‘N VRIEND OOR VER PAAIE EN VELE VURE

‘n Hand op die skouer dui gewoonlik op hegte vriendskap. Wat ‘n voorreg was dit nie om in ‘n verbintenis van 60 jaar plus sovele kere hand om die skouer saam met Manie Steyn afgeneem te word: op Tukkies, in die  Wildtuin, in Sabiepark, by hul mooi klinkerhuis in Roodepoort, as kollegas by Naspers, waar ook al.

Manie, ‘n joviale, kleurryke en spitsvondige vriend met ‘n eiesoortige humor en taalgebruik, is gisteraand op Krugersdorp oorlede. Hy het in  Desember 83 geword.  Die laaste ruk van sy lewe was hy aan sy bed vasgekluister weens rugprobleme en ander komplikasies. Hy het swaar gekry, maar sy vegtersgees het hom tot die einde toe nie verlaat nie.  ‘n Blymoedige laggie het steeds opgeklink toe ek hom twee dae gelede vir oulaas gebel het.

Ons vriendskap het begin in Kollege-tehuis op Tukkies in 1960.  Dit was net die begin. Ons twee studentemaats het huisvriende, wildtuinvriende en kollegas geword. Ek was seremoniemeester by sy huwelik met Sannie Graaff in 1964 op Reitz en weer by die huwelik van Manie Junior en Claudie in 1994  op Krugersdorp. Toe Manie 70 word, het ek uit die Kaap gevlieg vir ‘n heildronk. Op 80 weer.  Hy het my ”Div” en  “tjom” genoem en ek vir hom “Mac” – eretitels.

Manie had ‘n eiesoortige taal, deurspek met humor. Almal het geweet wat dit beteken as hy en Sannie op “smoke signals” was.  ‘n Gereelde vermaning aan vriende was dat “ons net nie slordig moet drink nie”.

‘n Simbool van die Van Deventer-Steyn-verbintenis is die soliede driepoot-ystermeneer in my lapa in Sabiepark. ‘n Fris vrag tjoppies en wors is in 20 jaar op die geskenk van Manie op die kole gesit het.  Almal ken die “Manie-braaier” wat ‘n neef met sy Nissan Sani uit Johannesburg moes saamry.  In Sabiepark is ook ‘n “Manie-suite”. Dit is die beknopte buitekamertjie wat syne geword het toe die trappe vir hom te veel geword het.

In Randburg het ons saam ‘n afdak opgesit – die enigste keer dat ek, onhandige Hennie, so iets gewaag het, al was dit net as trae handlanger.  Dit was nie ons enigste buitengewone onderneming nie.

By Tukkies se Merensybiblioteek het ek een laataand in my derde jaar (1960) noodgedwonge gaan inbreek. Manie Steyn is saam vir morele en fisieke steun.  Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in.  Die inbraak was nie  met kwade bedoelinge nie.  Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.  Ek is Manie tot vandag dankbaar vir sy morele en fisieke steun.  ‘n Goeie punt vir daardie taak was onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.

Nêrens lê ons gesamentlike spore dieper as in die Wildtuin nie. Totdat Sannie in 2009 aan nierversaking oorlede is, het ons talryke heerlike gesinservarings gedeel – onder meer onvergeetlike kombi-ekspedisies na al wat ‘n kamp is, van Berg-en-Dal tot by Pafuri.  Watter stories het sulke kuiers nie als opgelewer nie en hoe dikwels en het ons nie uit die maag saamgelag nie – ook as die onvoorsiene gebeur en draadstoele se pote onder ons gewig in die nat grond wegsak terwyl ons salig onbewus aan ons wyntjies bly teug!

Na Sannie se dood het ons nie opgehou om by groot kampvure saam te sit nie. By Balule was vyf Kollege-reünies, in Orpen twee en in Sabiepark sommer ‘n hele paar. Manie, die lojaalste van lojale Kollegemanne, was oral ‘n voorbok, al het hy teen die laastes al swaar geloop.

Manie was ‘n MBA-man – ‘n voorslag-bestuurder. In sy vroeë loopbaan by Ster-Kinekor was hy gereeld in Hollywood om kontrakte te sluit. Toe stamp hy en Sol Kerzner koppe.  So het hy hoofbestuurder van Naspers se Nasionale Kolleges geword: ‘n gewaardeerde kollega. Een kollegiale vreugde was ‘n bestuurskonferensie in die Namib, by Swakopmund.  En daar wen die twee tafelmaats elk ‘n gesogte beker!

.Min dinge is kosbaarder as ou vriendskappe. Soos iemand opgemerk het, is drie vreugdes van die ouderdom ou vriendskappe, ou boeke en ou wyn. Hoe waar is dit nie! Ek onthou skielik helder een oggend toe Manie uit Sabiepark huis toe ry.  Op daardie oomblik swiep ‘n visarend laag en roep sy hart uit – ‘n stylvolle Sabieparkse totsiens. Soos daardie visarend s’n is my groet gelaai met ‘n diepe melancholie: Totsiens, my maat Manie.

Ai, as ons net net nog een keer  saam om ‘n vuurtjie kon sit.

Foto’s: Uit my Manie-album: Manie, ekke en studentemaats Pierre le Roux, Cas Jacobs en Piet Lategan.

.