Dec 31, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Alles wat verkeerd kan loop, SAL verkeerd loop. Dié gesegde is so van 1952 se kant as Murphy se Wet bekend. In ’n Kaapse NG-gemeente het ‘n “ds. Murphy” by ’n Nagmaaldiens op ’n Oujaarsdagaand nogal beduidende dilemmas veroorsaak,
By daardie gewyde geleentheid het die moedswillige kwelgees Murphy uit die staanspoor begin knor. Die koster was met verlof en die leraar moes instaan. Dié vergeet die kerk se sleutels by die huis, en die pastoriemoeder kom lewer dit met skreeuende bande af.
Krisis nommer twee: ook die orrelis is weens onvoorsiene omstandighede afwesig.. Die begeleiding word dus ook die herder cum koster se taak. Maar dié arme man was baie senuagtig of totaal onvoorbereid … of albei, rapporteer ’n kerkganger. Hy sing toe ’n solo, want die musiek en woorde het nie op die skerm verskyn nie.
Krisis nommer drie raak die veeleisendste. Die Nagmaaltafel word in gereedheid gebring. Die net word verwyder en sorgvuldig opgevou. Maar, o jittetjie, waar is die brood dan? “Kan ons maar so sonder brood voortgaan?” pleit die moedelose leraar amper. “Nee,” skud nege Nagmaalgangers heftig die kop; nie sonder brood nie.
“Cometh the hour cometh the man.” ’n Ouderling vloog dadelik weg na die Engen-vulstasie om die nodige te gaan koop, terwyl die gemeente sing en die Here prys.
Maar, glo dit of nie, by die vulstasie word die vrywillige onvrywillig die getuie van ’n diefstal. Dit verg tyd en oorredingsvermoë soos min om hom weens die nood in sy gemeente voor die polisie se koms van die misdaadtoneel los te skeur.
Swetend daag hy ten einde laaste by die kerk op met ’n plastieksak in die hand. Die brood kan nou gebreek word en die geleentheid volgens die formulier voortgaan. Maar wat kom uit die konsistorie te voorskyn? Nie gewone brokkies Nagmaalbrood nie; net een bord met hompe “Chelsea buns”.
Die gemeente moes noodgedwonge dié taai brood moedig inwurg terwyl hulle in wroegende stilte verlang na ’n ekstra slukkie wyn.
Agterna skryf ’n besoeker in ’n kerkblad ’n mens bly ’n mens, onvolmaak en feilbaar, maar net te veel het darem by daardie diens skeefgeloop. Wat hom betref, staan die afkorting “vdm” vir “voor Donderdagmiddag”, en hy is glad nie oortuig dat die liturg hom in sy voorbereiding daaraan gesteur het nie.
Ai, antwoord dié toe, hy bely hy is skuldig – hy kon beslis beter voorberei het. Die fiasko het egter daartoe gelei dat die nuwe jaar vir hom baie nederig begin het … en as nederigheid, soos Andrew Murray dit stel, die sieraad van heiligheid is, dan was dit een nuwe jaar wat beloof het om ’n baie heilige jaar vir hom te wees!
Mag dit vanaand met dienste oral vlotter verloop
Voorspoedige nuwe jaar!.
Dec 29, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Terwyl 2023 in sy pylvak met versnelde pas na sy “saktyd” marsjeer (strompel?), diep ek weer ‘n deerniswekkende vooraand-foto op van my oud-hoofredakteur by die dagblad Beeld, Schalk Pienaar. Oor enkele ure sou die eerste uitgawe van die rolpers kom.
Toe al in ‘n stryd teen kanker, dwaal Pienaar in afwagting op die vars koerant alleen deur ‘n verslaggewerskantoor waarin die tikmasjiene vir die nag stil geword het.
Dat die hoofredakteur diep in sy eie gedagtes versonke was, is aan sy lyftaal tasbaar. Verskeie vrae oor die nuweling moet immers in sy gemoed gemaal het. Die oorheersende: sou die toekoms vir sy koerant voorspoed inhou of mislukking?
