KYK WIE IS KAAL IN DIE STORT

Die KKNK se wiele rol weer ná twee jaar se doogte. Op die propvol program is onder meer Ek, Anna van Wyk met Tinarie van Wyk Loots in die hoofrol en Marthinus Basson as regisseur, lees ek vanoggend in Die Burger.
Mense met lang geheues sal kan terugdink aan die konsternasie met ‘n vorige produksie waarin Loots en Basson saamgespan het. Dit was in 2017. Krit, feeskoerant van die KKNK, het ‘n foto geplaas van ‘n aktrise in ‘n stort en plakkate oral op Oudtshoorn het uitbasuin: “KYK WIE IS KAAL IN DIE STORT!”
Die betrokke produksie was die volbloedkomedie Die koninkryk van die diere (Marthinus Basson se vertaling van die Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig se Das Reich der Tiere). Ná die applous doof die ligte. Net die akteurs bly agter. Maskers val. Hulle gaan stort, een na die ander, terwyl hul kollegas hul beurt op ’n bankie in die gemeenskaplike badkamer afwag. Kaal voor mekaar. Geen privaatheid. Geen inhibisies.
Nie die publiek was die keer verontwaardig nie, wel die aktrise, Tinarie van Wyk Loots. Volgens haar het sy nie toestemming gegee nie, en het Krit ‘n ooreenkoms verbreek. Sy het die redakteur, Danie Keet, kaalkop die waarheid vertel. Volgens hom is hy so sleggesê dat “nie die see, of selfs ‘n stort” hom sou skoon was nie.
Sy verweer was dat hy slegs onderneem het om nie foto’s reg van voor te plaas nie, dat die foto van ver af deur ‘n glasafskorting geneem is, en nie eroties of sensasioneel is nie. Media24 se ombudsman, dr. George Claassen, het hom gelyk gegee, en ‘n Pretoriase prokureur, Ferdinand Hartzenberg, het die regsmening bygedra ‘n aktrise wat haar in die openbaar ontbloot, haar reg op privaatheid verbeur. Sy het bitter ongelukkig gebly.
Om in 2022 semi-kaal of selfs poedelkaal voor die kamera of op die verhoog te verskyn, is natuurlik niks ongehoord meer nie. Mens – mans en vroue – doen dit links en regs, sommer altesaam en deumekaar. Maar dit was nie altyd so nie. Trouens, tot heel onlangs nog is met skok gereageer. Wanneer ‘n baken in die opsig verskuif word, was sensuur gou-gou jou voorland.
Met die dood van Frans Marx in 2021 is herinner dat hy, wat die rol van die lompe Willie vertolk het, in die fliek Jy is my liefling (Kavalierfilms, 1968in ‘n naaktoneel in ‘n buitestort verskyn het. Dit was glo die eerste naaktoneel in ‘n Afrikaanse prent waarin ‘n man verskyn het. Sy onthou die konsternasie toe fliekgangers die toneel sien, vertel Min Shaw, ‘n medespeler.

