Dec 17, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op Sondag 26 Desember 1976 sou ons vroeg in die pad val na Florida, “Sonskynstaat” aan die suidpunt van Amerika. Toe ek die kamergordyne in Cambridge, Massachusetts, oopskuif, wag ‘n asemrowende toneel. Die “wit Kersfees” waarop ons vergeefs gewag het, het toe in die nag opgedaag. Dis ‘n sprokiesland (foto).
Die bonus is nie sonder komplikasies nie. Natuurlik moet ons eers rondry en ‘n klomp skyfies (let wel) neem. Ons kom dus ure later in die pad as wat ons gehoop het. Die donker vang ons. So ontstaan die eerste teenspoedjie van ‘n hele paar op daardie gedenkwaardige vakansie.
Nommer een is toe die Cornona se ligte op ‘n padversperring val. Die pad is gesluit weens ‘n swaar sneeuval. Met baie vra en verkeerd ry kom ons laataand op Maartensville, Virginia – maar ‘n kleinerige plekkie.
By die eerste die beste motel verneem ek: “Waar’s die naaste kampeerplek in die geweste?” “Nee,” sê die eienaar, “dis nog bitter ver. Hoekom slaap julle nie sommer hier nie?”
Ek beduie die geldjies is maar skraps. “Wag,” sê hy toe, “ek is net verlede week getroud, en die bruilof was hier agter in twee groot kamers met en suite-geriewe. Julle kan dit kry vir $5 as julle nie omgee dat daar nog allerhande goeters rondstaan nie.

Daardie nag slaap ons toe skoon geskrop in sagte warm beddens met ‘n yslike koperkandelaar met hope kerse en welige palms in potte by ons voetenent (foto) – ons deftigste slaapplek van die reis.
Nou’s ons agter skedule en moet maar ‘n bietjie aanstoot. Op die “Skyline Drive” in die Shenandoapark gewaar ek in my truspieël ‘n kragtige Amerikaanse sessilinder. Op sy dak is daardie langwerpige ligaffêring wat verklap dis ‘n man van wet en orde agter die stuur.
Die kêrel lyk haastig. Hy is seker op iemand se spoor. By die eerste afdraaitjie swaai ek bedagsaam links in. Hy agterna. Ek klim dadelik uit en begin sommer dadelik ekskuus vra. “Sorry, sir, I did not realise …”
Net toe leer ek iets van wetstoepassing op Amerikaanse paaie. “Get in your car, gebied hy. “And stay there.” Maklik vyf spannende minute verloop. Toe kom hy nader. Hoekom ry ek so vinnig? Wil ek een van hul bokkies doodry?” Die uiteinde is ‘n streng waarskuwing en ‘n “have a nice day”.
Die lang wag, verneem ek later, was om my hele “pedigree” op sy rekenaar op te roep. Op die manier wis hy ek is ‘n wildvreemdeling in Jerusalem.
Amper ‘n dag laat kom ons in Miami aan, en gaan soek ons in ‘n hoekkafee ‘n koffietjie vir ons dorstige kele. Toe ek wil ry, is die stasiewa se sleutels nie in my sak nie. Dit is binne die kar toegesluit. “Don’t stress,” sê die kafeebaas. Hier in die “drug store” langsaan is ‘n ou wat handig is met ‘n draad-klereskouer. Gedoriewaar, binne minute wikkel hy ‘n ruit oop.
Wat skuld ek? “Nothing buddy, but be careful, I’m not around all the time.”
Op Oujaarsdag 1976 maak die Van Deventers kennis met Disney World in Orlando. Kenners het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, is ons dus in die voorhoede. Heel gou is ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek op 31 Desember by 57).

Kleinsus se opvoustootwaentjie is by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart is dit spoorloos. Vir ‘n kort rukkie plaas dit haar op haar beentjies. Die res van die dag bring sy sy op haar pa se arm deur, boonop nie in ‘n lekker bui nie weens haar verlies.
So minus Marisa se wiele word dit dit ‘n vermoeiende 12 uur. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.
Die konfrontasie met die ouers is kort maar intens. Eers wil hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking is dramaties. Mamma gryp die kleintjie en laat vat. Pappa storm agterna met sy kuif wat in die wind flap.
Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel (foto).
Vroeër die dag was ons op ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums. Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale.
Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disney World.
