VUURWARM SCOOP OOR FW

Met die dood van FW de Klerk is een van die helder herinneringe wat by my opkom, daardie dramatiese dag 2 Februarie 1989 toe hy uit die bloute leier van die NP geword het.

Die hoofberig in Die Volksblad met die kraakvars nuus oor sy verkiesing tot hoofleier in die plek van die siek PW Botha was ‘n scoop soos elke joernalis van droom.   Die Volksblad was toe nog ‘n middagblad.  Geen ander middagblad in die land kon daardie middag by hom kers vashou nie.

P.W. Botha bedank skielik. F.W. klop Barend du Plessis, Chris Heunis en Pik Botha om die leierskap. Dit was die sleutelelemente van die berig.  FW nuwe leier, was die banier.  Wen teen Barend met 69 -61 was die tweede opskrif.

Alf Ries, gesoute politieke beriggewer van Die Burger en oud-Volksblad-man, het voor 11:00 die eerste keer opgewonde gebel om te waarsku dat iets groots klaarblyklik aan die gebeur is. Soos so dikwels in sy uitsonderlike loopbaan was Ries op presies die regte tyd op presies die regte plek. (‘n Ander Ries-scoop vir Die Volksblad was Samora Machel se dood in ‘n vliegtuigongeluk in 1986. Geen ander middagkoerant het dieselfde dag nog daardie berig gehad nie.)

Die oggend van die historiese NP-koukus het Ries  ‘n vreemde aktiwiteit bespeur, wat sy sensors geaktiveer het. Hy het dadelik gedink aan Die Volksblad, wat toe nog ‘n middagblad was. Geen ander joernalis het in daardie stadium eens snuf in die neus gehad van die drama wat hom in die koukus afspeel nie.

Teen 12:20 het Die Volksblad se Francois Lötter (later van Die Burger) gebel met die nuus dat die koukus vir ‘n nuwe hoofleier stem. Om 12:40 was daar weer ‘n oproep van hom om te sệ: Die nuwe leier is F.W. de Klerk.

Die redaksionele wiele het volstoom begin draai. Foto’s is geselekteer vir ‘n fotoblad en ‘n lewenskets is vinnig afgerond. In die subkantoor is koorsagtig bladsye verander — en die produk was ‘n treffer, met ‘n Alf Ries-hoofberig wat lesers soos ‘n elektriese stroom regop laat sit het.

Daardie middag bel Piet Steyn, LV vir Winburg, sy vriend prof. Kallie Strydom in Bloemfontein oor die groot dinge wat die oggend gebeur het. Hy kon op sy rug val toe Strydom hom meedeel: “Ek het dit nou net alles in Die Volksblad gelees.”

Die storie eindig ongelukkig op ‘n pynlike noot. ‘n Kis KWV-Roodeberg  bestem vir kollega Alf het op die Bloemfonteinse lughawe (toe nog JBM Hertzog) van die waentjie getuimel. Net ses bottels van die dankie-geskenk het heel in die Kaap aangekom!

Foto: Buiteblad van my loopbaanboek “Kroniek van ‘n Koerantman” (Tarlehoet. 1998). ‘n Dowwe relief van daardie gedenkwaardige voorblad is vir die ontwerp ingespan.

  • Later deel ek nog FW de Klerk-herinneringe.

‘N KAMERAAD OOR KAMERADE

Die hoofredaksie van Die Volksblad in die 8o’s hou na 40 jaar re-unie in die wildtuin. Sarel Venter staan links van my. Regs van my is Herman le Roux, Piet Theron en Paul Marais.

 Sarel Venter, ‘n besonderse koerantkameraad uit eie reg maar gelukkig nog in lewe, het my die eer aangedoen om oor Koerantkamerade uit eie beweging ‘n positiewe lesersindruk te skryf.  Vanselfsprekend is ek ingenome en dankbaar.

Sarel is ‘n gewese adjunk-redakteur van Die Volksblad en ‘n sleutellid van die hoofredaksie in my redakteurskof in die jare 80’s. Hy het hom veral as ewewigtige kommentaarskrywer onderskei.  Dat ‘n joernalis van sy statuur oor die betekenis van Koerantkamerade  so vriendelik oordeel, is vir my spesiaal en waardevol.

