DIE BURGER, MANDELA EN DIE WIT DUIF

‘n Wit duif styg sierlik op. Op die oog af ‘n treffende nommerpas-voorbladfoto vir ‘n historiese dag:  die inhuldiging van Nelson Rohlihahla Mandela  as Suid-Afrika se eerste swart president. Iets skort egter met die foto op ie Burger se voorblad.

Drie raaiskote.  As jy raai, dit het met Mandela te doen, is jy koud.  As jy raai, die fout lê by die duif, raak jy lou. Raai jy dit het te make met die posisie van die duif. Is jy warm op die spoor. Op die oorspronklike foto – ‘n scoop vir Burger-fotograaf Henk Blom – was die duif naamlik al ‘n entjie verder weg.

Die hoofsubredakteur besluit toe om  die foto te “dokter”.  Wat maak ‘n meter tog saak, het sy geredeneer. Maar sy het haar misgis.  Oor daardie meter het ‘n joernalistieke storm losgebars wat internasionaal weerklank gevind het.

In “Elke dag ‘n mooi nooi en n moord”’is ‘n afdeling oor fotograwe en fotografie. Die titel is In Fokus.  Ook die storie van die duiwemoles – een van twee waarin ’n Suid-Afrikaanse staatshoof betrokke was – word vertel.

Die boek is by boekwinkels wat hul sout werd is. ‘n Maklike manier om hom te koop: besoek eenvoudig net die uitgewery Naledi se webblad by naledi.co.za en druk ‘n knoppie of twee. Andersins: bel Tertia Swart by 078 648 8616 of stuur ‘n e-pos na tertia@naledi.co.za. Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 by jou voordeur afgelewer.

*********

litnet publiseer elke week ‘n digitale Nuusbrief. ‘n Verduideliking is seker onnodig hoekom Nuusbrief 953 van 9 Junie 2023 hierdie ou se gunsteling-litnet-Nuusbrief van alle tye is.

KOM VIER SAAM ‘n BOSFEES

Van 5 Maart tot 15 April was ek en Tokkie vyf weke lank by ons Sabieparkse bosplek, Tarlehoet, om ons heuglike verbintenis van 25 jaar saam met van ons bosvriende met vonkelwyn en braaivleis te deel.
Hiermee nou ‘n uitnoding aan een en almal: Kom vier saam fees! Ons bied GRATIS en VERNIET ‘n klein feesbundeltjie aan wat in woord en beeld die plesierigheid – wat Tokkie se 77ste in die swembad en langs die Sabierivier insluit – laat herleef.
Hoe kom julle by die boekie uit? Twee maniere. Een is om De Novoboeke se boekwinkel te besoek by https://denovobooks.co.za/boekwinkel/
Vir haastiges bestaan ‘n direkte skakel na die blaaiboek (flip-boek): https://denovobooks.co.za/flip/Kampvuur/
Klik dan op die afbeelding van die boek se voorblad om die boek gratis aanlyn te lees. Op die taakbalk van die digitale weergawe is ‘n simbooltjie waarmee die pdf-weergawe van die boekie afgelaai en gestoor kan word.
n Vreugde vir die Van Deventers sal wees as almal onder die son wat hierdie uitnodiging lees, die geskenkie / presentjie/ kado’tjie/ sal aanvaar en De Novo se drumpel sal deurtrap. Welkom aan julle almal by Tarlehoet!
De Novo noem dit ‘n onverwagse welkome geskenkie so in die middel van die jaar en ‘n “prettige” boekie. Hoop die vertoon van “prettigheid” deur gryses wat hul bejaarde lywe jonk hou, vind allerwee byval. Laat weet maar as die “dagboek van ‘n bosfees” sommer tydmors is.

SALUUT, GULLE GRENS-GASHEER, GENL DOEP (91)