Dec 15, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
As jy nie so gelukkig is om self vakansie te hou nie, kan jy darem aan vakansies terugdink.My helderste onthou is ‘n Kersvakansie van amper ‘n ‘n halfeeu gelede, in Desember 1976. Die Van Deventers is met hul werkesel, ‘n 1972-model Toyota Merk II-stasiewa, op ‘n tog van 5000 km heen en weer van Boston af al die pad af na die “Sonskynstaat” Florida toe.
‘n Onvergeetlike reis was dit met besoeke aan Disney World in Orlando en die John F Kennedy Space Center by Cape Canaveral besonderse hoogtepunte. Daaroor en ander ervarings aan die positiewe sy rapporteer ek in hierdie aflewering. Aan die meeste vakansies kleef egter positiewe en negatiewe herinneringe. Later sal ek ter wille van balans die sluier lig oor goedjies wat op die vakansie minder of meer skeefgeloop het. Daar was helaas.
Ook hoog in die positiewe kolom was twee sogenaamde “great American road adventures”. Asemrowend is die tog van 180 km op die sogenaamde Overseas Highway op die US1-snelweg van Miami na Key West. Jy steek 42 brue oor wat 34 eilande verbind . Ewe skouspelagtig is die skilderagtige Chesapeake Bay Bridge–Tunnel: ‘n avontuurlike rit van 28 km oor die Chesapeakebaai in Virginia deur lang ondersese tonnels, indrukwekkende brûe en mensgemaakte eilande van derduisende tonne beton.
Disney World het ons op Oujaarsdag 1976 besoek – saam met ‘n rekord-getal besoekers van oor die 80 000 wat rondom jou druk, beur en maal. Maar tog, watter onuitwisbare indrukke het Micky Mouse se Magic Kingdom nie op die hele gesin gemaak nie! Die aand was ons uitgeput maar blinkoog-verwonderd.
Die omvang is iets ysliks. Iets soos 11 000 hektaar. Groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek het selfs sy eie “vloot” – destyds al ‘n armada van 200 skepe. In die hart van die koninkryk was (is seker nou nog) ‘n mensgemaakte meer van 80 hektaar. Saam met Mickey en Minnie Mouse, Goofy, Winney the Pooh en andere wat kuier-kuier tussen die die skares rondloop (foto), het destyds al 12 000 mense daar gewerk – die inwonertal van ‘n billike dorpie.
Die meer se koraalriwwe het ons uit ‘n duikboot verken (foto). Ander rygoed het ingesluit outydse rooi brandweerwaens, Noag-karre, ’n kabelspoor, allerlei perdekoetse en ‘n stoomtrein. Die kinders was versot op ‘n mallemeule met klein olifantjies.
By die Space Center (foto) is alles groter as lewensgroot. Vuurpyle toring oral die lug in soos geil onkruid. By die besoekerskompleks is foto’s geneem van ons kamma met ruimtepakke aan, by ‘n verskeidenheid slanke vuurpyle, op ‘n maankarretjie en wat nog.
Van die unieke geriewe is die 160 meter hoë voertuigmonteringsgebou vir van die grootste vuurpyle van NASA en ‘n 4.8 km (korrek!) lange landingstrook vir pendeltuie. Ek glo my mond het plek-plek werklik oopgehang.
Op die Overseas Highway is die beroemdste van die 42 brûe bekend as die Seven Mile bridge. Sy naam sê dit alles. Die brug is net oor die 11 km lank. Nogal ‘n fris ent om net die uitgestrekte Atlantiese oseaan om jou te sien!
Die eksotiese Tropiese eilandjies spog met van Florida se lekkerste strande, ‘n duisternis palmbome, ryk koraalriwwe, binnelandse waters vol Amerikaanse krokodille en kaaimans (“alligators”), asook heerlike kampeer- en piekniekplekke. Natuurlik het ons snags agterin die Corona geslaap.
Key West, ‘n eiland van ses kilometer by twee kilometer, is die suidelikste punt van die enorme land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana, Kuba, af. Was nogal ‘n sensasie om op die suidelikste punt van die suidelikste Amerikaanse stad te staan. Die historiese Key West, ‘n seerowernes in vergange tye, is ook bekend as die tuiste van Ernest Hemingway. Van sy bekendste werke is hier geskryf, en sy huis een van die top-toeriste-attraksies in daardie geweste.
