VRESE OOR SKATKAMERS

Die wêreld is ons woning nie. Daaroor is ek dit met die digter Totius roerend eens. Hy merk dit o.m. aan die son wat wyk, aan die reier wat mistroostig na die son sit kyk en “in alle ding wat in die skemer my omring.” My lysie van tekens is heelwat langer as syne. Van veranderende waardes tot fisieke agteruitgang en verval maak my mistroostig.
Vanoggend het ‘n diepe mistroostigheid my oormeester toe ek ”Volksblad” se voorblad op Netwerk24 oopmaak. “NALN staan donker en gegrendel”, is die opskrif van die hartseer-hoofberig. Skatkamers van die Afrikaanse letterkunde het net nog ‘n slagoffer geword van die skromelike onbevoegdheid van die nikswerd ANC se treurige kaders.
Die Vrystaatse regering – berug om sy miljarde wat hy op onbekookte dagdromer-projekte mors – het nie geld om die kragrekening te betaal van die karaktervolle ou provinsiale gebou daar aan die bopunt van Maitlandstraat wat NALN huisves nie. Toegang tot die hart van skeppende Afrikaans is van die baan. Ook die toekoms van die Volksbladkamer met al die koerant se waardevolle meubels en onvervangbare memorabilia hang klaarblyklik in die lug. Hopelik net tydelik.
Wat ‘n ellendige besigheid. Om my nog mistroostiger te laat voel, is ‘n beklemming in my gemoed oor wat by INEG by die Vrystaatse Universiteit aan die gang is – nie net oor ‘n eie private versameling uit my koerantdae wat daar ‘n tuiste vind nie nie, maar oor die ramp vir die totale geheue van ons eietydse geskiedenis wat dreig as dinge skeefloop.
Hoop maar instansies soos die Erfenis-stigting en die Akademia-universiteit hou verwikkelinge fyn dop en maak al planne om te red wat te redde is, as dit nodig sou raak.

HENNIE VAN COLLER: WAT NOU?

Soos dit meermale met prikkelende uitsprake gesteld is, het prof. Hennie van Coller se waarskuwing oor die temas van kinderboeke tot groot omstredenheid gelei.
Ek is een van diegene wat nie die rede vir die diepe aanstoot in sy uitsprake raaklees nie. Kom ons aanvaar egter dat sekere mense en groepe dit wel as kwetsend kon beleef het.
Dan ontstaan steeds allerlei vrae. Het hy inderdaad akute homofobie geopenbaar? Was die stormagtige reaksie nie buitensporig nie? Was sy doeltreffende isolasie in letterkunde-kringe geregverdig?
Die vernaamste vraag: Ontstaan nie dalk ‘n waan van onantasbaarheid by sommige en by hul juigkommando’s wat gereed sit om elke vorm van kritiese bevraagtekening met vuur en swael te bestorm nie?
Ek weet niks van kinderboeke af nie. Maar ek ken Hennie van Coller oor die 30 jaar lank. By my geniet hy ‘n geloofwaardigheid wat my laat kennis neem van wat hy sê. In hom gewaar ek voorts ‘n akademiese integriteit en statuur wat die Akademie van Wetenskap en Kuns ten goede gestrek het.
Dat hy so platgeloop is oor ‘n eerlike opinie – hoe onsensitief dit ookal op sekere ore geval het– is klaarblyklik tot skade vir die dissipline wat hy so lank met onderskeiding gedien het. Die Akademie is vandag onteenseglik armer.
Oor wat hierdie Hennie van Coller-polemiek en die uiteinde hiervan vir toekomstige ope gesprekke oor sekere temas inhou, hou ek my hart vas.
Ek roep byvoorbeeld voor die gees hoe die gerekende skrywer Dan Sleigh slae gekry het toe hy – tereg, volgens baie ewewigtige waarnemers – die feitelikheid van die kontroversiële boek “The lie of 1652” aangevat het.
En ek het nie vergeet die tonne bakstene wat op my neergekom het toe ek gewaag het om die prul van ‘n Bird Island-boek se lasterlike leuens te help ontmasker nie.
Dit alles voed ‘n vermoede dat nie altyd die waarheid van kritiek vir almal deurslaggewend is nie; vir sommige eerder wie die kritiek uitspreek en wat hulle in jou opinie verteenwoordig.
In daardie geledere is allerlei groepe en individue met allerlei byltjies te slyp oor opvattinge en insigte wat vir hulle “ouderwets” en “konserwatief” lyk. Dit val op hoe hulle uit hul pad gaan om mense te diskrediteer en isoleer, veral die stemme uit ‘n ouer geslag.

