Mar 30, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Pas op die rakke in boekwinkels is ‘n nuwe Proteatitel, “Hierdie land”, waarin meer as 50 skrywers vertel wat vir hulle uniek en kosbaar is aan hierdie land; wat hulle trots maak, laat verlang en laat lag.
Dat ek vir my bydrae ‘n bosstorie vertel, sal niemand wat my ken seker uitermate verras nie. Trouens, my storie kom uit Sabiepark, hier waar ek en Tokkie nou uitspan om die kwarteeufees van ons verbintenis met hierdie aardse paradys neffens die Krugerhek van die Wildtuin te vier.
Ek skryf oor kameelperde – nie net oor die opstapelende vreugdes wat daardie edeldiere (edelbure) ons in 25 jaar besorg het en steeds besorg nie, maar ook oor die heengaan van enetjie wat vir my diep treurig was.
So verwoord ek my emosies oor daardie verlies: “Jy, mensekind, was vreemd ontroer deur die toneel, asof een van jou eie naastes jou ontval het. Waarom? Wilde diere word immers gebore, leef ’n ruk; word dan doodgemaak of opgevreet. Dit is die wet van die natuur. Maar die aristokratiese kameelperd se heengaan is iets anders.”
Protea is ook die uitgewer van my jongste Sabieparkboek, “Bure van nature”, wat in 2021 sy buiging gemaak het. Dankie, Protea, en die redakteur van “Hierdie land”, Joan-Mari Barendse, vir die geleentheid om nou weer saam met al die ander medewerkers in “Hierdie land” iets van die hart te kry oor wat vir my baie spesiaal van ons eie stukkie aarde is: sy onvergelyklike diereweelde.
Op die foto is ‘n Sabieparkse mamma-langnek en dae-oud-langnekkie wat selwers ook in die pragboek figureer. Kyk net hoe fier kyk die trotse moeder vir die kamera.
Mar 29, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Iets skort. Dit kon jy dadelik aan sy houding en optrede sien, maar veral in die oë van die bosbokrammetjie wat al om die huis, al om die huis lusteloos aan die groen blaartjies peusel. In daardie oë was ‘n smeking: help my asseblief! Hulle het stip op die twee mense op ons stoep vasgenael gebly.
Aan die bokkie was n vreémde rustigheid. Aan geselsklanke en selfs ‘n keer toe die water spat met die induik in die swembadjie het hy hom klaarblyklik nie gesteur nie. Dalk die ongewoonste was sy trae bewegings. Rukkies het hy gaan sit, sommer in die oopte op die plaveisel. Dan staan hy op en begin sy lyf oral krap terwyl die oë joune soek.
Tokkie het die verkyker op hom gerig. Bosluise, was haar bevinding. Sy lyf was vol swere. Tussen sy spoggerige horings was ‘n opgehewe seerplek soos ‘n man se vuis. Ek wou nie kyk nie. Hy moet net nie hier by die stoep doodgaan nie, was my vrees.
By die kantoor hoor ons die bokkie is al lank siek. Dis nie bosluise nie, maar ‘n aansteeklike siekte wat ook na ander diere, byvoorbeeld kameelperde, kan versprei. Daar is lank na hom gesoek. Hy het egter soos ‘n groot speld verdwyn. Daar is toe aanvaar dat hy dood is.
Bel ons as hy weer opduik. Ons sal hom ongelukkig moet “uithaal” was die versoek. Daaroor voel ek half aardig. Maar die siek bosbokkie was nog nie weer hier rond nie.
LAASTE OOMBLIKKE
Waarskynlik ‘n bokkie wat die slagoffer van ‘n luislang geword het, raai ek. Dat die slagoffer ‘n bokkie was, is in elk geval seker te oordeel aan die uitgerekte angsgeluide. Na die geluide het ek en Tokkie gisteraand in die skemer op die agterstoep lank sit en luister; die eerste keer in 25 jaar dat ons ‘n vangs so net met die gehoorsintuig waarneem.
Dalk was die aanvaller ‘n luiperd of ‘n hiëna. Verbeel my juis ek het so tussen die al hoe sagter wordende geblêr die ingenome kekkellaggie van ‘n skuinsrug opgetel. So lank het dit egter geduur om die laaste asem uit die slagoffer te wurg dat die luislang-opsie die waarskynlikste is.
Hoop maar dit was die siek bosbokkie waarvoor die dood – hoewel stadig en pynlik – tog wel ook ‘n verlossing sou gewees het.
