Oct 28, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van die reise in die natuurskone Amerikaanse ooskus in 1976 saam met my oorlede skrywervriend Hans du Plessis het ek gister vertel. Een van daardie reise was na die eilandjie met die tongknopernaam Chappaquiddick by Martha’s Vineyard aan die Cape Cod-kus van Massachusetts. Vandag vertel ek graag van die verloop van daardie ekskursie – en die afloop.
Chappaquiddick het toe minder as 200 permanente inwoners gehad. Dit was skaars ’n spikkeltjie op die kaart van die Amerikaanse New England-gebied. Twee keer kort ná mekaar was sy naam egter wêreldwyd op die voorblaaie.
Op 18 Julie 1969 het ’n insident op die eiland die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag in ’n ander koers gestuur. ’n Lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, het in skande tot ’n val gekom.
Ted (37), broer van die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) wat deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is, het met ’n mooi verpleegster, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty weggery en met sy deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons. Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink (net agt dae voor haar 29ste verjaardag). Die skandaal het die land geruk.
Ses jaar later, in 1975, het rolprentmaker Steven Spielberg sy skrikmaak-rolprent Jaws op Martha’s Vineyard kom vervaardig. Die storie is van ’n fiktiewe monster-mensevreterhaai met verskriklike tande wat ’n ewe fiktiewe vakansiedorpie, “Amity Island”, terroriseer. Daardie haai het verskrikte rolprentkykers hul speedo’s en bikini’s liewer ’n ruk laat wegpak.
Die befaamde Cape Cod-kus – dus ook die eiland Martha’s Vineyard met sy tweeling-eilandjies, Nantucket en die in-die-nuus Chappaquiddick, was van Cambridge af maklik bereikbaar vir ‘n naweek. Van die universiteitsdorp – net oorkant die Charlesrivier van die makrostad Boston – is dit iets soos 120 kilometer. Die laaste been van die reis tot by Edgartown 11 kilometer van die kus, behels ’n vaart van twee uur met ’n groot veerboot. Van Edgartown is Chappaquiddick net ’n klipgooi met ’n heelwat kleiner model.
‘n Naweek in September in die Amerikaanse “Fall”, terwyl die laaste herfsblare van die akkerbome en essenhoute nog skouspelagtig aan die bome hang, is ons en graswewenaar Hans op ’n “speurtog” die verlede in.
Eerste op ons naweekprogram was die spore van Spielberg en sy monstervis op “Amity Island”. Die buurdorpe Edgartown en Oak Bluffs, bekend om sy gekartelde “gemmerbrood”-houthuisies, vorm saam die fiktiewe eiland.
Daarna is die onuitwisbare spore van Ted en Mary Jo gevolg op Chappaquiddick, ’n lappie grond wat van tyd tot tyd ’n skiereilandjie van Edgartown is wat met kragtige vier-by-viers bereik kan word. Orkane en ander ekstreme weerverskynsels sorg dat dié oorlandse besoeke nie gereeld kan gebeur nie. Amptelik is Chappaquiddick dus ’n eiland.

Opstaantyd.
Vir ’n eiland-inspeksie in loco het die veerbootjie On Time II in die hawe gewag om ons die laaste 160 meter tot daar te bring. (Daar is ook ’n On Time III wat somermaande bykom.) Soos uit die naam blyk, was die On Time altyd “betyds”. Geen vaste skedule het bestaan nie. Daarom kon die “veerboot” nooit vroeg of laat wees nie.
Die diens was na behoefte, buiten laataand. Sodra drie motors wag, kies ’n “On Time” koers. Mense, fietse en motors is elke dag dosyne kere vir ’n skamele paar dollar droogvoets by hul bestemming besorg. Die plaaslike troetelnaam was die “Chappy”. Dit kom natuurlik van Chappaquiddick.
