Sep 28, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Met my rondkrappery vir resensies en allerlei kommentare op boeke uit my pen, ontdek ek, nogal verrassend, dat oor een boek meer mooi dinge deur meer mense kwytgeraak is as oor elke ander een van die 25 of so. Dit is Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman. Selfs die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het my genooi om oor hom te kom praat op Stellenbosch.
Maar pryse ingepalm? Rekord-verkope behaal? Aikona. Resensies en dies meer is nie noodwendig ‘n barometer vir ‘n boek se welslae nie, het ek geleer. Slim, vindingryke bemarking is dikwels deurslaggewend.
‘n Tweede ontdekking, nie so verrassend nie, is dat ek veral aan die begin maar agtelosig was met my rekord-houding. Ek wens vandag ek was ook ‘n plakboekmaker, soos kollega Herman le Roux. Eintlik het ek maar min om te wys.
Om skrywes in laaie en leggers te gaan uitkrap, was nie om vir my of vir iemand anders iets te probeer bewys nie – ook nie om ‘n oordeel te vel wat my beste boeke of slegste boeke was nie. (Crito van Litnet – nou ontmasker as Kerneels Breytenbach, soos ek al lank vermoed het – sal waarskynlik bevind hulle was almal maar sleg!)
Nee, ek is vir al my boeke ewe lief – goed of sleg en ongeag hoe die ontvangs was. Selfs van die “lelike eendjies” staan ek nie weg nie, al moes ek sulke slae verduur soos Crito se oordeel dat ek hopeloos te lief is vir die eie ek. Daaraan kleef ook nou weer ‘n storie. Ek kom daarby.
Met my debuut, Scoops en skandes in 1993, het die gedugte Charles Fryer, sy redakteur, my die eer aangedoen om oor die koeranthumor daarin ‘n Saterdaghoofartikel vir Die Burger te skryf. Die hoofartikel hang geraam in my woonkamer op Melkbos. Die opskrif: Plesierige stories. Daaraan had ek groot plesier.
Huisgenoot had daardie tyd elke week ‘n sogenaamd Sterboek. My vier boeke by NB-uitgewers (twee by Tafelberg en twee by Human & Rousseau) was al vier Sterboeke, as ek reg onthou. Tot my genoegdoening.
Oor my boek nommer twee, Flaters en kraters, was daar ’n resensie deur Abraham van Zyl in Die Burger. Daaroor was daar ‘n oproep van PW Botha uit die Wildernis. Die oproep was die eerste woorde tussen ons vir ‘n lang, lang ruk.
Die rede was ‘n lughartige verwysing na Botha se kortstondige joernalistieke avontuurtjie. Ek het vertel van die raad wat wyle Skakel Kriek hom glo destyds by Die Volksblad gegee het: dat hy liewer iets anders moet gaan doen; vir die joernalistiek is hy ongelukkig nie uitgeknip nie! Van Zyl noem dit toe in sy resensie.
Toe ek die bekende forse stem aan die ander kant van die draad hoor, het ek nie dadelik besef dis bakleityd nie. “Lanklaas van u gehoor. Hoe gaan dit met u? Hoe gaan dit met Mev. Botha?” wou ek verras weet. Die persoonlike belangstelling het die wind so effens uit sy seile geneem.
Maar toe kom dit met dieselfde strydlustigheid van vroeër: “Kyk man, dis mos beledigend om te beweer dat ek nie goed genoeg vir die joernalistiek was nie. Ek doen jou niks. Hoekom soek jy aanhoudend skoor?” Boem!
Ek skryf toe maar ‘n vriendelike briefie en verduidelik daar was werklik geen kwade bedoelinge nie; Flaters en Kraters is nie ‘n ernstige boek met waarde-oordele van historiese betekenis nie; dis maar net ‘n bietjie skerts soos hy en Oom Skakel self oor en weer oor daardie episode geskerts het.
Die antwoord uit Wildernis was darem in ‘n versoenender trant as die oproep ‒ en daardie strydbyl is sonder te veel inspanning ter ruste gelê. Dit het nogtans verras toe ek in November 1997 in die rubriek Pollux in Rapport ‘n ligte brokkie oor die omstrede Oom Skakel-storietjie raaklees ‒ bevestig deur die nimlike Botha self.
