BOME VAN STATUUR

Een, twee, drie jakkalsbessies tel ek op die werf van Tarlehoet by Wildevy 154, Sabiepark. Oornag het hierdie bome van statuur ‘n nuwe status verwerf. Jakkalsbessies is een van vier nuwe spesies op SA se lys van beskermde bome. Bewaar jou as jy hulle sommer net gaan verniel of met minagting behandel.
Prominentste boom by Tarlehoet is waarskynlik die gedugte maroela (links op die foto) teenaan die voorstoep en braailapa met sy sware takke wat sambreel maak oor die dak. Die laaste jare beur ‘n parmantige jong jakkalsbessie (regs op die foto) styf teenaan die ou heer se gryserige stam boontoe. Hy kom, hy kom. Gaan hy nog die oorhand kry?
Uit Wildevy lei ‘n kronkelende groen oprit van sowat 120 meter na die huis. Langs hierdie laning – dit moet een van die mooiste in Sabiepark wees, spog ek onbeskroomd – staan ‘n erewag van pragbome wat twee opgeskote jakkalsbessies insluit. Hulle gaan nog groot bome word, Salute, julle.
Wat die jakkalsbessie vir ons ekstra spesiaal maak, is dat dit die boomnaam is wat kleinseun Thomas by die WAT borg, (Jacob borg die blinkblaar-wag-‘n-bietjie en Christopher die wildevy).
Dan is ‘n gunsteling-besoekpunt op elke Sabieparkvakansie die reuse-jakkalsbessie met sy drie boomhuise by die Proteahotel by die Krugerbrug. Daar gaan ons bepaald in Junie weer saam met die drie seuns “roomys in die boomhuis” eet.
Vanaand drink ek ‘n eerste heildronk op ons bome van statuur met hul nuwe status. Oor twee weke, op 7 April, arriveer die Van Deventers in Sabiepark vir hul jaarlikse lang staning – nou weer moontlik na die Covid-onderbreking. Daardie aand drink ons op ons bome ‘n tweede heildronk op die stoep van Sabiepark – dalk in die teenwoordigheid van ‘n paar nagapies of ‘n bosnagaap of twee in die nimlike jakkalsbessie.

DUIKBOOT-EKSPEDISIE NA RIETBOKRAMP

Toe ek aan die begin van die 60’s as groentjie by Die Volksblad kom, was wyle Peet Simonis (84) ‘n gedugte misdaadverslaggewer. Die “senior” lessenaar in die hoek van ons oop verslaggewerskantoor en die beste tikmasjien in die kantoor was syne. Hy was ‘n teenwoordigheid wat ontsag afgedwing het.

Enkele jare later is Peet vort Perskor toe; eers na die Sondagkoerant Dagbreek en daarna Die Transvaler. Nog later het hy, in sy eie woorde, ‘n “Bybelsmokkelaar” geword – ‘n liefdestaak wat hom tot in China en Rusland gebring het.

By Dagbreek het hy legende-status bereik as avontuurlike verslaggewer  wat vir niks stuit nie.  Waarskynlik sy avontuurlikste – en gewis opspraakwekkendste – stukkie joernalistiek was in 1967 nadat die Rietbok. ‘n Viscount van die SAL ,  op 13 Maart van daardie jaar naby Oos-Londen raaiselagtig in die see gestort het. Oor die werklike oorsake word steeds gegis.

Nietemin, Peet kry dit toe in sy kop om met ‘n tweesitplek-duikbootjie na die wrak en die 25 insittendes te gaan soek. Marius Jooste, Perskor se baas, gee die groen lig.  Die voorneme was voorbladnuus in Dagbreek – natuurlik! – en het, buiten opspraak,  ook omstredenheid gewek. ‘n Engelse koerant –seker maar goed Jantjie – het sy lesers teen die “Dagbreek-ekspedisie” opgesweep deur te skryf Dagbreek behoort hom te skaam, Dis alles net ‘n soeke na sensasie.  Laat die dooies met rus.