EERWAARDE LIKKEWAAN ?
As ‘n bondeltjie dun “takkies”skielik in beweging kom, weet jy: stokinsek se kind daardie.
As ‘n stuk “braaihout” kop optel en begin vorentoe waggel, is dit …. ‘n likkewaan (nommer drie die vakansie). Dit gebeur by die ontbyttafel op die agterstoep.
Lyk of die ou die nag onder die braaier skuiling gevind het. Nou sorg hy vir ‘n kostelike brekfiskabaret soos hy dan hier, dan daar uitloer. Die sonnetjie lok hom uiteindelik onder die braaier uit. Hy gaan lê met sy kop op ’n halwe baksteen – lyk kompleet of hy ‘n kansel of kateter bestyg het.
Dalk wil hy vir ons ‘n tafelgebed doen, waag iemand. Vir die res van die ete was hy egter net ’n stille toeskouer by die dis.
ANDER DIEREPETALJES
Amper het slim sy baas gevang met ‘n alleenloper-bobbejaan. Omdat bobbejane wegbly, raak ek lui om die swembadseil op en af te rol. Die eerste dag toe ek dit waag om die bad oop te los, kom die bewys dat Murphy se wet ook in die bos geld. Die bobbejaan slaan toe.
Gelukkig het die ou die versoeking weerstaan om in te duik. Nat spore op die stoep en stukkende Charka-sakke het egter geen twyfel gelaat wie in ons afwesigheid hier opgeduik het nie. Nou rol ek maar weer … of ‘n boggom in die lug is of nie.
Op die motorpad moes ek twee hindernisse oorwin.
Een was ‘n skilpadjie wat van die huis tot in Wildevy manhaftig voor die Honda uitgestap het. Die tweede was ‘n amoreuse sebrahings. Hy het die motor een kyk gegee en voortgegaan met sy ontdekking van die merrie se aanloklikheid.
Die nagapies kom weer in groter getalle en klopm redelik gereeld die ou grote wat ook ‘n gereelde besoeker is om die eerste sarsie piesang.
OORLE MTN
Vir die selfoondiensverskaffer MTN vleg ek ‘n kransie van stinkblaar. Lyk of hy stil ontslaap het hier in Sabiepark. Ons is amper vier weke hier. Met enkele kortstondig onderbrekings was dit die hele tyd: “No service”.
Sondag toe ons uit die kerk in Skukuza kom, wag ‘n rits boodskappe wat weens ‘n skynbare stuiptrekking van rigor mortis afgelewer word.
Een is van Jacob: “Kan ek oupa gou bel?” Bo- aan word aangedui dat dit 41 minute gelede ontvang is.
Ek bel dadelik en begin met ‘n verskoning oor die 41 minute se wag. Hy reageer verbaas. Sy boodskap is nie 41 minute oud nie; wel ‘n week en 41 minute.
Laat ek nie sleg praat van die dooies nie. Ek vind dit tog wel vermeldenswaardig dat Tokkie se Vodacomfoon konstante diens liewer.
(Boodskap: As ek nie op iemand se boodskap gereageer het nie, was dit dus nie uit onbeskoftheid nie.)
Mar 28, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ich hatt’ einen Kameraden, einen besser’n find’st du nicht. As ek aan my Tukkiestudentemaats van ses dekades gelede dink, hoor ek in my verbeelding die tromme roffel soos in hierdie treffende Duitse oorlogslied van Ludwig Uhland.
Van my mede-Kollegemanne was tien in die 25 jaar besoekers in Sabiepark: Johan Bekker, Giel de Swardt, Cas Jacobs, Proppie Goosen, Vos Grey, Piet Henning, Pierre le Roux, Flip Nel, Manie Steyn en Piet Theron (in alfabetiese volgorde volgens vanne). Vos Grey en Piet Henning het ons reeds ontval.
Nieman was meer kere hier nie as Cas Jacobs van Eldoraigne in Centurion, ‘n soliede Karooseun van Carnarvon. Ons is maats van 1958 af. In die 25 jaar dat Sabiepark in ons besit is, was Cas en Nella, onoortreflik by die kospotte, 17 keer op besoek.
Vrydagaand 22 Maart het ons by Tarlehoet se stoep skouer aan skouer ‘n rooster met tjops en een met wors op die gloeiende kole gesit. Die tjops was, soos altyd, haarfyn volgens Cas se vereistes gesny: presies 2 cm dik. Dit was ‘n belewenis om weer die perfeksionistiese baasbraaier in aksie te sien en te kon assisteer.