KOEKSISTER: SOET EN SUUR

Die tradisionele koeksister – daai gevlegde soetigheidjie wat só welaangenaam die smaakkliere van soettande kan kielie – is g’n hierjy-ding in die Afrikaanse leefwêreld nie.
As jy vir koeksister ‘n lofsang wil aanhef, sal jy dit met die gelui van kerkklokke en jubelende orreltone kan opluister. Hoeveel gemeentes se susters het nie met eindelose bakke koeksisters kerktorings en orrelgalerye of noodsaaklike opknappings aan kerkgeboue gefinansier nie?
Watter basaar, boerebasaar, kerkbasaar, skoolbasaar, is werklik basaar as ‘n lang tafel ontbreek waar jy in die tou kan gaan inval vir hierdie verleidelike, bros versnapering wat so drup van die stroop en wat kraak as mens dit byt voordat jy by die salige, sagte binnekant kom.
In hoeveel kombuise kom die baksels koeksister nie al van vroegdag uit die oond om die plate tuisnywerhede oral in die land se koeksister-rakke vol te hou en is die ekstra inkomste wat dit inbring nie noodsaaklik om ‘n kind deur skool of universiteit te help nie?
‘n Monument vir die koeksister (foto) toring al jare lank twee meter hoog in Orania langs die dorpswembad. Dit is die breinkind van die uitsonderlike Afrikanergebied se Kaalvoetvrou-organisasie wat sy naam kry uit die beroemde woorde van Susanna Smit dat sy liewer kaalvoet oor die Drakensberg sal loop as om onder Britse juk te staan.
Orania se koeksistermonument is as tong-in-die-kies projek begin, maar het tog ʼn baie ernstige boodskap. Die monument is nie net vir die soethappie wat so eie aan die Afrikaner is self nie, maar ook ʼn verering van die Afrikanervrou en die geld wat deur die jare vir die bou van kerke , outehuise, skole en wat nog met die bak van koeksisters ingesamel is.
Ook oor Orania se regte egte koeksisters, word ook hoog opgegee. Orania se koeksisters is glo groter en brosser en soeter as enige ander koeksisters wat ‘n mens enige ander plek kry. So hoor ek maar.
Praat jy oor koeksisters moet jy een fout vermy: om die oorspronklike Afrikaanse koeksister (foto) en die Maleise koesister te verwar. Die gevlegte koeksister word van ’n stywe deeg gemaak wat in olie gebak word en dan in yskoue stroop gegooi word. Die koesister daarenteen is ‘n spesiale ovaalvormige oliebol. Dit word ook in olie gebak, maar dan in warm stroop gegooi voordar dit met klapper bestrooi word. Dit kan met allerlei speserye opgekikker word en is baie donkerder as die koeksister.
Hoe ook al, as ‘n gasvrou koekisters of koesisters voorsit, beteken dit om bederf te word. Nie dat dit altyd ‘n seker resep vir ‘n vlot gesprek is nie. In een nogal vername geval het die koeksister, helaas, nie sy ding gedoen nie. Dit was in die dae van die WVK. FW de Klerk, nuwe president, is na sy voorganger, PW Botha, in die Wildernis oor die moontlikheid om hom by die voorlegging van die Nasionale Party te betrek. Daarvan wou Botha niks weet nie. HY wou wel iets bespreek: De Klerk se lidmaatskap van, soos hy dit genoem het, die “Nuwe Wêreldorde”.
Sy beskuldiging was dat Pik Botha lid van ‘n bose komplot is en dat De Klerk hom toegelaat het om hom te manipuleer om ook deel daarvan te word, skryf De Klerk in sy biografie. In die verband het Botha (PW) verwys na De Klerk se besoek aan die VSA en die gesamentlike perskonferensie met pres, George Bush in die Withuis se roostuin. Volgens hom was Bush ‘n leidende figuur in die Nuwe Werêldorde en het hy De Klerk ingebind. Botha het daarop sy besoeker toe met “aggressiewe vrae” begin bestook.
De Klerk het hom vervies, die aantyging verwerp en verklaar dat hy nie gekom het om beledig te word nie. Hy voel dat hy sleg behandel is.
Skieilik het Botha se houding verander. Hy het afgehaal gelyk en sê toe dat dit onregverdig is om van swak behandeling te praat, want sy vrou het dan koffie en koeksisters voorgesit. Hy het byna van sy “stoel afgeval”, skryf De Klerk.
HY het opgestaan en gesê hy moet nou gaan. Botha het sy vrou geroep en weer gesê: “Mamma, mnr. De Klerk sê ons het hom sleg behandel, en ons het hom nogal koffie en koeksisters gegee.”
De Klerk meld nie of dit lekker koeksisters was nie, maar ek glo darem so, al het nie een van die twee presidente soet herinneringe aan die gesprek oorgehou nie..

VABOND-HOND BYT VROU AAN “RICHMOND”

‘n Engelse bulhond – let op die vabond se kenmerkende plat snoet.

Op ‘n storie van ‘n vabond-hond –  ‘n Engelse bulhond, maaindjoe, nie ‘n boerboel nie  –  wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad op ‘n denkbeeldige pad tussen Johannesburg (haar kop) en Kaapstad (haar voete) “in die omgewing van Richmond” gebyt het, kan ek na ‘n diepte-ondersoek meer lig werp. Terselfdertyd kan ek spog met nuutverworwe regskennis oor die wetlike gevolge van honde-aggressie, ongeag die anatomiese geografie van die bytplek.

Die Richmond-storie kom oorspronklik van ‘n Melkbosse vriendin van Tokkie, Una Beukman, Ek het dit destyds dadelik op my Facebook-blad gedeel – Nagkantoor het nog nie bestaan nie. Die stomme  slagoffer  se pynlike verknorsing het heelwat reaksie uitgelok.  Ander plekname vir die bytplek is sefs onsimpatiek voorgestel – soos Noupoort en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers èn leseresse)  liefs verswyg word.

Die skerpsinnige verwysing na Richmond vir die plek waar die vabond, Daisy,  haar  tande ingeslaan het, kom van ‘n spitsvondige gewese buurman, wyle adv. Kosie Olivier, ‘n vroeë slagoffer van Covid. Die agtergrond van die 1989-hofsaak oor Daisy se vrypostigheid kry ek van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in “Corresponding” met die “law”, ‘n  humorboekie uit die hof  deur oud-landdros Wessel Marais.

Die feite van die saak is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het aanvanklik geheers, maar is later deur die een en ander versuur. Op ‘n dag los die inwoner van die dakwoonstel se Daisy  ‘n onwelkome visitekaartjie reg voor die deur van die buurvrou in die woonstel onder haar. Die dame vervies haar, stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word.

Ná ‘n halfuur lê die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak en onwelriekend voor haar deur.  Nog meer verwoed as tevore stoom sy weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi af om haar tot aksie aan te spoor. Daisy wat rustig voor die katel lệ en snork het, word gewek en gryp, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, die aggressor met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie: ‘n kolskoot.