In ’n koffietafelboek, The Chappy Ferry Book, wat oral op Martha’s Vineyard trots uitgestal was, beskryf die outeur, Tom Dunlop, die tweeling-bote dalk ietwat hiperbolies as “the most unusual, hardest working, and best known ferries on earth”.
Die “Chappy” se aansprake op sulke lof sluit in dat dit 37 jaar deur ’n blinde besit en bedryf is; al deur ’n ligte vliegtuig getref is; op die water in vlamme uitgebars het, en tydens ’n orkaan gesink het. ’n Baba is amper op die kort vaart gebore en ’n motor het al van die dek gerol. Al hierdie boeiende en merkwaardige inligting kom uit die Ferry-boek.
Op ’n Saterdag in September 1976 het die Gideonsbendetjie uit die verre Suid-Afrika die “most unusual ferry” bestyg. Nooit tevore was een van ons met ’n motor so ’n oop, klein veerbootjie op nie, en almal was nogal senuweeagtig, veral die bestuurder. ’n Man wil nie in die vreemde skande maak en skielik à la Kennedy in die water beland nie!
Ba-a-a-i-e versigtig en ba-a-a-a-i-e stadig het ek my Amerikaanse Japanner met sy linkerstuur oor die laaste hobbeltjie voor die luierende vaartuig bestuur. Vriend Hans moes beduie: bietjie links, bietjie regs.

Slaapplek in ‘n agterplaas.
Hy was ons navigator. Met ’n padkaart in sy hande sou ons daarna die eiland deurkruis op soek na die gehuurde partytjiehuis waar Kennedy en Mary Jo die aand om 23:05 weg is, sogenaamd dat sy nog die laaste veerboot kon haal (onverklaarbaar sonder haar handsak!); na die enkelbaan-bruggie waar Kennedy (raaiselagtig!) verkeerd sou gedraai het; na die plek waar haar lyk die volgende oggend ná tien ure uit die wrak in die vlak water geduik is; asook na die plek waar Kennedy, volgens hom, oor die kanaal geswem het voordat hy om 02:00 “gedaan” by sy hotel in Edgartown opgedaag en in ’n “diep slaap” geval het.
Oor die partytjiehuis was ek onseker. Op Chappaquiddick was, klein soos dit was, geen tekort aan herewonings nie. En in 1976 was GPS’e natuurlik nog nie eens ’n vonkel in iemand se oog nie. Die ander bakens is almal opgespoor, glo ek. Dowwerige foto’s is geneem, byvoorbeeld van die kinders by die Dikebrug waar die kragtige Olds afgestort het
Vir die spannetjie Suid-Afrikaners het die uitstappie onplesierig geëindig. Die vorige aand het ons in die Nickerson State Park op Martha’s Vineyard ’n aangename staanplek vir die Corona uiters billik te hure gekry. ’n Netjiese ablusieblok was byderhand. Op Chappaquiddick was ons harte gou in ons stapstewels. By elke moontlike slaapplek was ’n teken op: “Closed for the winter”.
Nou ja, Amerikaanse winters kan ysingwekkend wees. Hier moes ons aan ons eie lywe voel hoe vroeg party Amerikaners hulle vir die lang, bitter koue sneeuseisoen begin regskud. Daar sit ons toe soos pietsnotte, onseker oor die “Chappy” se kom en gaan, maar ook ongretig om ons “speurtog” vroegtydig af te las.
Parkering was oral dreigend verbied: “Don’t even consider it.” Ook die volgende onaangename waarskuwing was op ’n kennisgewing: “Violators will be towed”. Toe moet ons maar rondry totdat dit goed donker is. Onder ’n akkerboom langs ’n leë houthuis het ek die Corona parkeer – nogal met ’n lekker omheinde agterplaas vir nagtelike lopies.
