Aug 8, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

As ‘n ou ouer as 80 is, 60 jaar klaar is met universiteit, 65 jaar gelede in matriek was en al ses jaar verby jou goue bruilof is, is ‘n baken van 25 jaar nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. Maar wag nou: 1997 was in die lewe van Jakob Hendrik van Deventer nie maar net nog ‘n ou jaartjie nie.
Ek vier vanjaar die silwer jubileum van my aftrede – 25 goue jare! – die silwer jubileum van ons verhuising na Melkbos – ook 25 goue jare – die silwer jubileum van verering met ‘n silwer penning, sy eerste, deur my skool, Volkies Potchefstroom, en, les bes, die silwer jubileum van my verwerwing van Naspers se goue Phil Webermedalje vir loopbaanprestasie. Laasgenoemde is in Augustus 1997 aan my toegeken.
Nou die dag grawe my Tokkievrou die uitgawe van Naspers se destydse personeelblad, Naspersnuus, met daardie nuus op sy voorblad uit ‘n laai vol rommel en vra: “Wil jy hierdie nog he?” Natuurlik wou ek.
Die ander twee bekroondes van 1997 was wyle Charles Fryer (PJ Cillie-medalje vir kreatiwiteit) en Jan Malherbe, my opvolger as koerantehoof (Hubert Coetzee-medalje vir bestuur).
Vergewe my maar dat ek met ingenomenheid op die verowering van die Phil Webermedalje terugkyk en die jaar 1997 met soveel onverbloemde vreugde in herinnering roep.
Aug 7, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Goeie musiek het in my lewe gekom met die periodieke Plate-aande Saterdagaande in die skoolsaal van Potch-Volkies in die jare 50. Dit was nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ‘n handjies-vashouery was uit. Van die snitte wat oor en oor gespeel is, is egter tot vandag toe gunstelinge.
Eers op Tukkies in die jare vyftig het ek met “U eie keuse” op die Afrikaanse Radiodiens (nou RSG) kennis gemaak, al was die versoekprogram al sedert 1945 (toe ek vier jaar oud was) op die lug. Op alleen-aande was die mooi musiek ‘n troos.
Die afgelope vyf dekades luister ek en Tokkie graag wanneer ons die kans het. In al die jare was gisteraand egter die eerste keer dat ons ingetrek is. Dierbare vriende, Theuns en Marian Otto van Parys, het gevra dat Gert Potgieter se “O Boereplaas” gespeel word en dat o.a. ons twee moet saamluister. Natuurlik het ons die ore gespits. Elk woord en elke stembuiging was spesiaal vir ons – so het dit gevoel. Ons was half aangedaan.
Krane van herinnering is daarmee oopgedraai. Soos aan my Pa Malan se dood (my biologiese pa, Seun, is dood toe ek vyf was).
In April 1988 was Pa en Ma Malan vir oulaas by ons op Buffelsbaai waar ons vroeër altyd saam vakansie gehou het. Wat ek nie sal vergeet nie, is die laaste siens die aand op George se lughawe: hy, ’n uitgeteerde bondeltjie mens in ’n rolstoel op ’n windverwaaide laaiblad, wagtend om aan boord geplaas te word.
Die volgende ontmoeting was in die kankersaal van Pretoria se H.F. Verwoerd-hospitaal. Pa Malan was in ’n beswyming. Ek het die nag by hom gewaak en is in daardie eensame ure deur ’n diepe droefheid beetgepak. Ons het ’n lang pad saam afgelê.
Vroeër die aand het ’n pasiënt in die verste hoek sy radio op “U eie keuse” ingeskakel. Robert Young was die aanbieder. Dié verheffende musiek te midde van lyding was ontroerend. Ek kon nooit weer na daardie program luister sonder om daardie aand in die kankersaal in herinnering te roep nie. Vier dae later is Pa dood.
Van almal wat daardie aand in Saal 21 deur Young en sy musiek betower is (ook die bekende Oom Fasie van die TV-program “Nommer Asseblief”), is dit waarskynlik nog net ek en die verpleegsters wat in en uit is, wat in die lewe is – ’n ongemaklike gedagte.
