MY LIEWE SKOOLBUS – ENIGSTE FOTO!

Met die rondstuurdery van studentefoto’s tussen Kollegemanne van doer rondom die 60’s beland op my skerm na my wete die enigste bestaande foto van my Fiat 500-stasiewa, bekend as die “Grassnyer” of die  “Skoolbus” – albei my Tukkiemaat  Pierre le Roux se kreatiewe skeppings. Ek is uit  my vel van opgewondenheid.

Die foto kom uit Pierre se album. Hy was, terloops, ‘n bedrewe naamgewer; het  ‘n lykwa ‘n “beentuintaxi” genoem en ‘n ambulans ‘n “aspirant-beentuintaxi”.  Maar dis natuurlik nie nou hier ter sake nie.

Die “Grassnyer”/”Skoolbus” was ’n splinternuwe 62-model, uit die boks,  – ’n donkerbloue.  Die beroemde Cinquecento met sy 500 c.c.-enjin.  Die Taljanertjie het in 1957 in stram ekonomiese tye sy buiging gemaak  en was vinnig ‘n treffer danksy sy kompakte afmetings en ougat voorkoms– die rede vir verkope van 3,5 miljoen.

Vir my was die stasiewaentjie se voorkoms inderdaad te ougat vir woorde.  Die pikante stasiewa-lyfie en seilsondakkie het getuig van Italiaanse pizzazz.  Die sondakkie was ideaal as jy iets langerigs soos ‘n besem wou inlaai. Of die windjie deur ‘n aster se hare wou laat speel.  Sy suinigheid met brandstof was boonop eksieperfeksie vir ‘n studentebegroting.

In die boek, Tutte le Fiat (Al die Fiats, as ek reg uit Italiaans vertaal) kry ek die Fiat 500-stasiewa op bladsy 308. Die Italianers noem hom ewe vernaam die Giardiniera, wat nogal aan die naam “Grassnyer” ‘n sekere geldigheid verleen.

Die grootste dryfveer vir my keuse was egter niks van bostaande nie.  Dit was, om 100 persent eerlik te wees, die enigste nuwe sakpas-motortjie op die vloer op Klerksdorp. Vir die goedkoopste model Mini (wat die alternatief was) sou ons Johannesburg toe moes piekel vir ons aankope. Daarvoor was die gier te onmiddellik.

My nuwe kar had piepklein wieletjies wat gelyk het of dit enige oomblik onder hom kon invou. Toe ek die eerste keer by Kollegetehuis met hom stilhou wou ‘n ander vriend, Cas Jacobs, doodernstig by my weet: “Het jy regtig met die karretjie van Klerksdorp af gery?”

Buiten vir die plesier om die Fiat spottend name te noem, het my vriende nimmereindigende plesier daaruit geput om my motor weg te dra. Dan moes ek plan maak om die kar uit die koshuis se eetsaal te kry, dan was dit ’n hele soektog om ’n geheime wegsteekplek agter digte struike te ontdek. Vir die Van Deventer-ego was dit telkens ’n knou, veral as dit op ’n eerste sleepaand gebeur, of soos die Sondag toe 1962 se joolprinsesse by ons koshuis kom eet het.  Ek sou die mooiste enetjie (in my boekie) huis toe vat, maar moes toe eers vrywilligers opvorder om my kar uit die gesellie te karwei.

Die Fiat was betroubaar. In daardie opsig het hy aan sy doel beantwoord.  Van een ding kon jy hom nie beskuldig nie: krag.  Die toere het vinnig knorrend opgeskiet as jy die 500 c.c.-enjintjie wou aanjaag.  Opdraandes was ‘n “uitdaging”, soos die politici deesdae sware beproewings graag noem.  Om vragmotors op die grootpad verby te steek, moes jy tande kners en vasbyt.

Een dodelike rit met die Fiat Kaap toe vir my eerste skof as parlementêre verslaggewer in 1964 was my laaste.  Die eerste skof het my net gebring van Bloemfontein tot Beaufort-Wes, waar ek in die Wagon Weels-motel oornag het.  Die eindelose trek deur die Karoo van Beaufort-Wes na Laingsburg was met die stadige Fiatjie eenvoudig te veel vir vlees en bloed.

Pas in die Kaap aangeland, het ek by my matriekmaat (wyle) Carel Weeber by Trust-bank in Kaapstad om ’n lening gaan aanklop en ’n gebruikte (blou!) 1964-Cortina gekoop – later my en Tokkie se vrykar.