My biografiese boekie oor my Volksblad-jare, Kroniek van ‘n koerantman, belig seker die onstuimigste dekade in die Afrikanerpolitiek. Oor die boek was ook heelwat onstuimigheid. H & R en Tafelberg sou dit gesamentlik publiseer. H & R het egter so voete gesleep dat die perse al met ‘n selfpublikasie aan die rol was voordat ek die ja-woord gekry het – helaas, te laat.
Oor H & R se traagheid het harde woorde tussen Ton Vosloo en Kerneels Breytenbach geval. Dis ‘n geskiedenis wat telkens by my opkom as ek aan Crito se negatiwiteit oor my skryfwerk dink.
My jonger kollega en vriend Tobie Wiese het in die tydskrif Insig ‘n skerperige resensie geskryf. Sy oordeel was dat daar nou agter elke bossie ‘n hervormer uitspring wat meen dat hy ‘n betekenisvolle bydrae tot die afskeid aan apartheid gespeel het. Ek wens ek kon die resensie opspoor. Hy verdien plek in hierdie versameling. Dat tussen my en Tobie daaroor krapperigheid was (verlede tyd), sal ek nie ontken nie. O.a. Engelse kommentators het Die Volksblad se rol nogal hoog aangeslaan.
Lojale kollega Sarel Venter – seker die heel lojaalste kollega – het later in ‘n koerantbrief en ‘n private brief die wens uitgespreek dat ‘n PhD-kandidaat ‘n studie moet maak van die invloed wat die uwe en Die Volksblad gehad het in die aanloop tot die nuwe SA. Dankie, Sarel.
Ook die latere In Kamera was in ‘n biografiese trant. Oor sy strekking het Max du Preez, ‘n knap verslaggewer in die eerste Beeld-span, sy mond heelwat erger as Tobie uitgespoel. ‘n Interessante oefening in die resensiekuns was dié van prof. FA Mouton van Unisa wat Du Preez se Pale Native en my In Kamera in jukstaposisie plaas. Sy bevindings plaas Du Preez se tirades in pespektief, meen ek.
Deels biografies is Byl in my bos – my herinneringe aan 130 mense wat reeds langboompies toe is, ‘n lys wat al hoe vinniger groei. Die lysie sluit in politieke leiers, kollegas en allerlei groot geeste met wie ente saamgestap is. Ook oor geliefdes in eie gesins- en familiekring, gerespekteerde onderwysers, hegte skool- en studentemaats. vriende, selfs ‘n getroue tuinman, Daniël , wat vooruit is.
Die karakter van die boek is anekdoties. Tradisionele, volledige “grafskrifte” soos in koerante ontbreek grootliks. Humor ontbreek nie – anders sou ‘n boek oor die dode darem dodelik vervelig kon gewees het!
Die Burger het die boek vir Martie Retief-Meiring gegee om te resenseer. Haar resensie is in die versameling. Vir Crito was dit nog ‘n geleentheid om my by te kom. Vir hom was die boekie te lig in die broek vir ‘n resensent soos kollega Martie. Frits Gaum in Kerkbode was darem minder afwysend.
My boeke is rofweg van vier kategorieë: biografies, koerante, reis en die bos. In al die kategorieë is erns en humor. My eerste twee koerantboeke is suiwer humor. So ook my reisboek Oos, wes – reismoles en die bundel Praat-praat in Tamatiestraat. Ek waag graag my hand aan humor. Dat Johan van Wyk van Stop van Myne-faam van die humor positief beleef het, het ek as kompliment gesien, Ongelukkig is sy skrywes meesal op Netwerk24 te vinde. Ek kan dit derhalwe ongelukkig nie aflaai en druk nie. Internetsoektogte lewer egter wedersydse komplimente op, veral van my vir hom.
Een boek buite die gewone bestek van Van Deventer-temas is ‘n Vriend vir altyd – honderde hondestories. Ek onthou dat Thys Uys dit in Beeld geresenseer het. Hy het daarvan gehou. Ek kry sy resensie nêrens.