In die Bosoorlog in die 80’s is mediamense gereeld grens toe gebring met die verhewe doel om hulle “eerstehands van die terrein, die gevegstoestande en heersende weermagdenke te vergewis”. Die herinneringe aan ligte oomblikke op sulke uitstappies is dalk talryker as die militêre insigte wat verkry is.
My eerste grensdas het ek verwerf in 1980, met gasheer genl. Marthinus du Plessis, bevelvoerder van die Kommandement OVS. Van hom lees ek vandag op bladsy drie van Die Burger dat hy Vrydag sy 91ste verjaardag in Bloemfontein gevier het. Die rateltaaie Doep – ”vergeet van die general, man” – het sy tentmaats nogal gewoel, onthou ek. Ons ander, o.a. akademici, stadsraadslede en die nuwe redakteur, almal “softies”, was saans pê as die menasie slapenstyd sluit met ‘n laaste loopdoppie nog in die hand.
Om die trapleer verby 90 te bestyg, is nie kinderspeletjies, kan ek op 82 getuig. Ek salueer die merkwaardige militaris – ook stigter van die Vrouekollege op George en energieke bevelvoerder van 1 Valskermbataljon in Bloem – graag uit Melkbos op die bereiking van die mooi ouderdom. Op die foto hurk hy voor. Langs hom is Colin Hickling, latere burgemeester. Ek staan regs agter hulle met die streephemp.
Ons avontuur is, soos al die ander, afgeskop met die “voorreg” om met die “Flossie” – ‘n enorme Hercules C-130BZ – van die lugmagbasis Waterkloof, by Pretoria, na Ondangwa karwei te word. Alle manlike passasiers – ongeag postitel – moes maar, as dit hoog bokant Afrika daarop aankom, teen wil en dank die dou van die lelie skud in daardie vreemde pypgedoente wat ingewydes lillies of the fields noem; ’n ontwerp wat volgens sanger en akteur Lochner de Kock die “oupa is van alle vuvuselas … net stiller.” Doep het gedemonstreer hoe maklik dit is om te korrel.
(Vir vroue – ‘n skaarser spesie op sulke uitstappies – is lyksakke verskaf vir privaatheid. Dit kon nie kamoefleer wat binne aan die gebeur is nie.)
In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes” (Naledi, 2023) vertel ek stories oor sulke grensbesoeke, onder meer van Beeld-kollega Twakkies Laubscher, al lank saliger, se nagtelike ekskursie om ’n skeppie Zambeziwater by sy Skotse watertjies te voeg.
’n Keer was Jane Raphaely van Fair Lady saam – die enigste vrou in die geselskap. Die vraag het ontstaan: by wie sou sy in ’n tent intrek? Sy het Ebbe Dommisse van Die Burger en Fritz Joubert van Sarie gekies. Vir haar het die twee kollegas seker die ordentlikste van die klomp gelyk; hopelik was dit ’n goeie keuse.
PG du Plessis, dramaturg, skrywer, storieverteller, redakteur van Hoofstad en televisiepersoonlikheid van formaat, was by geleentheid ‘n tentmaat. Hy was ‘n voorbok by die vuur. As laataand onder die Afrikasterre om ‘n vuurtjie in afgesonderde boskampe soos Omega met ‘n glasie of twee “hooligan juice” ter hand diep stories gesels is, was die naweekboer van die plaas Semoer in die distrik Rysmierbult in die ou Wes-Transvaal van die liefste om nog ‘n stomp kameeldoring op te gooi en van die traagste om hom van die gemoedelikheid los te skeur. (“Hooligan juice” is ‘n mengeldrankie bestaande uit roomys, melk, rum en coco-ricolikeur. Heerlik.)
Ek vertel ook hoekom ek agter my naam kan skryf OFD, die Orde van Fort Doppies. Maar dis nou vir jou ‘n ander storie.
* “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” kan sonder ekstra koste by jou voordeur afgelaai laat word deur op naledi.co.za te klik of Tertia Swart by 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za te nader.