TJORRE MET TITELS

Ter ere van die Chinese Sehol wat nou tot die mortormark toetree, deel ek graag ‘n hoofstukkie oor motorname uit my humorboekie “Praat-praat in Tamatiestraat” (Griffel, 2010). Dit is ook as e-boek by De Novo beskikbaar. Kyk onder.
TJORRE MET TITELS
“Bankrot Maar Windgat”. So spot sekere BMW-eienaars nogal graag met hulleself. Dit is seker ’n verkiesliker verklaring vir een van die bekendste akronieme op die pad as “Blik Met Wiele” of die Engelse “Bavarian Manure Wagon” – ’n klaarblyklike variasie op die tema van die ou DKW.
Ek soek nie baklei met BMW-eienaars nie – van my beste (en rykste) vriende ry Beamers. Die windgat-etiket kom maar net by my op toe ek by ’n winkelsentrum ’n spoggerige BMW-koepee sien met die plakker: “Was eers my man s’n”.
Dis nou fyn spog! Daardie vorige eienaar se egskeiding was klaarblyklik nie ’n goedkoop storie nie!
Tussen fyn spog en selfspot is soms net ’n fyn dun lyn. Nou die dag beland ek agter ’n rammelkassie met die bufferplakker: “My other car is a Porsche”. (Porsche staan glo vir: “Proof Only Rich Snobby Children Have Everything”!)
Van spot gepraat: Op Tukkies was my wiele in my laaste jare ’n piepklein Fiat 500-stasiewa. Dié Fiat is dadelik deur een seksie (spottend) die “Skoolbus” gedoop. Ander se spotnaam was die “Grassnyer”.
’n Amerikaanse webwerf het lyste en lyste van byname vir bekende fabrikate – speels en spitsvondig maar, interessant genoeg, tog hoofsaaklik onvleiend. Ekself is ’n trotse Honda-ryer en stem glad nie saam met die volgende nie: “Had One, Never Did Again!” Ek glo eerder: “Happy Owners Never Drive Anything else!”
Die BMW se twee Duitse mededingers, die weeldemotors Mercedes Benz en Audi, kom ook nie skotvry af nie. Hoeveel trotse Benz-eienaars sal saamstem dat “My Expensive Road Car Emits Dense Exhaust Smoke – But Efficiency Near Zero?” Audi-eienaars sal seker beledig voel oor: “Always Under Diagnostic Inspection.”
Die volgende willekeurige seleksie word nie lasterlik bedoel nie en moet asseblief nie ernstig opgeneem word nie:
Chevrolet: “Cheap, Hardly Efficient, Virtually Runs On Luck Every Time”;
Fiat: “Fix It All The Time”;
Ford: “Found On Rubbish Dump”. Of agterstevoor: “Driver Returns On Foot”;
Hyundai: “Here’s Y U Never Drive An Import”;
Jeep: “Just Expect Every Problem”;
Kia: “Kick It’s Ass”;
Toyota: “This One You Oughta Tow Away”;
VW: “Virtually Worthless”.
Sekere motors het nie spottende byname nodig nie. Motorname kan in sigself rampspoedig wees – veral daardie wat in ander tale gans iets anders beteken as wat die vervaardigers in gedagte gehad het.
Die Opel Ascona beteken glo in Spaans en Portugees ’n intieme deel van ’n vrou se lyf. Die Mazda Laputa is, volgens dieselfde bron, in Spaans die Mazda Slet. Die Pajero van die Mitsubishi Pajero beteken na bewering in Spaans “wanker” (iemand wat masturbeer). Die Nova van die Chevrolet Nova beteken in dieselfde taal eenvoudig: “Dit loop nie!”
In Japan is verskeie modelle met Engelse name wat ’n glimlag uitlok. Dit sluit in die Daihatsu Naked; Honda Life Dunk; Isuzu Mysterious Utility; Mazda Bongo; Nissan Fairlady Z; Suzuki Cappuccino; Toyota Deliboy en Volkswagen Thing.
’n Mooi Toyota-storie kom van ’n kollega wat diep wortels in die motorwêreld gehad het, wyle Fred Schnetler: Die student se meisie raak swanger en die tyd breek aan dat hulle haar ouers die interessante nuus moet meedeel. Hulle daag die Vrydagaand op by die pa se indrukwekkende plaas, maar hy besluit om te wag tot later, wanneer die oomblik geskik is, om die nuus oor te dra.
Die volgende oggend gaan wys die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man beïndruk is, hom die plaas. Ná ’n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek staan ’n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers is netjies op ’n ry en in die skuur langsaan is twee Toyota Hino-vragmotors. In die motorhuis is ’n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ’n Corolla.
“Oom glo in die Toyota!” sê die student.
“Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.”
Eenkant staan ’n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “Hy’t 500 000 kilometer op die klok en vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond.
Dis toe die student ’n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?”
Nee, hoekom vra jy?”
“Ai, oom, ek het haar net so ’n ligte ou stootjie gegee toe vat sy!”
“Praat-praat in Tamatiestraat”is by De Novoboeke as e-boek beskikbaar vir net R60 – minder as ‘n goeie hamburger. Die skakel is: https://www.denovowebs.co.za/…/praat-praat-in…/

