Sep 24, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met die sanger Gé Korsten, ‘n boorling van Rotterdam, se vurigheid as Afrikaner het niks geskort nie. Hy was aan ‘n Engelse skool, maar sy hart was so anti-Brits dat hy uit die bioskoop gestap het as God Save The King speel. Smiddae is hy Die Voortrekkers toe by ‘n Afrikaanse skool. Hy het selfs spanleier geword.
Die grootste Suid-Afrikaner vir hom was dr. H.F. Verwoerd – “’n eerlike, onberispelike siener”. Dit is hoegenaamd nie omdat hulle albei van Nederland af gekom het nie, het Gé in ‘n onderhoud vir my rubriek Onder Vier Oë in Beeld nadruklik verklaar, sommer seergemaak dat ek oor so ‘n ernstige saak ‘n grappie kon waag.
Toe deel hy ‘n geheimpie: dat hy selfs lid van die Afrikaner-Broederbond was. En voeg hy skalks by: Hoewel sommige Broers sy rooi baadjie en wit broek van onberispelike snit as ietwat onortodokse kleredrag ervaar het, was hulle gou oortuig ‘n goeie Afrikanerhart klop in daardie wit broek.
Dat Gé ‘n voorste Afrikaanse sanger van ligte liedjies geword het, het, volgens hom, “eintlik net gebeur”. Dit was in 1966 rond (toevallig die jaar toe Verwoerd vermoor is). Gé was ‘n suksesvolle sakeman wat deeltyds in opera gesing het. Sy skoonvader, die bekende ds. A.J.V. Burger, stel toe voor dat hy ‘n plaat ten bate van die Abraham Kriel-kinderhuis opneem. In die Oos-kerk in Pretoria het hy en die Cantare-sangers vinnig-vinnig ‘n plaat van die bekendste Psalms, Gesange en Halleluja-liedere gemaak.
Albie Venter van Brigadiers het dit opgeneem, en sê toe vir Gé: “Wil jy nie vir ons ‘n plaat maak nie?” Só gesê, só gedaan. Hulle het vir Dean Herrick voor die orrel gekry en Gé het gewilde ou ballades soos Granada en Because gesing.
Toe kom die FAK en sê vir Brigadiers: “Kry vir Gé Korsten om ‘n plaat te maak waarop hy Afrikaanse liedjies sing, maar met ‘n goeie orkes sodat ons kan wegkom van die konsertina en dinge.” Op die plaat was liedjies soos My Hart Verlang na die Boland, My Vader is ‘n Musikant… en Erika.
Van dié liedjies het Fanus Rautenbach baie gehou. Keer op keer het hy dit oor sy destydse oggendprogram, Flink uit die vere, gespeel, en toe Gé hom weer kom kry, sit hy met ‘n treffer.
Die volgende stap was Afrikaanse rolprente. Kavaliers het besluit om van Gé se liedjies by die rolprent Krugermiljoene in te sluit. Hulle vra hom later om sommer self die rol te kom speel. “Ons is toe Blyderivier toe en ek is op ‘n perd en op ‘n ossewa en ek sing.”
Sy eie gunsteling was Liefling. Dit het mooi woorde wat deur Heine Toerien geskryf is, ‘n goeie wysie en groot trefkrag, aldus Gé. Op ‘n dag laai sy vrou ‘n ryloper op en toe hy agterkom wie sy is, sê hy vir haar: “Tannie weet, daardie woorde van Liefling is darem so mooi. Dis net soos die lewe is vir mense wat verlief is.”
Ja, was Gé se kommentaar, dit wys dat die woorde ‘n boodskap het vir elkeen wat ‘n bietjie liefdesprobleme het – en sulke probleme het elke mens maar die een of ander tyd.
Gé het ook sukkeldae geken toe hy as rou sanger soms in moedelose trane uitgebars het wanneer hy die hoë note nie kon bykom nie. Een so ‘n keer was toe Anton Hartman hom gevra het om die opera La Boheme in die laat jare 50 in Afrikaans te sing. Hy het traag ingewillig, want, hy het nog nie “reg vir die ding” gevoel nie.
Hulle het begin oefen en dit het nie goed gegaan nie. Gé kon kwalik ‘n G haal, wat nog te sê van ‘n C. Op ‘n dag kon hy die trane nie keer nie. Hy het die boek neergesmyt en uitgeroep dat hy dit nooit sal kan doen nie. Nellie du Toit, vir wie hy groot bewondering gehad het, het teenoor hom gesing. Sy het haar dadelik oor hom ontferm en ‘n bietjie raad gegee. En net daar het dinge begin verander.
