KARIKATUURMUUR MET ‘n MOTTO

Een takie die Erfenisnaweek – hoe braai jy as die reën so neergiet? – was om my karikatuurmuur in die studeerkamer op datum te bring. Daardie muur is immers ook op sy manier die viering van ’n erfenis: ‘n leeftyd in die koerantwese.

Van bo tot onder is dit die ene geraamde spotprente en karikature. Wat nou bygekom het, is Dr. Jack van Die Burger se spotprent van ‘n week gelede na aanleiding van die woeste golwe wat motors meegesleur het.  ‘’n Toeskouer (wit hare en wit snor): “Ou maat, lyk my jou ou C-klas is nou ‘n nuwe See-klas.”

Gereelde lesers van my blog en Facebookplasings sal weet waar die inspirasie vandaan kom, veral as hulle mooi kyk na die ou se wit hare en snor, nes myne. .

‘n Tweede spotprent is een wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is reeds heen. Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het trouens in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien. Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.

Oudste spotprent teen die muur is een wat in 1979 in Beeld verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was. Die tekenaar is Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. Beeld word 50 in 2024.    Botma en Van Walsem is al oorlede

Onder die vyftien-stuks sketse op my muur is dié wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het: Een deur Charl Marais van die redakteur HvD, gebaadjie en gedas met Volksblad in die hand. Dit was op die agterflap van my eerste boek, Scoops en skandes.

Dan een deur ‘n onbekende kunstenaar uit die tydskrif Magazines in focus: ‘n korpulente HvD, koerant in die een hand en telefoon in die ander. Hy bulder: ”I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD.” Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 30 jaar gelede prematuur wou begrawe.

Hierdie karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, Flaters en kraters. Die aanleiding was ‘n toespraak waarin ek bruisend verklaar het: ”Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies. Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!”

Die derde in die reeks is deur Fred Mouton. Ek sit by my rekenaar waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van Die Burger by my aftrede einde 1997. Dit was op die agterflap van my reisboek, Oos, wes, reismoles.

Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies, Polisie, polisie, ons reënboog is geroof. Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar.

Wat ook teruggryp na die verre  verlede is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap aan die ander: ”Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.” Na ‘n onvergeetlike jaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.

Uit my Volksblad-dae kom allerlei illustrasies by humorstukke uit my pen. Charl Marais het my geteken waar ‘n Brasiliaanse polisieman met ‘n yslike snor my op Rio se lughawe beetkry. Dit had te make met ‘n oorgewig-koffer waarvan ek moeitevol ontslae geraak het. ‘n Tweede is van my kennismaking met die Swartsee in Rusland. Waag ook maar net om ‘n toon in te steek. Die kunstenaar is Fred Mouton.

Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het. ‘n Koerantverkopertjie skreeu: “BURGHE!” ‘n Man stoom op hom af. Die outjie skrik hom boeglam en lê rieme neer. Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag. Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: “”n Burger asseblief. ” Die verkopertjie is verstom: “Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….”

Twee dinge maak hierdie ene vir my spesiaal waardevol: Honiball se handtekening en die pragtige uitbeelding van die hegte verhouding tussen die leser en sy koerant – iets wat wat al die wondere van die e-era nie kan troef nie.

Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, wyle Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent Peanuts present gegee. Die dierbare Peanuts-karaktertjie is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf. Dit begin: “Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?”

In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: “Hoe gaan dit met jou? Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf?” In die derde antwoord Linus: ”Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen”. In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop: “Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?

Het ‘n geweldige affiniteit vir daardie geskenk van vriend Faan. Trouens, skielik besef ek opnuut ek hoe ‘n affiniteit ek vir die hele muur het. Al die tekeninge saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is die motto waarmee ek my loopbaan afgesluit het, en wat by my steeds geld: Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.

 

HIER IS DIT: VOLLEDIGE NOODLOTSFOTO

‘n Muur van water stort oor die reling by Leentjiesklip, Wildernis, en agt mense skarrel na veiligheid. Vir een van die agt, ‘n 93-jarige oud-onderwyseres, eindig die Saterdagse seedrama noodlottig. Sy word neergevel en  tot in die middel van die pad gespoel.  Sy sterf op pad na die hospitaal.

Hoe die agt op vlug slaan voor die skielike bedreiging is te sien op ‘n dramatiese foto van ‘n ooggetuie, Tanya Rossouw (52) van Wildernis, wat in haar Mahindrabakkie op die parkeerterrein met haar selfoon sit en foto’s neem het.  Die bakkie was oomblikke later ook onder water.

