RAMMETJIE-UITNEK TOT DIE DOOD

‘n Treurige toneeltjie begroet my  op pad huis toe in Wildevylaan, Sabiepark. Twee rooibokrammetjies  lê plat op die grond, horings ineengestrengel. ’n Derde , duidelik erg onthuts, draf op en af en maak ontstelde blaasgeluide.

Een van die twee op die grond lyk vir my dood. Die ander een  haal hygend asem. Ek gaan haal gou vir Tokkie.  Twee koppe is immers beter as een.

Watter treurspel sou hier plaasgevind het? Gou het ons konsensus: klaarblyklik het die twee hul humeur met mekaar verloor. Wat toe volg, was ’n verwoede gekopstampery met hul stewige horings as wapens. Toe raak die horings verstrengel.  Die twee beland half bo-op mekaar hulpeloos op die grond.  Die derde wil help, maar hoe?

Ek neem foto’s en Tokkie soek gou die nommer van die kantoor op haar selfoon om die vreemde gebeurde te rapporteer. Die derde blaas nog ’n keer hard en verdwyn in die bos.  Volgende oomblik: hier is die twee “dooie” of ‘’sterwende’’ bokke op die been. Hulle skud hul koppe woes. Die horings glip los. Een hardloop links die bos in en die ander een regs.

Net die merke op die nat grond bly oor as bewys van die klein natuurdrama wat hom in Wildevy afgespeel het. Ons kan ons oë nie glo nie.

Wat ons hier gesien het, herinner aan ‘n raaiselagtige insident ook met twee impalarammetjies enkele jare gelede naby Satara in die Krugerwildtuin.  Een was teen die grond, skynbaar dood of ten minste uit soos ’n kers.  Die ander het die een stormloop na die ander geloods en met sy voorpote op die gevallene gespring.

Ek en Tokkie, romantiese siele, vertolk dit as liefdesdaad tussen ’n Dawid en Jonatan.  Ons dag die een betuig sy smart met ‘n maat se dood of teenspoed. Aikona, hoor ons toe. Wat ons daar waargeneem, was impala-aggressie wat selfs verby die dood nog nie uitgewoed was nie.  Die ou mooi bokkies se lonte is kort. Hoe langer die geveg duur, hoe kwater word hulle vir mekaar.

 

‘N EIE D-DAG VIR DIE VAN D’S

By Johan se 50ste

Soos D-dag, 6 Junie 1944, ‘n dag van betekenis was, is Van D-dag, 7 April 2022, dit ook.

Eersgenoemde was ‘n sleuteldag in die Tweede Wêreldoorlog, en word ná amper 80 jaar nog herdenk. Laasgenoemde kry vandag eers in hierdie skrywe sy naam, maar is vir die Van Deventers van groot herdenkingswaarde.

By 7 April 2022 is in die dagboek ‘n rits inskrywings wat op ons lewens’ n D-dag-impak het.

Nommer een is dat seun Johan  Donderdag presies 50 jaar lank op insulien sal wees. Rofweg bereken, sal hy dan minstens  50 000 prikke agter die blad hê om insulien in te spuit, en vir  ander dinge daaromheen, soos bloedtoetse.

Johan: begin van die pad 

Die baken word bereik in sy 51ste jaar op aarde.  Hy was net ses maande oud toe hy raaiselagtig siek geword het en met diabetes mellitus gediagnoseer is – destyds (waarskynlik) die jongste geval ter wêreld.

Hy hou ‘n onbenydenswaardige waarskynlike wêreldrekord.  Geen geval is opgeteken van iemand wat in die loop van sy 51ste jaar reeds die baken van 50 jaar op insulien behaal nie.  HY het op 14 September 2021 50 geword,

Oor sy lewe op insulien kan baie stories vertel word: onder meer van talryke vreemde insidente uit veral sy kinderjare.  Een daarvan is hoe sy hond, Novo, vir hom een aand  ‘n lewensredder was soos die insulien Novo dit al lewenslank vir hom is.

