“KAAL” BEELDE SOEK WEER TUISTE



Verbeel jou jy klim in ‘n “hi-tech”-hysbak wat terselfdertyd ‘n tydkapsule is. Dit woerts jou nie net van een verdieping na ‘n ander nie maar ook van een era na ‘n ander.
Druk knoppie een en jy klim uit in die 20’s. Knoppie twee vat jou na die 30’s. Wil jy 40’s toe druk jy knoppie drie.
Maak jou klaar vir so ‘n nostalgiese ervaring in die huismuseum – as so ‘n woord nie bestaan nie, patenteer ek hom terstond – van wyle Leo en Kate Kritzinger in Proteahoogte, Brackenfell in die Kaap.
Leo, ’n versamelaar sonder weerga en ‘n man met ‘n onversadigbare skeppingsdrang, is in Augustus op 73 aan ‘n Parkinsons-verwante beroerte oorlede. Hy het 25 jaar met die die siekte gekom. Tot sy nagedagtenis het Kate ná sy dood sy “goeters” liefdevol tussen hul waardevolle Victoriaanse meubels uitgepak – dit oorheers in vyf, dalk meer, vertrekke.
Ek en Tokkie het gister besoek. Ons kan nie uitgepraat raak nie.
Vir konteks: ‘n veelsydiger man het ek skaars geken. Sy vele stokperdjies het ingesluit: spotprent-teken, fotografie, die versamel van boeke, tydskrifte, koerante, 78-spoedplate en grammofone, modelmotorjies en ou motors, asook verwante memorabilia. Lang ure elke dag is opgeslurp deur die entoesiastiese beoefening van elkeen daarvan.
As ek ‘n lysie van vyf van sy voorkeur-passies probeer saamstel, sou dit so lyk:
Die huis wemel van aandenkings hiervan en van hope ander dinge. Dis in stapels,soos sy honderde grammofoonplate, in rakke wat hy self gebou het, soos sy verskeidenheid outydse kruideniersware, teen mure in die vorm van plakkate, foto’s, programme (ook programme van musiekaande wat hy aangebied het) en spitsvondige kammavoorblaaie vir vriende, op tafels in die vorm van plakboeke, op stoele soos lisensiehouers met motorembleme, op die vloer soos sy stapel ou koffers en staanradio’s.
Leo was by uitstek ‘n Fordman soos min. Sedert 1982 was hy lid van The Early Ford Car Club of South Africa. Die redakteurskap van die klubtydskrif, The Early Ford Times, het hy ongeveer 20 jaar behartig. In 2002 het hy die restourasie van ‘n spoggerige 1932 Ford V-8 sedan voltooi — `n vervullende taak wat twee en ‘n half jaar geduur het. Sy Fordjie was onder meer te sien in die Hollywood-fliek Ask The Dust wat grotendeels in die Kaap verfilm is . Dié is later verkoop.
In sy Coca-Colaversamelings is ‘n reuse-Kersvader, ‘n rooi Coke-vrieskas, ouderwetse Coke-botteltjies met hul oorspronklike inhoud, proppies en wat nog. In ‘n hoek staan die grootste Tobleroneverpakking wat ek nog gesien het. Kom van vriende uit Switserland. Die sjokolade is lankal verslind.
Sy passie vir die gedrukte media blyk uit talryke boeke, plakkate en foto’s – dosyne der dosyne foto’s. Hy het in verskeie tydskrifte se redaksies gedien as ontwerper en hoofontwerper, onder andere Scope, MAN/Magnum, Huisgenoot, YOU en TV Plus. Hy was ateljeehoof van Huisgenoot en YOU se bladuitleg-afdeling vir bykans 15 jaar.
Later het hy daardie kundigheid aangewend om boeke te maak. Die een oor ‘n reünie van Philippolis se matrieks van 1965 is klassiek. Glo geen ander matriekklas van enige skool kan met so iets spog nie. Verskeie Ford-boeke is tussen al die ander raakgesien. Daar is selfs ‘n boek oor my geliefde Sabiepark. Daaraan het ons saamgewerk. Sy aandeel was die reuse-een.