Cas is 84 en ek 82. Buiten ouderdomkwessies in ons lewens is daar gesondheidskwessies. Om in die ruie somerbos weer so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ‘n emosionele okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ‘n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het. Tokkie en Nella was byderhand met die kameras.
Wat die braai vir ons des te meer uitsonderlik gemaak het, was die hoë driebeen-skottelrooster, soos in ‘n vorige wildtuin-era, wat vir die doel ingespan is. Sy naam is die Manie-braai. Die Manie in die naam verwys na ons maat Manie Steyn (83) van Krugersdorp wat al geruime tyd nie gesond is nie. Die staatmaker-rooster was ruim twee dekades gelede sy geskenk aan Tarlehoet.
Fisiek was Manie afwesig. In ons gedagtes was hy die hele tyd teenwoordig. Ek wens Manie kon ook hier gewees het om ‘n deernisvolle Kollege-arm om hom te slaan en ‘n goeie rooie met hom te deel. Ek gaan lees toe maar weer Prediker 3: Elke ding het sy vaste tyd.
‘N SPESIALE DANKIE AAN TWEE SABIEPARK-SIERADE

Dankie, Lucy!
Toe ons 25 jaar gelede in Sabiepark aankom, het ons kennis gemaak met twee flukse en blymoedige arbeiders van Sjangaanse afkoms, Lucy Khosa (57) en Patson Ndlovu (60). Hul bydrae om ons lewe tydens Sabiepark-kuiers te vergemaklik, was/is enorm.
Die gulle Lucy met die breë glimlag en onoortreflike hartlikheid sorg dat alles in ons huis eksie-perfeksie is as ons hier aankom – spinnerakke, goggas, mis opgeruim en elke meubelstukkie op sy plek asof ons nooit weg was nie. Sy is ook die een wat moet kom help om van tyd tot tyd orde te herstel terwyl ons en gaste kommervry kuier en die skottelgoed opstapel. Hoeveel keer sy al sedert Maart 1998 ‘n deurmekaar Tarlehoet moes regruk? Gewis ver-ver meer as ‘n honderd keer.
Die betroubare Patson – wat op 3 Maart 60 was en op aftree staan – was 23 jaar lank buitenshuis die Van Deventers se steunpilaar met sy panga, hark en besem. Hy het vir ons op lere geklouter, swembadseile help opvou, takke gesaag, die Honda gewas en wat nog totdat hy twee jaar gelede bevorder is.
Vir hulle twee was daar op hierdie spesiale besoek ter viering van ons verbintenis van ‘n kwarteeu met Sabiepark spesiale verrassingspakkies om ons dank te betuig. Van die lekkernytjies kon hulle deel. Party was eksklusief vir die ontvangers. So het Tokkie hulle vermanend ingelig.
Ook hier wil ek dit onomwonde stel: Lucy en Patson is Sabiepark-sierade. Hulle is nie die enigste sierade nie – Sabiepark is gelukkig met om ’n span te hê soos hy het – maar albei het oor baie jare op ‘n besonderse wyse tot ons lewens waarde toegevoeg wat ons nooit sal vergeet nie.
Mar 21, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kyk daai tong!
Vir ‘n vlermuis gril ek tot in my tone. Daar is vir my iets sinisters aan hierdie swiepende skimme van die nag. Vir ‘n klein vlermuisie so groot soos die eerste lit van ‘n vroulike duim en met “toontjies so dun soos garingdraad” gril ek selfs ‘n graad of twee meer.
Tokkie tel enetjie op langs ons swembad in Sabiepark. Skynbaar pas gebore. Die outjie se “oortjies roer nog”, maar is klaarblyklik op die punt om sy laaste asem uit te blaas. ‘n Kolonie miere het al gretig begin toesak op wat binne minute ‘n kadawertjie sal wees.
My vrou bring die affêretjie na haar onwillige man toe vir ‘n nie-vrywillige les in dierkunde. Die garingdraad-toontjies word as ‘n primêre kenmerk uitgelig. Daarna word een vlerk versigtig opgetel . Dié is volgens haar oordeel buitengewoon groot in verhouding met die res van die lyf.
Steeds keer ek my rug afwerend. As toegewing gee ek haar vonds net ‘n vinnige, tersluikse blik oor die linkerskouer.