In die reiskategorie val buiten Reismoles ook Na verre hawens, ‘n boek oor die Van Deventers se passie vir bootvaarte. Ek het nogal gevlei gevoel dat Ernst Grundling, koning van staptoere, die boek in Weg aanbeveel het.
Feitlik al my bosboeke is Sabiepark-verwant. Resensies is meesal meelewend gunstig. Die genoeglikste vir my was Anton J Jansen se spontane Amazon-resensie oor Spore in die bos, die verwerkte e-boek van Mayafudi wat in Afrikaans en Engels verskyn het. Gelukkig het ek sy lofbetuiging raakgeloop. Veral sy mededeling oor hoe my olifantbul se avonture sy Chinese klas in Taiwan geboei het, het lekker op my oor geval.
Dat die gerekende Francois Bekker my bydrae oor Sabiepark se kameelperde tussen 56 ander in die Proteabundel Hierdie land raakgesien het en aangegryp is, tel ek ook as plus.
Van die jongste in die bos-kategorie, Bure van nature, is taamlik wyd kennis geneem. Ek het geen kritiek gelees nie. Tog was die verkope teleurstellend. Ek skryf dit daaraan toe dat Protea nie daarin kon slaag om die boek in die wildtuin op die rak te kry nie. Francois Smith se Kamphoer was wel. Dit is blykbaar deur die keurder gelees as Kamp hoër.
Resensies oor my bosboeke was “meesal meelewend gunstig””, skryf ek hierbo. Nie so nie met Cecile Cilliers se taksering van Mayafudi. Die foto’s is darem mooi, het sy gemeen!
Oor koerante is my bydrae die volgende: Scoops en skandes, Flaters en kraters, Kroniek van ’n koerantman, In kamera, Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman, Koerant, Koerantkamerade en Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord.
Oor die agt boeke het lojale Sarel gereeld op Litnet lesersindrukke bygedra, het mense soos Herman Lategan en Naomi Meyer met my Litnet-onderhoude gevoer en is heelwat van op webblaaie soos Mediamense en Nagkantoor kennis geneem.
My eerlike gevoel is een van teleurstelling dat die koerante self maar skraps aandag gegee het. Dit handel immers oor hulle. Dalk het hul hantering ‘n politieke oorsprong. Ons generasie word mos maar as verleentheid-skeppende meelopers in die apartheidsera gesien. Sal ek vergeet dat Tim du Plessis, toe redakteur van Rapport, my destyds ewe bedagsaam oor In Kamera gebel het. Sy boekeredakteur, Sonja Loots, het besluit om dit nie te resenseer nie. Hy weet ek gaan nie daarvan hou nie, maar dis nou soos dit is.
Nou-ja, ek het inderdaad nie daarvan gehou nie. ‘n Troos was die geselskap waarin ek my in me Loots se oë bevind het. Sy het net ‘n rukkie tevore kans gesien om onder die “verkrampte” Piet Cillié in te vlieg na aanleiding van Jaap Steyn se biografie, Pennevegter.
Dalk dink die koerante, soos Ton Vosloo, dat ek darem al te veel storietjies opgedis het en dat die tyd al ryp was vir ‘n omvattende memoire. In sy kommentaar op Koerant het hy dit so gestel: “Jy het nou al ‘n reeks boeke die lig laat sien, ‘n hele oeuvre! Sou jy kans sien om dit alles te omvat in jou memoire? Ek dink jy het dit in jou om benewens die kort herinneringe, dit alles te vervleg in ‘n waardevolle boek oor die Afrikaanse leef-en mediawereld.”
Dit laat ek liefs by my verbygaan. Om ‘n uitgewer te gaan soek, is al ‘n gedagte wat my laat sidder.
‘n Ongelukkige sameloop van omstandighede was dat prof. Arrie de Beer oorlede is nadat hy van Jo Prins van Media24 die opdrag ontvang het om Koerantkamerade te resenseer. Trouens die boek – ‘n magnum opus, volgens Sarel Venter – was reeds in sy besit. Met sy dood het alles net doodgeloop.