OOR GLORIERYKER DAE

Agteros kom ook in die kraal. Verkoon as my storie ietwat koue kos is, maar die nuus dat Mediapark in Aucklandpark, Johannesburg, blykbaar al geruime tyd gelede aan UJ (Universiteit van Johannesburg) verkoop is, het by my verbygeglip. Ek hoor dit pas: Media24 se mense in die noord is sak en pak uit; bevind hulle nou by ‘n beskeier adres in Randburg. Hul vorige prestigetuiste in Kingsway, Aucklandpark, buurman van die ou Randse Afrikaanse Universiteit en die SAUK, huisves nou UJ se sakeskool.
Ek aanvaar goeie sakeredes het die deurslag gegee. ‘n Mens moet nou nie te sentimenteel raak oor glas en beton nie. Maar dit is tog vir my hartseernuus dat dit nodig geraak het, des te meer so oor my eie betrokkenheid by die totstandkoming. Die koop van daardie pragtige boomryke stuk parkland by die Johannesburgse Buiteklub vir R20 miljoen, as ek reg onthou, en die oprigting van die massiewe gebou vir o.a. Beeld en Rapport se redaksies was een van my laaste groot projekte as hoof van koerante voor my aftrede in 1997.
Die opdrag het vroeg daardie jaar van Ton Vosloo gekom: soek vir ons (bedoelende die Nasionale Pers, want dit was voor die era van Naspers en Media24) grond vir ‘n nuwe gebou in Johannesburg. Ek het dadelik Jan Malherbe, knap noordelike hoofbestuurder, ingekatrol. Die middag toe hy en Johan Vosloo, bestuurder van Beeld, vir my die pragtige perseel gaan wys, was ek in die wolke. My woorde was: As ek nou ‘n tjekboek en ‘n mandaat van die Pers gehad het, het ek die grond net hier gekoop. Die direksie het die aanbeveling bekragtig. 
Nogtans moes ek in ‘n stadium sterk walgooi. Die toe nog jeugdige Koos Bekker, nuwe besturende direkteur van die Pers, wou sommer daardie wonderlikse stuk grond dadelik weer verkoop. Sy ideaal was dat die redaksie en die rolpers van Beeld in dieselfde gebou moet wees (soos dit by Die Volksblad was). In beginsel was ek dit van harte eens. In die praktyk sou dit egter beteken dat die redaksie en advertensie-afdeling ook iewers in ‘n semi-nywerheidsgebied sou beland, wat ver van ideaal is. Gelukkig het van die verkopery toe niks gekom nie.
Ook die gebou self het ‘n hele geskiedenis wat min sal ken en onthou. ‘n Komitee is saamgestel om met planne te kom. Ek was die voorsitter. Die kontrak is aan die voorste Randse argiteksfirma Boogertman, Krige toegeken. By ‘n voorlegging in die Kaap deur Annemarie Krige van B.K. se finale ontwerp het die nimlike Koos haar prontuit meegedeel dat dit vir hom ‘n “aaklige” gebou is. Die gedugte dame was betraand. Die uwe was ongelukkig omdat ek voorsitter van die komitee was wat vir die ontwerp moes pa staan. Die volgende dag het ek die stoute skoene aangetrek en vir my nuwe baas gaan sê ek dink sy kommentaar was rof en an die verkeerde adres gerig.
Sy antwoord was dat hy begin agterkom by die Pers praat ons nie so openhartig met mekaar soos by M-Net die geval was nie. Selfs ‘n sekretaresse sou haar daar oor die gebou kon uitspreek.
Die ontwerp van die gebou is teen groot koste ingrypend verander. Senior direkteur van Naspers Boetie van Zyl se woorde aan my was: ons kan tog nie ‘n gebou opig waarvan die nuwe besturende direkteur niks hou nie.
Einde 1997 het ek my kantoordeur finaal agter my toegetrek. By my afskeid het Ton “opdrag gegee” dat ek na die inwyding genooi moet word. Niemand het dit genotuleer nie, en ek is nie genooi nie. Twee dekades het ek gebrand van nuuskierigheid oor daardie gebou. Niemand het die afgetredene ooit genooi om te kom kyk nie.
Na 20 jaar het ek iets aan die saak gedoen. Ek het vir Barnard Beukman, redakteur van Beeld, laat weet ek is ‘n paar dae in Johannesburg en sal dan graag inloer. Kan dankbaar rapporteer dat ‘n uitnodiging vinnig op pad was. Op Donderdag 9 Maart 2017 het ek die eerste keer by die voordeur van daardie imposante gebou ingestap. (Foto’s).
Barnard het omtrent ‘n rooi tapyt vir my en kollega Herman le Roux uitgerol. Johanna van Eeden, toe hoofredakteur van Media24 se koerante, en Marga Ley, ‘n senior redaksielid van Netwerk24 (voorheen van Beeld), het hulle by ons aangesluit vir ‘n besigtigingstoer en ‘n gesellige middagete.
Die ou gebou in Millerstraat / Voorhoustraat, Doornfontein, waar Beeld in September 1974 die eerste lewenslig gesien het, was ver van deftig. Hierdie nuweling was in ‘n ander klas – ‘n indrukwekkende plek met elke moderne gerief. Hoe in my noppies was ek nie oor ons spogadres in die noorde nie. Nou is dit ook net nog ‘n herinnering aan gloriekryker dae.