In die middel van ’n diep slaap het iets hard geknal. Dit was soos ’n geweerskoot. Die polisie! Dit was my eerste gedagte. ’n Ekskusie in my beste Amerikaanse Engels is vinnig voorberei. Niks het egter gebeur nie. Die skuldige is deur ’n ondersoek aan die lig gebring: ’n moedswillige akker!
Die gesin Van Deventer krul ons toe weer sardientjiestyl op agter in die stasiewa, trek ons gordyntjies toe en slaap onrustig voort todat die lus vir boeretroos ons vroegoggend kaai toe dryf. Hans agter die stuurwiel kon, volgens sy misnoegde mededeling, geen oog weer toemaak nie. Dit was sy laaste aand in die Merk II. Daarna was dit ‘n motel vir hom.
So het die voordelige sisteem ontwikkel dat ons die wiele verskaf, Hans die badkamer. Soos ek gister gemeld het, daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.
Oct 26, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die digbundel “Kleinwild” (HAUM, 1978) was Hans du Plessis se heel eerste gepubliseerde skryfwerk (meen ek). Voorin die eksemplaar in my studeerkamer het hy geskryf: (die vers) “Halloween” is vir julle. Julle was by toe hy gebore is!
Inderdaad was ek en Tokkie en ons kinders, Johan en Marisa, in die omtrek. Dit was in 1976 in Amerika. Halloween is daardie jaar op 31 Oktober gevier – amper dag en datum 48 jaar voor sy skielike afsterwe gister op Potchefstroom kort voor sy 80ste veraardag in Januarie. Ons spannetjie Suid-Afrikaners het ons in Cambridge, Massachusetts, verkyk aan die ongekende magdom pampoenspoke oral.
Die Van Deventers en die wellewende Hans het groot maats geword nadat hy ‘n maand of wat tevore op ‘n dag onverwags saam met besoekers uit Suid-Afrika by ons beskeie woonstelletjie in Crimson Court in Harvard Street opgedaag het.
Hy het die egpaar, twee Potchefstromers, op die hoek voor die moltreinstasie Harvard Square hoor Afrikaans praat, homself voorgestel en saam kom kennis maak. Magdaleen en die kinders was in Suid-Afrika en die graswewenaar maar bra eensaam in sy losieskamer.
Hans was ‘n nagraadse student aan MIT (Massachusetts Institute for Technology) en ek ‘n Niemangenoot by Harvard. ‘n Hegte vriendskap het vinnig koersgevat. Naweke is ons in my gebruikte 1972-model Toyota Corona Merk II-stasiewa saam op verkenningstogte New England binne.
Hy was ook ‘n betroubare babawagter … in ruil vir Tokkie se lekker Boerekos. Johan was toe vyf en Marisa wat Hans juis na aanleiding van die Halloween-gedoente Pampoenspokie gedoop het, ‘n energieke drie. Hulle het gou lief geword vir Oom Hans met sy stories, presentjies en nog wat.
’n Keer of wat was Hans selfs ‘n oornaggas in die stasiewa. Ons gesin was agterin soos sardientjies ingepak; hy het hom agter die stuurwiel ingewikkel. Soggens was sy litte maar stram. Op ‘n besoek aan die skilderagtige Cape Cod besluit hy een oggend: tot hiertoe en nie verder nie. Toe gaan soek hy ’n motel.
Só ontwikkel ’n voordelige sisteem. Op alle uitstappies daarna verskaf ons die wiele, Hans die badkamer. Ons parkeer gerieflik by sy kamerdeur. Daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.
Oor Hans sal daar vele kundige huldeblyke wees wat sy enorme bydrae tot Afrikaans en ons literatuur gesaghebbend sal ontleed. Ek waag my nie daaraan nie. Net een iets wil ek in hierdie opsig kwytraak. Dit is oor sy Griekwapsalms wat dermate volksbesit geword het dat baie die herkoms vergeet.