Die simboliek van die foto by die jaarwisseling is treffend. So wag Suid-Afrika mos nou ook op die saktyd van die ou jaar en die verskyning van ‘n nuwe. Vrae oor wat in 2024 vir sy mense en vir die land wag, is in die media aan die orde.
Kom groter voorspoed – dalk ‘n nuwe daeraad – of wag maar weer mislukking en verdere agteruitgang? Eers as die nuwe jaar “op straat kom”, om ‘n koerant-idioom te gebruik, sal ons stadigaan die antwoorde begin kry.
Intussen dobber ons maar so hoop tussen hoop van sommige en die vertwyfeling van ander. Niemand weet werklik nie.
* Terloops, Beeld vier op 16 September 2024 sy 50ste verjaardag. Sy pad het hy oopgekap tot die enigste Afrikaanse dagblad in die noorde. Die Transvaler is weg, Die Vaderland is weg – so ook Hoofstad en Oggendblad in Pretoria. Maar die stryd was lank en moeisaam. En dis ver van volstry. In die digtale era het nuwe uitdagings gekom, nuwe eise, nuwe aanpassings en nuwe probleme.
Mag 2024 ons almal aangenaam verras
Dec 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In 1980 keer ek uit die Rand terug Bloemfontein toe, waar – tot my meerderwaardige onbehae – laatoes steeds koning kraai. Jy moet omtrent ‘n perd opsaal om die “uitheemse” Bellingham Premier Grand Cru in die hande te kry. Kollegas skinder oor al die Beeld-invloede op hul nuwe redakteur, hoor ek.
In ‘n ambisieuse oomblik trek ek die stoute skoene aan om by Ritsema de la Bat van die KWV vir redakteurs ‘n lansie vir KWV-kwotas te breek, gesien die vername gaste wat hulle soms moet onthaal. Sy instemming ontsluit ‘n baken-verskuiwende kennismaking met ‘n besonderse produkreeks.
So kom daardie wyn van statuur Roodeberg in my lewe, ook ‘n verfrissende Chenin Blanc en Riesling en ‘n reeks sjerries wat veral Sondae voor middagete lank ‘n verleiding is. Die fondament word gelê om vir ‘n aangename kuierwyn tot vandag toe niks verder as KWV se Sauvignon Blanc te soek nie.
Uit Roodeberg vind ek heelwat vreugde , maar beleef ek ook ‘n ongeval wat die hart versuur. ‘n Kosbare kis van die statussimbool moet saam Kaap toe as geskenk vir politieke beriggewer Al Ries vir ‘n reeks scoops soos min. Op die lughawe JBM Hertzog verloor ek op ‘n skuinste beheer oor die lughawe-trollie; net glasskerwe en dammetjies rooiwyn waar jy kyk!
As ek gedink het ‘n skip se wynlys of die KWV-pryslys is indrukwekkend, wag in 1992 ‘n nuwe openbaring. In die jaar word ek ‘n Kapenaar en word ek met verdrag ingelei in die wondere van Naspers se omvangryke wynkelder waarvan connoiseur Andrew Marais, skakelhoof, die sleutels dra. Om landgoedere en oesjare spesifieke te prober uitsonder, sou wees om struikeling uit te nooi. Ek vermy liewer daardie waagstuk.
In die verbyry het ek op eie stoom Nuy se Sauvignon Blanc-vonkelwyn ontdek. Op elke feestelike okkasie in ons geledere klap ‘n Nuy-prop. Deur ‘n Melkbosse vriend met hoë konneksies kom Perdeberg in my lewe. Toe ons in 2016 my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag vier, is Perdeberg se Soft Smooth Red en Chenin Blanc op die tafels in die tent wat op Melkbos vir die driebaken-okkasie opgeslaan is.
‘n Vreugde van die salige aftreejare, nou al 25, is ‘n skemerwyntjie op ‘n bankie langs die see met ‘n Privaat-plaatjie teen die rug en met ‘n uitsig op Tafelberg en Robbeneiland. ‘n Durende probleem is een wat ek reeds drie dekades gelede aan wynmaker Beyers Truter bely het op sy vraag hoe die Kaap die Vrystaatse inkommer geval.
