KAMPUSLEWE 3: SPELERS EN TOESKOUERS

Kollege se bulspan vir ’62 se huiswedstryde. Vier of vyf provinsiale spelers.

Rugby is steeds op kampusse ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart, verstaan ek. Verblydende nuus dat rugbytradisies nog vol skop is. In die 60’s was rugby – veral koshuisrugby – GROOT. Hoe het ons nie, wen of verloor, in digte geledere op en af langs die veld gedrafstap en ons manne oor die doellyn probeer pleit en praat nie.

Selfs ‘n wedstryd tussen Tukkies se Radio’s en Fisio’s goed bygewoon. Vir die wedstryd het die meisies hul kêrels se “toks” geleen. In haar geliefde Kosie se “toksak” ontdek ene Santie toe ’n vreemde affêring, wat net lanklaas ’n wasmasjien gesien het. Dit gaan na haar kop toe soos ‘n skrumpet. Toe hulle opdraf herken die manlike toeskouers dadelik die flappende hoofbedekking en sak agteroor, lam van die lag.
Nou-ja, toe speel Santie te lekker saam. Sy knik haar kop heen en weer en die loshangende “piesangskille” – so lyk dit vir haar – tref haar eers, kerplaks, op haar linkerwang, dan, kerplaks, op haar regterwang, dan, kerplaks, op haar neus. Toe rustyd aanbreek, poseer Santie gewillig vir die menigte fotograwe.
Eers ná die wedstryd word sy deur ‘n spanmaat met broers oor die ware identiteit van die joppie op haar koppie ontnugter. Sy is deur ‘n floute oorweldig. O ja, die Fisio’s het gewen: 12-3 – of iets in daardie voege.
Die onvergeetlikste rugbymomente speel nie altyd op die veld af nie. In Danville, ‘n woonbuurt wat nou nie juis met Waterkloof kan vergelyk nie, het vroue met krullers in die hare hul helde luidkeels kom aanmoedig. ‘n Blondine langs die veld trek toe een van ons, Piet (Gandhi) Lategan, se aandag. Hy pyl dadelik op haar af toe toe die eindfluitjie blaas. Goed, sy sal saamgaan inryteater toe.
Terug by die koshuis vermoed hy onraad. Hy vat-vat aan sy agtersak – en bevind tot sy diepe ergernis en verleentheid hy is in sy eie motor van sy beursie be-vry.

Toerspan na Noord-. Natal.

Sporttoere word sterk aanbeveel vir “gees vang”. In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Van Deventer wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag op Ladysmith speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman omdat die breier ontdek het hoe benoud ek is om teen die plaaslike held – ‘n frisse, sterke en vinnige derduiwel, volgens gerugte – te staan te kom.
In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Junior Springbok Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

Donkiepret op Ladysmith.

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”
“Nou hoekom wys jy hy was oor?”
“Omdat hy amper oor was!”
In Kollege se folklore is daardie antwoord as ‘n voltreffer aangeteken. Laat my egter maar bely: dit was nie ‘n spitsvondige stukkie flinkdink nie. Ek kon eenvoudig op daardie oomblik nie aan ‘n beter verskoning dink nie. Oor of mis, ons is met die beker huis toe.
Op daardie toer kaap vier van ons uitgelate ‘n onbemande donkiekar op die dorpsmeent van Ladysmith. Groot vrolikheid totdat die eienaar keel opsit. Hy dag die bende streepbaadjies se motief was koelbloedige roof. (Slot volg.)