Twee die mure is oudhede soos ‘n telefoon uit die jare toet. Op ‘n tafel is tikmasjiene wat saam met Noag in die ark kon gewees het. Hy het een spokie genoem. Die rede is duidelik. Ek het Kate afgeneem by die opgestapelde ou koffers (elegante goed, hoor). Daar is verskeie ou staanradio’s, ‘n koffiemeul en ou waaiers.
Om die plakboeke intensief deur te blaai, sou ‘n mens ‘n week kon besig hou. Wat dadelik tref, is hoe kleurryk en kreatief advertensies in die ou dae was. Kunswerke as’ t ware.
Ek moet halt roep maar ek is ver van uitgeskryf. Soos ek skryf, onthou ek meer. Hopelik dra die klompie foto’s by om groter reg aan my onderwerp te laat geskied. Maar ook dit is te min, te ontoereikend. Gelukkig staan sy monumente vir altyd.
As iemand wil gaan kyk, sal Kate nie ongeneë wees nie. As versamelaars wil kom rondkyk met die oog op die uitbreiding van hul eie versamelings, sal hulle welkom wees. Wonderlike ou meubels wag om opgeraap te word. Ek is gek na ‘n Victoriaanse buffet uit eikehout. As ek maar plek gehad het ….
Kate se e-pos-adres is katekritzinger@gmail.com
(In die raam op die tafeltjie is die foto van Leo in sy rolstoel wat by sy sterftekennisgewing in Die Burger verskyn het.)


‘n Stukkie van ons “tent van samekoms”, ‘n stukkie van Dale se huis en ‘n stukkie van Tafelberg.
Fonteintjie, uit jou drink die Van Deventers (en hul nasate) graag oor en oor; jou water is soet. My verwysing is na buurman Dale Schreuder se restaurant(-e).
In 2011 is my 70ste by sy Black Angus-restaurant in die Paddocks-sentrum in MIlnerton gevier. In 2016 het ons op ons gras voor Penguin Place 11 tent opgeslaan vir ‘n driebakenfees: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons twee se goue bruilof. Dale het uit die Black Angus se kombuis die spyseniering gedoen. Sy en Iris se huis langsaan was ‘n uitstekende “bedieningspunt”.
Vandag, 11 Oktober 2021, vier skoonseun, Brent Claassens, sy 50ste. Hy en Marisa begin ‘n rukkie gelede uitkyk vir ‘n plek om ‘n paar vriende te onthaal. Hulle hoor net goeie dinge van die nuwe bistro Harvest Culture Eaterie in die Tygerbergse Waterfront.
Op ‘n verkenningstog dag sy sy herken die blok van ‘n man wat daar sit. Sy stap nader … dis Dale. Lang storie kort: Dis waar Brent se 50ste gevier gaan word. Die ou-ou verbintenis duur voort. ‘n Nuwe skakel word in die ketting gevoeg.
Marisa se storie jaag my na ou foto-albums toe.
Dale en Koos in 2011.
In 2011 het 130 vriende uit amper al die fases in ons lewe – onder andere skoolmaats, studentemaats en kollegas – binne en buite Dale se restaurant aangesit. Die kos was voortreflik. Dit was almal eens.
Een ongeluk: ek en Dale is daardie dag – 11 Januarie 2011 – blykbaar nooit saam afgeneem nie. Ek het wel ‘n foto van Dale en Koos Myburgh, die twee stewigste manne teenwoordig! (My verjaardag is 3 Januarie.)
‘n Ander skok: hoeveel van die gaste reeds heen is. Ek roep Tokkie en wys vir haar en ons kyk kopskuddend na hoe die “landskap” in ‘n enkele dekade verander het. Selfs egpare is eenvoudig net weg.
By die tentfees op 26 Maart 2016 is ‘n foto wel geneem waarop ek en Dale pryk saam met sy vrou, Iris, Tokkie en vriendin Hildegard Martin wat die kaartjies, spyskaarte en wat als ontwerp het. Ongelukkig het die lig sleg geval. Nietemin.

Iris, Dale, HvD, Tokkie en Hildegard Martin in 2016.