Buiten dat dit vrek seer en ‘n diepe verleentheid was en dat sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak (seker darem meer oor eersgenoemde as oor laasgenoemde) – en verloor dit in die Kaapse siviele hof.  Dit is hier waar adv. Kosie in kruisverhoor met sy beroemde Richmond- vergelyking vorendag gekom het om die dame se privaatheid te respekteer.  Dit is ook uit dié verrigtinge waar my nuutverworwe regskennis vandaan kom.

Dit blyk uit regsdokumente skadevergoeding vir pyn en lyding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan wel in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Waarop dit neerkom, is dat die verweerder aanspreeklik sal wees vir skadevergoeding indien die klaer i. suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; ii. die dier ‘n huisdier is; iii. die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het (die naturem sui generis); en iv. die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.

In hierdie geval het die landdros bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.

Wessel Marais spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis by daardie sensitiewe area so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak.  Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oopgestel kon word vir verkeer!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

LEEU, MOT OF SPREEU – SO JAG JY HOM

As jy ooit ‘n leeu wil jag, in die dag of in die nag, gooi sout op sy sy stertjie en wag. Die wysheid (?) is by my ingeprent in een van die eerste liedjies wat ek in my prille jeug geleer het doer in die 1940’s.
En as jy ‘n mot wil jag?
Dit, deel C. Louis Leipoldt mee, is ‘n operasie wat tot die nagtelike ure beperk is. Die beste manier om nagmotte beet te kry, is om boomstamme met ‘n mengsel van moskonfyt en ‘n bietjie brandwyn te smeer. Die motte, aangelok deur die reuk, kom die soetigheid suip. Hulle word so hoenderkop dat hulle maklik gevang word, aldus Leipoldt.
So lees ek in die skrywer se Jeugherinneringe, soos opgeteken in JC Kannemeyer se UIt die skatkis van die slampamperman (Tafelberg, 1999). Pas ‘n genotvolle herbesoek gebring.
Om motte met brandwyn uit te oorlê, klink vir hierdie ou nogal na ‘n plan wat deur oud-kollega Piet Theron van Westerbloem in Bloemfontein gesmee kon gewees het. Piet had die probleem van spreeus wat die vye betakel net as hulle mooi ryp raak. Toe kry hy die raad (raat?) om die vrugte met Tabasco te dokter, Dit werk soos ‘n bom.
Toe die eerste spreeu gulsig hap, kom saam met die soet vlesige vrug ‘n skerp brandsmaak in sy mond wat hom kwetterend laat protesteer. “Kom,” gebied hy gesteurd sy manskappe. Hulle gee fladderend pad en kom nie terug na die verradderlike “brandboom” nie.
Naskrif: Die onthou van die liedjie oor die leeujag bring ook ander eerste liedjies in herinnering. Hier’s twee:
Daar’s ‘n apie op ‘n stokkie voor my ma se agterdeur; daar’s ‘n gaatjie in sy broekie en sy stertjie loer daar deur.
En
Tortelduifie koer in die eikeboom, sing die lied van sy lewensdroom, koer tortelduifie koer, koer tortelduifie koer, tortelduifie by die waterstroom.
En skielik is hierdie 81-jarige terug by die Laerskool Diamantveld in Kimberley in die 40’s – op mej. Muller se skoot met my gebreekte arm in standerd een.

“FYN BESKAAF” MAAR TOG

Hoe lank al ly Afrikaans onder die aanslag van die taalverminkers wat jy oral – maar nêrens so geil nie as in die geledere van die “glansmense” en in voorportale (“foyers”) van sekere moderne “kuns”-verskynsels – aantref?
Dat die wortels veel dieper lê as wat ekself en vele ander vermoed, lees ek raak in die volgende AG Visser-versie uit die middel-20’s, dus amper 100 jaar gelede:
‘N JONGE DAME (WESTELIKE PROVINSIE) NÁ 1803
Natuurlik is sy fyn beskaaf
Natuurlik is sy baie gaaf.
Die yarns wat ons ge-spun het!
“Onlangs het ons ‘n play ge-stage,”
Vertel sy: “Dit was so die rage
Dat dit three nights ge-run het.”
En dis regte, egte AG Visser hierdie (naspeurbaar in een van sy bundels), anders as ‘n onsmaaklike kamma-AG Visser vol toilet-“humor” wat op sosiale media in omloop is – skreeusnaaks vir sommige van ons broeders en susters.
Die brabbeltaal van daardie “fyn beskaafde dame” laat my besef hoe sleg ek misgetas het toe ek in 2003 in In Kamera (Protea) “ontdek” het: “Alle is mos nou (my kurivering) cool of stunning of gross. Ons woon shows by. Ons gaan gym toe. Ons het personal trainers. Ons gaan op ‘n diet. Ek freak sommer uit.”
Illustrasie: ‘n TT Cloete-vers waarmee ek my volmondig vereenselwig.