In 1974 toe ek en Tokkie van Bloemfontein vir ses jaar Johannesburg toe is, het ek Kosie Jooste se huis in Randburg sterk oorweeg. Hy laat val toe hy het die eerste “U eie keuse” op 20 Oktober 1945 uitgesaai. Die man het in my estimasie gestyg, maar sy huis se pype het darem te erg gerammel as jy ‘n kraan oopdraai!
(Na Jooste, het verskeie aanbieders gevolg: Pieter Naudé, Jan Spies, Vincent Hesse, Hennie Pietersen, André Liebenberg, Frikkie Oosthuizen, Henk Bierman, Retief Uys, Anton Prinsloo, Robert Young, Wouter de Wet (ook tenniskommentator) en op die oomblik Willem Pelser. s. Young is die vader van die gewilde “U eie keuse”-CD’s. Retief Uys was ‘n vriend uit die Bloemfonteindae. Malaria het sy lewe geëis.
Dankie, Theuns en Marian, vir ‘n ruimer belewenis as net die mooi lied so weergaloos deur Gert Pogieter voorgedra. Vir diegene wat nie gisteraand saamgeluister het nie –of wat weer wil luister – hier is die You Tube-skakel: https://www.youtube.com/watch?v=-E-bhyz-oJ0
Aug 4, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
My Ouma Visser was ‘n streng dame met sterk insigte oor wat behoorlik en wat onbehoorlik is in die vorm van woorde wat oor jou lippe kom. Selfs ‘n gefluisterde “dêmmit” in ‘n onbewaakte oomblik het die waarskuwing ontlok dat jou mond met seep uitgespoel sou word. Haar voorkeur vir die reinigingstakie was Sunlight.
Ouma se berispings kom gereeld by my op wanneer ek die ongeraffineerde taalgebruik van sommige op Facebook waarneem. Erger woorde as “d mmit” vloei . “Ouma, bring die Sunlight” dink ek dikwels.
Gister, wanneer is ek deur ‘n “dametjie” op ‘n onbevriende blad ‘n “asshole” genoem. Die blad word bedryf deur ‘n oud-kollega met vele geraamtes in die kas, bitterhede in sy hart en wrewel teen mense wat die hand oor hom gehou het toe hy wankelend was. Vleitaal word nie op daardie blad verwag nie.
Of die uwe vir daardie spesifieke stukkie vulgariteit kwalifiseer of nie, is ook nie ter sake nie, al sou dit nuttig wees om te weet wat die sterk afkeuring in die onbekende afkraker aanwakker. Klaarblyklik sal daar ‘n breë spektrum opinies bestaan.
Nou waaroor skryf ek dan? Oor die gekruide taal wat ‘n mens taamlik omvangryk op sosiale media raakloop. Veral dan die gekruide taal uit vroulike monde. Meer spesifiek: uit jong vroulike monde.
Hoekom vloek so baie van deesdae se meisiekinders so? Hoekom raak hulle so in die platste slêng verstrik? Beleef hulle dit as bevrydend soos dit enkele generasies gelede vir hul susters bevrydend was om hul bra’s af te werp.
Ek glo vir geen oomblik dat daardie enetjie geneë sal wees om die ou “asshole” te soen nie. Ek gaan net vir die rekord tog maar opmerk dat ek sou gril om lippies te kus waarsoor sulke onfatsoenlikhede kom.
Wil iemand met meer invloed op diesulkes as ekself nie hulle aan die verstand probeer bring dat om so lelik te praat – veral om sulke growwe beledigings te slinger – dikwels meer van hulleself verklap as van die voorwerp van hul minagting nie?
Aug 1, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vir die MSC Sinfonia het die Van Deventers nou al drie keer gegroet. Dat ‘n vierde groetslag dalk kan voorlê, was ‘n vergesogte gedagte. Onverwags het so ‘n moontlikheid egter nou opgeduik. Ons het nie te lank gewik en geweeg nie.
Pas het die bevestiging van ons bespreking gekom: Wanneer die sierlike wit skip op 16 Januarie 2023 na Walvisbaai seil, sal ek en Tokkie op die dek wees – mits die kragte hou natuurlik.
