wonder nie dat sulke natneus-nuusmakers gereeld die koerant haal met hul bedrewenhede. Hulle verdien ‘so n spesiale hondehoekie soos op die foto.

MARTIE MEIRING: BEELD- EN BOSBROEDERSKAP

Miljoene woorde het in 50 – meer as 50 – vrugbare skryfjare uit Martie Retief-Meiring se tikmasjien / rekenaar gevloei.  Met een paragrafie   vereenselwig ek my 110 persent.  Dit was oor die bos-broederskap wat in my bos-toevlug Sabiepark heers.

Op 7 Februarie 1980 in Beeld skryf sy treffend: “Swart, wit, watter taal ook, watter stasie in die lewe ook, reik oor grense heen as hulle in hierdie atmosfeer van die bos saamsit om ’n vuurtjie, vertel van ’n spoor, onthou van toe die troppe groot en naby was, waarsku teen ’n luiperd wat baie naby aan die kamp rondbeweeg.”

Ek sou Sabiepark eers jare later, in 1988, ontdek. Net so het alles daar aangetref as wat my mede-Beeld-pionier dit in 1980 beskryf het. Uiteindelik was die Van Deventers en die Meirings se huise in Sabiepark net ‘n  klipgooi van mekaar. Albei bereik jy via Apiesdoring – en Wildevylaan.

Van hul huis, Meiringspoort op erf 267, staan drie herinneringe uit: die ruim dakstoep, die “blaker” en die vloed van 2000.  Die stoep is seker soos die een waarvandaan koning Dawid die skone Batseba afgeloer het toe sy bad. Van daardie stoep kyk jy ver tot binne die wildtuin oor die Sabierivier.

Sabieparkers kan nogal mededingend raak as hulle begin “stoepstories” vertel. Een spog met ’n watertand-luiperdstorie, ’n ander met ’n vertelling oor ‘n uiters seldsame voël hoog en droog in ’n oorhangende tak. Die prys vir die sonderlingste stoepervaring moet gaan aan Martie en ’n vriendin. Hul waarneming was in Martie se woorde “uniek, maar vreeslik tragies”.

Van daardie stoep het die twee vroue dopgehou hoe vlugtelinge uit Mosambiek die rivier probeer oorsteek. Voor hulle val ’n baba toe in die water. Hulle het magteloos aanskou hoe die ou rooi bondeltjie sommer net verdwyn. Later het soldate van die mense se goedjies gekry wat saam in die water beland het. Daaronder was foto’s van die familietjie voor hul hut in Mosambiek. Die baba was spoorloos.

By Meiringspoort het ek ook ‘n unieke “blaker” gesien. Die nekwerwels van ’n ontslape kameelperd het vir daardie doel ’n nuwe lewe gevind.  So ’n nekwerwel met ’n kersie lyk kompleet nes ’n engeltjie!

Met die Groot Vloed van 2000 het ek my uit Melkbos na Sabiepark gehaas vir ‘n inspeksie in loco. Een van die mees dramatiese gesigte was die Meirings se huis omring deur ‘n see van water.  Die Sabierivier het deur hom gevloei. Ek het ‘n foto daarvan. My eie was gelukkig droogvoets.

Martie se argitekman, Hannes, het hul anderster Moorse huis ontwerp –  anders as al die ander boshuise in die reservaat.  Hy was natuurlik ook die argitek van Beeld se eerste kantore in Doornfontein, Johannesburg.  ‘n Pakhuis is as ‘n tuiste vir die nuwe dagblad herontwerp. Op die manier het Hannes en Martie se paaie gekruis.

By Beeld het my en Martie se paaie ook gekruis. Op die eerste redaksiefoto wat in 1975 geneem is – hoekom nie in 1974 nie weet ek nie – sit ek en sy langs mekaar in die voorste ry (foto links). In daardie voorste ry is dit nou nog net Ton Vosloo, Ebbe Dommisse en ekself wat lewe. Voorheen oorlede is Johannes Grosskopf, Bob van Walsem, Piet Botma, Bob Lindsay en Lorna Vosloo. Mag hulle, en nou ook Martie,  in vrede rus.

By daardie koerant is ‘n kollegiale broederskap in die span gesmee (ook met die susters) wat tot vandag voortduur. Vir ‘n keer dat sy dit in uitdagende omstandighede uitgeleef het, bly ek haar veral dankbaar.

In 2009 is my boek Byl in my bos gepubliseer  – my herinneringe aan 130 mense wat reeds langboompies toe was (‘n lys wat al hoe vinniger groei). Die lysie in Byl sluit in politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël , wat vooruit is.  Dit is nie ‘n gedugte boek nie.

Die Burger het Byl nietemin vir Martie gegee om te resenseer.  Haar resensie was kollegiaal simpatiek ondanks gebreke wat ek goed besef.  Vir Crito van Litnet (later onthul as kollega Kerneels Breytenbach) was dit te dik vir ’n daalder.  Vir hom was die boekie te lig in die broek vir ‘n gerekende resensent soos kollega Martie.  Wyle Frits Gaum (ook pas oorlede) was in Kerkbode darem ook minder afwysend as Crito. Maar dit net terloops.

Wat ek eintlik op die hart het, is dat Martie se dood – minder as ‘n maand ná Beeld se 50ste verjaardag –  vir my soos min ander die verwisseling van generasies beklemtoon. Hoe lank nog, dan is ons almal weg en bestaan daardie era net op skrif.  Sic transit gloria mundi.