Feb 19, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wanneer ‘n passasier ‘n kwelling, ‘n vraag, ‘n paspoort-kwessie of wat het, geldjies wil omruil of met sy / haar rekening wil tred hou, is die weet-alles-span by die betaalmeester van die die Queen Mary 2 se lang toonbank die aangewese besoekpunt. Hulle is selde ledig.
‘n Besoek aan die betaalmeester bring jou in die sogenaamde “Grand Lobby”. ‘n asemrowende atrium-portaal wat oor vyf verdiepings strek. Hier is soveel mooi goed dat kameras sonder ophou flits: onder meer die elegante trappestel, ‘n spesiaal geweefde mat met ‘n ontwerp soos ‘n ster wat in ‘n bont kleurespel verskiet, ‘n skeepsklok wat telkens om 12:00 gelui word, ‘n swart vleuelklavier (een van 10 aan boord) en ‘n reuse-rangskikking wat taks om taks vervang word.
Die laaste paar dae van ons vaart na Mauritius was die rangskikking in die vorm van ‘n briljante pou met egte pouvere. Ek wonder of daar een vrou op die skip is wat nie by die pou afgeneem is nie.
Die portaal dien ook as netjiese ekstra sitkamer met lekker tafeltjies en stoele om by asem te skep. Dit grens op dek twee aan die casino en op dek drie aan die spoggerige Mayfairwinkels (met pryse wat pas) en die “Champagne Bar” waar altyd iets aan die gang is, tot vroegoggend-hekelklasse. As jy daar sit, voel jy deel van die aksie.
‘n Raaisel wat ek nie aan boord kon opklaar nie, was waarom die “Grand Lobby” vir my tegelyk so bekend en so vreemd lyk. Tuisgekom, het foto’s van ons vorige reis die antwoord gebied.
In die groot oormaak van die skip in 2016 is ‘n klein deeltjie van die $132 miljoen bestee om twee koper-en-glaskas-hysbakke uit die portaal te verwyder. Of dit wins of verlies is, weet ek nie so seker nie. Was lekker om in hulle op en af te rits, ofskoon hulle nie juis funksioneel was nie. Die ruimte wat gewen is, skep aan die ander kant ‘n oopheid wat ‘n mens uitnooi om daar te kom uithang.
‘n Tweede raaisel bly onopgeklaar. Ek en Tokkie sit nog so toe die vleuelklavier neffens ons skielik begin speel: Rachmaninoff. Die wit en swart note woel op en af, maar die pianis se stoeltjie is dolleeg.
Seker die een of ander rekenaar-slimmigheid. ‘n Mens hou egter maar jou hart vas as die toekoms so digitaal begin raak dat dit kunstenaars van vlees en bloed met ‘n rekenaarprogram vervang.
Feb 19, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Tot sesuur is slenterdrag in die haak. Ná ses is “smart attire” die vereiste in formele sit- en eetkamers. Op gala-aande, plus-minus elke derde aand, is dit wanneer die deftige tabberds en die strikdasse te voorskyn kom. Aanddrag is selfs te huur.
Nêrens elders op die Queen Mary 2 het ek die sesuur-metamorfose opnuut sterker beleef as in sy grootste restaurant, die Brittania, nie. Die ou wat jy netnou op dek sewe met oop sandale gesien het, daag op in ‘n Skotse rokkie met tossels en die streng dame met die ronde brilletjie met wie jy in die biblioteek skouer geskuur het, spog nou met avontuurlike veterbandjies en ‘n goue klont om die nek.

Ook nerens elders voel ‘n mens die romantiek van die glansryke jare 20 so tasbaar aan as in die yslike praalpaleis met sy 1 200 sitplekke en sy oorheersende art deco-styl wat doelbewus beklemtoon word nie. Van die reuse-materiaalafbeelding van die skip oor twee verdiepings as jy die Brittania betree, tot die koepeldak van gerookte glas, die swiepende mezzanine-balkon en die grasieuse dubbelstel “Gone-with-the-wind”- trappe verplaas jou vinnig in ‘n vergange era.
Tussen die keurig-gedekte tafels met linnetafeldoeke en –servette en silwer messegoed swerm die charismatiese kelners in swart formele drag en wit handskoene. Die bedrywige swartspan plus al die maitre d’s en sommeliers dra by tot die energie wat die ikoniese plek uitstraal. Die atmosfeer is prikkelend en opwindend. Jy vou die spyskaart met afwagting oop.