Nadat die sterwende diertjie die veld ingeskiet is vir die natuur om sy gang te gaan, word ek oor my afwysende houding gekonfronteer. Ek moet toegee dit is die eerste waarneming van die aard in ‘n verbintenis van 25 jaar met die reservaat aan die Sabierivier langs die Krugerhek van die wildtuin; ‘n historiese moment.
Ná nadenke moet ek ook toegee dat ‘n fotogeleentheid verbrou is. So ‘n foto van die toontjies en so sou ons inderdaad selfs vir Weg kon gestuur het. Ek, arme drommel, het hy my skoon uit ‘n scoopfoto gegril.
ANGSRIT VAN ‘N SPINNEKOP OP ’N DRYWENDE ‘EILAND’
Bedink die paniek van ‘n spinnekop as die drywende chloorhouer waarop hy hom tuisgemaak het, deur skielike aktiwiteit in die water tot in die middel van ‘n swembad gevoer word.
Trap-trap hy na voor, agter, links of regs tref sy pote net water. Hy bevind hom as magtelose gevangene op ‘n onvaste “eilandjie” met geen redding in sig nie. Sy lyftaal spel angs en verslaenheid.
Die klein drama’tjie speel hom af terwyl eggenote Tokkie ons swembad in Sabiepark skoonmaak. En onthou nou: hier is nie elektrisiteit nie. Vir operasie skoonmaak word ‘n self-geprakseerde bos kreepy-krauley ingespan. Dié bestaan uit ‘n stuk swembadpyp wat met kabelbinders aan ‘n lang stok vasgewoel is. Daarmee word onsuiwerhede uit die water gesuig.
Die longe word eers leeg geblaas. Dan volg die suigaksie. Dis iets om te hoor en aanskou.
Terwyl Tokkie haar patent in bedryf stel, gewaar sy die spinnekop op die chloorhouer wat met ‘n eensklapse vaartversnelling van die rand begin wegdryf. Dis ‘n groot bruin meneer, amper so groot soos die kop van die houer. Hy klou vir dood en soek alkante toe veiligheid. Vergeefs.
Sy kry die ou intens jammer. Haar eerste reaksie is om hom te red. Sy los dus die kreepy-krauley en gryp die skepnet. Daarmee stuur sy die houer tot teen die rand aan die oorkant. Ta laat ook nie op hom wag nie. Hy raap homself op, spring vervaard na terra firma en skarrel so vinnig soos sy agt pote hom kan dra, na ‘n veilige hawe ver van die water.
Later besef mev. Van Deventer, soos die uwe tevore met die sterwende vlermuisie, die verbroude fotopotensiaal van die situasie. Kon selfs ‘n YouTube-treffer gewees het: die yslike gogga op sy angsrit oor die “onstuimige” waters van ‘n bos-swembadjie terwyl die kreepy-krauley sy taak verrig.
Instink het egter oorgeneem, en dié was nie om fotomateriaal te versamel nie, maar ‘n mede-bewoner van die planeet uit sy angs te verlos.
Al het haar teenwoordigheid van gees haar in dalk die steek gelaat, het sy ten minste ‘n mooi gesindheid geopenbaar.

Malans en hul skerpioen
NAGTELIKE ESKAPADE MET ‘N SKERPIOEN
Van die nagtelike eskapade met ‘n skerpioen onder ons dak raak ek en Tokkie eers bewus toe ons die oggend op die agterstoep ‘n rustelose knewel in ‘n diep, langwerpige plastiekbak aantref.
Waar en hoe hy daar gekom het, verneem ons later toe ons gaste, skoonsuster Dalene Malan en broerskind Marcus Malan, hulle vir brekfis by ons aansluit. En wat ‘n gedoente was dit nie.
Dit blyk dat Dalene wat nogal ‘n sekere lugtigheid vir skerpioene en soortgelyke bronne van pyn en lyding openbaar, bed-toe-gaan-tyd die gevaarlike rooi knypers onder ‘n bedkassie sien uitsteek het. Met die bejaarde gashere se kamer reeds donker vir ‘n noodsaaklike nagrus, was Marcus die aangewese redder.
Sy is haastig die trappies op om hom na benede te ontbied. Een kyk was genoeg om sy ma se identifisering te bevestig: inderdaad ‘n skerpioen wat dreigend daar sit, daarby ‘n grote lummel met knypers soos ‘n draadtang.