Die Chesapeake Bay Bridge–Tunnel word as
een van die sewe wonders van die moderne wêreld beskou. “Go to sea in your car”. So nooi die brosjures. En dit is presies hoe dit vir jou voel as jy jou op hierdie meesterlike stuk ingenieursvernuf dan in ‘n diep-diep tonnel onder die water bevind, dan weer op ‘n hoë brug voortsnel met die oseaan doer ver onder. In die proses sny jy die 150 km tussen Norfolk/Virgina Beach en New York uit jou reis. So spaar jy 90 minute se rytyd.
In Florida het ons onder meer ook kans gekry om die beroemde Daytona Board Walk van amper 2 km te stap, om ons te verstom aan die plaat luukse-seiljagte by Fort Lauderdale, om met die kleurryke papegaaie in Parrot Jungle, later herdoop tot Jungle Island, kennis te maak (foto) en om ‘n skool visse uit glasbodembootjies by Silver Springs te voer. ‘n Gunstelingfoto is van die uwe by die kleinste funksionerende poskantoor in die VSA in daardie stadium. Die opslaangeboutjie by Ochopee is skaars ses vk. m. groot. Grootte is werklik nie als nie!
Dec 11, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kobus (links) verduidelik vir my die betekenis van ‘zirr’ oor ‘n ‘kuil’ of twee.
Die woordjie ‘rizz’ se bekroning as die Oxford University Press (OUP) se woord van die jaar vir 2023 voer my gedages terug tot die woordjie ‘zirr’ wat in die jare 60 in die Lugmaggimnasium in Pretoria se woordeskat ‘n ereplek beklee het.
Die twee woorde – die een amper ‘n spieëlbeeld van die ander – is amper ook vinkel en koljander wat betekenis betref.
Van ‘rizz’ lees ek in die koerant (DB, 11 Desember) dat dit afgelei is van die woord charisma. Inbegrepe is eienskappe soos “styl, sjarme en aantreklikheid”. Jy het ‘rizz’ of jy het dit nie.
Oor die betekenis van ‘zirr’ maak ek staat op die verduideliking van wyle Kobus Louw, joernalis en skepper van TV-trefferprogramme soos Slampampersirkus en Drama-Drama. Met die stigting van die koerant Beeld in 1974 is hy genader om vir Beeld vryskut-bydraes te lewer. ’n Rubriek is gebore waarin Kobus oor die doen en late van sy vriend Andries, sy alter ego, berig. Andries was begaan om ’n bietjie ekstra ‘zirr’ in sy huwelik te sit.
‘Zirr’ watseding, wou ek as nuusredakteur benieud weet. Dis toe dat hy my vir ‘n bier nooi – ‘n ‘kuil’ het hy dit genoem, soos in ‘n ‘paar kuile trek’ (foto – hy is links). Die woord kom uit sy jaar in die lugmag in 1963, het Kobus my vertel.
As die manne die slag Pretoria ingevaar het agter ’n goeie tyd aan, het hulle altyd gesê: ‘Laat die byle huil’ of ‘laat die wille irre zirr’ (wat dit ook al mag beteken).
‘Zirr’ was, soos Kobus dit gesien het, tekenend van die uitstorting van energie. ‘Von’k is dalk ’n Afrikaanse alternatief. Die Engelse woord pizzaz vat ook iets van die betekenis saam: “An attractive combination of energy and style; sparkle, vitality, glamour,” soos dit in die woordeboek Collins opgeteken is. Dit is eienskappe wat sy vriend Andries gehad het of bepaald graag sou wou besit.
Soos in die geval van ‘rizz’ het jy ‘zirr’ of jy het dit nie. Ek dink as ek kon kies, sou ek liewer ‘zirr’ wou gehad het as ‘rizz’, Dit klink eenvoudig net dinamieser,
Dec 9, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Tokkie, Hennie, Rina en Herman – ‘n kwarteeu later.
Liewe leser
Van 5 Maart tot 15 April was ek en Tokkie by ons Sabieparkse bosplek, Tarlehoet, om ons heuglike verbintenis van 25 jaar saam met bosvriende met vonkelwyn en braaivleis te vier. Dit was een hoogtepunt van ‘n goeie jaar.