Van die 100 gaste in ons “tent van samekoms” (Johan van Wyk se betiteling) is ook al ‘n aardige klompie heen, verklap die foto’s van die okkasie. Soos gras is ons dae …
Met Dale se restaurant het ek al tevore kennis gemaak: in die laat 90’s. Danie Grundlingh van Bloubergstrand (later Melkbos) het my genooi om “die beste steak in die Kaap” te kom proe. Hy het my beduie na ‘n restaurant in Boubergweg met die naam Dale’s Place.
Die Van Deventers en die Schreuders is van 2004 af bure. Trap nie mekaar se dumpels deur nie maar ons weet wat ons aan mekaar het. Een ding weet ek vir seker: Die Claassense en hul gaste gaan op die hande gedra word en heerlik eet. Dis Dale Schreuder se mantra.
Wat is die betekenis van die skippie uit gevoude koerantpapier op die buiteblad van “Koerantkamerade”? Elkeen moet maar self besluit oor die simboliek.
Oor die herkoms die volgende: Die jaar 1978 was die Jaar van die Koerant: so uitgeroep deur die Nuusblad-Persunie (later herdoop tot Drukmedia-Assosiasie. Ter viering is ‘n bylae oor “Die Afrikaner en sy koerant” in die vier dagblaaIe van die Nasionale Pers, Beeld, Die Burger, Die Volksbad en Oosterlig, gepubliseer. Die voorblad van die bylae is deur Gail Irwin van Beeld ontwerp. Dit is Gail se koerantskippie, dobberend op die waters, wat die inspirasie vir “Koerantkamerade” se buiteblad verskaf het. Hierdie ontwerp is deur Karen Cronje.

Volksblad se bladsy sewe.
Dat staatspresident PW Botha, die “Groot Krokodil”, as jongeling politiek toe is, is op die rekening van ‘n Volksbladman. Die geheimpie word vandag verklap in Volksblad in ‘n artikel oor Volksblad-karakters Koerantkamerade, my boek. Die artikel beslaan die hele bladsy sewe van die koerant.
In die 30’s was Botha ‘n bedrywige vryskut-verslaggewer. Hy het voorbladberigte gelewer oor onder meer politieke vergaderings waar stoelpote geswaai is. Skakel Kriek, nuusredakteur, was desondanks nie oortuig dat Botha vir die joernalistiek uitgeknip is nie. Kyk liewer uit vir iets anders, was sy aanbeveling. Botha het die raad ter harte geneem. Hy word toe, in sy eie woorde, ‘n “politikussie”. Die res is geskiedenis.
Ook pres. CR Swart is by die koerant as ‘t ware geweeg en te lig bevind. Hy is in 1921 deur die uittredende redakteur dr. JG Conradie, as sy opvolger voorgestel. Die aanbeveling is nie deur die direksie aanvaar nie.
Vyftien jaar later, in 1936, het hy twee maande as redakteur waargeneem. Seker die “vurigste” hoofartikel in die geskiedenis het in daardie tyd uit sy pen verskyn. Terwyl hy tik , het die vensters begin ruk terwyl die gebou bewe. Redaksielede het uitgestorm. Dit was ‘n aardbewing wat hulle die skrik op die lyf gejaag het.
Dr. AJR (Albertus) van Rhyn het die langste as redakteur uitgehou – van 1925 tot 1948. Hy is daardie jaar agter sy hart aan politiek toe. Hy is sommer dadelik in die kabinet opgeneem. Later was hy Hoë Kommissaris (ambassadeur) in Londen.
Die pedagoog van die Hantam was was seker die onwilligste redakteur tot dusver. Hy moes letterlik gesmeek word. Nadat hy hom met ‘n aantreklike salaris laat “omkoop” het, het hy die aand vir sy vrou gesệ: . “Mamma, ek het ’n groot fout gemaak.” Maar, fout of te nie, byt hy toe 23 jaar lank vas, al was dit nie altyd maklik nie.
’n Militante genl JBM Hertzog het in die onstuimige Smelterstyd byvoorbeeld rondborstig verklaar: Hy sou Van Rhyn se koerant uit die Vrystaat “verdryf”; selfs “doodmaak”. “Die oubaas was baie haatdraend as hy eers persoonlik teen jou raak,” het die redakteur lakoniek opgemerk.