Hierby is ‘n foto van die duikbootjie wat aan ‘n Kaapse bioloog, Gary Haslau, behoort het. Soos gemeld, was dit ‘n tweesitplek: loods voor en passasier agter. Dit was battery-aangedrewe en kon drie uur onder die water bly. Dit was toegerus met soekligte en kon gemaklik op ‘n diepte van 50 meter opereer.

Die onderneming was nie sonder gevaar nie. Een risiko was dat die boot te vining daal en ‘n rots tref. ‘n Sterk gety kon dit meesleur. Peet – ‘n toegewyde Christen – het ernstig gebid terwyl hulle in die ondersese skemerte al hoe dieper en dieper daal.

Hy vertel:” Ons het gesak en gesak. Ek het gewonder of ek die son ooit weer gaan sien. Ek het die wrak van die Rietbok voor my geestesoog gesien, vasgekeerde lyke, ooopgesperde oë van drenkelinge  … en geril.

“Skielik het die romp van ons duikbootjie die bodem van die se getref. Die sterk vloei van die water het ons meegesleur. Gary het die skroef aangeskakel en die tuig beheer sodat ons van die gevaarlike bodem met sy rotse en splete kon opstyg. Die sig was hoogstens vyf meter ver. Hier iewers was die wrak van die Viscount …”

En toe? En toe? En toe eintlik niks. Gary het na ‘n ruk na sy passasier omgekyk en beduie hulle moet maar opstyg. Peet het terugbeduie met ‘n vuis (klammerig van binne) en ‘n duim na bo. Uiteindelik was hulle bo. Met niks om te wys nie.

Grootste drama, trouens, was toe die manne wat Peet by die telefoon moes kry om sy storie deur te bel, nie op die afgesproke plek wag nie. Die boot met die duikboot in tou kon dit nie in vlakker water waag nie, en in ‘n stadium het Peet dit oorweeg om ‘n reddingsbaadjie aan te trek en uit te swem strand toe, ongeveer twee kilometer ver.

‘n Kwartier na Dagbreek se spertyd was hy darem in die hawe. Gelukkig het Gary se Landy daar gewag en met hom hotel toe gejaag. Aan die ander kant het Vossie Vosloo, nuusredakteur, verlig geantwoord: “Jis, pêl, waar is jy? Ons dag jy’t verdrink. Wag ek sit jou deur na ‘n tikster toe. Laat waai, die hele koerant wag vir jou storie, die land ook.”

Ek het Peet na soveel dekades die eerste keer weer gesien op ‘n Volksblad-saamtrek op 10 en 11 November 2017 in Bloemfontein. Hy was die vader van ‘n spesiale gedenkboekie, waarmee hy op die foto hierbo  afgeneem is. Dit was ook die laaste keer dat ek Peet  – wat gister oorlede is – gesien het.

 

WANT HULLE WAS FLUKSE Kê ..ê..ê ..RELS

Koesisterspan: Van links is Barend se broer Attie, vier jaar jonger as hy, ongelukkig twee jaar gelede oorlede, hyself, broer Jannie, twee jaar jonger as Attie, en neef At, wat die familie “Boet” genoem het weens so baie vernoemde “Atte.

n Jong Barend du  Plessis het die stroopstasie beman by ‘n fyn georganiseerde koeksisterbakkery; ‘n jong FW de Klerk het van huis tot huis perskes gesmous; PW Botha het as knaap ‘n vrou help klippe kap vir ‘n kerkbouery en ‘n klein Pik Botha het tarentale en fisante in die veld gaargemaak terwyl hy skape oppas.

Sulke verkneuterende jeugbeelde van groot name uit die ou bedeling is opgeroep deur Du Plessis, oud-minister van finansies en amper-amper hoofleier van die Nasionale Party, se vertelling in ‘n kommentaar op ‘n Facebook-inskrywing oor sy ywerige deelname aan sy ma se koeksister- en melktertbedryf.

“Ek het in ‘n koeksister/SAVF-huis (SAVF is die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie) grootgeword en my ma het met koeksisters en melktert pryse op skoue gewen,” vertel hy.  “Ons het ‘n produksielyn vir ons bykans weeklikse koeksisterbakkery in ons kombuis gehad. My Ma het die deeg gemaak en die koeksisterbeentjies gesny en inmekaar gevou, nie gevleg nie. Dit was nogal ‘n kuns. As ek reg onthou, het sy hulle dan met ‘n kwassie met ‘n eiermengsel geverf.