Dié La Boheme sou hy nooit vergeet nie; ook nie die brief wat op die openingsaand in sy kleedkamer op hom gewag het nie. “Gé Korsten, who the hell do you think you are that you can sing La Boheme?” wou die skrywer weet. “You can never sing La Boheme in your life. You shouldn’t even go on stage tonight.”
In sy operaloopbaan was ‘n “paar moeilike insidente”. ‘n Keer het hy saam met ‘n besonder vurige Carmen uit Frankryk opgetree. Tydens die Blommelied, net voor die swaardgeveg, ontstaan ‘n woordewisseling, gryp Carmen die swaard en smyt dit neer. Dié nooi het dit egter geslinger dat dit doer van die verhoog af trek.
Toe die hoofoffisier, Carmen se kêrel, op die toneel kom en baklei soek, is Gé sonder sy swaard. Al wat hy kon doen, is om die ou stewig aan sy bors te vat en in sy oor te fluister: “My swaard is weg – veg!” Met dié smyt Gé die offisier se swaard ook weg en daar pak die twee mekaar kaalvuis!
Met die openingsaand van Fledermaus in die Aula in Pretoria het Gé se opgeplakte snor hom begin hinder. Nie lank nie of dit hang so skuinsweg oor sy mond. Hy pluk hom toe maar af en gooi hom weg.
Op een plek moet sy karakter ‘n bietjie oefeninge doen voordat hy tronk toe gaan. Dan kom Rosalinda in en vra: Wat maak jy nou? Toe Rosalinda (in dié geval Mimi Coertse) met hom begin praat, kom hy agter sy kyk so na die middel van sy lyf en wys-wys.
Sy hele rits was gapend oop; die wit van sy hemp was al wat hy gesien het. Dit was ‘n bietjie ongemaklik so op ‘n openingsaand, volgens Gé, maar gelukkig is dit ‘n grapperige opera. Hy het doodluiters sy rug gedraai en gewys hy maak nou toe. Toe bars die hele saal uit van die lag.
Gé Korsten is op 29/9/1999 aan ‘n skietwond oorlede. Die vuurwapen was in sy eie hand.
Sep 17, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die lang wag is verby. “Koerantkamerade” – my boek met grafskrifte vir nagenoeg 50 tydgenootlike pers-persoonlikhede – is vandag op Melkbos afgelewer.
‘n Welaangename oomblik vir ‘n derde en laaste raai-raai-riepa rondom die boek. Ons maak dit ‘n spesiale bonus-ene met 15 prikkelvrae.
Julle sal moet opskud. Tot dusver is omtrent net die identiteit van “Quintus van Blouen” raakgeraai – maar hoe anders, daar was dan ‘n foto by, al was dit van Quintus in ‘n WP-trui!
Hiermee die laaste vrae (drie korrekte antwoorde uit 15 word as redelik beskou):
1. Wie het FW de Klerk se wind uit sy seile geneem met die mededeling: “Ons weet dat die derde party se naam met ‘n E begin?”
2. Wie het die gaste by ‘n deftige dinee se asem weggeslaan deur ‘n kollega se vrou en sy skelmpie se name te verwar?
3. Wie het ‘n leraar uitgeboul met die vraag: “Dominee, waar is die terte?”
4. Wie is oor “fopnuus” beboet lank voordat die woord geskep is?
5. Wie moes handeviervoet kruip om by sy kantoor te kom?
6. Op wie se telefoon het ‘n man selfdood gepleeg deur miergif te drink?
7. Wie het altyd die laaste stukkie kameeldoring op ‘n kampvuur gegooi?
8. Wie is met die poedelkaal lyfie van ‘n mooi jong mamma gekonfronteer?
9. Wie was bekend as die “klein generaaltjie”?
10. Wie was die “op-vlieënde Hollander”?
11. Wie het so beeldryk gebid dat van sy tafelgebed gesê is: “Nou het ons sommer die weervoorspelling ook gekry?”
12. Wie is die vader van die uitdrukking “’n ligte mistykie”?
13. Wie se draagbare tikmasjien is vir ‘n bom aangesien?
14. Wie is ligvoets oor ‘n draadheining voor ‘n aanstormende bul?
15. Vir wie was koerantwerk so lekker dat sy nie kon glo jy word daarvoor betaal nie?
“Koerantkamerade” word deur Naledi uitgegee in samewerking met “Nagkantoor” en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust. Die boek beslaan 300 bladsye plus ‘n spesiale fotoseksie van 20 bladsye.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Danksy die subsidie kos die boek net R220.
“Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees. Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.
Sep 9, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ironies genoeg moes ons ons laaste vuurtjie op Dinsdagaand 7 September in die agterste lapa aansteek en styf teen die muur skuil teen ‘n snerpende windjie. Later was daar rammelende donderweer.
Die vorige twee aande was dit “swembadweer”. Nou wel net een keer vinnig ingespring maar lekker gewees om skop-skop in die helder water ‘n wyntjie (en ‘n Jagermeistertjie) te geniet.
Hoe ‘n onvervangbare juweel daardie swembadjie is, is opnuut ingeprent. Soos Piet Cillié vir Harry Oppenheimer oor sy Blouberghuisie gesê het, sê ek vir al wat ‘n ryke is oor ons bos-swembad: “You can’t afford it.”
Ons kyk terug op ses wonderlike weke met vele vreugdes waarvan die sagte ontwaking van die lente dalk die grootste was. Dit was heerlik om weer in Sabiepark te kuier en te beleef dat dit in die algemeen goed gaan met ons plek wat ons so na aan die hart lê. In die hart leef die hoop dat daar nog sal wees. Tyd sal leer.
Minder en ‘n kleiner verskeidenheid wild is oor ons werf as wat ons sou hoop. Waar’s die koedoes? Die kameelperd wat kom water drink het, was darem ‘n gedenkwaardige eerste. Klein bokkies – rooibokke, bosbokke, najala-ooitjies en ‘n periodieke duiker – was gereelde besoekers. Die nagapies (en die bosnagape) het ná ‘n sorgwekkende afwesigheid weer hul ding kom doen.
Bloukuifloeries was aanvanklik elke dag om die huis … tot die vangs. Toe vat hulle skrik. Die naguiltjies se klankryke geroep was dalk die konstantste verskynsel. Elke aand het ons minstens enetjie hoor sing. Die laaste paar aande het die paddas by die watergat gekwaak dat dit dreun.
Die elektriese yskas het ‘n element van gerief bygedra wat voorheen ontbreek het, en die sonkrag het kranig meer as die mas opgekom. Die meeste oggende teen tienuur was die batterye vol gelaai. Maar nouja, ons was net twee. Daarvan getuig ook die konserwatiewe gasgebruik – minder as ‘n bottel.
Die Honda se stukkende agterlig – slagoffer van ‘n verdekselse boom – is herstel.
By die piekniekplek het ons een middag hope olifante gesien. Die opwinding met leeus en luiperds het ons telkens misgeloop. Maak nie saak nie. Net om daar langs die Sabie te sit, is ‘n voorreg. Die swartwitpense word bederf met voer by die kantoor. Gaan soek hulle maar daar. Hulle verruil gereeld die bos vir die kort groen gras.
‘n Aspek wat my, ‘n ouer eienaar, werklik bekommer, is die gedrag van ‘n nuwe element in die geledere van Sabiepark-eienaars en hul plesiersoekende gaste wat eienaars wat aan die tradisionele Sabiepark-kultuur vashou, as ’t ware al hoe meer “uitboer”.
Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars. Die swemarea, TV-kamer en selfs piekniekplek is oorstroom. Drank het gevloei en ‘n geswets het voorgekom. Oor onstigtelike Zoom-vergaderings in die TV-kamer het ek dadelik my stem verhef. Ek is dankbaar oor die onmiddellike verbod wat ingestel is. Ongelukkig moet ek rapporteer dat balhorige mense eenvoudig voortgegaan het met die praktyk. Die kennisgewings by die deur is veronagsaam asof dit nie bestaan nie. Van die skuldiges se houding was heel astrant en aanmatigend teenoor mense wat wou TV kyk of in stilte op hul rekenaars werk.
Hoe anders beheer uitgeoefen kan word as deur strenge kontrole weet ek nie. Dit beteken waarskynlik toegangsbeheer – iemand by die hek met ‘n stel reëls in die hand. Maar dit vereis ook volgehoue gedragsbeheer en optrede teen mense wat noodsaaklike reëls na willekeur buig en breek.