Gert Petrus De La Rosa (Oom Gert) Terblanche het in 1946 by Die Volksblad ingeval en in ’n loopbaan van 24 jaar veral as kranige nuusredakteur sy spore verdien. In 1970 is hy, soos Van Rhyn, politiek toe – eers as senator, toe as LV vir Bloemfontein-Noord en later as ambassadeur in Transkei.
Die joernalistiek is die een ding wat jy nooit uit sy bloed kon kry nie. Hy was ’n kampioen-briefskrywer. Dekades lank het honderde koerantbriewe, uit sy geliefde Olympia-tikmasjien gevloei -. totdat sy laaste, onvervangbare, tiklint verslete was. Daarna is hulle met die hand geskryf.
As daar in die hemel nie ’n koerant is nie, sal Oom Gert ongetwyfeld een begin, het die rubriekskrywer Blouwillem Theron ná sy dood geskerts.
Die politiek en die joernalistiek is nie altyd gemaklike bedmaats nie en soms moet een uit laasgenoemde dissipline vir een uit eersgenoemde pront die waarheid vertel. Een wat nie gehuiwer het om sy keel skoon te maak nie was die misname, pyprokende Boesmanlander Jan Scholtz – ook ‘n voortreflike meubelmaker wat met hout kon toor – wat in die 70’s as parlementệre verslaggewer ‘n draai in die persgalery van die volksraad gemaak het.
Hy kry toe opdrag om ’n minister iets te gaan vra, en keer die betrokkene in die wandelgang voor. Dié trap rond, klaarblyklik min lus om iets uit te lap. Toe draai Jan nie doekies om nie: “Buurman” – hy het almal altyd Buurman genoem, “jy weet mos dis ’n pot stront.” Hy het die die sterker variant gebruik. Wel, Jan Scholtz was Jan Scholtz. “Sy edele” was nie onbewus van hoe op die man af hierdie Volksblad-man kan wees nie. Pleks van hom opruk, vermurwe hy toe. Jan het sy storie gekry.
In 1975 moes sy redakteur dr. SF (Oom Bart) Zaaiman in ‘n beroemde relletjie ‘n minister die waarheid vertel – maar darem net minder bru-taal.
’n Verbod op die publikasie van foto’s van gevangenes wat sedert 1958 van krag was, is met ingang Maandag 1 September deur Jimmy Kruger, minister van justisie, opgehef. Oggendkoerante het reg gesit met foto’s van gevangenes wie se gesigte hulle die Maandag vir hul lesers wou wys. Die Vrydag word aangekondig: die minister het die publikasiedatum tot Sondag vervroeg. Geen redes is verstrek nie.
’n Blinde kon met ’n stok voel dat suurlemoensous geloop het. Die skuif was klaarblyklik ’n gunsie vir die Sondagkoerante, waarskynlik nadat Kruger se arm gedraai is met argumente oor groter sirkulasies op Sondae.
Zaaiman vererg hom. Sit in die foto’s, gee hy sy nuusredakteur, Chris Moolman, opdrag. Reeds in Die Volksblad se Vrydaguitgawe verskyn toe foto’s van die bekendste gevangenes: skêrmoordenares Marlene Lehnberg, haar kreupel handlanger, Marthinus Choegoe, en David Protter wat in 1975 die Israelse konsulaat in Johannesburg beset, en wild en wakker geskiet het. Albei hofsake was opsienbarend en die nuus steeds vuurwarm.
Die nuuswaarde van die foto’s was hoog en vir Die Volksblad was eerste publikasie ’n scoop. Zaaiman het sy optrede so gemotiveer: Dat dit duidelik was dat die publikasiedatum vervroeg is om die Sondagkoerante ter wille te wees en dat dit waarskynlik op hulle aandrang geskied het … “Dit is duidelik dat geen beginsel of rede meer in die spel is waarom die foto’s nie dadelik geplaas kan word nie.” Ander koerante het Saterdag gretig die Vrystaatse voorbeeld gevolg. Die Sondagpers kon maar net kwylend toekyk.