In alle eerlikheid hef ek toe ‘n loflied aan aan wyn, maar meld tog ook ‘n kwelling: dat ek sukkel om ‘n glasie so lank te laat hou soos ek Kapenaars sien doen. Het hy vir my raad en dalk ‘n resep?
Alte seker, kom die antwoord. Die resep is doodeenvoudig; jy kan dit in een woord opsom.
En daardie woord?
Selfbeheersing, sê hy skalks.
Selfbeheersing nè: die vind ek, helaas, steeds maar taamlik ontwykend!
(Slot)
Dec 26, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Advertensie vir Chateau Libertas het my op ‘n skip met “Oom Paul se wyn” laat kennis maak. Daar is beweer dat skepe altyd moes sorg vir voldoende voorraad as die kleurryke politikus uit die wynland aan boord gaan wees. Met “Tassies” het ek in Johannesburg loop kennis maak. Albei was bakens.
In 1971 het ek op ‘n vaart van die Pendennis Castle tussen Kaapstad en Durban Oom Paul se kataktervolle rooietjie ontdek, al was dit dan uit nood leer bid.Die gulle à la carte-aanbod in die eetsaal was ’n aardigheid. Soos wafferse smulpape kon ons kies en keur: vreemde voorgeregte, tempterende tussengeregte, hoofgeregte wat die mond laat water, dekadente nageregte en ’n wynlys om iemand met ‘n bra beperkte wynkennis totaal te verwar.
Toe onthou ek die advertensie wat ek gesien het vir die wyn waaraan Sauer op sy reise voorkeur sou gegee het. Dankie tog vir Chateau Libertas waarop ek altyd kon terugval, ook lank na daardie vaart. (Daardie tradisionele Pendennis-drankie Pimms No. I, vrugtig met ’n stewige jenewerbasis en ’n paar titseltjies verskillende likeurs, het ek ook lank gekoester. )
I
n 1974 sprei die Van Deventers hul vlerke Rand toe vir die stigting van die dagblad Beeld. Daarmee saam het weer nuwe wynervarings gekom. Vereers leer ek in ure van saam dink en beplan met Johannes Grosskopf, eerste redakteur (Schalk Pienaar was hoofredakteur), om die nederige en ietwat vermaledyde maar uiters populêre “”Tassies” (‘n vrugtige rooi versnit uit die Tassenberg-stal) nie gering te skat nie. Gross is immers ‘n bankvaste “Tassies”-man soos min, en wie is ‘n jong Vrystater nou om van sy baas se gevestigde kuierpatroon te wil afwyk.
By ‘n gesofistikeerde kollega, Piet Botma, finansredakteur wat van Die Burger kom, leer ek algou twee ander dinge. Die eerste is dat ‘n periodieke kollegiale middagete op maatskappykoste nie taboe is nie. Die tweede is die verfrissende droër smaak – “en proe die groen appels!” – as van al my wit gunstelinge tot op daardie datum ‘n nuwe statussimbool van die 70’s die Bellingham Premier Grand Cru. Nog ‘n baken waarmee ek ná ses jaar terug Boemfontein toe is, tot verbasing van Volksblad-kollegas vir wie ‘n Laatoes verkieslik was.
Toe ek vroeg in die Beeldjare een aand ‘n klompie oud-Burgermanne en –vroue wil oornooi, vra ek vir kollega George Boshoff advies oor die wyn. orge, Beeld se eerste kunsredakteur en later ‘n vermaarde tennisskrywer, het sonder aarseling Montpellier se huiswyn aanbeveel – ‘n wenner! Ook dit sou ook graag weer wou proe.
‘n Vreemde ver-van-wyn –era breek in 1976 aan met ‘n sabbatasjaar by die Harvard-universiteit in Cambridge, Masschusetts. Nie dat Massachusetts, bekend as die Bay State, nie voortreflike wyne oplewer nie, maar dat my klasmaats – joernaliste van oor die hele VSA en elders – eenvoudig biermense was: bier en bloody Mary’s met skop.
Ons nuwe klas het nog skaars ons vere ingeskud in Cambridge, toe is Amerika stembus toe. Die kandidate in 1976 was Jimmy Carter vir die Demokrate; Gerald Ford, die ingesetene in die Wit Huis, vir die Republikeine. Uitslagnag was ‘n groot gedoente met drie TV-stelle – een op CBS, een op NBC, een op ABC – reuse-pizzas en, te drinke, net n yslike bad vol Budweiserbier!