Oral duik sy werk op – by Kerssangdienste en selfs op kopkussings en tafeldoeke – sonder enige vermelding van die digter, asof dit sommer net uit die lug geval het of vir altyd bestaan het. Nie-erkenning is natuurlik in geen omstandighede goed te praat nie, maar in sy geval tog ‘n soort omgekeerde “eer” wat min beskore is, meen ek.
Oor die warmte van sy besonderse menswees sal ‘n hoop getuienis opstapel. Ek steek my hand geesdriftig op om ook raakgesien te word wanneer ek vrymoedig wil verklaar dat Hans du Plessis die soort vriend was waarvoor elkeen wat hom geken het, deur die vuur sou loop. Dat hy ‘n vyand op aarde gehad het, lyk vir die waarnemer uiters onwaarskynlik.
Die foto hierby is in 2016 by die Proteaboekwinkel op Stellenbosch geneem met die bekendstelling van sy boek “Tussen die klippe”. Die fotograaf, Tokkie, se lakonieke kommentaar was: Julle twee sal nie meer in een motor kan slaap nie. Kan nie stry nie.
Naskrif:
Halloween
Ek voel jou oë huil /nat oor my warm wang / as ons mekaar/ soms / in die lig /agter hierdie maskers vang
Want hoe lank al speel ek en jy / aan hierdie ou spel
Waar die hol pampoen / alleen kan sonde doen.
Oct 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die Uile van Kranskop is eintlik die Uile van Volkies. Dit het ek – self ‘n oud-Volkie van Potchefstroom – darem so half en half geweet. Vandag het ek die bevestiging gekry in Erika Terblanche se ATKV|LitNet-Skrywersalbum oor die vrugbare jeugverhaalskrywer.
Uit Erika se profiel – so omvattend en insiggewend soos altyd – kom ek toe sommer ‘n paar nuwe brokkies te wete, soos dat Dirks koshuisvader was van Jack Pauw – die koshuis waarin ek self vier vervullende jare geslyt het, van 1954 tot 1957.
Verder: Vaatjie – een van die Uile – was in die werklike lewe Vaatjie Botha. Ek het geglo die ou grote was Vaatjie du Toit wat in matriek was toe ek in 1953 in standerd ses op Volkies aangekom het – die eerste jaar nie as koshuiskind nie.
Hoe klein die wêreld is, kom ek weer agter toe ek lees dat dr. Justus Dirks Cor Dirks se seun was. My magtig. Justus was saam met my in Kollegetehuis aan Tukkies. Ons was ‘n paar keer die vleuels in dieselfde koshuisspan. En ek wis nie sy pa was die skepper van Die Uile van Kranskop wat ek in standerd vyf so verslind het, en sy opvolgers nie.
Die gesoute onderwysman en gewild skrywer van jeugverhale was van begin 1938 af leerkrag by die Volkies (die Hoër Volkskool), hoofsaaklik as geskiedenisonderwyser, maar ook vir Afrikaans. Hier was hy dertien jaar lank werksaam. Hy het afgetree as hoof van die Hoërskool Linden in Johannesburg.
Hy was self lank in ’n koshuis en was ook koshuisvader van Jack Pauw. “Dit het gesorg dat ek die jong knape se streke baie goed leer ken het, en toe ek eers begin boeke skryf het, het ek sommer nog ’n paar streke uit my eie verbeelding bygevoeg,” haal Erika Terblanche hom aan.
Terwyl hy skoolgehou het, het Cor nooit in skooltyd geskryf nie, maar altyd in die vakansies en het later só geoefend geraak dat hy sommige boeke sommer in tien dae kon klaar skryf. Ander het ’n bietjie meer werk geverg en moes dan maar tot die volgende vakansie oorstaan.
Die Uile van Kranskop, wat in 1949 verskyn het, was die eerste in ’n reeks van dertien boeke wat die wel en wee van ’n bende van standerd ses tot in die militêre akademie gevolg het. Van 1992 tot 1996 is die Uile-reeks in vier omnibusse deur Perskor uitgegee.
