LANKMOEDIGE KAPOUS

Kapous saam met my en Tokkie op ons boshuis se stoep.

Alle lede van die spesie homo sapiens is natuurlik nie ewe lankmoedig en genaakbaar nie. ‘n Spesiale pakket van deugde word geverg om ‘n lughartigheidjie te kan uiter nadat bobbejaan se kind jou domein binnegedring, al jou breekgoed (plus ‘n paar onbreekbaarhede op die koop toe) gebreek, jou wit leersitkamerstel met rooiwyn gevlek, jou biltong uit jou bakkie geskaai, ‘n gat deur jou grasdak gedolwe, jou kos, pille of toiletpapier gegaps, in jou bed ingekruip of in bloedige hitte in jou swembadjie kom afkoel het nie – ‘n morsigheid as jy ooit een gesien het.
Om in sulke tergende situasies selfbeheersing te behou, stel hoë eise. Ek bewonder die lankmoedigheid van vriende soos wyle Kapous Mouton van Vreklekker, erf 167, Sabiepark, wat vroeër die week oorledee is. Sy gedenkdiens is more (Vrydag) in Pretoria. Hy het die kuns geken om te midde van erge teisterings met ‘n skouerophalende “ag nou-ja” te kon reageer.
Die lankmoedigheid van Kapous, oud-onderwysman van Montana, Pretoria, ‘n bosvriend met ‘n huis in dieselfde straat, is ‘n keer nogal kwaai getoets toe sy peperduur nuwe bifokale voete kry. ‘n Deeglike soektog op elke moontlike en onmoontlike plek kon niks oplewer nie. Die bril het as’t ware tussen neus en ore verdwyn.
Kapous moes maar sy oë skrefies trek en sy verlies aanvaar. “Ag nou ja,” was sy lakonieke kommentaar – hy hoop darem die bril sal sy nuwe eienaar help om sy Beeld beter te kan lees.
Op ‘n volgende besoek, twee maande later, hoor sy vrou, Leonora, by hul braaiplek ‘n geskuifel. ‘n Sterk flits word dadelik ingespan. Al wat die straal optel, is twee dowwe “ogies” op die grond – te klein om ‘n bedreiging te wees. Dalk glimwurms? Maar nee, dis toe nie glimwurms nie. Dis Kapous se bril wat in ‘n bossie weggesmyt is. Een van die brilglase het ‘n lelike krap gehad en een neusie was mors-af.
Die bobbejaan moet besef het: al dra ‘n aap ‘n goue bril, bly hy met lees ‘n ronde nul. Kapous self kom darem weer lekkerder reg met sy koerant!

Kapous en Leonora saam met Herman le Roux in Sabiepark

Nie te lank daarna nie trek Kapous en Leonora weer aan die kortste end. Hierdie keer is dit ‘n klassieke bobbejaan-inval op soek na kos. Elke kas word oopgeruk. Vloere lê besaai met stukkende eiers, pap, papaja, meel, suiker, koekies, kookolie, verskeurde plastiek en wat nog – gemeng met die invallers se eie uitwerpsels wat blykbaar deur sulke vandalisme tienvoudig gestimuleer word.

Net een blik beskuit is die Moutons gespaar. Die deksel was toegeplak.
Dit was vyf uur lank se swoeg en sweet om die orde naastenby te herstel. In Sabiepatk se Nuusbrief het Kapous egter in kleur en geur, met kenmerkende humor, van die wedervaring vertel .
Veral twee opmerkings was vir hierdie leser nogal verrassend.
Nommer een: hoe hy in sy geestesoog kon sien hoe ‘n jong knaap ‘n sakkie met mielies gryp. Dan word hy deur ‘n ander gejaag om ook te deel in die fees. Mielies spat in elke rigting.
En dan die kersie op die koek: “Ons het die dag maar beskou as ‘n welwillendheidsdag, en uitgereik na ons bosbure wat seker die eerste reg het op die bos. “Lank lewe die bobbejane!” “Lank lewe die bobbejane” – verbeel jou!

