VINNIGE FANIE WYS HAKSKENE VIR PETER CARLSTEIN

Vinnige Fanie met al sy atletiekbekers.

Met die dood van die kranige sportman Peter Carlstein – een van Suid-Afrika se veelsydigste – nooi ek lesers saam na die SA junior atletiekbyeenkoms in Bloemfontein in 1957, my matriekjaar.

In die eindrondte van die 440 vir seuns o/19 sak twee Vrystaters in die wegspringblokke: die nimlike Carlstein van St. Andrew’s in Bloemfontein en ‘n vaalseun van Bultfontein Hoër, ene Fanie van Wyk.
Carlstein is die oorweldigende gunsteling. Het hy dan nie by die Vrystaatse tussenskoolse byeenkoms – die beroemde Inter High – die 440 in ‘n verstommende rekordtyd van 49,6 sekondes afgeblits nie?
Verrassend is dit egter Fanie wat eerste uit die blokke skiet. Om die eerste draai is hy al voor. En hy bly voor. By die 220-merk raak dit duidelik: niemand vang vandag hierdie vlieënde Vrystater nie. Fanie breek die lint in net onder die 50 sekondes. Carlstein eindig in die bondel.
Wat nou, wonder die Vrystaatse spanbestuur. Vir die aflos (880, 2 x 220 en 440) is Carlstein vir die 440-been gekies en Fanie vir een van die 220’s. Moet hulle omswaai? Dit gee nogal ‘n debat af. Nee, besluit hulle eindelik: ons hou die span soos dit is.
Daar hardloop Carlstein toe die 440 van sy lewe. Hy ontvang die aflosstaffie 20 treë agter die voorloper. Maar hy byt vas. Met ‘n kragtige eindpoging in die pylvak laat hy sy teenstander agter. Die Vrystaatspan wen met sowat agt treë in ‘n SA rekordttyd van 3 min. 33,8 sek.
Op die podium staan Carlstein en Van Wyk stralend van trots naas mekaar met hul goue medaljes om die nek.
Daardie Fanie het in 1966 my swaer Fanie geword. Hy was die broer van my gade, Tokkie, sy kleinsus. Net langs die skool is die kerk waar ons getroud is.
Met Fanie se dood in 2016 het ek hom by sy gedenkdiens in Brackenfell o.m. tipeer as Vinnige Fanie en Vergooi-Fanie. ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters doer ver beland het. Die gewigstoot moes gestaak word totdat Fanie klaar was. Van sy ander rekords wat lank gestaan het – dalk nou nog – is vir die paalspring.
Dat hy sy kaal voete so vinnig kon dra, het die trotse Bultfonteiners aan die duwweltjies op hul atletiekbaan toegeskryf. Die baan is destyds kort voor die huisbyeenkoms sommer deur die boere van die distrik met hul plaasgereedskap kom versorg. (Vandag is dit ’n sieraad, soos die res van die skool.)