Die eerste kennismaking was amper 13 jaar gelede, op 20 November 2009, op die Sinfonia se eerste vaart in Suid-Afrikaanse waters. Ek, Tokkie en die tweeling-kleinseuns, Jacob en Thomas Claassens (toe vyf), was van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het vir die “nooiensvaart” na Durban (Foto).
In vyf seisoene en 150 vaarte vaarte het die skip diep in die harte van Suid-Afrikaners gekruip. Maar in 2014 is afskeid geneem om in Palermo herbou te word. ‘n Nuwe middelstuk is ingevoeg. Die laaste Suid-Afrikaanse vaart – ‘n “vaart na nêrens” – sou op 15 Maart uit Kaapstad vertrek.
Om die Sinfonia op sy heel eerste vaart hier “welkom te heet” en op die laaste “tot siens te sê” het ‘n historiese dimensie uitgestraal wat vir my aanloklik was. Boonop was 15 Maart 2014 Tokkie se 68ste verjaardag. Omdat dit in ’n naweek sou val, kon Jacob en Thomas (toe al amper 10) op ’n reünietog saam. Christopher (5) sou sy boot-vuurdoop kry. Die ouers, Brent en Marisa, was vuur en vlam om saam te kom.
Ouma se 68ste verjaardag sou dus ’n lekker familiefees word: ’n geskenk van groot waarde vir haar om so tussen geliefdes op die oop see die dag te kan gedenk. (Foto). Ons het nie geweifel nie.
Toe ons die Maandag voet aan wal sit, het ons die groot banier teen die kant van die loopplank bemerk: “Goodbye, Cape Town”. Uit die draradio’tjie van ’n hawebeampte het ’n trefferliedjie uit die jare 50 opgeklink: Arrivederci, Roma …It’s time for us to part. Dit was asof die speel daarvan juis op daardie oomblik so gechoreografeer was vir ’n sentimentele herinnering.
Vir my en Tokkie was dit ’n voorreg om saam met ons oudste twee kleinkinders op die eerste vaart van die Sinfonia uit Kaapstad te wees. Nou was ons weer bevoorreg om saam met die volledige Claassens-gesin die laaste mee te maak. Ons Sinfonia-simfonie was daarmee voltooi – of so het ons gedink.
Die middag het ons van ons stoep op Melkbos af die see dopgehou. Op die horison het ons ’n stippel gewaar wat al hoe groter word. Net verby Robbeneiland het ons besef: dis die Sinfonia op pad Palermo toe. Soos die seuns vroeër op die skip, kon Oupa nie verhelp nie om die hand te lig in ’n laaste tot-siens-saluut.
Salute, Sinfonia, het ek geprewel. Arrivederci. Vaar voorspoedig, liewe skip.
In April 2019 is ek en Tokkie op die MSC Musica na Venesië. Nostalgie het hoog geloop toe die Musica met sy aankoms in die kleurryke hawe Split reg voor die vergrote Sinfonia vasmeer; wat ‘n verrassing. Sinfonia-veterane op die Musica het ver teruggedink en goeie tye herroep.
Van die huidige Musica-bemanning het met breë glimlagte na die dek gestroom om hul “ou skip” van hul nuwe een af te groet. Een gryse kêrel in uniform was ’n kelner op daardie vaart. Dalk was hy nog die ondeunde een wat die seuns so met slaptjips en roomys bederf het!
Die volgende oggend het die Sinfonia eerste gevaar. Ek en Tokkie het op die dek staan en kyk hoe die ou kameraad al hoe kleiner word. My kamera het aanhoudend geklik. Dit sou sekerlik die laaste sien wees … (Foto)
Maar nou-ja, nou kom die Sinfonia terug vir ‘n nuwe Suid-Afrikaanse seisoen. Toe ek die advertensie sien, was die koeël deur die kerk. Ons deposito is betaal. Ons kajuit is op dek nege in die nuwe stuk wat in Palermo ingesweis is. Die keer vaar ons ander kinders, Johan en Mariza van Deventer van George, saam. Ons sien reikhalsend uit.
Ons Sinfonia-simfonie gaan voort.