Jul 26, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Agter: Herman en Hennie. Voor: Tobie en Philip.
Vier Volksbladveterane wat hul koerantloopbane in Bloemfontein in drie agtereenvolgende dekades begin het – die jare 50, 60 en 70- het in Sabiepark saamgetrek. Hulle is Herman le Roux, die uwe, Tobie Wiese en Philip van Rensburg.
Herman (op 88 die vierde oudste Volksbladder) het in die 50’s by Die Volksblad ingeval, Ekself in die 60’s en Philip en Tobie in die 70’s.
Die kollegiale saamkuier in die bos het groot hoogtes bereik soos die wonderlike stories van tot 60 jaar oud uit die kollektiewe koerantgeheue geryg is.
Die wegspring was ‘n voortreflike ete by van die Van Rensburgs in hul mooi boshuis, Ons Plasie. Die fillet was tot perfeksie deur die gasheer gaargemaak en die bykosse van die gasvrou het die gaste laat toustaan. Vars skyfies by ‘n bosete – verbeel jou!
Gister het die toneel na die Van Deventers laer af by Wildevy 154 verskuif waar Tokkie se geurige skaapbredie ‘n gunsteling was – en haar kleurryke slaai! Daarna is dit piekniekplek toe. Daar is diep gedelf, geheimpies verklap en vorige kuiers in Sabiepark in herinnering geroep.
‘n Vinnige berekening het aan die lig gebring dat meer as 20 Volksbladmense al op 154 se stoep besoek afgelê het in die 25 jaar dat die Van Deventers die plek bekom het. Van hulle dosyne kere. Dis nogal merkwaardig dink ek.

Kleurryke Tokkieslaai.
Vir doeleindes van ‘n foto is ‘n Volksblad-aandenking met die datum 17 Maart 1992 van die soldermuur gehaal. Dit is die rolpersplaat van Die Volksblad se voorblad op die dag van die referendum oor die nuwe bedeling – die enigste keer in my redakteursloopbaan dat ek ‘n voorblad-hoofartikel geskryf het. Opskrif: “Gryp die geleentheid.”
(Die geraamde plaat is nou saam met Herman se skoonseun, Frans Marais, op pad na die Erfenisstigting in Pretoria om deel van die Van Deventerversameling daar te word. Beter daar as ‘n donker solder in Sabiepark!)
Jul 20, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In my verbeelding sien ek ‘n peloton Joodse soldoedies doelgerig van ‘n gepantserde David-voertuig spring om ‘n Arabierse vesting in die Gasastrook stormenderhand in te neem.
In werklikheid was dit nie dienspligtiges nie, maar ‘n spannetjie jong Israelse toeriste – mooi meisiekinders in ontspanningsdrag. Die voertuig is nie vir militêre doeleindes ontwerp en gebou nie, maar is ‘n donkergroen Toyota wat as ‘n safarivoertuig dien met ‘n wildtuinerige logo op die kajuit se deure.
Die vesting is toe ‘n groot olifant by die Krugerhek – donker en dreigend in die sterk skemer skuins na 06:OO toe mense en voertuie vir die oggend se wildbesigtiging begin opdam.
Ek sit in die Honda en wag. Tokkie staan in die tou om vir ons ons Wildkaart-permitte te registreer.
“Elephant,” kreet ‘n aantreklike swartkop in ‘n wit bloes en donkerblou jeans skielik. Met ‘n akrobatiese sprong is sy van die agterbank op die Toyota se bak op die grond en agterom die Honda. Toe haar selfoon flits, bemerk ek die olifant onheilspellend naby.
Dis of haar maters ‘n opdrag van ‘n streng sersant-majoor gekry het. Almal tuimel van die Toyota af en woerts voor en agter verby my kar die bos in. Flits, flits, flits.
Sal ek op die vlug slaan, wonder ek, want as die ou kwaad raak en storm is die Honda klaarblyklik op die onveiligste plek buite daardie hek op daardie oomblik.
Die volgende oomblik raak hy kwaad. Hy trompetter luid en swaai die ore. Jy sien net meisiekinders retireer. Ek klou net djie stuurwiel al hoe stewiger vas.
Gelukkig is die vinnige aftog van die meisies vir Oom Oli genoeg van ‘n ego-stimulant vir die dag. Hy storm nie regtig nie.