ONDEUNDE ENGELE EN ‘N FEES WAT ROEP

In die verre Cambridge, Massachusetts, VSA, ‘n klipgooi van die karaktervolle Harvard-kampus, word die naweek ‘n fees gevier wat by ‘n hand vol SA joernaliste heerlike herinneringe na vore sal bring. Hulle is die klompie wat bevoorreg was om ‘n sabbatsjaar as Nieman Fellows by Harvard deur te bring.
Die fees is om die 85-jarige bestaan te vier van die Nieman Foundation for Journalists, ‘n stigting met die edel doel om joernaliste so halfpad in hul loopbane in die kans te gee om van spertye te vergeet en ‘n jaar in ‘n akademiese omgewing te kom rustig raak. Tot enkele jare gelede was ‘n Suid-Afrikaner gereeld een van die klas.
My geleentheid om Nieman Fellow te wees – ‘n joernalis se geleentheid van ‘n leeftyd in my oë – was in 1976/77. As ek die naweek se reünie kon bywoon, sou ek dus een van die veterane daar gewees het. Amerika is egter nie agter die bult nie en die dollar is duur. Dan is daar natuurlik die eindstryd in Parys. In Cambridge is nie DSTV nie.
Ek vier nou maar my eie klein reünie met ‘n herbesoek aan die dosynstuks foto-albums van daardie jaar. Foto’s van die skilderagtige Harvard-kampus, Cambridge se kleurryke Harvard Square, die Charlesrivier, my dapper Corona Merk II-stasiewa, sneeuwit Amerikaanse winters en bowenal, die sosiale verkeer met klasmaats het, helaas, die verlange na die verre alma mater en die lus vir die reünie net des te meer aangewakker.
“There is only one Harvard Yard in the whole world,” verklaar Barbara Westman in haar sketsboek The Beard and the Braid. Daarmee stem ek van harte saam. Seker ook al die ander Nieman Fellows nog in lewe, onder wie Naspers-kollegas Ton Vosloo, Tim du Plessis en Johanna van Eeden, asook Harald Pakendorff en Dries van Heerden van Perskor.
‘n Nieman-soewenier waaraan ek waarde heg, hang aan ‘n gedenkmuur in my studeerkamer. Dit is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Foundation se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap ewe ondeund aan die ander: “Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.”
By my gelukwense aan die huidige kurator van die stigting, Annmarie Lipinski, sluit ek ‘n afdruk van die skets deur ene Marlette, ‘n Nieman Fellow van 1984, in met die woorde: “It as a sentiment I understand and can easily identify with.”
Natuurlik is dit net by wyse van spreke. Maar dat dit ‘n weergalose jaar was. Is gedoriewaar.

OM TE SLAAP BY DAISY SE BYTPLEK

Ligging is een van die redes waarom ‘n reis op ‘n bepaalde plek onderbreek word.   So slaap ek en gade, Tokkie,  nou die nag op Richmond om geen ander rede nie as dat die plek is waar dit is: as jy die pad tussen Kaapstad en Johannesburg in terme van ‘n mens se lyf sou beskryf, plus-minus in die omgewing van die naeltjie.

Dat ons oor die ligging gegrinnik het terwyl ons op die stoep van ‘n gastehuis ‘n skemer-wyntjie geniet,  het te make met ‘n storie van ‘n hond –  ‘n Engelse bulhond, Daisy  –  wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad gebyt het.

Die storie kom oorspronklik van ‘n vriendin van Tokkie, Una Beukman,  Dis n storie wat ‘n man maar versigtig moet oorvertel, want die plek waar Daisy haar tande ingeslaan het, is bra sensitief.

‘n Skerpsinnige regsman, wyle adv. Kosie Olivier, ‘n vorige buurman, het daardie problem oorbrug deur die plek in die hof haar Richmond te noem.  Die agtergrond van die 1989-hofsaak kry ek ná speurwerk van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in die humorboekie “Corresponding met die “law” deur oud-landdros Wessel Marais.

Die feite  is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het later versuur. Op ‘n dag los Daisy, hond van die verweerder,  ‘n onwelkome visitekaartjie direk voor die deur van die eiser in die woonstel onder haar dakwoonstel.

Die dame  stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word. Ná ‘n halfuur lê die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak voor haar deur.  Sy stoom nog meer verwoed as tevore weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi af.

Daisy wat rustig voor die katel le en snork het, word gewek en gryp, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, die aggressor met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie.

Buiten dat dit vrek seer was en sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak – en verloor dit in die Kaapse siviele hof.

Dit blyk skadevergoeding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan net in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Die verweerder sal aanspreeklik wees vir skadevergoeding indien die klaer suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; die dier ‘n huisdier is; die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het (die naturem sui generis); en die dier se optrede die klaer skade veroorsaak het.

Die landdros in hierdie geval het  bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.

Die landdros spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis daar so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak.  Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oop was vir verkeer!

(Ek het die storie voorheen op Facebook gedeel, en dit het heelwat reaksie uitgelok, veral ander moontlike plekname vir die bytplek, soos Noupoort,  en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers liefs verswyg word.)