Die unieke foto word vandag die eerste keer volledig aan die wêreld gewys.  Aanvanklik is net die helfte van die foto met die man Nolan en sy  gesinnetjie links daarop gepubliseer uit respek vir die oorledene, mev. Jo Hartman, en haar naasbestaandes se privaatheid.

Vandag se eerste publikasie van die volledige foto hier op my blad, die Facebookblad Nagkantoor en my blog by www.hennievandeventer.co.za  is met vergunning van die fotograaf en die slagoffer se kinders.  Dit word met groot deernis as huldeblyk aangebied aan ‘n merkwaardige dame wat diep spore in die onderwys getrap het.  Buiten mev. Hartman self is in die groepie regs ook mense net bekend as Jaco en Carey-An.

Publikasie volg op landwye verwondering wat die halwe foto gister uitgelok het. Lesers het selfs ooreenkomste raakgesien tussen die foto en die ikoniese foto van 1972 van ‘n klompie Viëtnamese kinders wat beangs op vlug slaan ná ‘n aanval met ‘n napalmbom. Voor op daardie foto hardloop ‘n kaal meisietjie van net nege jaar oud. Dit het die foto bekend laat word as die “Napalm girl”.

Verskeie lesers het op die intrinsieke nuuswaarde van die foto ingefokus  – die enigste getuienis van die treurspel wat hom by Leentjiesklip afgespeel het. Anena Burger, fotojoernalis van Media24, het in ‘n kommentaar geskryf dat selfs net die helfte van die foto ‘n Amerikaanse Pulitzerprys verdien.

Sy skryf: “Hierdie foto vertel so baie. Dit gee in ‘n mate agtergrond en voorspel wat kom. Die vrees en haas op die kind en die man se gesig. Die vrou wat oor haar skouer loer na die dodelike gevaar wat op hulle neerstort het my die meeste aangegryp.

“Tanya, dit was dalk nie n lekker oomblik nie, maar een waarin jy hierdie stormgolwe verewig het. Fotojoernaliste se lewens is daagliks in gevaar om sulke beelde vas te lê, maar die keer was dit ons lesers en die publiek wat hierdie oomblikke opreg vasgevang het. Sterkte vir jou ook. Ek is seker die beelde is steeds vir jou traumaties.”

‘n Oud-skoolhoof van die Wes-Rand, André Groenewald, was die eerste om die gedagte van die foto as huldeblyk aan mev,. Hartman en die ander te opper “Die deel van die volle foto met die wêreld kan juis groot eer bring aan die betrokkenes,” het hy geskryf.   “Indien dit ‘n unieke foto is (my vermoede is dat dit wel is), hoop ek dat dit tog gedeel sal word wanneer die tyd reg is.”

Tanya wat die trefferfoto geneem het, is ‘n tuinboukundige  en “digitale skepper”  van Wildernis “sonder man, kind of hond,” soos sy dit self stel. Sy is met haar bakkie, genaamd Max, spesiaal Leentjiesklip toe om foto’s van die onstuimige see te neem. Al is sy lief vir fotografie het sy haar kamera tuis gelos en net op haar Samsung-selfoon staatgemaak.

Sy het besluit om veilig te speel en in die middelste parkeerplekke vir Max ‘n gaatjie gevind. Sy het so 90 minute daar sit en kyk. Toe slaan  die reuse-fratsbrander toe. Haar voertuig het ook deurgeloop, binne en buite, “maar dit is ‘n kleinigheid in vergelyking met wat ander mense  verloor het. Die lewe verander in ‘n oogwink. “

Sy was seker angsbevange?  Vreemd nie; het dadelik uit haar bakkie  gespring en begin hulp verleen in die chaos wat ontstaan het.

Wyle mev. Hartman  – Tannie Jo – was ‘n kwarteeu lank, van 1969 tot 1994, ‘n voorste wiskunde-onderwyseres aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. Sy is in huldeblyke deur leerlinge beskryf  as “die legendariese, gesofistikeerde Wiskunde-ghoeroe vir dekades.  Haar Wiskunde – nalatenskap is legendaries.”

Ander foto’s: Tanya Rossouw en een van haar foto’s van die onstuimige see Saterdag by Leentjiesklip.

 

 

HIER IS HY: DIE DODELIKE NOODLOTSGOLF

 

Onheilspellend, vreesaanjaend, dodelik. Mense skarrel vervaard om weg te kom voor die toringhoë noodlotsgolf wat Saterdag by Leentjiesklip, Wildernis, die lewe van ‘n brose 93-jarige, mev. Jo Hartman, geëis het.

Mev. Hartman was aan die terugstap van die reling af toe die dreunende  reusebrander haar en haar geselskap onverhoeds tref. Mev. Hartman is tot in die pad meegesleur en is in ‘n ambulans op pad na die hospitaal oorlede.