Ons leef in ‘n era dat ‘n nuwe geslag mense al hoe meer regte vir hulleself opeis en die regte van ander in die proses vertrap. Hoe om hierdie patroon ten minste t.o.v. Sabiepark om te keer, sal seker nie maklik wees nie. Die wysheid van Salomo word die bestuur toegewens.
Ten slotte ‘n buiging na Tokkie vir alles wat sy daar vermag het. Net die likkewane het haar gewen. HUlle is steeds in die dak. Maar wat in Sabiepark gaan gebeur as sy nie meer haar bekwame en flukse hand so op die plek kan hou nie, weet ek nie.
Sep 5, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kom ons sit die raai-raai-riepastorie voort met “Koerantkamerade” (Naledi, 2021) as verwysingsbron.
Hiermee tien vrae uit die boek. Eerste leser van die pos wat die spyker op die kop slaan met al tien 10 versluierde identiteite wen ‘n prys: weet nog nog nie wat nie.
Die vrae:
1.Van watter gesiene koerantman is gesê:” Hy is ook maar ‘n agtergeblewe engeltjie , maar, toegegee, swaar vermom, die klein maaifoerie? “
2. Wie is beskryf as “iemand wat saam met sy vriende die lewe oor Tassenberg afgeteug het tot in die fynighede van boeket.” (Minder elegant gestel: dat hy saam met sy vriende ‘n tapvat kon seermaak.
3. Vir wie was daar hierdie sonderlinge getuigskrif: “Hy het die aarde verlaat sonder een vyand”?
4. Wie het ‘n minister in die wandelgang van die volksraad kortgevat met ‘n pront: “Buurman, jy weet mos dis ʼn pot stront”.
5. Wie is ge-“fire” omdat hy Marius Jooste, Perskor se grootbaas, as “seniel” bestempel het?
6. Wie het vir wie beskuldig van “hoernalistiek”?
7. Wie het vir tamboernooiens gesệ: “Ons sien julle almal se broeke?”
8. Wie is deur ‘n opvolger “’n goeie biksem” genoem?
9. Wie het homelf as “‘n koejawel in piesangboom” beskryf?
10. Wat de ongeluk maak Quintus van Blouen in ‘n WP-rugbytrui?
“Koerantkamerade” word gepubliseer in samewerking met Nagkantoor en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). Die boek kos R220. “Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees. Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.
Sep 2, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Watter koerantman het vir PW Botha gese: “U se moer ook “? Watter een het hom, in sy eie woorde, aan PW “afgesmeer”? Wie is met koekies en tee in Libertas onthaal … en toe bars ‘n bom?
Geheimpies soos hierdie word verklap in “Koerantkamerade”, my nuwe boek, wat so saam met die lente sy buiging by Naledi gemaak het. Ook antwoorde op politieke prikkelvrae soos: Wie het ‘n jong Botha afgeraai om joernalis te probeer word? Wie het sy kabinetskuiwe tot Botha se gramskap in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed voorspel?
“Koerantkamerade” bied ‘n intieme blik agter die papiergordyn aan die hand van ʼn 50-stuks gemoedelike en informele “grafskrifte” van ontslape tydgenote in die perswese. Die galery van pers-persoonlikhede sluit in van die bekendste joernalistieke name van die goue jare van koerante van 1960 tot 2000, maar ook onbekende agter-die-skerm-mense. Die hele spektrum word gedek: van koerantverkopers tot korrespondente tot redakteurs en direkteure.
‘n Kernelement is talryke humoristiese anekdotes. Die sluier word ook gelig oor allerlei intriges in nuuskantore en direksies.
Die boek van 300 bladsye word opgedra aan “almal wat lief is vir koerante en oor die mense agter die papiergordyn wonder.” Dit bevat ‘n spesiale ekstra fotoseksie van 20 bladsye. Talle van die foto’s is nog nooit tevore gepubliseer nie.
“Koerantkamerade” word gepubliseer in samewerking met Nagkantoor en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust. Danksy die subsidie kon die prys tot R220,00 beperk word.
Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste). “Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees. Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.
(Nog enkele vrae oor koerantmense wat in “Koerantkamerade” beantwoord word: Watter bekende koerantman het in Finland hout gekap, in België by ʼn mosterdfabriek en in Duitsland in ʼn psigiatriese inrigting gewerk, en hom in Holland as ʼn buffetsjef bekwaam? Wie was ‘n konstabel, wie ‘n meubelmaker en wie ‘n plattelandse bankklerk? Hoeveel was predikante? )