ENGEL GABRIEL EN DIE ANC

Die vraag of Gerrit Viljoen – as hy nie siek geword het nie – Pik Botha, of wie ook al, in 1994 ‘n beter “deal” vir witmense met die ANC sou kon beding het as Roelf Meyer is een van daardie debatspunte wat gedurig opduik.
My Melkbosse vriend Jacko Maree, oud-politikus en betrokkene by die onderhandelinge, spreek die vraag uitvoerig aan in sy nuwe selfpublikasie “Kwessies”* en kom tot die gevolgtrekking – darem nie in soveel woorde nie, maar as ek sy strekking reg verstaan – dat selfs die engel Gabriël maar sou gesukkel het.
Toe die beginsel van groepregte vroeg sneuwel, was FW de Klerk se wigte en teenwigte daarmee heen, betoog hy. Met die aanvaarding van die beginsel van een mens, een stem was dit verby met Doris Day as’t ware. Vir Gerrit Viljoen het dit die einde van die pad beteken. Die geweldige druk waaronder hy verkeer het om namens die Nasionale regering ‘n eensame alleenstryd vir groepregte te voer (geen ander party het dit gesteun nie), het sy tol geëis. Die wyse, ervare man het ineengestort en Roelf Meyer is toe verrassend in sy plek as hoofonderhandelaar aangewys.
Jacko reken die ANC is tot beduidende toegewings gedwing oor kwessies soos ‘n regstaat met ‘n goeie grondwet teenoor die gewone Afrikapatroon waar die parlement die hoogste gesag is en die kapitalisme teenoor ‘n sosialistiese diktatuur. Maar daar het die ANC vasgeskop, en die ganse wệreld was aan sy kant. In sy hand was die troewe van die internasionale druk op die regering, die swart getalsoorwig en die gevaar dat die ANC hom tot onbeheerbare straatgeweld sou wend om sy sin te kry.
Die vraag voor die NP was uiters gewigtig: Skop hy die onderhandelinge op, sou hy ‘n revolusie in die gesig staar en afstand doen van die voordele wat wel beding is (regstaat, vrye ekonomie, ens.) By Jacko bestaan geen twyfel nie: “Eerder as om (oor een mens, een stem) toegewings te maak. Sou die ANC oorgeslaan het na volskaalse geweld. Revolusie en anargie sou ons voorland gewees het en ‘n gewelddadige oorname van mag deur die ANC sou onvermydelik gevolg het.”
Hy haal vir Tertius Delport aan wat rug wou styfmaak: “Thank God I didn’t get it my own way …. So maybe, thank God FW didn’t listen to me”.
Oor die verwyt dat FW sonder plan sou onderhandel het – “soos vir ‘n gebruikte motor” beweer een grondwetkenner – skryf hy: “ Die NP was, toe die onderhandelings begin het, beter voorbereid as enige ander party.” Hy noem dat die NP goeie huiswerk gedoen het en ‘n konsepgrondwet opgestel het waaraan ure bestee is.
‘n Ander vraag wat hy behandel , is: Het Ramaphosa vir Roelf ore aangesit? Hy redeneer tot die teendeel. Volgens hom is wel geslaag om “talle suksesvolle buffers” in te bou. Maar hy erken tekortkominge in die grondwet wat al hoe meer “ondeugdelik” word. Hy bespreek ook moontlik uitweë uit huidige ellendes.
Om ingelig saam te gesels, of jy nou hartlik saamstem of ernstig verskil, is “Kwessies” ‘n nuttige uitbreiding tot elkeen se verwysingsraamwerk, en nie net oor die groot politiek nie. Jacko wat lid was van die raad van die Universiteit van Stelenbosch, pak in ‘n ander afdeling die ondergrawing van Afrikaans in Matieland. Hy lig veral die rol uit van die driemanskap Chris Brink, Anton van Niekerk en Edwin Hertzog in die onheuglike geskiedenis, en spaar die roede nie. Uit die binnekring ontvou ‘n verstommende verhaal van taalstroping wat die universiteit en die Afrikaanse taalgemeenskap in die hart gewond het.
* Koop die boek aanlyn vir R300 by jwmaree.co.za

BUIGINGS OOR TAALGRENS

‘n Uitsonderlike stukkie koerantgeskiedenis wat ek onlangs weer in Jaap Steyn se biografie “Sonkyker” raaklees, kom uit 1959, die jaar van die “Wonder van Afrikaans”-vierings met landwye taalfeeste wat deur die FAK gereël is op versoek van die Akademie wat daardie jaar 50 jaar oud geword het.
Ook Engelssprekendes het deelgeneem. Op 29 Mei het die plakkaat van die ontslape “Rand Daily Mail” – van alle koerante – gelui: “ Vandag praat ons Afrikaans”. In ‘n berig onder aan sy voorblad het die koerant geskryf: “ Vandag lewer ons bewys dat in hierdie ou jingo-nessie in Mainstraat se wệreld is ons ook Boere.” Die “RDM” se hoofartikel was in Afrikaans, met ‘n Engelse vertaling onderaan. Nou toe nou.
Sulke taal-welwillendheid het darem nie net van een kant gekom nie. Met die sluiting in 1985 van “The Friend”, Engelstalige oggendblad met diep wortels wat deur die Argus Printing and Publishing Company in Bloemfontein uitgegee is, het Die Volksblad hom in ‘n Engelse sub-hoofartikel gegroet.
Na die Engelse gemeenskap is ook uitgereik in ‘n advertensie wat in die laaste uitgawe geplaas is met die boodskap “You still have friends”. Spesiale pogings is aangewend om die Engelse gemeenskap daarna met hul eie blokkiesraaisel, eie strokies en Engelse advertensies te bedien – ‘n uniekheid in Suid-Afrika. Dit is wyd raakgesien en gewaardeer.
Verskoon my dat ek dit onbeskeie hier oprakel, maar ek is nogal trots daarop, soos die “Mail” op sy Afrikaanse buiging trots kon wees.