Nou-ja, so krummel die koekie. Maar ek kla nie. Inteendeel is ek maar te dankbaar vir die buiginkies wat daar wel was.
Sep 18, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die Krugerhek van die Wildtuin is die poort tot ‘n natuurparadys – ook ‘n simboliese poort tot sielerus en ‘n volkome breuk met die daaglikse sleur van die “beskawing”.
Bedink die opwinding om by die bedrywige hoofhek van die park deur olifante of renosters verwelkom te word of dat ‘n spannetjie leeus jou vaskeer terwyl hulle ‘n troppie rooibokkies bekruip en toeriste se voertuie vernuftig as skanse inspan. Dit gebeur nie elke dag nie, maar dit gebeur wel. Gelukkige toeriste het die foto’s.
Enigeen van die Vyf Grotes – leeu, luiperd, olifant, renoster en buffel – asook die nie-amptelike sesde, wildehond, kan jy net duskant of net anderkant die hek teenkom. Ook allerlei konfrontasies en diere-insidente.
Voorbeeld: kort voor sluitingstyd in ‘n skoolvakansie dam voertuie net binne die hek ongekend op. Veldwagters staan oral met gewere gewapen. Toe sien ons die rede: ses leeus is in die sterk skemer agter ‘n troppie rooibokkies aan, wat agter die hek wei. Die motors verskaf gerieflike skuiling, en word vernuftig as skanse ingespan. Ons kon ongelukkig nie wag om te sien of die jagters welslae behaal nie.
Dat die Krugerhek en die private natuurreservaat Sabiepark se hek as’t ware bure is – net twee kilometer uit mekaar – skep vir ‘n Sabieparker die potensiaal van droom-ervarings as ‘t ware op sy drumpel. En Sabiepark is die plek waarheen ek al ‘n kwarteeu lank vir die Kaapse winter vlug. Deur daardie hek is ek al honderde kere. En elke keer hou ek die kamera byderhand.
My selfoon lui een oggend terwyl ek kaalvoet op my stoep koffie drink. ‘n Vriend op pad Hazyview toe, via die Wildtuin, rapporteer agt leeus op die teerpad, net ‘n kilometer binne die hek. Nege minute later later klik my Canon … en klik … en klik.
‘n Uur lank behoort die pad daardie oggend aan “Koning Leeu” se manskappe. Elke motor word besnuffel en besnuif. ‘n Verkeersvoertuig wat dwars geparkeer staan, word intensief geïnspekteer! Die leeus val uiteindelik in die pad hek toe met ‘n konvooi voertuie agterna. Net voor die hek kom ‘n motor darem te naby. Die groot katte swaai veld-in, buite sig.
Om só gou op die toneel te wees, is natuurlik ‘n uitsonderlike bonus van die voorreg om Sabieparker te wees. Waar anders kan jy, nadat jy op jou eie stoep nog gou eers jou skoene aangeslof het, binne tien minute in die Krugerwildtuin stilhou, tussen die olifante, langs die leeus, onder die boom waarin die luiperd skuil? Op geen ander plek op aarde aan my bekend, is dié voorreg ‘n doodgewone mens beskore nie.
As jy wakker en gelukkig is, kan jou Wildtuin-ervaring begin selfs voordat jy die Kruger binnery. Dit is raadsaam om stadig en rondkyk-rondkyk te ry sodra jy die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik.
Allerlei verrassings is moontlik, byvoorbeeld ‘n klomp olifante plas uitbundig in die water, ‘n trop van by die duisend buffels steek lui-lui die rivier oor, ‘n streep drawwende wildehonde (daar is selfs ‘n waarskuwende padteken!) , ‘n leeumamma met ‘n welpie in die bek of ‘n luiperd in ‘n rumoerigheid met bobbejane – ‘n gelukkie wat ons een Sondagoggend op pad Skukuzakerk toe oorgekom het. Amper was ons nie betyds vir die laaste gelui nie.
Skaars twee kilometer vn die huis gewaar ons die luiperd op ‘n rots in die Sabierivier, skuins voor die Hotel Kruger Gate. Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid. As hy maak of hy mik, retireer die sekelsterte met ‘n spoed. Staan hy stil, skuif die ou lot arrogant nader met die hoofman oor honderd handeviervoet op die voorpunt.
Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend. Die luiperd vererg hom, en gee ‘n elegante sprong in die bobbejaan se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor.
Die granietbeeld van pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid. Op sy kop sit die voortvlugtiges naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.
Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby. Die toonbeeld van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug. Toe moes ons aanstoot.
Olifante kom gereeld hierlangs voor. Die rivier by die bedrywige Krugerhek is, ondanks sy nimmereindigende kom en gaan van toeriste, taxi’s, busse en swaar vragmotors, ‘n “uithangplek” waar die grootvoete graag hul slurpe laat sak. Hier het besoekers al hope olifante afgeneem. Selfs teenaan, en in skynbare “gesprek” met, die forse granietfiguur.
Twee keer het olifante ons ingewag langs die groot bord wat lui: “Welcome to the Kruger National Park”. Twee ander kere weer verdwaalde renosters aan Oom Paul se voete.
Party haastige mense jaag blindelings oor die brug. Hulle besef nie wat hulle alles kan miskyk nie. By die hek se ontvangstoonbank herken ek een middag ‘n jong man se melodieuse Franse aksent. Hy en sy vroulike metgesel kom van Parys. Hulle is pas haastig by ‘n witrenoster op die gras voor die beeld verby. Ek groet en verduidelik: “In die wêreld moet jy stadig ry en deeglik rondkyk, vriend.”
Ek vertel hom van die renoster waarby hulle, woeps, verby is. Hy betuig innige dank oor die vriendelike advies – “Thank you, thank you” – maar: “We have already seen a rhino in Hluhluwe.” Jy kon hierdie Suid-Afrikaner met ‘n tarentaaldonsie omtik oor daardie nonchalante respons.
Nonchalantheid van ‘n ander aard kom jy ook teë. In my verbeelding sien ek een oggend ‘n peloton Joodse soldoedies doelgerig van ‘n gepantserde David-voertuig spring om ‘n Palestynse vesting in die Gasastrook stormenderhand in te neem. In werklikheid was dit nie dienspligtiges nie, maar ‘n spannetjie jong Israelse toeriste – mooi meisiekinders in ontspanningsdrag.
Die voertuig is ook nie vir militêre doeleindes ontwerp en gebou nie, maar is ‘n donkergroen Toyota wat as ‘n safarivoertuig dien met ‘n wildtuinerige embleem op die kajuit se deure. Die ”vesting” is ‘n groot olifant – donker en dreigend in die sterk skemer skuins na 06:OO. Ek sit in my 20 jaar-oue Honda en wag. My vrou, Tokkie, staan in die tou om vir ons ons Wildkaart-permitte te registreer.
“Elephant,” kreet ‘n swartkop in ‘n wit bloes en donkerblou jeans skielik. Met ‘n akrobatiese sprong is sy van die agterbank op die Toyota se bak op die grond en agterom die Honda. Toe haar selfoon flits, bemerk ek die olifant onheilspellend naby.
Dis of haar maters ‘n opdrag van ‘n streng sersant-majoor gekry het. Almal tuimel van die Toyota af en woerts voor en agter verby my kar die bos in. Flits, flits, flits.
Sal ek op die vlug slaan, wonder ek, want as die ou kwaad raak en storm is die Honda klaarblyklik op die onveiligste plek buite daardie hek op daardie oomblik. Die volgende oomblik raak hy inderdaad kwaad. Hy trompetter luid en swaai die ore. Jy sien net meisiekinders retireer. Ek klou net die stuurwiel al hoe stewiger vas.
Gelukkig is die vinnige aftog van die meisies vir die olifant genoeg van ‘n ego-stimulant vir die dag. Hy storm nie regtig nie. Vinnig is almal terug op hul plekke op die groen Toyota. Die olifant gaan rustig voort met sy aktiwiteit en Tokkie kom uit die kantoor met ons papiere in die hand, onbewus van die insidentjie waarby haar doodonskuldige man amper betrek is.