Vinnig is almal terug op hul plekke op die groen Toyota. Die olifant gaan rustig voort met sy aktiwiteit en Tokkie kom uit die kantoor met ons papiere in die hand, onbewus van die insidentjie waarby haar onskuldige man amper doodonskukdig betrek is.
Agterna wonder ek of die meisies se gedrag as dapper of dom beskryf moet word. Eintlik twyfel ek nie. Ek wonder ook of geen veiligheidswag die gevaarlike foto-avontuurtjie raakgesien het en kon ingryp nie. Dit is dalk my grootste besorgdheid.
Jul 18, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wees gewaarsku dat hierdie storie sommige kan verveel. Alledaagshede kom voor soos ‘n oorstroomde wasbak, gestorte wyn en ‘n kierie wat op ‘n ongemaklike plek beland.
Daar is darem ook seekoeie, koedoes, waterbokke en ‘n luiperd betrokke wat aan die gegewe kleur gee.
Dis sommer net ‘n storie oor ‘n Sondagmiddag in Sabiepark.
As dit ‘n spanningsverhaal was. sou dit so kon begin het: ‘n Kreet klink uit die badkamer op (kies self ‘n byvoeglike naamwoord). Die kreet het gekom van gade Tokkie. Dit was een van ontnugtering en frustrasie.
Die wasbak se kraan het sterk bly drup (verdagte die uwe) en die uitvloeipyp was deur die prop geblokkeer. Die vloer was ‘n see, die matjies druipnat en die onderste blad van die wasbakkassie besig om vinnig toiingrig te raak.
Mev. Van D moes dadelik ingryp en al kruipende omvattend opruim terwyl die verdagte staan en wonder hoe om vir sy skuldgevoelens te kompenseer.
Die blink idee skiet hom te binne van ‘n rustige glasie wyn by die piekniekplek – altyd ‘n kalmerende invloed op ‘n versteurde gemoed.
Tokkie sien dadelik uit die uitkykplek ‘n klomp seekoeie wat lui in die water skommel en ‘n troppie waterbokke op die oorkantste oewer.. My oog val op ‘n paar koedoes.
Algou is harmonie herstel.
Ek sit die wynsak op ‘n bankie neer om die toneeltjie in te drink. Ongelukkig skeef. Volgende oomblik vorm op die houtvloer onder die bank ‘n poeletjie: die wyn. Die pop was nie deeglik teruggesit nie. Alles het uitgeloop.
Moedeloos oor die pynlike verlies, sak ek op die bank agteroor en probeer om die beskuldigende blik van my gade te vermy. Volgende oomblik hoor ons: kadoef. Dis my kierie – die ene van Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvarktand wat wyle Jan Scholtz vir my gemaak het. Het dit ietwat te agtelosig neergesit en daar gly dit uit die uitkykplek oor die elektriese heining tot op ‘n klipwering in gevaargebied waar die spore van luiperds en slange duidelik in die omringende sand te bespeur is.
Al genade is dat ek Craigen Ncube by die hek gaan roep en hom mooi vra om die waardevolle kierie te gaan herwin. Op pad na sy kantoortjie by die hek skuur ek by ‘n mede-Sabieparker verby. Het julle die luiperd gesien, verneem hy, en verduidelik waar die dier agter die gras verdwyn het. Dis waar die koedoes nou rustig wei.
Craigen onderneem die herwinning van die kierie. Net toe roep iemand: luiperd! Daar’s hy, roep Tokkie opgewonde. Maar ek sien niks – net oewerbos, die Sabierivier en die koedoes.
Daar’s hy weer, roep Tokkie. Sy beduie na ‘n groot wit klip ooswaarts naby die Krugerhek van die wildtuin. Jou wrintie, toe hy regs swenk bos toe, vang ook my oog beweging. Vir ‘n oomblik sien ek die pragdier in sy volle glorie. Al die pyn is skielik vergete.
Ons kan terugkeer huis toe waar die badkamer droog is en gelukkig nog koue wyn in die yskas wag – boonop met die baie spesiale lekker gevoel wat Sabieparkers ervaar as hul luiperds of leeus by die piekniekplek gewaar het.