‘n Kwarteeu gelede op 15 Maart 1998 was ons plus kollega Herman le Roux en sy vrou, Rina, saam in Tarlehoet se swembad. Op Woensdag 15 Maart 2023 was ons vier weer vrolik saam in die water om die kwarteeufees te gedenk.
‘n Nuwe dimensie is bygevoeg wat genoem kan word: wys my joune, dan wys ek jou myne. Herman en Tokkie was nie min breëbors nie oor hul onderskeie hartpasaangeërs by hul linkersleutelbene. Tokkie het hare in Januarie ryker geword. Dit werk nog klopdisselboom.

Hennie, kunstenaar Danie Marais en “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord”
Stof tot dankbaarheid het die jaar weer onverdiend opgehoop. Dat ons kinders en kleinkinders in die feesjaar tyd saam met ons in Sabiepark kon deurbring, was byvoorbeeld vir ons baie spesiaal.
In Mei het Hennie se 22ste boek en sewende koeranteboek, Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes, by Naledi verskyn; werklik die allerlaaste uit die HvD-stal. Die treffende voorblad – geskoei op ‘n skildery van Danie Marais – het van wyd en syd komplimente gekry.
In Oktober is ons Bultfontein toe vir Tokkie en haar mede-’63-modelle se viering van hul matriek-plus-60. Op die gesellige kuier op haar dorp van herkoms het ons kennis gemaak met seker die grootste badkamer in ‘n gastehuis in die land. So groot soos ‘n dubbelmotorhuis!

Agter my lessenaar saam met hoofredaksielede Piet Theron en Sarel Venter.
Die seldsame Vrystaatse besoek het die geleentheid geskep vir ‘n eerste besoek aan die unieke Volksbladkamer in die letterkundemuseum NALN in Bloemfontein. Vir ‘n trotse ou Volksbladder was dit – om die geykte inleiding tot vele toesprake te gebruik – werklik ‘n “biezondere eer en vooreg” om in die teenwoordigheid van gewaardeerde oud-kollegas weer agter sy deftige ou lessenaar in te skuif.
Op Melkbos het Hennie as roterende voorsitter by die Probusklub kragte ingegooi. Teen die einde van die jaar kan die klub terugkyk op dinamiese herlewing. Danksy oopstelling vir vroulike lede en doelgerigte werwing staan die ledelys nou op 22: die gesondste posisie in jare.
‘n Melkbosse gebruik wat veel plesier verskaf, is die gereelde middagetes by lekker kontrei-restaurants saam met Basie en Lena Smit.

Tokkie, Johan en Mariza op die Sinfonia.
Saam met Johan en Mariza het ons vanjaar op die MSC Sinfonia na Walvisbaai gevaar. Op die einste Sinfonia het ons op haar eerste vaart in SA waters van Kaapstad na Durban in 2009 ons eerste avontuurlike “solovaart” met die tweeling-kleinseuns, Jacob en Thomas Claassens, onderneem. Hulle was toe vyf. Nou’s hulle 19. Met die sierlike skip het ons daarna byna ‘n sentimentele verhouding opgebou. Minstens vier vaarte is op haar onderneem.
Johan, Mariza en Migael het in die jaar van George na Oudtshoorn verhuis en “plaas” opgesit. Op hul grondjie neffens die Grobbelaarrivier word vir ‘n vale ge-“boer”. Die skapies moet bottel kry en die hoenders gevoer word. Die olyf- en granaatboompies kom mooi aan. So ook die groentetuin. ‘n Turksvylaning is geplant. Ontbyt se roereier kom uit ‘n stewige eie hok.

Tokkie en Migael gee die skapies melk.
Die beste van als: Migael is in sy element. Soos hy tevore op George lorries gewas het, pak hy die nuwe roetines met mening. Hy verkoop selfs al eiers in die buurt.
Maar hokaai eers. Natuurlik word die begrippe ”plaas” en “boer” hier bra hiperbolies en romantiserend ingespan. Alles geskied op klein skaal. Tog is die naam “Ons Plasie” in die kol. As jy so ‘n tinteling deur jou lyf voel gaan, moet jy weet dis jou plaas-gene wat so gestimuleer word.
Terug op Melkbos moes benieude vriende teen wil en dank geregte uit volstruiseier begin tower. Vir Tokkie was daardie groot, swaar eiers ‘n onweerstaanbare geskenkidee.