“My neef, ‘n paar jaar ouer as my twee jonger boeties en ek, wat toe al gewerk het, het die gevaarlike werk gehad. Hy het met die Primus-stofie die koeksisters in die kokende olie gebak. Ek was die stroopstasie wat   gereeld die stroop moes aanvul en ook sorg dat die stroop yskoud bly in die bak wat in die groot bak ys en koue water gestaan het.

“Nefie het dan die koeksisters in die stroop gesit en ek moes hulle met ‘n eierspaan in die stroop gedompel hou totdat hulle hulleself lekker vol stroop gesuig het. Jy kon sien hoe dit gebeur. Dan het ek hulle op ‘n rakkie wat in ‘n pan gestaan het, gepak, totdat die stroop afgedrup het.

Barend, du Plessis, die kloeke knaap as losskakel en kaptein van sy skool se o/13-rugbyspan .

“Daarna het my twee jonger boeties hulle in bakke gepak, eers yskas toe gevat en as die plek opgeraak het, dit spens toe gesirkuleer, waar hulle onder die spierwit nette gerus het. Vroegoggend op ‘n Saterdag moes dit by die straatmark afgewer word, saam met al die ander vroue se verskeidenheid van kernye, waar gereelde klante al vroeg kom seker maak het hulle kry hulle gunsteling ietsie vir die naweek.

“Dit was pret en lekker samesyn. Mooi herinneringe.”

Van sy rol as vrugtesverkoper vertel De Klerk, oud-staatspresident, in sy biografie, Die Laaste trek – ‘n nuwe begin (Human & Rousseau 1998). Dié onderneming is bedryf van ‘n kleinhoewe van 200 akkers buite Krugersdorp waar hy vele jeugjare geslyt het. Op een tydstip het die De Klerks 1 500 vrugtebome gehad. Die meeste was perskebome maar daar was ook appelkoos- en pruimbome, asook aarbeie.

In sy laaste skooljaar en regdeur universiteit het hy vrugte gepluk en verkoop om sakgeld te verdien.  “Met die hulp van een of twee van ons plaaswerkers het ek dikwels deur Krugersdorp se strate gestap en perskes van huis tot huis verkoop. Ek het hou hiervan moeg geraak; en toe onytdek ek ‘n goudmyn – die ouetehuis op Krugersdorp. Ek het gereeld met ‘n vrag perskes soontoe gegaan en die hele klomp vinnig en sonder enige moeite verkoop.”

Vrugtesmous FW de Klerk, toe 16.

De Klerk se voorganger as staatspresident, PW Botha, was nie juis ‘n voorslag in die kombuis of ‘n verkoopsman nie.  Sentraal in jeugherinneringe oor die netjiese, skrander en voorbeeldige seun van die plaas Telegraaf in die distrik Paul Roux is sy verbondenheid aan sy ponie,  Tiekie,  waarmee hy skool toe gery het en sy liefde vir toesprakies en opstelle.

Sy fluksheid kom na vore in sy aandeel aan opheffingswerk Sondagmiddae in die arm woonbuurte. In Dirk en Johanna de Villiers se boek PW (Tafelberg, 1984) vertel ‘n skoolmaat, dr. Izak Steyn, ook ‘n storie oor sy betrokkenheid by ‘n klipkappery.

Dr. Steyn vertel: “Ek onthou, daar was ‘n sekere tannie, ‘n berg van ‘n vrou, sterk soos n perd. Almal was bang vir haar. Sy moet die enigste vrou in ons geskiedenis gewees het wat haar brood met klipbreek verdien het. Sy het gekapte klip gelewer vir die bou van die kerk. Van die groter seuns het verte hoe sy balhorige werkers teen die grond kon slaan.  Maar – kom ons om, so kom ons om! – het ons gaan besoek aflê. Ons was ‘n driemanskap, en ons gaan konfronteer as’t ware die leeu in haar lêplek.

n Jong PW Botha op sy poon.