Alf Ries, deurwinterde politieke beriggewer, het vir hom PW Botha se gramskap op die hals gehaal nadat hy “op Nuweland ’n kniebesering opgedoen het”, soos hy graag gespog het. Hy het inderdaad. Maar ná die eindfluitjie. Hy en ‘n kollega het ná ’n WP-wedstryd sommer kortpad oor die veld gevat motor toe. Toe val Ries oor ’n hoekvlag. Hy moes van die veld gedra word en was geruime tyd in die hospitaal.
’n Onvergeetlike beeld ná die val is van hom besig om in rooi pajamas op die televisienuus kabinetskuiwe te voorspel. Die persman Freek Swart was daardie tyd ’n ruk lank TV-joernalis en natuurlik welbekend met Ries se vermoë as politieke profeet. Hy bring toe sy kamera hospitaal toe en vra sy kollega wat hy verwag. Ries se grondige kennis van gebeure in die politieke binnekringe het hom, soos altyd, nie in die steek gelaat nie. Net met twee voorspellings het hy misgetas.
Botha was stomend. “Verbeel jou, ’n man in rooi pajamas kondig jou kabinet uit ’n hospitaalbed aan,” het hy glo gesnork.
Hugo Dreyer, bestuurder/redakteur in die 50’s en 60’s – het in ‘n knyptang- situasie beland met mev. Mabel Jansen, eggenote van die laaste goewerneur-generaal van die Unie, dr. EG Jansen. Die formidabele mev. Jansen had ’n chroniese hekel aan “onbeholpe” koerantfotograwe wat taks om taks daarin slaag om haar met toe oë af te neem. Ná ’n swierige sosiale geleentheid in die GG se ampswoning in Harry Smithstraat beland so ’n gewraakte toe-oë-foto toe weer op die nuusredakteur, wat Dreyer was, se lessenaar. Die stomme man was al moedeloos en ongeneë om onder haar vlymskerpe tong deur te loop. Hy vra toe die fotograaf om die foto met sy retoesjeerkwassies te dokter. Die koerant verskyn en op die foto is mev. Mabel se oë so groot oop “soos dié van ’n lappop”.
Nie lank nie, hier daag ’n statige swart ampsmotor onder motorfietsgeleide op. In die motor sit die veeleisende eerste dame in lewende lywe. Sy wil asseblief ses van daardie pragtige foto’s bestel en sommer die knap fotograaf ook ’n kloppie op die skouer gee. Penarie. Die nuusredakteur het die omvang nie onderskat nie. Hy speel dus vir tyd: “Alte seker, mevrou, laat ek net gou gaan seker maak of die negatief nog beskikbaar is.” Mev. Jansen was verpletterd toe hy skoorvoetend kom rapporteer: “Jammer, mevrou, spyt my regtig, maar daardie negatief is skoonveld”.
Chris Moolman, assistant-redakteur in die 70’s, moes as Rapport-redakteur in 1988 die stang vasbyt om ‘n storie oor hul egskeiding uit ‘n onwillige FW en Marike de Klerk te pers. Op die regte oomblik speel hy sy troefkaart. Rapport weet ‘n derde party is betrokke en haar naam begin met ‘n E (vir Elita). “Nou is ek geskok,” was FW se reaksie. Maar die koeël was deur die kerk. Verhoudinge het darem oorleef.
Charl Marais wat in vier “jollie” dekades “bokse en bokse” vol spotprente geteken het, is met sy aftrede gevra hoe hy daarin geslaag het om so baie mense so onvleiend te teken sonder dat een ooit in woede teen hom opgeruk of hom met hofsake gedreig het. Dit is jou houding teenoor mense, was sy teorie. “Ek is vriendelik met almal en gee almal ‘n kans. En my kwaad is gou oor.”
Naskrif: Verkopertjies se entrepreneurskap kon ’n mens verstom. In 1948 is op ’n Sap-kermis (VP-kermis) in Windhoek na die nuwe premier, dr. DF Malan, se foto skyfgeskiet. Die storie was op die voorblad en op die plakkaat: “Sappe skiet op dr. Malan se foto”. Toe sny vindingrykes die onderste lyn weg: “Sappe skiet op dr. Malan”. Dadelik groter trefkrag. Koerante het daardie middag soos soetkoek verkoop. ’n Vet lot is aan kommissie losgeslaan.