Jacob en Thomas word 19. Saam met Marisa, Brent en Christoher in die Fat Butcher.
In die Claassens-geledere is die groot nuus dat Jacob en Thomas hul eerste jaar op universiteit met goeie gevolg agter die rug het. Hulle het Maties in murg en been geword en is so lief vir hul koshuise, Eendrag (Thomas) en Helshoogte (Jacob), soos hul oupa vir Kollege was.
Met hul 19de verjaardag is ons op geleide toere deur die koshuise. Dat Jacob nou kitaar speel, was een ontdekking. Oupa moes erken dat die koshuiskultuur – veral die respek vir tradisie – hom imponeer. Hy moes ook erken dat Stellenbosch se Victoriastraat met sy erewag van akkerbome in hersfkleed ‘n skouspel is, die US met sierlike geboue kan spog en die skolebuurt langs die Eersterivier buitengewoon indrukwekkend voorkom.
Dan die Fat Butcher in Van Riebeeckstraat – ‘n biefrestaurant soos ons laas in Boston mee kennis gemaak het. Voortreflik met ‘n wonderlike atmosfeer. Net twee dinge: jy moet lank vooruit bespreek en nie sensitief wees vir pryse nie! (Gelukkig was skoonseun, Brent, twee keer die gasheer.)
In Welgemoed ontluik Christopher, nou ‘n Stellenberger, as ‘n al hoe kranige fietsryer. Brent en Marisa moet net bontstaan soos hy sy bakens verskuif. Hulle moes selfs al gaan waterbottels aangee op Brits in Noordwes by die nasionale kampioenskapsbyeenkoms vir skole. Die sing van die speke in die Kaapse fietstoer het tot 2 000 km ver in Sabiepark weerklink. Die Van Deventers was nie min trots nie op Christopher en Brent met hul ramkat-debute in die moordende marathon.

Die speke sing by die Argus.
Ná ‘n besige jaar wag op die gesin ‘n salige vaart op die MSC Splendida na Mauritius oor Nuwejaar. Die oumense bly nie agter nie. In Februarie is ons ook op pad na Mauritius op die QM 2. So word ‘n droom bewaarheid wat al tien jaar lank ná ons eerste kennismaking met daardie manjifieke skip in ons sluimer. In Maart bestyg ons die Splendida saam met Basie en Lena Smit vir ‘n vaart na Walvisbaai. Dalk die laaste.
Aan die debietkant is die onstuitbare ouerword en gepaardgaande onvermydelikhede soos toenemende vergeetagtigheid en verlies aan beweeglikheid. Ook kom ernstige siekte en dood al hoe meer in die spreekwoordelike eie bos voor. Ons harte gaan uit na vriende wat swaarkry met veeleisende behandelings soos chemo, of wat rou oor geliefdes.

Finale groet.
Ons het in die jaar talryke gedenkdienste bygewoon – te veel. Onder die sterfgevalle was vriende en kollegas en hul gades. Een was mentor en vriend Wiets Beukes, oud-redakteur van Die Burger. Hennie het die huldeblyk gelewer. Eers daarna het die besef deurgedring dat die tyd om nog ‘n streep te trek, vir hom aangebreek het. Op 82 raak die staan ‘n probleem. Daardie huldeblyk – een van sowat 20 – was sy laaste. Gelukkig kan sy vingers darem nog tik.
Uit Penguin Place 11 op die noot ons beste Kerswense vir een en almal. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.
Ons opregte Nuwejaarswense kom, soos verlede jaar, uit Psalm 72:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
Hennie & Tokkie
Dec 4, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vakansiegangers wat begin instroom – en Melkbossers self – kan nogal heelwat kontrei-geskiedenis opdiep as hulle daaroor begin rondvra en rondsoek. Die waarheid dring opnuut deur as jy die kans kry om saam met ‘n gids van die Vriende van Blaauwberg-bewaringsbied op die kruin van Blaauwberg (Blouberg) die spore van die Slag van Blouberg op 8 Januarie 1806 na te speur.
Van daardie historiese slag is heelwat in boeke opgeteken. So ‘n eerstehandse ervaring op die slagveld terwyl die son in die weste wegsak en ‘n koel seebries teen jou aanwaai, bied meer as net ‘n tikkie ekstra. Dis of doerie tyd se dinge sommer naby aan jou vel kom. Jy hoort as’t ware weer die grofgeskut doef-doef in jou ore.