NOMMER EEN EN NOMMER TWEE

Jy verkeer in die salige waan jy is nog nommer een. Skielik ontdek jy jy is nie meer nie. ‘n Mens voel of jy in jou tande geskop is.
Arme Faf de Klerk. Hy moes sy nommer 1-posisie as die Springbokke se skrumskakel aan Jaden Hendrikse afstaan. Ek weet presies hoe hy voel. Hierdie skrywe kom uit dieselfde bootjie.
In my geval is rugby nie in die spel nie. Kragtie, ek is fluks op pad 82 toe en dit kan maar lol as ek haastig moet skrum skoon maak.
Nee, in my geval is dit banksake. Soos Jaden Hendrikse by Faf oorgevat het, het Tokkie van Deventer op die speelveld by die uwe verby geskuif.
Faf het uit die mond van Jacques Nienaber van sy afgradering verneem. My fluitjieblaser was Lichanda Nyirenda, ons Malawiese tuinier.
Hy kom grootoog en skepties verneem wat die SMS beteken wat hy van die bank ontvang het om hom van sy jongste inbetaling te verwittig. Nog altyd is hy deur ‘n JH van Deventer betaal. En nou? Nou’s dit ‘n GS. Wat beduie dit?
Tokkie verduidelik aan Lichandfa hoe die vurk in die hef steek . Die koekieblik het nie verander nie. Net die hand wat daarin gedelf het.
Ek luister belangstellend maar deel nie Lichanda se satisfaksie met die verduideliking nie. Sedert 1958 is hierdie my rekening. Ek is g’n GS nie. Watse kaping is dit die deur ‘n inkommer? Wat de duiwel!
Ek bel die bank taamlik ontsteld – nogal ‘n uitdaging want die foon lui lank en skakel in die proses – so lei ek af – meer as een keer van een telefoon oor tot ‘n ander. Uiteindelik darem ‘n gewillige oor. Nee, hierdie is taksake. Daar trek ons Blouberg toe. Melkbos het nie meer ‘n bank nie.
Maar moenie dink jou nommer -1 posisie val sommer weer in jou skoot nie. Dis jy teen die stelsel. Die het verander, hoor jy. Omdat die app op Tokkie se foon is – my getroue ou werkesel, ‘n Blackberry, is nog te ouderwets vir sulke gedoentes – moet sy User 1 wees en ek User 2, verduidelik die dame – of iets in dier voege.
Ek maak heftig beswaar. My status gee ek nie so maklik prys nie. Eers knor ek. Toe dit moontlik kontraproduktief begin lyk, raak ek die ene stroop. Uiteindelik: ‘n boer maak ‘n plan; ‘n slim bankmeisie ook. Meneer druk hier, Mevrou, druk daar, Die saak raak reg.
So, Faf, daar’s hoop. Byt vas en baklei. Soos ek weer User 1 geword het, kan jy weer met die nommer 9 op jou rug uitdraf. Arme Tokkie, vermoed ek, is nou User 0. Wens dieselfde lot nie met kwade bedoelinge vir Jaden Hendrikse toe nie, maar wat reg is, is reg. As ‘n mens nommer een is, is jy nommer een. Allekragtie.

OM HANDDOEK IN TE GOOI

Voor die besoek aan die kardioloog kry ek ‘n boodskap: Bring jou eie handdoek saam. Ek en Tokkie beraadslaag oor die regte grootte – nie te klein nie, nie te groot nie.

Sy bied ‘n keuse van drasakke. Ek besluit op een en gooi sommer ‘n kam ook in. As jy ‘n handdoek nodig kan kry, gaan jou weerbarstige kuif waarskynlik ook deurmekaar raak.

Daag by die arts op met my drasak in die een hand en die kierie in die ander.

Beland uiteindelik op die gevreesde trapmeul. Dit verby, is die handdoek steeds nie nodig nie. Ook nie die kam nie. Kuif is nog ramkat.

Met die groetslag merk ek op: Dokter wonder seker oor die sak. In hom is my handdoek wat ek volgens die boodskap moes saambring.

“O,” antwoord hy met ‘n vonkel in die oog: “Dis eintlik net vir die ouens wat handdoek wil ingooi. ”

Ek grinnik maar saam. In die motor vra ek vir Tokkie: “Het hy nou ‘n grap gemaak?” Sy weet ook nie, maar vind dit klaarblyklik snaaks.

Elke wakker stonde in die nag dwaal my gedagtes na die handdoek in die drasak. Was die boodskap op die selfoon ‘n stukkie spitsvondigheid waarvoor ek, digte drommel, soos ‘n sak patats geval het? Of het die kardioloog geskerts?

Vraag is: moes ek werklik die handdoek gevat het of nie? Amper lus en bel die praktyk en vra hulle. Maar hulle is besige mense en het dalk nie tyd vir so ‘n beuselagtigheid nie. Nou gooi ek maar handdoek in.