Van die 16 000 borde koningskos wat daagliks uit die QM2 se kombuise van vlekvrye staal kom, is die meeste vir die Brittania bestem. In die restaurant word ontbyt, middagete en aandete in twee sessies bedien.
Party tafels het plek vir tien. Die meeste vat vier. My en Tokkie se 487 was ‘n begeerlike tweemanstafel met ‘n onbelemmerde see-uitsig deur ekstra groot vensters. (Op ons Sydneyvaart 10 jaar gelede was dit 114, nader aan ‘n venster maar met twee tafelmaats.)
Die ontbyt-spyskaart is tradisioneel met varsgebak, elke denkbare eiergereg, drie soorte spek, worsies, southaring (kipper), skelvis, gerookte Noorweegse salm en wafels. Die ou man se kennismaking met ‘n “smoothie” was aangenaam.
Tipiese middagetegeregte was spaghetti carbonara, geroosterde swaardvismootjies, salm en Indonesiese rys.
Aandete is om oor huis toe te skryf. Dis ‘n vyfgangmaal met ‘n keuse uit iets soos ses voor-, tussen- en hoofgeregte (alles pure gourmet volgens my standaarde). Die beste biefstuk, skaap, eend en tongvis word opgedis. Een aand selfs springbokmedaljons. Garnale raak nie op nie.

Nageregte het eksotiese name soos dulche de leches. Jy kan darem Italiaanse roomys ook kies, of kaas en beskuitjies (‘n kleinerige porsie). Dan kom die koffie en petit fours.
Glutenvrye en vegetariese kos is elke ete beskikbaar, Vir skaalbeheptes word selfs die bose kalorie- en vetinhoud van bepaalde geregte brutaal uitgespel. En ‘n sterretjie by ‘n gereg bring ‘n onheilspellende boodskap dat dit dalk die draer van iets onheiligs kan wees (selfs vis en pluimvee).

Die eerste gala-aand van elke skof word glasies sjampanje met komplimente van die kaptein uitgedeel.
Na raakvatter-hoofkelner Petros en sy vroulike assistent Sai, albei vriendelike Filippyne, maak ek graag hier ‘n buiging. Hulle het hartlik, hulpvaardig en professioneel gebly al blink die sweet naderhand op die voorkop. ‘n Mens is spyt dat die treurige randwaarde ‘n rol moes speel in die paar-dollar-fooitjies wat na hulle kant toe is.
Feb 18, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In ‘n keurposisie op dek agt, in die boeg met groot, diep vensters op die waters wat voor die statige skip oopkloof, is die Queen Mary 2 se beroemde biblioteek – ‘n karaktervolle boekeparadys met iets soos 10 000 titels in ses tale.
Moderne vakansieskepe spog graag met hul waterparke en nuwerwetse sentrums van verbeeldingryke vermaaklikheiden tydverdwrywe. Die ernstiger QM 2 maak geen geheim nie van sy trots op sy grootste biblioteek ter see.
Ook oor sy voorkeur-dienste aan sy passasiers draai hy nie doekies om nie. Toe hy in 2016 opgegradeer is – of ge-“remaster” is in die Cunard-idioom – is die casino met die helfte verklein, Net die Amerikaners sal daaroor spyt wees, is geredeneer.
Die biblioteek met sy rye blink gepoleerde okkerneuthoutkaste met glasdeure in ‘n sobere ruimte van 65 vierkante meter het onaangeraak gebly – soos die planetarium. (Die deure van die kaste is nie net vir dekorasie nie, maar om die boeke teen turbulensie en water te beskerm, is ons meegedeel.)
Tokkie is versot op wêreldkaarte. Met ons eerste kennismaking met die biblioteek tien jaar gelede is sy veral getref deur die grootste atlas wat ek nog gesien het. Dit het sy eie stewige tafel van hoek tot kant gevul. Vir Tokkie was min dinge so boeiend as om daarin te blaai.
Toe ons nou die eerste dag aan boord op die bilioteek afpyl, was daardie atlas voorop in haar visier. Gelukkig is sy nie deur ‘n ander “wereldreisiger” voorgespring nie. Sy het gestraal.
By die groot vensters met hul praguitsig is ’n ry smaakvolle gemakstoele. Genoeglik is dit om daar nes te skop met jou boek, net af en toe op te kyk oor die groot oseaan heen en waar te neem hoe die reuseboeg die waters klief.
Nog te meer as in die geval van die atlas is my vrou soms deur ander boekliefhebbers by haar gunstelingstoel voorgespring. Al raad is om tienuur saam met die bibliotekaresse by die deur op te daag.
‘n Boek is op hierdie skip ’n statussimbool. Trouens, soos woorde verslind word, is ’n openbaring. In die teaters voor vertonings, in dekstoele, langs swembaddens, in sitkamers en natuurlik in die biblioteek – oral is mense verdiep in hul boeke of met boeke onder die arm. Meermale is dit allemintige dik boeke. As daar ook Kindles en daardie klas digitale ding was, het hierdie waarnemer dit nie eintlik agtergekom nie.
Miskien het hierdie leeslus iets te make met die spyse wat Cunard vir die grysstof bied. Op sy skepe is dit nie net baldadigheid, bingo, blackjack en bordspeletjies nie. Op elke dag se program is ook ’n stewige intellektuele komponent, met voorlesings deur kenners, seminare en werkwinkels.
Verskeie boeke-okkasies is gehou. So was daar op die skof na Mauritius Zelda la Grange se bekendstelling van haar boek oor Nelson Mandela. Die stapeltjie in die boekwinkel naas die biblioteek het elke dag ’n ent gesak.
Jammer my eie “Na verre hawens” (Naledi, 2019) is nie in een van die ses voorkeurtale nie. Ek kon dalk in besigheid gewees het.
Feb 17, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