 

REDDING ROOI MERC

Ja, dis vroulief Tokkie se granaatrooi Merc daardie. Hoe haar 14-jaar-oue staatmaker op die nippertjie ’n rol in die matriekafskeid van die Hoërskool Stellenberg, Bellville/Durbanville, verwerf het, is ‘n lang, pynlike storie.

Laat ons die detail maar verswyg. Genoeg om te meld dat daar ‘n noodoproep was. Ouma is soos ‘n vetgesmeerde blits hier op Melkbos weg om te gaan red. In die vloot sierlike voertuie het die jarige Merc toe nie afgesteek nie (dink ek). Kyk hoe staan hy daar sy plek vol terwyl kleinseun Jacob Claassens vir sy metgesel, Mia Smuts, na die balsaal begelei. Gelukkig mooi skoon gewees.

Anschen, Thomas, Jacob en Mia.

 

Buiten vir die impak van die indrukwekkende wiele waarmee die matrieks aangekom het – adellike veterane tot hipermodernes – was die ervaring van twee uur voor die rekenaarskerm vir ‘n YouTube-stroming van elke spoggerige paartjie se verskyning op die rooi tapyt om verskeie ander redes gedenkwaardig.

Oor matriekmodes het ek veel dieper (sic) insigte as tevore. Wonder net of ontwerpers met ‘n skynbare spleet-obsessie vergeet hoe moedswillig ‘n suidoostewindjie kan dreig om te onthul wat nie onthul behoort te word nie, ‘n Milde aanbod van jeugdige boesems het hierdie ou man ook meermale oor swaartekragwette laat wonder. (Thomas en Anschen Truter het in ‘n Alfa-Romeo opgedaag.)

HEILDRONK MET ‘N LIED EN ‘N TRAAN

Tokkie en Ben geniet ‘n grappie.

Vir die enigmatiese Ben Smit (86) het ons gegroet op ‘n onortodokse wyse wat hy met ‘n spitsvondige opmerking as presies net reg sou bestempel het. Ongetwyfeld die informeelste totsiens-diens wat ek in my 82 jaar bygewoon het.

Aan die einde was ons almal op die voete, vonkelwynglasie voor die lippe, terwyl Louis Armstrong (Satchmo) “What a wonderful world” met sy growwe rasperstem uitgalm. Die wyn, die lied en die traan in die oog!

Dr. Carel Stander van die Paarl, ‘n vriend vir 72 jaar uit hul Tweelingdae in die Oos-Vrystaat, het in sy huldeblyk reg laat geskied aan hierdie “man van 100 ambagte en meester van almal”. ‘n Internasionaal gerekende onkoloog was hy, maar hy kon ook ‘n Volvo se enjin uitmekaarhaal soos wafferse meganiese ingenieur. Hy was ‘n wyse, spitsvondige en diepsinnige man met ‘n verkennende gees en kundighede wat skynbaar aan die grenslose gegrens het.

Koerantlesers behoort die naam te herken: Ben Smit, Melkbosstrand. Sedert sy aftrede het dosyne der dosyne briewe aan koerante uit sy pen verskyn: in die Argus en Cape Times in foutlose Engels en in die laaste jare al hoe meer in Die Burger in sy moedertaal.

Sy nederigheid het van sy skooldae op Tweeling saam met hom gekom, al was hy een van daardie spesiale soort nederige mense wat werklik geen rede gehad het om nederig te wees nie.

Hy was ook ‘n man sonder pretensie, afkerig van opgesmuktheid en grootdoenerigheid; iemand wat andere nie aan hul rang of status beoordeel het nie maar aan inherente kwaliteite. Sy vriende sal die rustige, aardse Ben se waardevolle bydraes tot gesprekke en die periodieke intellektuele ekskursies saam met hom ten seerste mis.

Uit die besadige dr. Carel se mond het die stoutste grappie gekom wat ek nog by so ‘n geleentheid gehoor het. Die een van “vvv” en “vvvvvvv” – julle ken hom mos. Was glo een van Ben se bydraes tot Tweeling se eeufeesblad. Ek kan sien hoe Ben se oog  vonkel.

My bydrae was ‘n ekstra versie vir “What a wonderful world” : “I see human beings like Ben Smit, I see the value that they have added to the lives of so many people, and Ithink to myself What a wonderful world. Yes, I think to myself what a wonderful world. Oh yeah.”

 

 

 

 

WEL, GOOTHBAAI, SALIE

Op my stoep op Melkbos in 2007. Van links is Helgaard Raubenheimer, HvD, wyle Eric Wiese, wyle Salie de Swardt en Ton Vosloo.