Nie onverwags nie, wag ellelange toue motors soms in vakansies en langnaweke om by die hek in te kom. Veral op Kersdag, Nuwejaarsdag en spesiale vakansiedae stroom al hoe meer dagbesoekers na die Wildtuin, en raak toegang weens die streng beheer oor die getalle (en hul drinkgoed) soms moeilik. Die beste raad is om vroeg te roer of te bespreek. Laasgenoemde kos jou ekstra.
Goeie kontrole is egter te verwelkom. Ek het al gesien hoe twee opportuniste met die Ster van Dawid op hul lapelle ‘n jaggeweer verby die hekwagte probeer insmokkel (stropers?). ‘n Wakker Sjangaanse vrou het haar, tot haar eer, nie om die bos laat lei nie. Sy het koppig volgehou sy “wil sien”. Die twee moes onwillig die geweer te voorskyn bring. Deesdae word drank partymaal met dieselfde ywer uitgesnuffel as daardie dame daardie skietding. Vir sommige dagbesoekers laat dit knor as hulle hul voggies kwyt is,.
Snelstrikke is veral smiddae nie ongewoon tussen Skukuza en die Krugerhek nie. ‘n Fris boete is nie die lekkerste manier om ‘n Wildtuinvakansie mee af te sluit nie. Hou dus maar die horlosie fyn dop.
Daardie strik is in die jare 90 meesal deur wyle Cas van der Walt van die Parkeraad (nou Sanparke) beman. Een middag hoor hy takke kraak. Hy verstyf, maar dit is nie ‘n roofdier wat hom bekruip nie. ‘n Vrou met hare wat in toutjies hang en krapmerke op haar kaal arms en bene, beur haar pad deur die sekelbosse oop. Dit blyk sy en haar man het ’n verskilletjie gehad. Dit was naderhand só hewig dat hy haar uit die motor smyt. Sy was briesender as ‘n leeu, het Cas vertel.
Sep 14, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
“Heut’ ist der Schönste Tag in meinen Leben”, sing Joseph Schmidt in sy 1935-treffer. Op skool in die 50’s aan Volkies, Potchefstroom, was die lied ‘n staatmaker op plate-aande in die skoolsaal.
Van ons Volkies van daardie era het gewonder en nogal daaroor kopgekrap hoe ‘n mens aan een dag uit die derduisende van ‘n gemiddelde lewe so ‘n unieke etiket kan omhang.
Toe kom Sondag 15 September 1974 – vandag (Sondag 15 September) 50 jaar gelede. Daardie dag is die dagblad Beeld – wat op Maandag 16 September sy buiging gemaak het – effektief gebore,
Dit was dalk nie die “Schönste Tag” in my 83 jaar op aarde nie; wel ‘n uitsoekdag wat ek nooit sal vergeet nie met hope opwinding, spanning, afwagting, en ‘n mengelmoes van emosies wat in die kop gemaal het.
As nuusredakteur was die nuusinhoud van die koerant op my skouers. Ek en my span wat gelukkig voorslagte soos Jack Viviers en Max du Preez ingesluit het, is die mense wat sou moes rekenskap gee as ‘n mededinger ons die Maandag met ‘n plaaslike (Transvaalse) storie sou platloop.
Sê nou net iewers was ‘n gesinsmoord of iets dergeliks wat lesers beroer en Beeld het dit misgevat? Die vrees was vlak in my gemoed todat ek Maandag vroeg-vroeg in Randburg stoep toe is om die Rand Daily Mail en Die Transvaler te gaan optel en vinnig die opskrifte op hul voorblaaie te spoedlees.
Toe die heerlike verligting: ons scoop – Troepe oral op die (Mosambiekse) grens – wat politieke beriggewer Alf Ries by PW Botha losgewikkel het, was loshande die storie van die dag.
Waarom die bruisende opwinding? Hier was ‘n droom besig om voor ons oë verwesenlik te word. Jare se beplanning, stryd en verbysterende uitgawes het tot ‘n hoogtepunt opgeloop toe adv. Lang Dawid de Villiers die rolpers se knoppie druk en die magtige masjien kreunend tot aksie oorgaan om van slierte skoon papier ‘n koerant te maak.
