Dec 31, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op Oujaarsdag 1976 was die Van Deventers se kennismaking met Disneyworld in Orlando, Florida: die “Magic Kingdom” van Micky Mouse, Goofy, Winny the Pooh en diesulkes. Die dag was nie sonder sy uitdagings nie.
Kenners van Disneyworld het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, was ons in die voorhoede. Op ‘n drafstap is ons deur die Disney-kammawệreld reguit “Fantasyland” toe. (Daar was ook nog ‘n Adventureland, Frontierland, Tomorrowland en Liberty Square.)
Heel gou was ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek vandag by 55).
By die “20 000 Leagues Under The Sea” is kleinsus se opvoustootwaentjie by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart het ellende gewag: die stootkar was spoorloos. Vir ‘n kort rukkie het dit kleinsus op haar beentjies geplaas. Die res van die dag was sy op haar pa arm, boonop nie in ‘n lekker bui weens haar verlies.
Nou-ja, die “koninkryk” is 11 000 hektaar groot; groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek had ‘n eie “vloot”: ‘n armada van 200 skepe. Net Amerika, Rusland, Brittanje en Frankryk kon met meer duikbote spog. Om dinge te kompliseer, het Mickey se domein die dag ‘n rekord-getal van 80 000 besoekers gelok.
Om die kroos by Mickey af te neem, was een van die dag se prioriteite, maar weens die malende mensemassa een van die logisties beproewendste uitdagings van ons besoek. Vasbeslote moeders het geveg soos tierkatte om hul afstammelinge met geweld bo-oor en dwarsdeur ander kleingoed te stamp vir ‘n eksklusiewe foto.
Ma Tokkie, Johan en Marisa was net mooi in pa Hennie se korrel, toe Marisa skielik kamerakoors – of dalk muiskoors – ontwikkel. Nietemin, die foto is uiteindelik geneem en hang nog altyd hier op Melkbos. Vanaand sal ons ‘n glasie lig op die vriendelike muis met die groot ore, 45 jaar na daarde gedenkwaardige dag.
So minus Marisa wiele was dit natuurlik veral vir vader ‘n vermoeiende 12 uur. Glo my vry. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.
Die konfrontasie met die ouers was kort maar intens. Eers het hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking was dramaties. Mamma het die kleintjie gegryp en laat vat. Pappa is agterna met sy kuif wat in die wind flap.
Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel.
Een van ons aangename herinneringe vroeër die dag was ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums.
Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.
Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disneyworld. Tot by ons motel en nog later die aand het ek daardie wysie bly neurie en oor die wesenlike waarheid van die woorde gemymer. “I’ts a small world after all”, is dit nie?
Dec 27, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Terwyl koerante vandag moet kopkrap hoe om na hul sluimerslaap van die Kersnaweek hul agterstand met die dekking van Desmond Tutu se dood te probeer inhaal, dink ek onwillekeurig aan die dae van spesiale uitgawes om groot nuus so gou moontlik by die lesers te besorg.
Een voorbeeld: Saterdagmiddag 9 April 1960 toe dr. Hendrik Verwoerd op die Johannesburgse Paasskou deur David Pratt in die gesig geskiet is. Die SAUK het ‘n flitsberig uitgesaai. Koerantmense van Die Volksblad in Bloemfontein – redaksie, fabriek, bemarking, almal – het dit gehoor en hulle instinktief kantoor toe gehaas. Een het van Dewetsdorp gekom; party was in die klere waarmee hulle in die tuin gewerk het.
Die twee gewone Saterdag-uitgawes was lank voor die skietery op straat. Hulle is toe gevolg met twee spesiale uitgawes van vier bladsy elk. Die verskyning van die koerante met die vuurwarm nuus is met luidsprekers deur Bloemfontein se strate aangekondig.
In ‘n ommesientjie het ‘n geskokte skare by Die Volksblad in Voortrekkerstraat saamgedrom. Angstige koerantlesers het die uitgawes opgeraap.
Dit is sulke geleenthede wat adranalien deur die are met drukkersink laat pomp het. Moeg maar hoogs tevrede dat hulle hul werk goed gedoen het, het die Volksbladders later die aand by die Fontein-hotel op uitnodiging van die redakteur-bestuurder Hugo Dreyer ‘n drankie gaan drink.
Weer eens was het koerant sy plig gedoen om sy gemeenskap op die hoogte te hou – ook in sulke uitdagende omstandighede. Dit was ander tye. Hoe dankbaar is ek nie dat sulke opwinding kon beleef het.
Dec 24, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Vir almal wat vandag of more “Somerkersfees” van Koos Doep gaan sing of net daarna gaan luister, plaas ek graag ‘n stukkie uit my boek Koerantkamerade (Naledi, 2021). Daarmee sommer my Kerswense aan almal. Vrede vir julle.
Skenk ons ’n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.
Toe ons gemeente die laaste Sondag voor Kersfees uit volle bors Koos du Plessis se geliefde Kerslied “Welkom, o stille nag van vrede” aanhef, is dit of die betekenis daarvan vir Afrikaans en vir ons land se Kerskultuur my die eerste keer werklik tref.