As jy met die skuifelstappie van ‘n onfikse 80-plusser loop, is verkenning van die Queen Mary 2 se dekke nie kinderspeletjies nie. Wat tien jaar gelede tjoef-tjaf kafgedraf is, vereis nou gereelde verposings.
Gelukkig is veral op die Promenadedek, dek 7, vir die doel honderde net-reg-houtstoele in simmetriese rye met deftige donkerblou kussings waarop die embleem van Cunard-redery met goue draad geborduur is.

Van die boeg tot die agterstewe is die Queen se lengte 365 meter – so lank soos 41 Londense dubbeldekker-busse snoet aan snoet geparkeer. Die Eiffeltoring in Parys is 45 meter korter. Jy moet jou bene rek.
Ander syfers: Die vloere is 16 kilometer (10 myl) onder mat, die afstand van Melkbos tot in die hartjie van Bloubergstrand. In die binnegoed is 2 500 kilometer se elektriese kabel. Dis drie dae se stywe ritte per motor.
Meneer, mevrou, as jy dus gedink het die QE2, legendariese voorganger, was enorm – hier is vir jou ’n verrassing. Dié makroskip sou die QE2 twee keer volledig kon insluk. Drie van die veelgeroemde Titanic sou in haar pas. Glo dit maar. Dis die reine waarheid.

In los uurtjies het ons die ontsagwekkende skip verken. Dek vir dek waar die fikses streef om nog fikser te word, die swemmers swem, die speleriges speletjies speel en die luies net hul dae omsit.
Ons tog van herontdekking het ons nie net saam met ‘n falanks onvermoeide stappers rondom die skip op dek sewe geneem nie, maar ook op en af met ‘n verskeidenheid trappe tot daar waar die energiekes dekspeletjies speel en troeteldiere gehuisves word in ’n spoggerige dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!
Soos tevore was ‘n lekker selfbederfie die sogenaamde “scenic elevator”, ’n glaskas buite die skip wat jou van dek sewe tot by die observasiedek langs die brug op dek 12 bring. Passasiers is welkom, maar kan die komplekse kontroles en die bedrywige korps offisiere net deur ’n glasafskorting waarneem
Ons het dit in 2014 “ons hysbak” genoem. Tien jaar later was dit steeds “ons hysbak”.
Soos knoppie-versotte stout kinders is ons van vroeg tot laat daarin op en af. Dikwels was ons alleen. Min van die ander 2 600 passasiers het skynbaar vergelykbare erg gehad aan die panoramiese uitsigte wat die observasiedek bied.

