Aug 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Heldergroen nuwe blare en spatsels wit en geel blomme verklap dat lente in die Laeveld vasberade op pad is.
Die knoppiesdoring, sambokpeul en drolpeer is voor in die koor met hul blomme. Rosyntjie- en aartappelbosse wen die blarewedloop – altans so lyk dit van ons stoep af.
Met die boeiende ommeswaai in die natuur raak Tokkie opnuut verdiep in ‘n allemintige naslaanboek wat ons so ‘n jaar of drie gelede by een van die outeurs present gekry het.
Die titel is “Trees and shrubs of Mpumalanga and Kruger National Park” – ‘n ware ensiklopedie wat geen boompie of struikie oorslaan nie, hoe beskeie ook al. Meer as 950 spesies word gedek en ryklik met kleurfoto’s en delikate sketse geïllustreer, maklik 2 000 of meer pragstukke.
Die outeur by wie ons ons kosbare eksemplaar present gekry het, is Ernst Schmidt, voorste gemmerboer van die kontrei. Hy is ook ‘n Sabieparker. Altyd lekker om by hom en Leonie in Jakkalsbessielaan te gaan inloer.
Om ‘n boom of struik te identifiseer, is ‘n gedugte taak, veral as hulle so volop is en so in bosformasie voorkom soos in hierdie wêreld. Ernst (en sy mede-outeurs) se boek is ‘n gids sonder weerga.
Verskeie aspekte van die magistrale boek van 700 bladsye tref Tokkie so dat sy telkens my nader roep om te kom kyk.
Een is die magdom feite oor elke inskrywing. Vat nou maar die rooi-ivoor op p. 378. Jy kom te wete wat die naam is in elke taal wat in die gebied gepraat word. Jy word ingelig die wetenskaplike naam, Berchemia zeyheri, kom van ‘n Duitse botanis, CLP Zeyher, wat van 1799 tot 1858 geleef het!
Dan volg die gewone boombeskrywing. Dan brokkies oor die wye aanwending, onder meer as enema vir rugpyn, en oor die eksklusiwiteit. Net die Zoeloe-hoofman mag sy knopkierie van rooi ivoor maak. Dit is die patroon vir elke boom.
Hierbo is die drolpeer genoem. Raadpleeg Ernst-hulle se boek en jy slaan jou hande saam oor die verskeidenheid: rotsdrolpeer, pienk drolpeer, gladde drolpeer, rivierdrolpeer, silwer drolpeer … Tot ‘n pienke. Genugtig.
Uiters nuttig vir die boomliefhebber is ‘n seksie oor vir watter spesiale bome in watter streek opgelet moet word. Ons “nasionale boom” op Wildevy 154, Sabiepark, is die knoppiesdoring (knob thorn). Goed om te weet dat “ons boom” ook in die Mopanie-bosveld noord van die Olifantsrivier kenmerkend is. Sal my nek daarvoor rek as ek ooit weer daar kom.
Heerlik om die manjifieke boek so saam-saam op Tarlehoet se stoep te herontdek. Dankie weer eens, Ernst.
Aug 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met renosters so skaars en in die suide van die wildtuin saamgebondel soos hulle is weens al die stropery, kan ’n mens nie verwag om sommer in ‘n japtrap die Vyf Grotes raak te loop nie. Op Donderdag 22 Augustus – ná sewe weke – kon ons eers ons telkaart voltooi.
Toe gelukkig nie net met ‘n renoster iewers doer in die veld nie. Wel vlakvoor Oom Paul se granietbeeld by die Krugerhek. Vir ‘n groep jong buitelandse toeriste was sy teenwoordigheid ‘n bron van groot opgewondenheid. Almal het vir almal saam met die trofee ((hoewel horingloos) afgeneem. Ekself het aanhou klik.
Wat ‘n Donderdagoggend was dit nie: eers ‘n reuse-trop buffels, maklik 1 000, wat by die hotel Kruger Gate rustig die Sabierivier oorsteek, toe die Meneer by Oom Paul, en later ‘n erewag van ses kameelperde by Tarlehoet, asof op ‘n militêre parade met hul oë stip op ons plek gerig. Alles in net onder die twee uur en binne vier kilometer van hier.
Wat sou die kameelperde so geboei het? Kan net raai.
By die hotel was dit ‘n uur lank net buffels, buffels, buffels. Van die swembaddek kon ons onbelemmerd dophou hoe hulle – swart soos tampans aan ‘n hoender (dankie, Zsa-Zsa Pieterse) – skynbaar sonder einde uit die Sabi-Sand-wildreservaat aangetou kom en stadig deur die bos aan die oorkant van die rivier opgeslurp word.
Ná ‘n uur was die skouspel nog geensins verby nie, maar die skielike skraal windjie het dinge onplesierig begin maak. Hoe ookal, groot buffeltroppe het al vir skouspelagtige tonele en hope foto’s gesorg. Geen vorige skouspel kon ons so lank aanskou nie.
‘n Netjiese bosbokram het tot Donderdag se vreugdes bygedra toe hy by ons watergat kom drink. Dalk die pa van nou die dag se lammertjie? Ongelukkig het ‘n bobbejaan ook die middag die bobbejaanproef-deksel van die asblik (met ‘n vol swartsak) gelig …. Tokkie was min geamuseer.

Aug 6, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Terwyl die winde van verandering so sterk by koerante waai, is dit dalk nie ‘n slegte plan vir koerant-verslaafdes om ‘n skilder se dienste te bekom ten einde ‘n permanente herinnering te skep nie.
‘n Vriend stuur Sondag vir my die mooi skildery van ‘n koerantleser deur Coleen Shield (foto 1). Die eienaar is Hester van Rooyen, voorheen van die WNNR se rekenaar-afdeling en later vennoot in ‘n onderneming wat werk vir onder meer Danel, Transnet, Weermag en Telkom gedoen het. (Sy was een van die eerste mense wat in SA ‘n meestersgraad in rekenaarwetenskap gekry het – klaarblyklik ‘n slim vrou.)

Hester het die skildery jare gelede op ‘n uitstalling by die Dieretuinmeer by die skilder self gekoop. Die vriend se oog val toe daarop toe hy Sondag haar gas was by ‘n middagete en dink ewe bedagsaam aan Van Deventer.
Praat ‘n mens van koeranteskilderye, moet jy natuurlik nie Danie Marais s’n van ‘n Volksbladleser vergeet nie. Dit hang in Volksblad se kantore in Bloemfontein en is op die voorblad van die uwe se laaste boek, “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” (Naledi). Danie, nou van Langebaan, het dit as opdragwerk vir die direksie van die Nasionale Pers geskilder as geskenk aan Volksblad met sy eeufees in die goeie ou dae. Vir diegene wat al vergeet hoe dit lyk, sit ek ‘n foto by (foto 2).
Aug 4, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Teenoor Rapport is ek dankbaar vir die geleentheid om vandag in sy vlagskip-bylae Weekliks met Koos Bekker in gesprek te tree oor die huidige koerantemoles en sy eiesinnige bydrae daaroor verlede week in dieselfde koerant. Die stuk, soos gepubliseer, noem ek die Topolino-weergawe omdat dit Woensdagoggend in ‘n koue hoekie op die stoep van ‘n toe pizzaplek op Hazyview gepleeg is met ‘n kolonie katte as geselskap. Die plek se naam is Portolino. Ook aan hom en sy bestuurder, Dawid, is ek dank verskudig vir akkommodasie terwyl my boskar by Chris Car & Truck versien is.