As ek ‘n kollega sou moes kies met wie ek die graagste op ‘n verlate eiland uitgespoel sou wou raak, sou die innemende Salie de Swardt ‘n sterk kandidaat gewees het. Talryke gedeelde ervaringe sou oorgenoeg raakpunte oplewer vir gesprekke om die lang ure sonder ander geselskap mee om te kry.
In die jare 70’s met die stigting van Beeld in Johannesburg was ons jare lank ‘n tweeman-saamryklub vir die sowat 20 km uit die noordweste na Doornfontein, hy uit Fairland en ek uit Randparkrif Uitbreiding 3. Ons was albei stigterslede.
In die 80’s toe die politieke tumult in Afrikanergeledere op sy ergste was, was hy redakteur van Beeld en en ek van Die Volksblad. Ons koerante was van die primêre teikens van ver-regse wrewel weens ons sogenaamde “liberalisme”. Ons kon heelwat nota’s vergelyk.
Later was ons saam in die direksie van Nasionale Koerante. Vir direksievergaderings in die Kaap het ons albei in die Hotel President in Seepunt tuisgegaan. Saam-eet op die vooraand van die vergadering was ‘n tradisie.
In die 90’s was hy hoof van tydskrifte en ek hoof van koerante. Ons was in buurkantore op die 18de verdieping van die Nasperssentrum aan die Heerengracht. Ons P.A.’s, Willa Joubert en Lizette Hanekom, was in ‘n gemeenskaplike kantoor met ons aan weerskante.
As lede van Naspers se bestuurspan het ons by allerlei eksotiese bestemmings vergader, bv. Die Hotel Elephant Hills by die Victoria-waterval in Zimbabwe, die Namibwoestyn by Swakopmund in Namibië en Skukuza in die Krugerwildtuin.
Ons plekke in die Naspers-losies by die twee Nuwelande – rugby en krieket – was net in uitsondelike omstandighede leeg.
Ons kon saam ‘n glasie lig by die notering van Naspers op die Johannesburgse Beurs in 1994. Op die Boeing terug Kaap toe het ons, al hoe vroliker, saam met Andrew Marais, hoof van die skakelafdeling, die een heildronk op die ander op die heuglike geleentheid geklink.
Ek was Nieman Fellow aan Harvard in die VSA in 1977 en hy in 1983. Een van die agternavreugdes van Niemanskap was ‘n jaarlikse aandpak-dinee op plekke soos die Wild Coast Casino, die Swaziland Spa en die Mmabatho Inn. Dobbelplekke was toe nog taboe binne Suid-Afrika se grense.
‘n Feestelikheid was die bywoning van die Nieman Foundation se glansryke 50ste verjaardagfees in Cambridge, Massachusetts. Die besoek is afgerond met ‘n gerugmakende reis per huurmotor van Boston na Washington saam met ons gades, Lisa en Tokkie.
Deur die jare het ek en Salie vele pret saam gehad. Die pret op daardie reis kan ‘n bundel vul. In daardie motor is baie gelag. Een insident was toe ons, met my aan die stuur, in die deelstaat Maryland ‘n verkeerde afrit vat en tot afgryse van ‘n klompie mense by ‘n buitelug-restaurant rakelings verby hulle
skuur.
In Washington is ons koninklik in die SA ambassade onthaal. Piet en Lulu Koornhof was die ambasadeurspaar. Hul kleuter-kleinkind was op besoek. Speelgoed was oral op die ambassade se vloere gesaai.
Einde 1997 het ek afgetree. Salie het nog ‘n dekade by Naspers gebly en die hoog geagte besturende direkteur van die nuwe Media24 geword. Die sien het minder geword. Die De Swardts het wel ‘n keer in Sabiepark kom kuier. Elke jaar in Desember is ‘n braai vir oud-Beeldmense by hul pragplasie  Akkerdraai buite Stellenbosch aangebied. Die het ek graag bygewoon solank dit vir my moontlik was. By sovele ander onthale was ons tafelgenote.
Van Salie sou ek by sy skielike heengaan in ‘n hotel in Londen hope anekdotes kon uitryg. Hy was by al sy gravitas iemand met ‘n onblusbare humorsin. Waar hy was, was luimigheid nooit ver nie.
Ek gaan my twee tot twee stories beperk. Die een is in besonderhede opgeteken in mede-Nieman Michael Green se memoires Around and About. Die geleentheid was ‘n Nieman-banket by die Wild Coast Sun. Dit gebeur toe dat Salie laataand by sy suite se skuifdeure uitstap vir vars lug. Hy betrap ‘n paartjie op die helder verligte grasperk voor hom volstoom gemoeid in wat Green Ugandan discussions noem – dit n.a.v. ‘n Ugandese gesant en sy sekreterasse wat in ‘n lastige situasie betrap is. Sy verduideliking was: We were having discussions.
Nietemin, Salie wat ‘n storie met oorgawe kon vertel, is daardie naweek telkens oogeroep om sy waarnemings met ons ander te deel.
By sy afskeid by Beeld het hy aangeknoop by ‘n rubriek van Albert Crafford in Die Beeld oor die week se dinge by die parlement. Een vermeldenswaardigheid was die besoek van ‘n Rus, ene Popof. ‘n Ander was die Spoorwegbegroting waarin die minister, Ben Schoeman, telkens die Duitse digter Goëthe aangehaal het. Schoeman het hom Gooth genoem.
Craffie sluit toe sy rubriek af: Wel, Goothbaai, ek moet nou Popof. So het Salie ook sy toespraak afgesluit. So sluit ek hierdie skrywe af: Goothbaai, Salie, dierbare vriend en kollega.