Op hierdie veelbewoë westelike kusstrook van Tafelbaai het natuurlik ook die beroemde / berugte Herry en sy Strandlopers hul tuiste gehad. Plus-minus waar die Dolphin Beach-kompleks nou staan, het die “Haerlem” in 1647 gestrand en die koms van die Hollanders verhaas. Vir die ywerige geskiedenisstudent is heelwat pitkos dus binne ‘n klein radius te vinde.
Ek beperk my skrywe tot die storie van anderhalwe eeu later: die landing van ‘n tamaaie Britse mag hier ten einde die Kaap die tweede keer te verower en die Slag van Blouberg wat daarop gevolg het. Dis veral dié stukkie geskiedenis wat Les, ons Probusgroepie se gids, by ons tuisgebring het terwyl die son oor Robbeneiland – van die kruin van Blaauwberg (Blouberg) af ‘n verrassend smal strepie land – sak en die wolke in dieprooi en geel verf.
Om redes wat ‘n stuk geskiedenis op sy eie is, was Melkbosbaai doerie tyd bekend as Lospersbaai (soms ook genoem Losperdsbaai). Dis hier waar Sir David Baird in 1896 met 6 000 manskappe op 63 skepe opdaag met die doel om die begeerlike Kaapse halfwegstasie na die Ooste van Nederland af te vat en vir Engeland in te palm.
Sir Home Popham was bevelvoerder van die Britse oorlogskepe. Hy het sy vier slagskepe, die “Leda” (32 kanonne), die “Protector” (14 kanonne), die “Encounter” (14 kanonne) en die “Diadem” (64 kanonne) in ‘n halfmaan om die baai opgestel – ‘n klipgooi van waar ons nou in die Melkbos Kitchen, die Damhuis of Orca rustig ietsie eet.
‘n Volgehoue spervuur van die skepe af was oor feitlik die hele Boland hoorbaar. Onder die dekking is oral tussen die rotse en seebamboes (klink bekend!) boeie geplaas om die deurtog aan te dui vir die bootjies waarmee soldate, kanonne en voorrade aan wal gebring is.
‘n Kleiner vragskip is aan wal laat loop om ‘n soort seebreker te vorm. Maklik was die operasie nogtans nie. Een boot het omgeslaan en 36 man van die 93ste regiment het verdrink.
Twee dae lank is koorsagtig gewerk terwyl die voorposte van ‘n Hollandse garnisoen met stygende ongemak die magsvertoon van die duine af dophou.
Op genl. Jan Willem Janssens het amper ‘n onmoontlike taak gewag. Tot sy beskikking was net ‘n raap-en-skraap leërtjie van iets soos 2 200 man: Hollanders, Kapenaars, Duitsers, Franse, Hottentotte (Koikois), Maleiers en slawe. Boonop het ‘n regiment bangbroek-huursoldate, die Waldekkers, wanordelik op die vlug geslaan,
Tog is hardnekkig weerstand gebied, plek-plek selfs heldhaftig terwyl die artillerie- en geweervuur ure lank aan die Weskus weergalm. Uiteindelik was die oormag en die omvang van die aanslag eenvoudig te groot. Ondanks eie probleme soos uitputting weens hitte, die warm sand, te min water, te min kos en te min perde het die Engelse die oorhand gekry. Janssens en sy troepe moes bly terugval.
In die Slag van Blouberg het 347 van die “tuisspan” en 204 van die veroweraars gesneuwel. Dit was nie sommer net ‘n oorloggie nie.
Daarna was die Kaap nie meer Hollands nie. Sir David Baird het militêre goewerneur van die Kaap geword en dit gebly tot 1807. Kyk na die straatnaam van Bloubergstrand se hoofstraat. Ook ander strate op Melkbos en Bloubergstrand het name van rolspelers in die veldslag.
- Vir ‘n kortbegrip van hierdie geskiedenis raadpleeg Pieter Geldenhuys se “Die ontstaan van Melkbosstrand”. Vir dieper grawe kan DW Krynauw en GSJ Möller se “Blouberg – ons beroemde strand” aanbeveel word, Om werklik die tande in te slaan, is daar Ian van Oordt se “The battle for the Cape”.