In hoeveel ander tale bestaan so ʼn unieke, eksklusiewe Kerslied in eie idioom? In Duits (“O Tannenbaum”)? In Portugees (“Natal no meu lar”)? Maar wag, op musiekterrein is ek ʼn leek. Dalk raak ek te meegevoer. Dalk kan kenners ʼn heel ander perspektief gee. In my belewenis – gun my dit maar op ouderdom 80 – het die jong koerantman Koos du Plessis egter met sy lied vir Afrikaans ʼn braak veld oopgebreek en ʼn kosbare nuwe staanplek verower.
Elkeen wat Afrikaans praat en lief het, kan die stemmingsvolle “Welkom, o stille nag van vrede” met trots omarm en jubelend saamsing – nie net oor die suiwerheid van die eeueoue Kersboodskap wat in eenvoudige, onopgesmukte woorde daarin vervat is nie, maar ook die salige bekendheid van die taalmedium. Dis ons eie. Dis ʼn hartsaak. Meer nog omdat Afrikaans in die Suid-Afrika van 2021 so onder druk is.
Koos Doep se viering van ʼn somer-Kersfees is nie net volbloed-Afrikaans nie; dis sommer ook trots Suid-Afrikaans. Die lied uit eie bodem bring ʼn treffende eie simbool na vore: Die Suiderkruis waarna amper elke besoeker altyd vra. Te lank is onnadenkend met Bing Crosby en andere na ʼn “wit Kersfees” saamgehunker; te lank het ons onsself met Eurosentriese simbole – ʼn sneeuslee met klokkies, takbokke en ʼn koulike sinterklaas toegewikkel in ʼn knus rooi wolpak – vereenselwig. Te lank is in woord en lied, op plate-omslae, tydskrifte se voorblaaie en op al wat Kerskaartjie is, uitgestrekte sneeulandskappe, sneeumanne met bont serpe en oordadig versierde Kersbome by kaggelvure in ons kele afgedwing.
Toe bring “Welkom, o stille nag van vrede” ʼn bevrydende boodskap: Dat Kersfeesklokke ook in helder sonskyn kan beier en die “Betlehemster” in ʼn wolklose, ster-gespikkelde hemelgewelf saam met die Suiderkruis plek kan inneem. In ʼn land waar sneeu op Kersfees ʼn koorsdroom is, is dit heelpad wins.
Saluut, Koos Doep, wat in 1971 verse een en twee van die juweel geskep het. Saluut ook aan Jannie du Toit wat die verheffende vers drie – “voel jy ook nou sy warm liefde/as ons die dag gedenk/toe hy sy Seun aan ons gegee het/ons grootste Kersgeskenk” – in 2001 bygevoeg het om die lied af te rond.
Dec 23, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dit klink soos ‘n bose nagmerrie: dat iemand ‘n boek – ‘n yslike koffietafelboek – van 608 bladsye oor jare toegewyd kan navors en skryf, maar sy naam verskyn nie op die buiteblad nie weens ‘n gruwelike drukfout.
So ‘n ramp der rampe het my kollega Frikkie van Rensburg, veteraan-sportskrywer en gesiene oud-sportredakteur van Die Volksblad, pas oorgekom.
Die naam van die boek is Cheetahland: 125 jaar van lief en leed. 1895-2020. Dit is eintlik ‘n soort ensiklopedie. Soek ‘n feit oor Vrystaat-rugby en jy sal dit in hierdie gedenkwaardige magnum opus aantref.
Die boek is na sy beskeie mening ‘n meesterstuk en enig in sy soort, sê die Vrystaatse Rugby-unie. Ongelukkig geld die laaste beskrywing ook die raaiselagtige afwesigheid van die outeur se naam, moet ‘n mens byvoeg.
In die laaste proewe was dit daar. Toe die die glans-buiteblad van die pers kom, was dit nêrens. Iewers tussen die hand en die mond het die pap op die grond geval.
Selfs iemand wat in sy lewe ‘n paar potjies met die sogenaamde drukkersduiwel geloop het, kan moeilik die debakel begryp. Oranjedrukkers, moet seker skarlakenrooi bloos.
Ook die Vrystaatse Rugby-unie is natuurlik in diepe verleentheid. Dié het ‘n apologie op sy webblad geplaas onder die opskrif “JAMMER, FRIKKIE”. ‘n Klompie spesiale uitgawes is ook gedruk met Frikkie se naam in goud. Een is by die bekendstelling aan hom oorhandig.
In die apologie verklaar die VRU voorts: “Vrystaat Rugby is verheug en uiters trots op die eerste eksemplare van die nuwe boek Cheetahland – 125 jaar se lief en leed, 1895-2020 wat pas verskyn het.
“Ongelukkig het ‘n fout in die laaste oomblikke van die proses ingeglip. Die skrywer van die boek, Frikkie Janse van Rensburg, wat ‘n leeftyd se werk en energie in die boek gestort het, se naam het op ‘n onverklaarbare manier van die voorblad “verdwyn”: dit nadat sy naam nog op die voorlaaste proewe verskyn het.