Op dek elf het ons weer die gesellige buitekroeg die Terrace Pool Bar gaan opsoek waar jolige vertrekpartytjies aangebied word, kompleet met polsende orkesmusiek en kelners wat nie kan voorbly om sjampanje (die regte soort) aan te dra nie.
Oral is foto’s geneem, onder meer by die fiere rooi-en-swart skoorsteen met die naam Queen Mary 2 in sterk letters daaronder.
Op die dekke kon mev. TvD na hartelus haar stokperdjie beoefen – om mense dop te hou. Sy het my aandag op allerlei gevestig, onder meer op ‘n gryse dame – krom soos ’n boom wat skeefgegroei het –wat telkens op flinke pas by ons op dek sewe verby is. Hoeveel rondes? het ek gevra. Ses, was haar antwoord. Dit is op die kop twee myl of 3,2 km.
Ek hoop die foto’s is selfverklarend.
Feb 17, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Alle paaie lei na die Royal Court-teater op dekke drie en vier van die Queen Mary 2 wanneer Zelda la Grange die intieme sluier lig oor haar werksverhouding met die Suid-Afrikaanse staatsman-ikoon Nelson Mandela. Haar boek word opgeraap. Sy moet net teken, teken, teken.
In die Clarendon-teater, vlakby die Queen’s Room op dek drie, haal die skilderye oor die Suid-Afrikaanse natuurlewe van Darryn Eggleton maklik R200 000 stuk. Sy lewensgetroue leeus, luiperds, sebras en wat nog verraai waar hy vandaan kom. Hy is in 1981 as ‘n seun van die Krugerwildtuin gebore en het tussen die wilde diere grootgeword.
In die imposante Brittania-eetsaal op dek twee en drie is een aand Weskus-kingklip op die spyskaart; die volgende aand springbok. Laasgenoemde klink veral indrukwekkend in die Engelse kos-idioom: “Roasted cranberry and walnut crusted South African springbok loin”. Die bykosse is William potato, creamed Savoy cabbage, roast thyme carrots en blackberry sauce.
Pure Suid-Afrika, en dit op ‘n skip wat drup van Britse tradisie en styl. Maar so maak hierdie grootste en duurste vlagskip van Cunard telkens ‘n buiging na die gasheerlande wat hy op sy jaarlikse sogenaamde Wêreldtoer besoek. Vanjaar is Port Elizabeth, Kaapstad en Durban in daardie volgorde aangedoen.
Zelda, Darryn en die Suid-Afrikaanse geregte uit die vlekvrye staalkombuis is ook nie al wat aan Suid-Afrika herinner nie.

In die sogenaamde “Ïnsights”- (praatjies deur kenners) hoor die passasiers van olifante, krokodille, die Zoeloekultuur en die Kaapse-Hollandse boukuns op wynplase. Oral maak hulle kennis met Suid-Afrikaanse (en Zimbabwiese) kelners, kamerbedieners en ander lede van die bemanning.
By ‘n middagete ontmoet ek byvoorbeeld vir Michael, ‘n flink, jong Kôsakelner van Brackenfell. Hy en die Melkbosser kliek dadelik en gesels land en sand oor bendegeweld wat van die Kaapse Vlakte na sy tuisomgewing oorspoel. Hy vertel ook hy het die kombuis shakalaka leer maak.
Ons groot SA kontingent wat saam vaar op die nuwe segment van Kaapstad na Mauritius – agt bekoorlike aande op die “hin skeep”, soos ‘n vriend die QM 2 noem – kan bors uitstoot oor ons land. Ongelukkig bestaan ook rede tot verleentheid,
Voor elke Suid-Afrikaanse besoekpunt word passasiers gewaarsku: wees op jul hoede; misdaad is op ‘n ongekende vlak. Wat Durban betref, word – seker gedagtig aan die onlangse uitbarsting van wetteloosheid – selfs die moontlikheid van burgerlike onrus genoem.
In Durban word almal boonop deur die department binnelandse in ‘n lomp operasie van die skip af geboender om op die grond hul paspoorte gestempel te kry. Mense mor oor die ongerief. Die kaptein vra diplomaties om verskoning.
Mense mor ook oor sekere duur uitstappies wat min oplewer, bv. na armoedige “townships”, straatmarkte wat weens beurtkrag skaars aan die gang is, en parke wat vir buitelanders bra doodgewoon is.
Jy neem kennis dat Suid-Afrika nie by die reisplanne vir 2025 se Wêreldvaart ingesluit is nie en dat oor herinsluiting in 2026 nog onsekerheid bestaan. Jy wonder stilletjies watter faktore alles vir die situasie verantwoordelik is.
Jy gun dit vir soveel mede-Suid-Afrikaners as moontlik om die skip te leer ken en al sy wonderlike elemente te geniet. Met die toekoms so in onsekerheid gehul, lyk die onverwagte herbesoek in April weens die Midde-Oosterse krisis al hoe meer na die kans van ‘n leeftyd.
As nog ‘n kajuit beskikbaar is op die vaarte na Lissabon en/of Southampton van 13 tot 28 April, raap dit op. Pryse is onherhaalbaar. Jy sal betower word. Dit kan ek hand en mond belowe