In die kombuis tref Marcus ‘n skoppie aan wat nuttig aangewend kan word in ‘n skerpioen-offensief. Maar hy wil darem graag dat Oom Hennie en Tannie Tokkie die indringer sien. Hy krap toe verder in die kombuiskaste en kom op die bak af wat normaalweg as houer van toebroodjies dien.
Onder sy ma se toesig werk hy die skerpioen – toe reeds duidelik omgekrap oor die versteuring – in die toebroodjiebak in. Sy is tevrede dat die gevaar afgeweer is, en hy met sy doeltreffende hantering van die komplikasie in die kamer.
Deur die hele operasie slaap ek en Tokkie rustig voort, onbewus van die rondsluipery in die huis, ligte wat aan en af gaan, gekrap in die kombuiskaste en aktiwiteite in die gastekamer.
Foto’s: Ma en seun en die yslike skerpioen wat hulle in die nag laat skarrel het.
LIKKEWAAN STEEL DIE KALKLIG
Die knaap sal hom wat verbeel. Terwyl duisende Saterdagmiddag voor TV se sportkanale vasgenael was, het hy in Sabiepark ‘n gehoor van vier se volle aandag vir langer as ‘n uur geniet. Broerskind Marcus Malan van Pretoria het die effense geritsel in die gras die eerste gehoor waar ons op ons stoep sit en ietsie koel geniet.
Likkewaan se kind vat koers na ‘n uitgeholde boomstomp naby die watergat. Dis blykbaar sy domisilium, Hoop so. Soek hom nie in my dak nie!
‘n Vertoning soos min volg. Hy loer met sy kraalogies vir ons terwyl hy akrobatiese toertjies met sy ellelange tong (bloedrooi op die agterste punt) uithaal. Toe’s hy woerts kop eerste in by een van die gate in die stomp en uit by ‘n ander. En weer. En weer. Lyk of hy die kalklig nogal geniet het. Hoeveel foto’s geneem is? Moet dosyne wees.
REDDING UIT NOOD VAN NIGGIE TOT NIGGIE
Om jou in ‘n padblokkade in die Krugerwildtuin vas te ry sonder ‘n rybewys in jou besit, is moeilikheid soek. Propperliese moeilikheid het ek gekry toe ek dit per ongeluk oorkom. Rybewys is op Melkbos vergeet. Maar vergeet is geen ekskuus nie, al is jy ‘n rype 82.
Die potjie met die gereg loop ek op die pad tussen die Paul Krugerhek en Skukuza waar die Doispanepad aansluit. ‘n Yslike vloot polisiemotors is daar saamgetrek, waarskynlik op soek na stropers of annerlike kwaadoeners.
My onvermoë om ‘n rybewys te produseer, word met onbehae begroet. ‘n Kwaai vroulike beampte lyk sommer lus om my op te sluit. My voorstel dat ek en Tokkie, wat wel haar rybewys by haar het, bloot plekke ruil, word summier verwerp. Smak na bedrog, meen sy.
Gelukkig roep sy ‘n manlike gesagvoerder om die wetsoortredende oubaas te kom regsien. Hy is toe redeliker, verstaan hoe die vurk in die hef steek en laat die omruilery toe.
‘n Dringende SOS word daarop na Melkbos afgeblits. Die rybewys kom per Pep se koerierdiens waarvoor ek agting het. Prys is redelik en kommunikasie met klante voortreflik. Die SMS’e reën behoorlik van begin tot einde.
Gelukkig kom skoonsuster Dalene Malan van Pretoria af by Pep op Hazyview verby. Sy pik die pakkie op. Ek kan weer wettig agter die Honda se stuurwiel inskuif.
Eers later besef ons die toeval. Pakkie is op Melkbos ingegee deur Esme le Grange – Dalene se niggie. Hulle is twee Terblanche’e van George se kontrei.
So van niggie tot niggie kom die kosbare kaart in ‘n yslike plastieksak binne dae uit Melkbos tot in Sabiepark. Dankie, julle twee vir die redding uit nood.
Mar 17, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die tradisie leef voort, met ‘n nuwe dinamiek en ‘n nuwe dimensie. Ek en Tokkie plus kollega Herman le Roux en Rina was op 15 Maart 1998 saam in Tarlehoet se swembad om die Van Deventers se aanknoop van ‘n verbintenis met Sabiepark te vier. Op 15 Maart 2008 het ons in die swembad by wyse van spreke die eerste tien kersies doodgeblaas.