“Sy naam verskyn wel op die binneblad, talle kere in die boek en ook op die agterblad van die publikasie. Hy word voorts in ‘n volle hoofstuk erkenning gegee vir sy monumentale werk en die statistiek wat hy oor meer as vyftig jaar versamel het.
“Dit klaar gesê, bly dit ‘n groot jammerte dat sy naam nie groot op die voorblad pryk nie. Ons vra opreg om verskoning daarvoor.
“ Ons dank hom vir al sy werk oor baie jare. Die boek is na ons mening ‘n reuse-sukses danksy Frikkie en sy medewerkers, onder wie Tom Ferreira, wat die redigering behartig het”.
Iemand anders sou dalk op- en afgespring het. Die beskeie Frikkie se reaksie is filosofies: Naam of nie naam nie was dit “baie spesiaal” om ná al die harde werk en laataande se skryf die boek in sy hande vas te hou. Dit is ‘n boek danksy die spelers en ondersteuners; ook ‘n boek vir die spelers en ondersteuners. Daarmee basta.
Frikkie swaai ook sy vrou, Elsie, lof toe. Sonder haar sou hy dit nooit kon vermag nie.
Oor Frikkie het ek o.m. in my gedenkboek by my 80ste, Koerant, die volgende kwytgeraak: “As die Vrystaat ‘n Meneer Sport moet kies – iemand wat oor die langste tydperk sport in die wydste sin gedien het – is die beskeie Frikkie van Rensburg, oud-sportredakteur van Die Volksblad, ‘n uitgeknipte kandidaat.
“Die getal sportsoorte waarvan hy op nasionale en internasionale vlak verslag gedoen het, is werklik meer as wat jy op die vingers van twee hande kan tel. Dit sluit in rugby, krieket, swem, boks, stoei, fietsry, modern vyfkamp, grootkaliber-skiet, tennis, polo, gimnastiek en rolbal.
“As sportstatiskus strek sy roem tot in die buiteland. Hy het die belangrike afdeling van beriggewing ‘byna vervolmaak’, aldus Herman le Roux, veteraan-sportredakteur onder wie Frikkie sy loopbaan as sportskrywer begin het. In 1999 is hy dan ook amptelik deur die Vrystaatse Rugby-unie as sy statistikus/historikus aangestel. Oor Vrystaat- en Griekwarugby weet hy uit ‘n statistiekehoek so plus-minus alles.”
Geluk, “Mnr. Sport”. Jy verdien elke woord van lof wat jy vir hierdie grootse werk – jou derde oor Vrystaatrugby – gaan kry. Wat jy werklik nie verdien het nie, is dat jy van alle mense die slagoffer moes wees van wat nie anders nie as die drukbedryf se grootste “ligte mistykie” in 2021 bestempel moet word.
(Foto’s: Frikkie en sy boek, Frikkie en Elsie met die spesiale uitgawe met sy naam in goud voorop. Dank daarvoor aan Netwerk24.)
Dec 19, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Liewe vriende
Die jaar 2021 galop die pylvak binne. Voordat ons hom finaal aftik enkele kantlynaantekenings uit hierdie oord:
Dit was ‘n jaar vol allerlei bakens: HvD se 80ste, TvD se 75ste, Johan en Brent se 50ste, Pfizers-prikke en Jacob en Thomas se verwerwing van leerling-rybewyse. Die twee het ook vir Oupa en Ouma laat asem ophou deur van Dreunkrans, by Hermanus, 18 meter na benede in die see te spring.
HvD het twee boeke gepubliseer, Bure van nature by Protea en Koerantkamerade by Naledi. Daarmee sak daardie gordyn.
Soos 2020 was 2021 ‘n Koronajaar. HvD en TvD is dankbaar dat hulle, anders as in 2020, wel in die winter by Sabiepark kon uitspan. Toe kom drink ‘n avontuurlike kameelperd jou werklik die eerste keer in 23 jaar by Tarlehoet se watergat. Ekstase soos min.
Op George het die Legacy Centre – Migael (eintlik sy ma, Mariza) se skool – ‘n uiters geslaagde eerste gholfdag op sy kerfstok geplaas. Die vloede het by die skool skade aangerig, gelukkig nie erg nie.
Die nuwe jaar sou begin met ‘n vaart op die MSC Musica na Walvisbaai vir die Oppiwaterkunstefees. Helaas nie. Te lugtig vir Omikron en kie. Na verre hawens se vertraagde “bekendstelling” ter see is natuurlik nou finaal gekelder.
Jacob en Thomas (sy skool, Stellenberg, se verteenwoordiger op Die Burger se gesogte Jeugleierskonferensie) durf matriek aan, albei as leiers en met goeie akademiese verwagtinge. Christopher pak sy laaste jaar op laerskool.
Mediese uitdagings in ons geledere word meer, nie minder nie. Ons gaan 2022 nietemin positief tegemoet en droom oor goeie dinge vir ons almal.
Uit Penguin Place 11 ons beste Kers- en Nuwejaarswense. Kom ons mik na die maksimum-kontak in 2022. Die tyd stap aan, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut herinner het.
Hennie & Tokkie