Sarel skryf onder meer:

“Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad en gewese hoof van koerante by Naspers/Media24, het ’n prysenswaardige taak aangepak in Koerantkamerade, volgens hom sy laaste boek – nommer 20. (Dit is sy sesde boek met ’n koerantagtergrond.)

“Hy noem die inhoud van die boek informele “grafskrifte” vir ’n 50 stuks koerantkamerade, mense wat veral in die vorige eeu in die koerantesfeer gearbei het. Aan hulle bring hy hulde soos blomme na ’n graf. Rose? En dalk ’n paar dorinkies?

“Hy vertel van die lewe en werk van verskeie mense in die koerantwêreld. Van sogenaamde groot karakters of mense van statuur. Maar ook van hulle agter die skerms; diegene wat nie bekende openbare figure was nie. Verdienste, rol of nalatenskap was geen maatstaf nie.

“Maar almal is al saliger. En die lys van mense wat uit sy bos gekap is, word al hoe langer … (Die titel van nog ’n boek uit sy pen is Byl in my bos, Griffel 2009.)

“Die skrywer het met die meeste persoonlikhede van agter die papiergordyn in sy koerantloopbaan van 35 jaar persoonlik kennis gemaak; saam met baie van hulle gewerk, sommige goed leer ken. Hy lig die sluier oor intriges in nuuskantore en direksies, en stel sy tydgenote met deernis en humor bekend. Sy fyn waarnemingsvermoë en uitstekende geheue – steeds op tagtig! – blyk duidelik.

“Koerantkamerade – in Van Deventer se reeds kenmerkende, boeiende en vloeiende skryfstyl – is ’n besonder insiggewende en waardevolle magnum opus-bydrae tot die vroeëre eietydse geskiedenis van die koerantbedryf, en ook van Suid-Afrika.”

Om ’n moontlike leser “lus te maak om hierdie onderhoudende boek te lees” gee Sarel  ’n paar kort grepe uit van die 52 hoofstukke, onder meer van Piet Cillié, redakteur van Die Burger, later professor in joernalistiek in Stellenbosch en voorsitter van Nasionale Pers,  Wynand Mouton, voorste kernwetenskaplike, oudrektor van die Universiteit van die Vrystaat, voorsitter van die SAUK-raad (en vriend van Volksblad wat op sy dag ‘n koerantverkopertjie was), Ryno Verster, arts en bergklimmer en 43 jaar lank rubriekskrywer van Volksblad as “Dokter Goedhart gee raad” (wat seker ’n wêreldrekord was), asook  Gert (GPD) Terblanche, minsame oudredaksielid, politikus, kultuurleier, kerkleier en ambassadeur wat twee maande voor sy 99ste verjaardag in 2021 as die oudste Volksbladder oorlede is.

Die volledige stuk kan gelees word by  https://www.litnet.co.za/koerantkamerade-deur-hennie-van-deventer-n-lesersindruk/

Die boek is gepubliseer deur die uitgewery Naledi in samewerking met die webblad Nagkantoor en met ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust..

VOLKSBLAD: ‘N NUWE LEWE

‘n Volksbladkamer by NALN was lank ‘n droom. Nou word dit ‘n werklikheid.

Met die trek uit die ou Volksbladgebou in Nelson Mandelarylaan (voorheen Voortrekkerstraat) in Bloemfontein na ‘n kleiner perseel in Westdene is vir ou en waardevolle stukke van historiese belang vier waardige nuwe tuistes beding.

Een is NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) waar die stylvolle redakteurskantoor ‘n tuiste vind.  Dit sluit in ‘n statige lessenaar van Birmaanse kiaat wat uit die era van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948) dateer.  In my era (1980 – 1992) is dit tot sy huidige glorie vernuwe.

Die lessenaar is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad. Die meubels – stoele, bank, tafels en boekrakke – sluit ook sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout in.  Die meeste hiervan is onder Jan met sy hartstog vir hout se toesig of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die gebou in 1986.

Wat ook na NALN gaan, is die oorpronklike Volksbladgebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig.  Sentraal in die ontwerp is ‘n lantern (laat daar lig wees?) en ‘n boekrol met die uitgebeitelde  inskripsie: “Vox populi vox Dei” – “die stem van die volk is die stem van God”.