Radelose artse het destyds nie herwaarts of derwaarts met die unieke geval geweet nie. HY was drie maande in die hospitaal terwyl gesukkel is om hom te stabiliseer. Ons is daarop voorberei dat hy besmoontlik nie 10 sou haal nie.  Wonder wat hulle sal dink as hulle hom vandag kan sien: spekvet en aktief. Hy bedryf ‘n groot trokwasonderneming op George.   Hy is ook baie betrokke by die Legacy Centre, ‘n skool vir kinders met spesiale uitdagings wat sy vrou, Mariza, bedryf.  Hul seun, Migael, is outisties.

Destyds het nie net SA dokters nie nie van ‘n jonger geval geweet nie. Ook by die bekende Joslinkliniek in Boston, VSA, wou ‘n Switserse dokter sy ma nie glo nie. “Ses maande?  Kan nie wees nie, mevrou?”

Sabiepark: In het beginne

Inskrywings twee en drie by 7 April is van twee aktiwiteite. In die Kaap tree die uwe en Tokkie op die lughawe Kaapstad aan vir die eerste skof van ons eerste lang Sabiepark-verblyf sedert die Covid –skrikbewind. Ons vlieg om 10:25 met Airlink se vlug NDBIXP na Nelspruit. As alles goed gaan, brand die aand ‘n vuurtjie by Tarlehoet.

Sabiepark is nou 24 jaar deel van ons  lewe. Minstens 50 onvergeetlike vakansies (of vier jaar in kalenderdae!) is al daar langs die Sabierivier in die skaduwee van die Krugerhek van die wildtuin deurgebring;  van die onvergeetlikste die alleenkuiers met kleinkinders.

Elke vakansie lewer sy spesiale gedenkwaardigheid op. Wat sal dit die keer wees? Weer ‘n luiperd op die stoep dalk? ‘n Mosambiekse spoegkobra by die braai? Vier hiënas in ‘n nagtelike eskapade in die watergatjie?  Hou die ruimte dop.

Op George word die gholfstokke geswaai en die gemeenskap se harte en beursies oopgemaak op ‘n spesiale gholfdag vir die Legacy Centre (kleinseun Migael se skool) hierbo genoem.

Die skool van hoop en BINAH (sy nie-winsgewende organisasie) het in 2021 sy 1ste golfdag  by die George-Gholfklub aangebied.  Rauch Gertenbach Prokureurs en Citadel was hoofborge.  Dit was ‘n dag van groot emosie. Spelers en rolspelers uit die Georgesakegemeenskap het almal wat by die skool betrokke is, oorrompel met hartlikheid en vrygewigheid.  Die fondsinsameling was ‘n reusesukses en die veiling agterna veral ‘n feestelike geleentheid.

Gholfdag 2021 en 2022

Rauch Gertenbach Prokureurs gedenk sy 100ste bestaansjaar vanjaar en vier dit o.m. met  ‘n spesiale liefdadigheidsgholfdag ten bate van Legacy Centre op Van D-dag.  Volgens Mariza is dit vir die skool ‘n enorme eer dat die praktyk sy hart in so ‘n mylpaal-jaar vir hulle  oopmaak.  Die Tuinroete se  sakegemeenskap omarm die skool ook weer eens en stel hom in staat om fantastiese pryse aan te bied vir die veiling.

Altesaam 17 outistiese kinders van so ver as Grootbrak en Sedgefield woon die sentrum by. Legacy Centre kry geen staatsbefondsing nie en is aangewese op donasies en fondsinsamelings soos hierdie.

Nog iets van 7 April: dit is die geboortedag van Tokkie se ma, Ouma Marietjie. Sy sou Donderdag 108 jaar oud gewees het, maar is kort voor haar 99ste oorlede.

  • Jan van Riebeeck het natuurlik op 6 April 1652 met drie skepe,  die DrommedarisReijger en Goede Hoop, in Tafelbaai geland met die doel om ’n verversingstasie te vestig. Vanjaar is dit 370 jaar gelede.  Gelukkig het hy nie ‘n dag later opgedaag nie. Op die dagboek-blad vir 7 April is werklik vir geen muis meer plek nie.