“Die ontvangs was van so ‘n aard dat twee van ons nie kans gesien het om weer te gaan nie.  Maar nie Piet nie.  Hy het weer en weer gegaan, want daar was werklike nood.”

Pikkewyn Botha van Swartruggens se kontrei, die latere minister van buitelandse sake vir jare der jare,  het as kind meningitis oorwin, het amper in die Vaalrivier verdrink en is deur ‘n windpomp katswink geslaan.  Vir skool had hy so min sin dat hy die eerste dag weggeloop het, en ‘n voorliefde was om te preek en vurig te bid.

Die meningitis het sy arms en bene verswak en sy ouers wou dat hy oefening kry.  Soggens moes die trop skape aangejaag en bedags opgepas word. Dit was Pik en sy maatjies se taak, skryf  Theresa Papenfus in haar lywige biografie (amper 1 000 bladsye), Pik Botha en sy tyd (Litera, 2010).

“Ma het vir ons toebroodjies ingesit. Ons het wippe gehad wat ons van ou waringe en ogiesdraad gemaak het om tarentale en fisante te vang. En ons het hulle gaargemaak.  Die goed was maar taai.  Maar dit was opwindende jare,” het hy aan Papenfus vertel.

Saam met sy broer Chris het hy weke lank stukkies afvalbene loop en bymekaar maak. ‘n Sak vol bene is vir een sjieling verkoop, waarmee ‘n mens ‘n modelviegtuigie van Jack Lermkus se winkel in Kaapstad kon bestel – ‘n betowering wat hom lewenslank sou volg.

“Want hulle was flukse kê ..ê..ê ..rels,” sou ‘n mens hulle kon toesing.

 

 

SPROKIESLEWE VAN BOET TROSKIE

By ‘n formele ete in Eden: Die uwe, Pik Botha en Boet.

Flambojanter het ek nie geken nie: Boet Troskie, rolprentbaas met ‘n string internasionale trefferflieks agter sy naam, skatryk sakeman, bevriend met staatsmanne en glansmense, eienaar van ‘n Lear Jet waarmee hy eiehandig kruis en dwars oor Amerika gevlieg het, rugbybaas, kanselier van ‘n universiteit, erekolonel – ook iemand wat lief is vir mooi vroue, vinnige motors, praghuise, modieuse klere en elegante skoene (glo honderde pare).

Maar dan ook verrassend plat op die aarde, ‘n nederige, dankbare en toeganklike mens, weergaloos gasvry, toonbeeld van lewensblyheid, ruimhartige filantroop, ‘n ware en lojale vriend, gesinsman, versot op sy spogduiwe waarmee hy hope internasionale pryse ingepalm het, ‘n kranige trekklavierspeler en lief vir mieliepap (darem met garnale); ‘n man wie se opdrag aan almal is: “Noem my Boet”.

Oor hom het sy wyle broer Bill geskerts dat hulle ‘n goeie verstandhouding het: Boet het die verstand en hy het die houding. ‘n Vlymskerpe verstand het Boet wel, ongetwyfeld; ook persoonlikheid, styl, ‘n fyn aanvoeling vir wat sal werk en wat nie, gesonde oordeel, selfvertroue, geesdrif, durf, waagmoed, diplomasie, vernuf, charisma en nog ‘n hele paar ander eienskappe wat van hom so  ‘n uitskieter gemaak het.

Met rolprente soos The gods must be crazy, Beautiful people en Dirkie het hy in hegte vennootskap met die fliekgenie Jamie Uys die internasionale fliekmark bestorm … en (aanvanklik tot sy eie en Jamie se verbasing!) verower.  Die suksesvolste, Gods, het iets soos 11 internasionale toekennings gekry. Altesaam was daar iets soos 40 rolprente uit Boet se Mimosastal.  Hy was ‘n bekende by die filmfees in Cannes, waar hy  – gesond, fiks, energiek, ‘n afskaffer, nie-roker en gereelde drawwer – ‘n keer ‘n marathon vir rolprentmense gewen het. Net nog ‘n faset van die veelvlakkige man.