Met die opgradering het die gebou ‘n keurige siersteenfasade en ‘n ruim ingang met glasdeure van moderne ontwerp gekry.  Die ou deur, ‘n pragstuk van Birmaanse kiaat, het nie meer “ingepas” nie. Jan het gespook om ook die historiese deur te red, en ek het my gewig solied agter hom ingewerp;  helaas ‘n verlore stryd.

Jan was tot sy dood toe bitter oor die mistasting.  Volgens hom is die voordeur vir alle praktiese doeleindes  “weggesmyt”.    Hoe verheug sou hy nie oor die nuwe lewe gewees het nie.

Ander Volksblad-eiendom van historiese belang sal deur die Nasionale Museum, die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en INEG (Instituut vir Eietydse geskiedenis), nou bekend as ARCA, bewaar word. Dit is ook die tuiste van een eie private versameling (die ander is by die Erfenisstigting).

Ons veterane van vorige eras het maar asem opgehou oor wat van ons geliefde koerant – die oudste in Afrikaans  – se sentrale plek in die geskiedenis van die Afrikaane perswese van die land gaan word noudat dit nie meer op papier verskyn nie.  Ons almal slaak ‘n dankbare sug van verligting oor die nuus wat redakteur Gert Coetzee vanoggend bekend gemaak het.

In eie hoedanigheid –  maar ook as oudste oorlewende redakteur (chronologies) –  wil ek graag ‘n buiging maak na Gert en sy span vir toegewyde en vrugbare arbeid om vir Volksblad, naas die voortreflike digitale spruit wat hulle so bekwaam in stand hou, ‘n alternatiewe fisieke voortbestaan te gee met die bewaring van waardevolle historiese stukke by vier waardige tuistes.

Die besluite lyk sinryk en ek sien uit om by afhandeling ‘n besoek aan Bloemfontein te bring om in die goue herinneringe te kom deel.

  • Op die saamgestelde foto is die redakteurskantoor soos hy besig is om in NALN se gebou tereg te kom, soos hy in my tyd was en dolleeg na die trek.
  • Die volledige berig op Netwerk24 is te lese by https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/volksblad-en-sy-geskiedenis-kry-nuwe-tuiste-20211104

SEDE-HERRIE OOR BEELDE (Hoofstuk 2)

Tienie Pritchard (“’KAAL BEELDE SOEK WEER ‘N TUISTE, 31/10) was nie die eerste beeldhouer wat in die Jakarandastad die wind van voor gekry het nie. Daardie eer behoort aan ‘n voorganger op die toneel, Moses Kottler, in 1957. Ook in die geval was ‘n staatsgebou betrokke. Daar is ook ander sinonieme.
In daardie jaar, ná voltooiing van die Bevolkingsregister se gebou op die hoek van Van der Walt- en Schoemanstraat (destydse name), is ‘n reliëfwerk van Kottler teen die westelike muur aangebring. Die eerste reaksie was positief. Die publiek was nogal ingenome dat ‘n kunswerk op ‘n stugge staatsgebou pryk.
Die koerant Die Transvaler het so ’n verbeeldingryke stap nuuswaardig geag. ‘n Fotograaf, Corrie Roux, is gestuur om ‘n foto te neem. Hy het gewag dat die son net reg vale n die sluiter gedruk. Dit was ‘n voortreflike foto.
Een komplikasie: Die reliëf, bestaande uit ‘n halfnaakte man en vrou met die man se hand half stouterig op haar hand wat op haar bors rus en met albei se lendene net met ‘n drapeersel bedek, was baie eksplisieter op die foto sigbaar as vir die voetganger op straat, aangesien die kleur van die reliëf teen die gebou met sy agtergrond saamgesmelt het,
Roux se foto is as voorbladfoto oorweeg, maar die nuusredakteur indertyd, Fritz Potgieter, het gemeen dit sou verstandiger wees om dit op ‘n binneblad te plaas. Wat die koerant betref, was dit fluit-sluit die storie is uit.
Sowat ‘n week later kom die eerste aanmaning van ‘n moontlike agteropskop. ‘n Leser van die Wes-Rand betuig sy onbehae oor so ‘n onbetaamlike beeld teen ‘n staatsgebou. Nog briewe volg. Later nog. Dit word ‘n dik stroom.
Soos dit in die koerantwệreld gaan, begin ander koerante ook aan die storie krap. Nog foto’s word geplaas en onderhoude gevoer. Kerkinstansies tree toe tot die toe al taamlike vurige gesprek. Afvaardigings word na die minister van openbare werke,sen. Jan de Klerk – vader van FW de Klerk – gestuur.
Sen De Klerk kondig toe aan dat die kabinet die saak sal oorweeg en dat hy daarna ‘n verklaring sal uitreik. Die Transvaler se redakteur besluit in daardie stadium om die briefwisseling te sluit. Die ander koerante het nie die voorbeeld gevolg nie. Die druk het dag vir dag in momentum toegeneem.
Uiteindelik het De Klerk aangekondig: die beeld moet af. Te midde van groot openbare belangstelling is ‘n hyskraan gestuur om die bron van aanstoot te verwyder. Maande, indien nie jare nie, is dit iewers in ‘n donker hoek weggesteek. Later het dit onverwags sy verskyning gemaak aan ‘n muur in die binneplein van die William Humphreys-kunsmuseum in die Diamantstad, Kimberley.
Kunsliefhebbers was dankbaar dat die beeld ‘n wreder lot gespaar is. Party, ook doodgewone nuuskieriges, het tussen Pretoria en Kaapstad spesiaal Kimberley langs gery om die beeld te besigtig.