UIT MEDIA NA POLITIEK

Drie Suid-Afrikaanse staatspresidente het in jul jong dae die joernalistieke waters beproef:  CR Swart en PW Botha by Die Volksblad en Marais Viljoen, by Die Transvaler. Amper was dit vier.  TE Dönges (Die Burger) is tot die amp gekies, maar kon dit weens siekte nie opneem nie.  Dit het die deur oopgemaak vir die Vrystaatse boer, Jim Fouché.

Swart was in 1936 twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad.  Van  1927/28 tot 1933 het hy ‘n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” behartig. PW Botha het in die middel 30’s as vryskut politieke vergaderings vir die koerant gedek.

Viljoen was vertaler en verslaggewer by Die Transvaler. Dönges was assistent-redakteur van Die Burger en betrokke by die NP-blad The South African Nation.

 Twee premiers, DF Malan en HF Verwoerd, was onderskeidelik die eerste redakteurs by Die Burger (van 1915 tot 1924) en Die Transvaler (1937 tot 1948).

Dr. EG Jansen, voorlaaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, was in 1919/20 nege maande lank redakteur van Die Nataller.

Sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party,  was aanvanklik ‘n rukkie lank joernalis by The Friend en dr. AP Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party, was redakteur van Hoofstad.  Helen Zillie was in ‘n later era leier van die Demokratiese Alliansie.

Politieke swaargewigte soos dr. AJR van Rhijn en dr. Otto du Plessis, Kaaplandse Administrateur,  het ook Die Volksblad se gange bewandel. Van Rhijn was ‘n marathonskof van 23 jaar lank redakteur.

Senatore was CJ Langenhoven  ( Het Zuid-Westen  en Die Burger) en AM van Schoor ( Die Vaderland).

Ander mediamense wat politici geword het:  Hennie Smit (Die Burger), Sporie van Rensburg (Die Transvaler), Gert Terblanche (Die Volksblad), Frik van Deventer (Die Volksblad, Dene Smuts (Fair Lady), Piet Coetzer (Die Transvaler) en  Chris Rencken (SAUK).  Die lysie is waarskynlik onvolledig.

In ambassadeurgeledere was o.a. AJR van Rhyn (Die Volksblad), Conrad Sidego (Rapport en Die Burger), Gert Terblanche (Die Volksblad)  en Leo Rautenbach  (Die Burger).  Tertius Myburgh (Sunday Times) is aangestel as ambassadeur in Washington, Hy is egter dood voordat hy die pos kon opneem.

Ongetwyfeld die koerantman wat die skielikste in die politiek beland het, ws Clarence Henney. Een oomblik was hy nog ‘n taamlik junior Ekstra-verslaggewer by Die Volksblad (Ekstra was die naam van die uitgawe gerig op bruinmense), die volgende was hy ‘n LUK (lid van die Vrystaatse Uitvoerende Komitee) – ‘n politieke swaargewig. Dit was ‘n regstreekse uitvloeisel van die totstandkoming van die driekamer-parlement.

Tot sy eer het hy sy ampsBenz self bestuur; wou nie n bestuurder hê nie.

Hy wou nie gesalueer word as hy by die hekke van die HF Verwoerdgebou inry nie. Het ook nie in n LUK-huis gaan bly nie, maar steeds in Heidedal waar hy sy skemahuis laat aanbou het. Hy was n nederige mens.