Woensdag 15 Maart 2023 was ons weer vrolik saam in die water om die kwarteeufees te vier – wel nie 25 minute lank nie, maar die eerste keer met twee knap fotograwe aan wal in die persone van Frans en Michelle Marais om die historiese ritueel uit elke hoek te dokumenteer.
‘n Nuwe dimensie is bygevoeg wat genoem kan word: wys my joune, dan wys ek jou myne. Herman en Tokkie was nie min breëbors nie oor hul onderskeie hartpasaangeërs by hul linkersleutelbene, Terloop in die swembd versamel ws 88, 82, 82 en 77 jaar se wysheid. Dis nou gravitas in die water.
Om in die bos te verjaar, is in sekere opsigte uitdagend. Hoeveel kere moes Tokkie en haar vriendinne nie al op 15 Maart tande kners weens kommunikasie-kwessies met gelukwensings nie. Woensdag was maar weer dieselle ou storie met seine wat lol en dies meer. Ruime kompensasie bly egter nie uit nie.
Vonkelwyn en southappies laatmiddag onder die tamaaie oewerbome op die uitgestrekte grasperke van die piekniekplek is nie te versmaai nie, veral nie as die bos so verruklik ruig is soos nou.
Teenwoordig om Tokkie met haar 77ste – die sogenaamde twee krukkies (“crutches”in bingotaal) – geluk te wens en boonop ‘n glasie te klink op ons 25 jaar in Sabiepark, was Herman en Rina van Centurion, hul kinders Frans en Michelle Marais (ook Centurion) en jarelange Sabieparkvriende, Frik en Martie Nel van Jakkalsbessie 127 wat feitlik net so lank soos ons Sabieparkers is. Saam met Frik en Martie is ook al vele verjaardae gevier.
Die Le Roux-besoek was nie net speletjies nie. Volgens afspraak het Herman sy ses bultende plakboeke oor ons koerant se laaste sewe dekades as gedrukte koerant saamgebring: ‘n goudmyn van inligting oor Die Volksblad / Volksblad en sy mense, met kosbare kykies, ook agter die skerms. Niks wat elders op skrif is, weerspieël met naastenby vergelykbare omvang of impak die vreugdes, hartseer, triomfe en nederlae van die Volksblad-gemeenskap soos Herman se bundels nie.
Wie’s dood? Wie het uitgestyg? Wie se kinders het presteer? Wie het vreemde dinge oorgekom? Dit is alles daar, onthullend en meesleurend, netjies verpak, ryklik met ‘n duisternis foto’s geïllustreer en in my kollega se beroemde lysies saamgevat: ‘n lys van outeurs, ‘n lys van seniors volgens ouderdomme gerangskik, ‘n lys van wie wat geword het en wat nog.
Daar is ook van sy eie geskrifte waarvan een van die pakkendste vir my sy huldeblyk aan sy oud-buurman die kleurryke Jan Scholtz is. Jy kan sommer aanvoel: hy ken die man. Oor kommentaartjies soos oor my redakteurskap wei ek nie uit nie. Kan maar net meld dat die deurblaai, die kyk en die pik-pik lees van Herman se boeke ‘n opperste Volksbladmens soos ek ‘n weldadige goedvoel-ervaring soos min besorg het.
Wie die boeke gaan erf, is nog onduidelik. Dalk Naln waar die Volksbladkamer pas geopen is? Dalk die ou Ineg? Dalk Johannes Froneman se Mediamense-museum? Wie ook al, bekom ‘n sieraad.
Ook uit Herman se kennis van gevleueldes kon ek weer eens put. Jare lank was ek oortuig ek hoor die swartkop-wielewaal roep. Dan was dit die rooikop-houtkapper. Wat jy hoor, is inderdaad dikwels ‘n duet van twee van di houtkapper-spesie wat mekaar oor ‘n afstand groet. Die vernuftige Kenneth Newman beskryf die geroep soos volg: “Dit begin met ‘n gedempte woerklank ‘skrrr, skrrr, skrrr’, Dan volg die ‘toe-poedelie, toe-poedelie, toe-poedelie’ wat sowat agt keer herhaal word. “ Rooikop-houtkapper natuurlik!
Net jammer die bloukuifloerie het nie gekom nie. Dalk volgende keer?
(Die flukse Frans en Michelle het ons ou mense wonderlik bederf. Vuur maak, braai, drankies aandra, koffie maak, skottelgoed was, foto’s neem – niks was vir die twee te veel om ons klein “reünie”vir ons vier oues gedenkwaardig te maak nie.