(Word vervolg)
Dec 24, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Lieberstein het uit Stellenbosch sy glorieryke buiging gemaak in 1959, juis die jaar dat wyn as alternatief vir bier en hardehout met mening by ons geslag Kollegemanne en by Tukkies in die algemeen posgevat het.
Of die studentevriendelike prys of die talmende semi-soet-smaak het waarskynlik die deurslag gegee. Met die intrap is die Stellenbosch- Boerewynmakery (SBW) se splinternuwe produk in liters op Tukkies se proefplaas verbruik. Halsoorkop as’t ware is die studerende jeug in ‘n ontwakende wynkultuur ingesleur. Selfs die deurlugtige koshuis-bierklub het ná effense weerstand geswig.
Weldra het die roem van hierdie juweel van die wingerdstok oor die wêreld heen gespoel. Een, twee, drie was Lieberstein die internasionale bobaasverkoper van sy era met ‘n hoogtepunt van 31 miljoen liter in 1964. Ons manne se bydrae was sekerlik nie te versmaai nie, maar hard soos ons probeer het, waarskynlik skaars ‘n druppel aan die vat.
In 1961 is ‘n tweede baken op my wynpad geplant. Die kongres van die Afrikaanse Studentebond is op Stellenbosch gehou. ‘n Treinvrag noordelike studente het vir die doel op Matieland toegesak. Met die afskeidsdinee in die stadsaal is toe nie Lieberstein op die tafel nie, maar ‘n ander staatmaker-dorslesser van sy tyd: Grünberger Stein.
Die bydrae tot die feestelikheid van die fassinerende groen bocksbeutel op die tafel was enorm. “Engeltjiepiepie” is die semi-soet steen dadelik studentikoos gedoop. By hierdie liefhebber is dadelik ‘n standhoudende affiniteit gekweek. Grünberger het lank ‘n eie voorkeurwyn gebly, ook nadat ek in 1963 as verslaggewer by Die Volksblad in Bloemfontein ingeval het.
Soos Lieberstein, het Grünberger Stein die mark stormenderhand getref.. Saam met Bellingham Johannisberger, Nederburg Stein en Graca was hy lank in die topvier in sy klas.
‘n Paletplesier van ‘n ander geaardheid is in die middel 60’s aan my openbaar, en wel deur my woonstelmaat Ben van Rensburg in La Gratitude in Unielaan, Bloemfontein. Die latere motorredakteur van faam had stewige Kaapse wortels – was onder meer ‘n Wilgenhoffer op Stellenbosch – en kon gesellig kuier rondom ‘n karba port waarvan hy vir ‘n bestendige invloei van Stukvat in die Paarl gesorg het. Dit was my wynbaken nommer drie.
Op 15 Maart 1966 het ek op Tokkie van Wyk se 20ste verjaardag ‘n verloofring aan haar vinger gesteek op ’n romantiese ete in die restaurant Franco’s in St. Andrewstraat. Die wyn onthou ek goed: die effens soeterige maar smaaklike Tassheimer Goldtröpfchen. Grünberger Stein en Tassheimer Goldtröpfchen het ons twee se witwyn gebly (af en toe afgewissel met ‘n rooietjie, hoofsaaklik Zonnebloem Cabernet).
Eintlik moet ek kwalifiseer: dit was ons tuisveld-wyn. Ons vakansiewyn daardie tyd was ‘n Vinkrivier uit die Breederiviervallei (‘n Riesling, meen ek) wat deur studentemaat Proppie Goosen van George aan ons bekend gestel is op ‘n vakansie op Buffelsbaai. Daardie lekker wyn het by ons so geliefd geraak soos Buffelsbaai self.
Nou nog as ek op die R60 tussen Worcester en Roberston die afdraai na Vinkrivier sien, dink ek met verlange aan daardie welaangename wyn wat soos sovele ander gunstelinge van vervloeë tye onverklaarbaar net van die rakke af verdwyn het.
(Word vervolg)