Gretel Wÿbenga het oor Die Uile-omnibus 1 die volgende kommentaar gelewer: “In ‘n tyd toe Afrikaanse kinderboeke min was, lank voor die televisie alle leestyd opgeslurp het, het kinders gefloreer op Die Uile-boeke. Hierdie boeke was inderdaad kop en skouers beter as die ander reekse van dié tyd (die jare vyftig, so om en by), soos die Keurboslaan- en Maasdorp-boeke of die Saartjie- en Trompie-reekse.
“Ag, die bekoring darem van daardie geheimsinnige ge-‘hoe-hoe’ van die vyf bendelede: die sterk en goeie leier, Philip; ronde Vaatjie, petieterige en bebrilde Jorsie (die’’nerd’ in vandag se terme); hakkelende Hennie en Berrie.
Cor Dirks is op Sondag 15 Oktober 2000 ná ’n siekte van twee maande op Barberton, Mpumalanga, by sy seun, die nimlike dr. Justus Dirks, oorlede. Hy was daar om ná ‘n heupoperasie aan te sterk.
Hoewel Dirks meer as 40 boeke geskryf het, het hy in sy lewe min erkenning ontvang. Die jaar voor sy dood is ’n Akademie-oorkonde op die Aardklopfees op Potchefstroom aan hom oorhandig. “Ons was so bly dat hy darem ’n bietjie erkenning gekry het,” het sy dogter gesê. “En die lekkerste was dat dit oorhandig is deur een van die Uile, Vaatjie Botha.”
In daardie stadium het twee ander Uile nog geleef – Flip (in die werklike lewe dr Philip Smith) en Hennie Pretorius (eintlik Putter).
Hoe ‘n lekker band ervaar ek nie opnuut met my liewe skool daar tussen die rotskoppies en doringbome langs die Mooirivier nie wanneer ek so van die Uile, hul skool, hul koshuis en hul skepper lees.
Oct 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Watter meisie is die mooiste? Watter lied? Watter wyn is die lekkerste? Watter motor is die betroubaarste?
Eindelose debatte kan hieroor gevoer word.
‘n Soortgelyke debat in die kleine steek kop uit in Die Burger rondom ‘n nogal gewigtige vraag: Wat is die mooiste liefdesgedig in Afrikaans.
Twee is al op die tafel gesit. Die eer kom toe aan Boerneef se “Die Berggans Het ‘n Veer Laat Val”” meen oud-kollega en rubriekskrywer Wilhelm Jordaan wie se oordeel in sulke sake ek hoog aanslaan. Nee, laat weet Engela Retief vandag in ‘n SMS. Sy waag om te verskil. “Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” van Breyten Breytenbach verdien die ereplek.
Die verse is albei verskriklik mooi en die digters meesters van die woord, reken ek. Maar wat van AG Visser? Met die vraag verklap ek natuurlik my ouderdom. Geen liefdesvers het my egter nog ooit weer so onmiddellik bekoor en lewenslank betower soos die “sanger van Heidelbergrand” se “Rosa Rosarum” nie.
“ Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag …”
Met die woorde het ek die eerste keer kennis gemaak in die Afrikaansklas van mnr. ZB (Zagrys) Naudé in standerd agt (meen ek) in 1955 aan Volkies op Potch. Soos niks anders wat ek op skool geleer het nie, het dit in my kop kom vassit.
Dis woorde wat huppel en sing, wat ‘n sekere verleidelikheid inhou, wat jou laat droom.
Vir ‘n parmantige meisiekind in standerd ses met die kortste rokkies in die skool het ek daardie selfde middag nog ‘n briefie met die volledige “Rosa Rosarum” as romantiese hoogtepunt van die koshuis Jack Pauw af na die meisiekoshuis Ons Hoop laat “koerier”. Sal ek vergeet hoe liefies sy vir my geglimlag het toe ek haar die volgende dag op die hoofgebou se trappe raakloop?