Ons spannetjie, ingedruk in die beknopte ruimte van die drukkery, was die pioniers wat ‘n historiese oomblik sonder weerga in die Afrikaanse koerantgeskiedenis beleef.
Verbeeldingvlugte, strategiese dinksessies, proeflopies – alles was iets van die verlede. Die uur van waarheid het geslaan.
Waarom die spanning? Wel, koerantmense sal weet. Hulle weet immers dat ‘n koerant so goed soos sy kontakte is. En hier was ons, die nuwe outjies op die hoek wat nog sulke basiese bronne soos die polisie, brandweer en lykhuise moes leer ken en bande vestig.
Rome word nie in ‘n dag gebou nie. Vertroue moes oor ‘n tydperk gewen word en verhoudings moes tot stand kom. Selfs die gevaar van doelbewuste bevoordeling van ‘n jarelange kontak was ‘n wesenlike gevaar. Die een hand was mos maar die ander.
Op die foto is ek en Johan Holzapfel, eerste hoofsubredakteur, die “verwagtende vaders” wat in die fabriek staan en kyk hoe die eerste voorblad deur dagskofvoorman André Smit geplak word. Dalk verbeel ek my, maar ek dink tog dat ons al drie se gesigte iets van die gewigtigheid van die oomblik verraai.
Watter loutere vreugde om dan vandag, 50 jaar later, daardie dag der dae in herinnering te roep en in kameraadskaplike kollegialiteit ook met al die generasies wat na ons gekom het, ‘n glasie vonkelwyn op ons geliefde koerant te klink. (Op die glasie is gegraveer: Beeld25.)
Hoe jammer oor die “druppel gal in die soetste wyn” op wat net ‘n jubelende feesdag moet gewees het. Maar daaroor praat ons liefs later weer.
Sep 1, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ons weet wat julle nie weet nie. Ons – ek praat nou van die spesie joernalis – weet watter vreugde ons uit ons beroep geput het.
Die naweek is daardie vreugde op genoeglike wyse ten toon gestel op die tweede Natsteen by De Wet Potgieter se Nagkantoor-kroeg op die idilliese Kaapschehoop met sy slierte mis, byt in die lug en sierlike wildeperde.

Daardie beroepsvreugde is ‘n gemeenskaplike een. Dit vra nie of jy van Naspers, Perskor of die SAUK kom nie. Net die belewenis maak ons almal kamerade.
By die mooie tradisie wat hier Augustusmaande op die berg wortel skiet, is dit die hoofdimensie waar oakal saamgebondel en gekuier is: op Nagkantoor se stoep, in die kapel by die boekebekendstellings, by die geesdriftige ondersteuning van die Bokke by ‘n groot skerm in ‘n volgepakte saal en by ‘n skaapbraai uit die boek met groot vure en gieters wyn.

Die boekefees was ‘n satelliet van die Innibos-kunstefees. Een van die boeke op die program was Beeld se jubileumboek, “Beeld50: Om ‘n groot storie hard te slaan”.
Barnard Beukman, redakteur, en Erika de Beer, samesteller van die boek, het boeiend oor hul breinkind gesels met Annemarie van der Walt van Kaapschehoop, oud-redaksielid en rubriekskrywer.
Die wete dat Beeld op sy laaste skof is, het swaar op almal se hart gerus. ‘n Begrafnis was dit egter geensins. Die vlag is eerder gehys op die dinge wat mooi en wat goed was oor ‘n veelbewoë 50 jaar – en dié is genoeg vir ‘n rak vol boeke.
Vir hierdie Beeld-pionier was dit ‘n emosionele oomblik toe al die Beeldmense aan die einde moes opstaan. Jy kon die trots oor hul wortels in hul houding sien. Flukse verkope is aangeteken.
Op die foto van die opstanery in die kapel is van links o.a. Annemarie van der Walt, Erika de Beer, Herman le Roux, Tim du Plessis, Barnard Beukman en die uwe,
Ander foto’s getuig van die gesellige saamkuier agterna, ook met nie-joernaliste wat saam kom fees hou het. Die braaivoorskoot wat Barnard vashou, is hierdie ou s’n. Niemand gaan dit by hom wegvat nie.