 

‘n SUPER-TAMAAIE BADKAMER

As ‘n kompetisie sou bestaan om die grootste badkamer in ‘n gastehuis of iets dergeliks te vind – en ook nie net in Suid-Afrika nie – het ek my kandidaat.
Dalk in Steyn City by Johannesburg? Of in die Val de Vie-landgoed by die Paarl? Iewers in die laadieda-buurte van Kaapstad soos Constantia of Clifton? Iets meer landelik op ‘n eksklusiewe wildreservaat soos Londolozi of Mala-Mala?
Aikona. My kandidaat is op beskeie Bultfontein.
Bultfontein? Ja, man, daai Vrystaatse dorpie so 100 km wes van Bloemfontein in die mieliedriehoek, buurdorp van Brandfort, Hoopstad, Hertzogville en Wesselsbron onder meer.
Jy glo my nie? Gaan kyk gerus self en raak oortuig. Jy sal jou oë nie glo nie. Dit waarborg ek jou.
‘n Goeie roete is om by Brandfort die Dealesvillepad te vat. Ry jy van Bloemfontein af moet jy pas op vir die slaggate, veral tussen Soetdoring en Soutpan. Die goed is endemies.
Iemand vertel my hy het self gesien hoe ‘n Land Rover Discovery op ‘n plat vragmotor daar weggery is toe die bestuurder te onverskilllig wou aanstoot. Hou die naald maar so by die 60 op die slegste stukke.
Gaan soek dan op Bultfontein na Andrew Murraystraat . Op die hoek is Lentehof, voorheen Louisehof waar my skoonma, Marietjie van Wyk, in die 70’s gewoon het.
Die gastehuis se naam is Die Villa. Die nommer het ek nou vergeet, maar jy kan hom nie mis nie. So ‘n kastelerige plek in ‘n Spaanserige boustyl. Kyk die foto bo links in die collage hierby. Daar is nie ‘n ander naastenby ewe groot huis op die dorp nie.
Jy sal vriendelik ontvang word deur Elma Slabbert, ‘n joviale, hulpvaardige boervrou , voorheen van die distrik Soutpan. Sy is die bestuurder en woon in die huis in een van sy vele hoekies.
Die ruim sitkamer, TV-kamer, kombuis en konferensiekamer gaan jou al tref. Ook die ligtoebehore en massiewe skilderye. Maar dis die badkamer van die hoofslaapkamer waarna ek jou graag verwys.
Sê maar vir Elma Hennie van Deventer van Melkbos het jou gestuur om te kom kyk: die ou gryse met die kierie wat so dringend by haar ‘n kurktrekker kom leen het.
As jy wil, kan jy die reuse-badkamer se grote aftree soos ek inderdaad twee keer gedoen het. Dis so groot soos ‘n dubbelmotorhuis – so naastenby 40 vk. meter; 13 meter in lengte en drie meter breed.
In die een hoek is ‘n gekurfde praalbad wat jy met ‘n trappie bestyg. Kyk die foto bo regs.
In ‘n ander hoek is ‘n tamaaie dubbelstort agter ‘n deursigtige glasafskorting . Dis die foto onder regs.
Tussen die bad en die storte is twee wasbakke op ‘n donker houtblad so groot soos ‘n eetkamertafel. Dis hulle daardie op die foto onder links.
Die toilet? Nee, dié is enkel. Maar ook super de luxe, hoor, en so solied soos ‘n troon.
Ene Gert Meiring het die kasarmte in die 70’s gebou. Sy pa was ‘n ryk mielieboer, en hy glo die enigste matriekseun wat destyds met sy eie tjekboek in sy eie motor rondgery het. Later het hy onder meer ‘n inryteater by Bultfontein gebou. Ongelukkig nie winsgewend gewees nie.
In ‘n stadium het ‘n dr. Neser daar gewoon. Die huidige eienaar is ‘n inkommer, Volla du Plessis. Hy rig steeds net meer kamers in, want die Villa is by besoekers aan die dorp nogal gesog. So lyk dit.
In Die Villa het die mense van die misipaal (my kollega Johan van Wyk van Stop van Myne se woord) ook graag hul konferensies en opleidingsessies kom hou. Maar toe raak die geld skraps. Deesdae is die stadsaal hul voorland – iets waaroor hulle mor, want die eetgoed is nie rojaal nie en die toilette nie altyd so silwerskoon nie.
Dit egter net terloops. Dis oor daardie enorme badkamer wat dit hier gaan. As ‘n groter een in ‘n oornagplek iewers bestaan, sal ek graag daarvan te hore kom.
Die kanse is egter gering, glo hierdie waarnemer wat in sy 82 jaar op aarde sy voete op verskeie vastelande kon sit en nog nie tevore ‘n badkamer met soveel spasie gesien het nie. Njannies.