Met die miljoene wat ingerol het – seker miljarde? – het Boet ‘n sakeryk opgebou wat Bloemfontein se grootste en bekendste winkelsentrum, die weelderige Mimosa Mall, insluit. Maar as filantroop het hy ook ruim uitgedeel. By die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein is die Boet Troskiesentrum ‘n monument. Hy het kanselier van die SUT geword en het ‘n eredoktorsgraad daar verwerf.  Die Bloemfonteinse Kinderkoor dra eweneens ‘n Boet Troskie-etiket. Vir sy skool, De Aar, is hy ‘n weldoener soos min.

Saam met Die Volksblad het hy verskeie promosies help aanbied.  In een – na aan ons albei se harte –  is kinders se drome verwesenlik. Een kon tussen dolfyne gaan swem in die Baai. ‘n Weeskind in ‘n rolstoel het gestraal oor sy eie-eie draradio. Ons Bloemfonteinse tuiskoerant, Ons Stad,   het hom Bloemfonteiner van die Jaar gemaak – ‘n beskeie eer teenoor soveel ander hoë bekronings.  Boet het ons laat voel dis iets geweldigs.

By ‘n prysoorhandiging in ons Reik na ‘n droom-promosie: Boet en ek.

Die gasvrye Boet se glansonthale in sy paleisagtige herewoning Eden in Millie Krauselaan, Bloemfontein, is legendaries. Presidente en amper-presidente is daar onthaal, soos PW Botha, sy hegte vriend aan wie se sy hy in elke krisis lojaal gestaan het, en Barend du Plessis; Mej. Wêrelde soos Anneline Kriel en Gina-Marie Tolleson; kunstenaars soos Dana Winner en Helmut Lotti; ministers, Springbokke, regters, rektore, joernaliste, doodgewone vriende. Net die allerbeste is altyd keurig voorgesit.  Dan het Boet sy trekklavier uitgehaal. Saam met Nico Carstens  (soms ook Ollie Viljoen) is vrolik musiek gemaak.

Pres.Nelson Mandela het Mimosa-films se 30ste verjaardagparty in die Boet Troskiesaal by die SUT bygewoon. By sy gesogte jagtogte in die Suid-Vrystaat was die gastelys ook altyd ‘n mini-Who’s Who met veral talle kabinetslede in die geledere van die jagters.  Daarheen het hy ook vir PW Botha teruggevat ná sy beroerte om geweer teen die skouer sy selfvertroue te herwin.

Hoe oud is Boet? Min mense weet dit. Wat ek wel weet, is dat hy in November verjaar en dat hy ‘n raps ouer is as ek.  Ná ’n glanslewe wat hom gevoer het van Bloemfontein na Beverly Hills in Los Angeles, St. Francisbaai, Constantia en Fancourt op George is hy terug in die stad waar alles begin het; in sy geliefde Cheetahland waar hy ‘n rugbybaas was. Ongelukkig eis die jare by almal ‘n tol. Ook op ander terreine is terugslae ervaar. Selfs die onstuitbare Boet moet nou maar hanou.

Waarop Cornelis Abraham Troskie egter kan terugkyk, is ‘n sprokieslewe.  Hy wat arm grootgeword het as een van ses kinders van ‘n sweiser-pa, het in sy 80 plus jare soveel drome uitgeleef en soveel glinsterende kruine bereik dat die towerglans ‘n mens laat duisel.  Bowenal het hy ‘n mens-mens gebly; ‘n man wie se wellewendheid, grasie en algemene voorbeeld vir sy skare waarderende vriende steeds ‘n rigsnoer is.

Ek wou lankal oor Boet skryf – is dit inderdaad aan hom verskuldig – en is bly ek het nou so ver gekom, al is 800 woorde te min om aan so ‘n unieke mens reg te laat geskied. Uniek, sê ek. Ja, met vrymoedigheid. Elke generasie kan net een Boet Troskie lewer.