Hierdie beeld van die treurspel is ‘n gedeelte van ‘n  foto van ’n ooggetuie, Tanya Rossouw van Wildernis.   Sy het in haar bakkie gesit en foto’s van die onstuimige see geneem toe die muur water – sy skat dit so vyf tot ses meter hoog – skielik bo-oor haar voertuig spoel.

Op die ander helfte van haar oorspronklike foto is die groepie waarin die slagoffer haar bevind het.  Tanya verkies om dit terug te hou uit respek vir die oorledene en haar naasbestaandes.

Selfs sonder daardie detail is dit egter ‘n uiters nuuswaardige foto – een wat volledig reg laat geskied aan wat die Franse fotograaf Henri Cartier-Bresson, vader van die moderne fotojoernalistiek,  “The decisive moment” noem.  Hy verwoord ‘n groot waarheid  so:  “Ons fotograwe werk met goed wat gedurig verdwyn. En wanneer dit eers verdwyn het, kan niks op die aarde dit terugbring nie.   Ons kan nie ‘n herinnering ontwikkel en uitdruk nie.”

Eenvoudig gestel: jy het ‘n foto of jy het hom nie. Tanya het haar foto, al verkies sy dan om dit nie volledig met die wêreld te deel nie. My dank aan haar vir die vergunning om die halwe foto hier te plaas.

‘n KOERANT WAARIN BAIE LIEFDE GESTORT IS

Dat die eerste uitgawe van Beeld more, 16v September,  presies 49 jaar gelede verskyn het, laat hierdie 82-jarige lid van die span stigters meteens stokoud voel. Hoop maar met die halfeeufees  aanstaande jaar sal ek nog hier rond wees om saam in die vreugde te deel.  Net vir ingeval dinge anders uitval, sal ek vanaand en more-aand al  ‘n premature feesglasie vonkelwyn daarop klink.

Op die hooffoto in hierdie klein collage oor daardie groot dag in my joernalistieke loopbaan staan  ons eerste redakteur, Schalk Pienaar, regs. Links is adv. Lang David de Villiers, besturende direkteur van Naspers, en in die middel  dr. Phil Weber, voorsitter.  ‘n Mens kan sommer sien die drie Naspers-swaargewigte bars van trots op die weerbarstige nuweling wat die koeranttoneel in die noorde later ná ‘n lang en bitter stryd op sy kop sou keer.

Bo links dwaal Pienaar op Sondagaand 15 September laataand deur ‘n verlate verslaggewerskantoor in die lelike ou eerste Beeldgebou in Millerstraat, Doornfontein  – nes ‘n verwagtende vader by die geboorte van sy eersteling.  Die formidabele redakteur sou helaas net enkele maande in sy veeleisende hou voordat hy weens swak gesondheid die aflosstokkie aan Johannes Grosskopf moes oorhandig.

Die klein fotot’jie regs onder is die Sondagmiddag in die fabriek geneem. Die uwe, eerste nuusredakteur, staan opgewonde en kyk hoe die eerste voorblad gestalte kry.  Dit is 49 jaar gelede. Dit voel soos gister.

Die heel eerste uitgawe het verskyn met ‘n scoop. Die Burger se Alf Ries, prins van politieke beriggewers, het daardie oggend met die Boeing uit die Kaap die berig gebring  – met komplimente van PW Botha. “Troepe oral op die grens”. Die Suid-Afrikaanse Weermag skud hom reg weens die chaos in Mosambiek ná Portugal se abdikasie. Troepe is oral op strategiese plekke aanwesig. Grense word gepatrolleer.

In Julie 1980 moes ek vir Beeld vaarwel sê om terug te gaan “huis” toe — as redakteur van Die Volksblad waar ek in 1963 my joernalistieke tande begin sny het. Tussen 1974 en 1980 lê ‘n verhaal van fantastiese hoogtepunte. Ongelukkig ook laagtepunte.  Maar watter onvergeetlike skof was dit nie.

Ek herhaal vandag graag ‘n woordjie wat ek ‘n keer uit die hart gespreek het en wat al telkens aangehaal  is:  Dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie.

 

ANTWOORD MET MOKERHOU

 

Met ‘n dodelike mokerhou maak Jaco Marais op Facebook korte mette van die alewige verwyt dat koerante plaasmoorde afskeep.

Hy reageer op ‘n inskrywing van ene Karin Barnard. Tot haar eer erken sy dadelik en boetvaardig dat sy die kat aan die stert beetgehad het.

Dankie, Jaco. Dankie, Karin, vir die geleentheid wat jy vir Jaco geskep het om die mokerhou te plant.