TERUG NA DIE PLEK WAAR ONS TROU GESWEER HET

Nou ook al amper 57 jaar gelede, op ‘n snikhete Oujaarsdag, 31 Desember 1966, is Jakob Hendrik van Deventer (25) en Gesina Susara van Wyk (20) op haar tuisdorp, Bultfontein, in die huwelik bevestig. Dis ‘n tipiese plattelandse NG kerk, ‘n netjiese, soliede siersteengebou met ‘n tradisionele hoë toring. Die klok lui elke halfuur.
Neffens die kerk is die ou begraafplaas waar Tokkie se vroeg gestorwe pa, Kotie, begrawe lê en waar later ook vir haar ma, Marietjie, ‘n mooi steentjie aangebring is. Die rye grafstene diens as dekor op verskeie van ons troufoto’s. Die plek lyk nou ongelukkig taamlik verwaarloos. Van die grafstene het omgeval. Party grafte het sleg ingesak
Nes sommige misdadigers, veral sosiapate, graag terugkeer na die misdaadtoneel om hulle te verlustig, is die egpaar Van Deventer verlede Sondag saam met ‘n klompie van die bruid se matriekmaats weer die steil trappies van daardie kerk op vir die oggend se erediens. Darem nie om ‘n “misdaadtoneel” te herbesoek nie, maar uit ‘n sentimentele drang.
Laat ek maar erken: ‘n roering van emosie in my 82-jarige hart was fisiek voelbaar toe my oog op die formele houtkansel val waar ek daardie middag, swetend in my houtskoolswart pak met die fyn wit strepies, angstig op my skone jong bruid staan en wag het. Tokkie (net 20) was vir my eteries mooi toe sy net ná 15:30 stralend aan die arm van haar weduweema, Marietjie, die kerk ingesweef kom.
Wyle Lenie Mostert kon die orrel ooptrek met Felix Mendelssohn se Troumars. My neef wyle Bertus du Plessis – ’n goeie man wat later ‘n leraar van die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) geword het en van wie tot my spyt ‘n politieke vervreemding was – kon sy spreke plegtig spreek.
Wyle Margot Luyt, stemkunstenaar, ‘n mede-Bultfonteiner, het in haar volryp stem vir die bruidspaar Psalm 121 (ou vertaling) voorgedra: “Ek slaan my oë op na die berge. Waar sal my hulp vandaan kom….” Ons het aan mekaar trou gesweer en mekaar die regterhand gegee. Ek het die bruid liggies gesoen.
In haar bruidsglorie het my Volksblad-kollega wyle Kas Dreyer, ‘n knap fotograaf, Tokkie gelukkig op pakke pragfoto’s verewig. Ek het pas weer met behae die spierwit trou-album uit sy boks gehaal. Die foto’s lyk so vars of dit gister geneem is. Hier is ‘n paar.
Ek het my vrou van 56 jaar en 9 maande ná Sondag se diens weer afgeneem by die breë stel trappe by die kerk se voordeur waar die trougaste op 31 Desember 1966 met hul hande vol konfetti op die verskyning van die bruidspaar gewag het. Dis die vars foto hierbo.
Om die NG kerk Bultfontein te herbesoek, het om meer as een rede vreugdevolle herinneringe gebring. As aflos-orrelis was Tokkie as skoolmeisie dikwels ook in daardie kerk agter die orrel, wat deur ‘n petrolenjin aangedryf is. Sy het ook daar belydenis van geloof afgele.
‘n Herinnering om oor te proes, is aan skoonma Marietjie se onderonsie met ‘n verdekselse meerkat in die jare 60. Soos ek dit het, was sy – ‘n diep gelowige kerkmens – in die gewyde stilte voor die begin van die diens diep in gedagte versonke toe sy ‘n ongewone gevroetel by haar voete ervaar. Toe sy afkyk, sien sy net waaierstert. Die kreet wat haar lippe ontsnap het, was ‘n hulpgeroep na Bo. Meerkat se kind het vreesbevange laat spat.
Later kon skoonma nie glo nie dat sy van alle mense – iemand in wie se woordeskat nie vir kragwoorde plek was nie – so groot kon skrik dat sy haar sulke oneerbiedige vrymoedigheid veroorloof het.