DIE VERKIESING: ‘N BESTEKOPNAME

Wanneer bestek opgeneem word oor die verloop van die munisipale verkiesing van 1 November 2021 sal dankbaarheid en verligting heers oor die relatief gladde verloop by die meeste stemlokale ondanks allerlei uitdagings, van storms tot ktagonderbrekings tot protesoptrede. ‘n Reuse-span mense het hard gewerk, kiesers goed behandel en onkreukbaar hul pligte vervul.
Dinge het plek-plek gehaper – sommer kwaai gehaper. Daarvan moet kennis geneem en haakplekke moet aangespreek word. Die mikpunt moet altyd wees om standaarde so te handhaaf dat die kiesers vertroue behou dat ‘n verkiesing inderdaad “vry en regverdig” was, soos dit voorspelbaar bevind sal word.
Hier dan ‘n 10-stuks vrot kolle waaroor in koerante, op TV en op sosiale media berig is:
1. Stemlokale was van tyd tot tyd disfunksioneel onder meer weens onderbemanning en elektroniese stelsels wat nie gewerk het nie. Die gevolg? Lang toue wat opgedam het ondanks ‘n lae stempersentasie. Hoeveel kiesers het nie onverrigter sake omgedraai nie? Ons sal nooit weet nie.
2. Stembriewe (en merkpenne/watte) wat vroeg-vroeg onverklaarbaar opgeraak het, opvallend by hoofsaaklik opposisievestings. Stembriewe is ook verkeerd afgelewer.
3. Verkeerde kieserslyste terwyl die regtes onder ‘n hoop papiere weggesteek lệ.
4. Geregistreerde kiesers wat tot hul verbasing moes hoor hul name is nie op die kieserslys nie.
5. Geregistreede kiesers wat by die “regte” stemokale, volgens hulle, weggewys en rond en bont gestuur is om elders hul kruisies te gaan trek.
6. Ontbrekende stempels. Gaan daardie stemme tel of gediskwalifiseer word?
7. Skelmstreke. Een verkiesingsbeampte (goeie genugtig) is in hegtenis geneem omdat hy gemerkte stembriewe in ‘n stembus gestop het. ‘n Ander is aangekla nadat hy ‘n verseëlde stembus oopgemaak het. Met watter doel?
8. Magsmisbruik. ‘n Verslaggewer is deur die polisie gegryp omdat hy die voorsittende beampte se “aandag afgelei het”. Helen Zille is hardhandig verwyder terwyl sy kiesers probeer motiveer om nie tou op te gooi nie.
9. Teenstrydighede en verwarring oor die hantering van oues van dae en immobieles.
10. Vreemdhede soos dat 90% plus in ‘n wyk vir spesiale stemme geregistreer is terwyl van die betrokkenes van geen sout of water weet nie.
Mense wat minder krities ingestel is, sal waarskynlik aanvoer dat hierdie dinge yl verspreid voorgekom het en nie ‘n patroon daarstel nie. Goed en wel. Maar ons moet tog maar waak dat ons nie agtelosigheid, tekortkominge en misbruike skouerophalend as die norm aanvaar nie. Dan reduseer ons Suid-Afrika in ons gedagtes tot maar net nog ‘n Afrikalandjie.

Opmerking
Deel