KLEURRYKE KAROO ‘n BLOMMEFEES




Rapport uit Bultfontein, Vrystaat – 1 130km van Melkbos – oor die matriek-plus-60-fees van Tokkie (‘n nooi Van Wyk) se matriekklas van 1963 deur ‘n ou wat maar grootlik in die hoekie gesit en sy bek gehou het. En het die 15-stuks nie gekuier nie, van Vrydagaand af, Saterdag heeldag deur. Bittereinders het nog die Iere teen die Skotte gaan aanmoedig.
Die voortreflike skool se leuse “carpe diem” is met die feestelikheid waarlik uitgeleef.
Verrasssing van die okkasie: die saamkuier van die 92-jarige Antonie Fivaz, een van hul onderwysers. Die man het stamina en ‘n humorsin soos min. Kwinklslae rol oor sy lippe.

Rede vir die klomp om bors uit te stoot: die voortreflike toestand van hul ou skool. Al die geriewe is van hoogstaande gehalte. Hierdie trotse Volkie van Potchefstroom erken dit met graagte. As alle plattelandse skole so sou lyk, was Suid-Afrika se saak gewonne.
Saterdagaand is skaap van die spit af geniet – meesterlik voorberei deur Sias van Rensburg, ‘n klasmaat , en sy flukse gesin, So murgsag het ek nog nie skaapvleis geproe nie!
‘n Biezondere voorreg is dit vir my om enkele foto’s vir die nageslag hier te verewig. Uit die hope en hope wat op duur, gesofistikeerde kameras, eenvoudiger kameras, Apple iphones, asook Samsung- en ander selfone gekiek is, het ek (met ‘n natuurlike vooroordeel ten gunste van mev. Van Deventer) op die volgende ses besluit:
‘n Spanfoto van plus-minus al die klasmaats wat teenwoordig was.
Asof hul al die antwoorde ken. Die hande skiet omhoog in ‘n klaskamer.
Die klomp staan tou om ‘n klasmaat in die hospitaal met boodskappies op te beur en vir haar uit volle bors “Geluk, liewe maatjie” te sing.
Hoofseun Koot Muller met ‘n baadjie wat deur Nelson Mandela aan die skool geskenk is nadat ontdek is sy kleure en dié van die parlementêre rugbyspan is vinkel en koljander,
Tokkie groet die hupse Antonie Fivaz, wat so lekker gekuier het dat ‘n belangrike rolbal-afspraak in die slag gebly het.
Tokkie maak korte mette van ‘n ribbebeen van ‘n skaap wat deur Sias van Rensburg geskenk en tot perfeksie op die spit gebraai is.

Die moontlike wanindruk dat die Van Deventers slegs vir die mevrou se matriek-plus-60-reünie Vrystaat toe is – ‘n vinnige heen-en- weertjie van 2 342 kilometer – moet uit die weg geruim word. ‘n Tweede reünie was een van die uwe: ‘n Volksblad-plus-30 kan ‘n mens dit noem.
In April 1992 het ek my kantoordeur in Voortrekkerstraat, Bloemfontein, vir oulaas agter my toegetrek. Maandag was ek bevooreg om in die geselskap van gewaardeerde kollegas die blad se nuwe tuiste in Westdene te besoek, asook die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.
Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie vir ou man nie om op sy ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar hy soveel jare gearbei het, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit sy kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.
Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat dateer uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe. Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.
Die meubels is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié behoort nou aan die Rising Sun-groep en lyk vir my bra bedremmeld.
Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.
Die gashere Maandag was Wyno Simes en Annelien Diederichs van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.
Kameras het natuurlik vir die vale geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Hoop maar die trane van aandoening wat wou-wou loop, laat nie my oë op die foto’s onnatuurlik blink nie!
Die foto’s hierby is van die volledige Volksblad-span op die trappies van NALN se sierlike sandsteengebou in Pres. Brandstraat, van my en kollegas Piet Theron en Sarel Venter, twee hoofredaksielede uit my era, van die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan.)
‘n Insiggewende besoek daarna aan die nuwe Volksblad-tuiste het paaie laat kruis met ou kollegas soos Charles Smith en Marietjie Gericke. Al is die splinternuwe opset dramaties anders as in die vervloë ou dae het die nostalgie dik geloop. Die drukkersink in die are het gedruis en gebruis.
‘n Lewenservaring van onmeetlike betekenis was dit vir hierdie 82-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die onuitwisbare herinnering aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.
*****