So meegevoer was die 14-jarige 70 jaar gelede dat hy homself wou-wou verbeel hy is ‘n ontluikende AG Visser 2. In standerd agt was in die jaarblad ‘n vers uit my pen onder die titel “Verlange”:
“Vanaand is ‘n aand van verlange, dit spreek uit die aanwind se lied,
“Dit spreek uit ‘n wolklose hemel waar ‘n eensame ster nog verskiet ….”
Verder as die skool se jaarblad het AG Visser 2 ongelukkig nie gekom nie . Lied … verskiet … verdriet – rymwoorde soos hierdie is eenvoudig nie vir poësiekenners ewe aangrypend as vir verliefde skoolkinders nie.
Oct 23, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vir party kom dit eerste – ander bêre die lekkerste vir laaste. Of ‘n mens my jou humor voor of ná die erns verkies – geen leser van Finansies & Tegniek slaan die rubriek Duwweltjie oor nie.
So het die uitgewer JL van Schaik in 1996 sy boek ‘’Duwweltjie – 10 jaar se beste grappe’’ bekend gestel. Hy noem dit ‘n puntige versameling en ‘n uitkoms vir elkeen wat soms ’n sedige ys moet breek.
Ek het gister vlugtig na die boek verwys rakende die bikininooi / polonooi Berdine Odendaal se eis teen die Resewebank oor die vereemding van aansienlike bates (geen bybedoeling nie) wat sy na bewering uit ‘n skelm verhouding met Steinhoff se Marcus Jooste verkry het.
Toe gaan haal ek vinnig die leertjie in die spens om my eksemplaar in my humorversameling op die boonste rak in die studeerkamer by te kom (humor uit die boonste rakke as’t ware). Daarna verlustig ek my opnuut in die 493 grappe / stories/ staaltjies / anekdotes wat in 144 bladsye opgeteken is.
Met verskyning van die boek was Gert Marais redakteur. Duwweltjie kom egter al uit die eerste redakteur, Salie de Swardt, se dae. Hy was ‘n man met ‘n borrelende humorsin. Ek glo hyself was die vader en vroedvrou van Duwweltjie.
Die vermoede word versterk deur ‘n stewige kwota stories uit koerante waaroor ek en hy saam gelag het as ons in die jare 70 uit die noordwestelike voorstede van Johannesburg Beeld in Doornfontein toe ry. Ons was geruime tyd ‘n plesierige tweeman-saamryspan.
Salie had ‘n fyn oog vir onder meer die drukkersduiwel se dinge wat tot stuitige brokkies in F&T kon lei. So het by eendag met behae in die Rand Daily Mail (dink ek) raakgelees dat Dawie de Villiers (oud-dominee nogal) weens ‘n ongelukkige setfoutjie “the minister of pubic enterprises” genoem word. Salie het geskud van die lag oor wat so ‘n minister se take als sou behels.
‘n Volksbladstorie wat ek hom vertel het en wat as anker vir ‘n hoofstuk oor “vleeslikhede” dien, handel oor fotograaf Willem van der Walt wat by ‘n dominee wou weet waar die dorp se terte is. Die leraar het stamelend geantwoord daar is “n paar onderwyseressies maar hulle is almal met vakansie”.
Enkele juwele van plattelandse korrespondente (korries) het die boek gehaal.
Dit sluit die volgende in:
• Met behulp van die dokter het die drenkeling sy bewusteloosheid teruggekry.
• Die finansiele sukses (van ‘n opvoering) was ‘n mislukking.
• Van die leerlinge wat in st. 8 geslaag het, het almal behalwe een deurgekom.
• Ons beste wense vergesel die heengaan van die twee (vertrekkende) gesinne.
• Mnr. X van die plaas Putfontein en mev. Y van die plaas Tergniet is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wense nie.
En reken: ek het nooit ‘n sent tantieme gekry nie!