 

VREESLOSE VERKENNER

Alwyn wie? So kan ek baie mense hoor vra as die naam van Alwyn Schlebusch genoem word.  Tog was die man van inbors een van die gedugste en invloedrykste politici van sy era; ‘n toegewyde voorloper en verkenner in die soeke na ‘n politieke oplossing vir die krisis waarin die land al hoe dieper aan die versink was.

Hy was ook – en dit is vir hierdie oud-Tukkie belangrik –die oud-student van ons geliefde alma mater wat – as die adjunk-staatspresident van 1980 tot 1984, die eerste en enigste in die ou bedeling – die hoogste sport in die politiek bereik het. Ja-nee, nie net die Maties en Pukke (en Kovsies?) het staatsmanne van formaat opgelewer nie!

Die Universiteit van Stellenbosch het ‘n eredoktorsgraad aan hom toegeken vir sy baanbrekerswerk as voorsitter van die grondwetkommissie wat die fondament gelê het vir die totstandkoming van die Grondwet van die RSA as Wet 110 van 1983 en die driekamerparlement. Min mense wat in die era – noem dit die PW-era – naby die politiek geleef het, sal oor die verdienste daarvan verskil.

Trouens, die aktiewe rol wat hy veral in die tydperk 1978 tot 1983 gespeel het om uitweë uit Suid-Afrika se politieke dilemma te probeer vind, verdien in my oë veel groter erkenning as net dié van Stellenbosch.

Algemeen word erken dat die soliede Vrytater as Vrystaatse leier van die NP ‘n deurslaggewende rol gespeel het om die hervormingsgesinde PW Botha as partyleier en eerste minister in die stoel te plaas. Daarna het hy as voorsitter van verskeie sleutelkomitees, kommissies en rade op vele terreine die boustene van ‘n nuwe bedeling help identifiseer en bloudrukke help ontwikkel. Sy kragtige toekomsgerigte toeprake was deurgaans rigtinggewend.

 

Die wit politieke landskap het in daardie jare vinnig verander.  Grondwetwysigings is deurgevoer wat gelei het tot die afskaffing van die senaat, die stigting van die Presidentsraad en die skep van die unieke pos van adjunk-staatspresident, waarin hy die vanselfsprekende bekleder sou word.  Teen die oplaaiende regse weerstand – en veral ook in sy eie povinsie – het Alwyn Schlebusch soos ‘n rots gestaan. Oral op die nuwe pad was sy diep spore waarneembaar.

In sy termyn as adjunk-staatspresident het die vreeslose Schlebusch meermale as buffer vir PW Botha se toenemende baasspelerigheid en konfrontasionele styl moes dien. Ministers het hom gerespekteer vir sy waardige en stoïsynse weerstand teen sekere optredes wat hy as afkeurenswaardig geag het. ’n Vervreemding was op die lange duur ongelukkig  onvermydelik.

Sy politieke loopbaan van langer as vier dekades het in die 1940’s as burgemeester van Hennenman begin.In 1961 het hy ‘n lid van die provinsiale raad vir Kroonstad-Suid geword. ‘n Jaar later, in 1962, is hy gekies as LV vir Kroonstad, ‘n posisie wat hy 18 jaar lank beklee het. Hy het ook as voorsitter van die Schlebuschkommissie gedien, wat buitelandse befondsing aan anti-apartheidsorganisasies ondersoek het, en was speaker van 2 Augustus 1974 tot 1976 toe hy in die kabinet opgeneem is.

In 1985 is hy as kanselier van die Universiteit van Pretoria ingehuldig. Hy wat soveel ander hoë posisies beklee het, het groot waarde aan die kanselierskap geheg en sy donkerblou kleurbaadjie met die Tukkiewapen op die sak graag gedra – nes die uwe.

Sy eerste vrou, Isabel, was die stigter van die Toktokkie-kankerbeweging. Sy is in Oktober 1996 weens borskanker oorlede. Hy is daarna met Jeanette Rouen getroud. Sy is twee jaar voor sy afsterwe op 7 Januarie 2008 op 90-jarige ouderdom ook heen.

Kan mos nie wees dat iermand van sy stoffasie sommer net vergeet word nie.