Nog ‘n Sondagmiddag langs die Sabierivier eindig met die son wat die westerkim helderrooi laat gloei.
Ekskuus as my storie te doodgewoon is. Daar gebeur nou maar een maal nie altyd opspraakwekkende dinge om oor verslag te doen nie. Veral nie op Sondagmiddae nie.
Jul 16, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die hoender langs Jacob in die vliegtuig

Ouma Tokkie is by in ons bosplek Tarlehoet se woonkamer. Haar betrokkenheid is dat Helshoogte se grasperk Tokkie heet – glo so genoem ter ere van die eggenote van ‘n vorige huisvader.
‘n Storie om oor te kraai – meen ouma Tokkie – is hoe ‘n groot wit houthoender uit die Laeveld Kaap toe is om sy plek in die Matiekoshuis Helshoogte en sy feesvierings vanjaar te gaan vind. Helshoogte se gelukbringer is ‘n hoender.
Die houtweergawe is deur kleinseun Jacob Claassens by n straatventer buite Hazyview aangeskaf. Van toe af is geraai en geredekawel hoe die hoender – te groot vir een van die tasse – ongeskonde in die Kaap gaan kom.
Jacob is op die bussie lughawe toe met die hoender op sy skoot.
Op Airlink se vlug 4Z664 van Kruger/Mpumalanga na Kaapstad Internasionaal tref die geluk toe dat ‘n sitplek langs Jacob oop is. Daar kry die hoender toe ‘n ereplek, boonop stewig vasgewoel en beskut teen alle bdreiginge en gevare wat op ‘n hoender se pad kan kom.
Vir groter gerief kan ‘n hoender nie vra nie. Net een vlieg in die salf was die ligte middagete wat voorgesit is. Van die hoendertoebroodjie het Jacob se haan niks gehou nie.
Jul 15, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van 2005 af word ‘n spanfoto van die kleinkinders by die naambord van Tarlehoet geneem: eers van net die tweeling Jacob en Thomas en daarna met kleinboet Christopher by.
In die 25 jaar van ons verbintenis met Sabiepark het die naambord drie keer
verander. Eerste eie bord was van swarthout, gemaak deur Dick Turpin van Melkbos, die tweede was ‘n variasie op dieselfde tema weens verwering en die derde, die huidige, is uit hardekool. Dit kom van Lukas van der Merwe, ‘n oud-Sabieparker. Al drie pryk op van die tradisionele foto’s.
Dit is nogal ‘n aardigheid om deur die Sabiepark-albums te blaai en aan die hand van hierdie foto’s te herleef hoe die drie manne hul babaskoene ontgroei en al hoe verder agtergelaat het. Elke foto in die galery lewer sy eie wonderlike herinneringe van boskuiers sonder weerga op.
Vandag is twee trotse eerstejaar-Maties en een in graad agt aan die Hoërskool Stellenberg in Bellville/Durbanville. Die jongste is langer as sy oupa. Hy is ‘n rugbyspeler en houtkapper van formaat.
Die gesin Claassens is vanoggend huis toe n twee bedrywige weke met groot vure, wildritte, lang stoepkuiers en tegniese ondersteuning vir oupa en ouma aan verskeie fronte. Ek verwys o.m. na opgraderings en geduldige onderrig in die jongste tegnologie van die digitale era.
Dit was hartseer om die bussie tienuur met hulle te sien wegry lughawe toe. Dit sal vreemd wees om vanaand weer self ‘n vuurtjie te bou en aan te steek. Oorheerend is egter ‘n gevoel van dankbaarheid vir die spesiale bydrae tot ons viering van ‘n kwarteeu-verbintenis met ons geliefde bosplekkie.
Ons hoop maar daar sal vorentoe weer sulke kuiers wees.

Op die foto’s hierby is ‘n saamgestelde een van voriges by die naambord en drie van 2023: een van die drie alleen, een saam met oupa en ouma en een van ons al sewe saam. Vir laasgenoemde is ‘n vroulike stapper in Wildevylaan aangetree.
Dit is seker nie nodig om aan te dui wie Brent en Marisa, hul ouers, is en wie ek en Tokkie nie. Kyk maar na die hare, om van oupa se immer-teenwoordige kierie nie te praat nie.